Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah openbaar “wat binnekort moet plaasvind”

Jehovah openbaar “wat binnekort moet plaasvind”

Jehovah openbaar “wat binnekort moet plaasvind”

“’n Openbaring deur Jesus Christus, wat God hom gegee het, om vir sy slawe die dinge te toon wat binnekort moet plaasvind.”—OP. 1:1.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Watter dele van die ontsaglike beeld stel die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid voor?

Hoe beeld Johannes die verband tussen die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid en die Verenigde Nasies uit?

Hoe beeld Daniël en Johannes die einde van menseheerskappy uit?

1, 2. (a) Wat stel die profesieë van Daniël en Johannes ons in staat om te doen? (b) Wat stel die eerste ses koppe van die wilde dier voor?

DAAR is ooreenkomste tussen die profesieë van Daniël en van Johannes wat ons in staat stel om die betekenis van talle huidige en toekomstige wêreldgebeure te verstaan. Wat kan ons leer uit ’n vergelyking van Johannes se visioen van die wilde dier, Daniël se verslag van die vreeswekkende dier met tien horings en Daniël se uitlegging van die droom omtrent die ontsaglike beeld? En wat moet ’n duidelike begrip van hierdie profesieë ons beweeg om te doen?

2 Kom ons bespreek Johannes se visioen van die wilde dier (Op., hfst. 13). Soos ons in die vorige artikel gesien het, stel die eerste ses koppe van die dier Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome voor. Al hierdie moondhede het haat teenoor die saad van die vrou geopenbaar (Gen. 3:15). Rome, die sesde kop, was nog eeue nadat Johannes sy visioen neergeskryf het, ’n oorheersende politieke moondheid. Uiteindelik sou die sewende kop Rome se plek inneem. Watter politieke wêreldmoondheid was dit, en hoe sou dít die saad van die vrou behandel?

BRITTANJE EN DIE VERENIGDE STATE KOM AAN DIE BEWIND

3. Wat stel die vreeswekkende dier met tien horings voor, en wat word deur die tien horings afgebeeld?

3 Ons kan die sewende kop van die wilde dier van Openbaring hoofstuk 13 identifiseer deur Johannes se visioen te vergelyk met Daniël se visioen van die vreeswekkende dier met tien horings. * (Lees Daniël 7:7, 8, 23, 24.) Die dier wat Daniël gesien het, het die Romeinse Wêreldmoondheid voorgestel. (Sien die tabel op bladsye 12-13.) In die vyfde eeu HJ het die Romeinse Ryk begin verbrokkel. Die tien horings op die kop van hierdie vreeswekkende dier stel die koninkryke voor wat uit hierdie ryk gespruit het.

4, 5. (a) Wat het die klein horinkie gedoen? (b) Wat is die identiteit van die sewende kop van die wilde dier?

4 Spesiale melding word gemaak van vier van die horings, of koninkryke, op die kop van die wrede dier. Drie word deur ’n ander horing, “’n kleintjie”, uitgeruk. Dit is vervul toe Brittanje, ’n voormalige buitepos van die Romeinse Ryk, prominent geword het. Brittanje was tot die 17de eeu ’n betreklik onbeduidende moondheid. Drie ander dele van die ou Romeinse Ryk—Spanje, Nederland en Frankryk—was baie invloedryker. Brittanje het hierdie moondhede een vir een uitgeruk deur hulle uit hulle posisies van aansien te verwyder. Teen die middel van die 18de eeu was Brittanje besig om die oorheersende moondheid op die wêreldtoneel te word. Maar dit het nog nie die sewende kop van die wilde dier geword nie.

5 Hoewel Brittanje ’n oorheersende posisie verwerf het, het kolonies in Noord-Amerika weggebreek. Die Verenigde State is nietemin toegelaat om onder die beskerming van die Britse vloot sterk te word. Teen die tyd dat die dag van die Here in 1914 begin het, het Brittanje die grootste ryk in die geskiedenis opgebou en het die Verenigde State die grootste industriële moondheid op die aarde geword. * Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die Verenigde State ’n spesiale bondgenootskap met Brittanje aangegaan. Die sewende kop van die dier het nou as die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid te voorskyn gekom. Hoe het hierdie kop die saad van die vrou behandel?

6. Hoe het die sewende kop God se volk behandel?

6 Kort ná die begin van die dag van die Here het die sewende kop ’n aanval geloods op God se volk—die oorblywendes van Christus se broers op die aarde (Matt. 25:40). Jesus het getoon dat ’n oorblyfsel van die saad gedurende sy teenwoordigheid bedrywig sou wees op die aarde (Matt. 24:45-47; Gal. 3:26-29). Die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid het oorlog gevoer teen hierdie heiliges (Op. 13:3, 7). Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het dit God se volk onderdruk, party van hulle publikasies verbied en verteenwoordigers van die ‘getroue slaaf’-klas in die tronk gegooi. Die sewende kop van die wilde dier het die predikingswerk ’n tyd lank feitlik stopgesit, as ’t ware doodgemaak. Jehovah het hierdie dramatiese gebeurtenis voorsien en dit aan Johannes geopenbaar. God het ook vir Johannes gesê dat die sekondêre deel van die saad weer lewend gemaak sou word sodat hulle groter geestelike bedrywighede kan verrig (Op. 11:3, 7-11). Die geskiedenis van Jehovah se hedendaagse knegte bevestig dat hierdie gebeure plaasgevind het.

DIE ANGLO-AMERIKAANSE WÊRELDMOONDHEID EN DIE VOETE VAN YSTER EN KLEI

7. Wat is die verband tussen die sewende kop van die wilde dier en die ontsaglike beeld?

7 Wat is die verband tussen die sewende kop van die wilde dier en die ontsaglike beeld? Brittanje—en by uitbreiding, die Verenigde State—het uit die Romeinse Ryk gespruit. Maar wat van die voete van die beeld? Dit word beskryf as ’n mengsel van yster en klei. (Lees Daniël 2:41-43.) Hierdie beskrywing stem ooreen met die tyd toe die sewende kop—die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid—prominent sou word. Net soos ’n voorwerp wat uit ’n mengsel van yster en klei bestaan, swakker is as soliede yster, is die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid swakker as die moondheid waaruit dit gespruit het. Hoe?

8, 9. (a) Hoe het die sewende wêreldmoondheid ysteragtige mag geopenbaar? (b) Wat stel die klei in die voete van die beeld voor?

8 Die sewende kop van die dier het soms ysteragtige eienskappe geopenbaar. Dit het byvoorbeeld bewys gelewer van sy mag deur die Eerste Wêreldoorlog te wen. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog kon die ysteragtige mag van die sewende kop ook duidelik gesien word. * Ná daardie oorlog het die sewende kop nog steeds van tyd tot tyd ysteragtige eienskappe geopenbaar. Maar die yster is reeds op ’n vroeë stadium met klei gemeng.

9 Jehovah se knegte streef al lank na ’n begrip van die simboliese betekenis van die voete van die beeld. Daniël 2:41 beskryf die mengsel van yster en klei as een “koninkryk”, nie baie koninkryke nie. Die klei stel dus elemente in die invloedsfeer van die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid voor, elemente wat dit swakker maak as die soliede yster van die Romeinse Ryk. Daar word na die klei verwys as “die nageslag van die mensdom”, of die gewone mense (Dan. 2:43). In die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid het mense opgestaan om hulle regte deur middel van veldtogte vir burgerlike regte, vakbonde en onafhanklikheidsbewegings te eis. Die gewone mense ondermyn die vermoë van die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid om met ysteragtige mag op te tree. Boonop het teenstrydige ideologieë en kop-aan-kop-verkiesingsuitslae die magsbasis van selfs gewilde leiers verswak, sodat hulle nie ’n duidelike mandaat het om hulle beleide te implementeer nie. Daniël het voorspel: “Die koninkryk sal deels sterk en deels bros wees.”—Dan. 2:42; 2 Tim. 3:1-3.

10, 11. (a) Wat hou die toekoms in vir “die voete”? (b) Wat kan ons omtrent die aantal tone aflei?

10 In die 21ste eeu het Brittanje en die Verenigde State hulle spesiale bondgenootskap voortgesit en tree hulle dikwels saam op in wêreldaangeleenthede. Die profesieë oor die ontsaglike beeld en die wilde dier bevestig dat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid nie deur die een of ander toekomstige wêreldmoondheid vervang sal word nie. Hierdie laaste wêreldmoondheid is miskien swakker as die moondheid wat deur die bene van yster voorgestel word, maar dit sal nie vanself disintegreer nie.

11 Het die aantal tone van die beeld spesiale betekenis? Dink hieraan: In ander visioene meld Daniël spesifieke getalle—byvoorbeeld die aantal horings op die koppe van verskeie diere. Hierdie getalle is betekenisvol. Maar wanneer Daniël die beeld beskryf, meld hy nie die aantal tone nie. Dit wil dus voorkom of die getal niks betekenisvoller is as die feit dat die beeld twee arms, hande, bene en voete en tien vingers het nie. Daniël meld wel spesifiek dat die tone van yster en klei sou wees. Uit sy beskrywing kan ons aflei dat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid die oorheersende moondheid sal wees wanneer die “klip”, wat God se Koninkryk voorstel, die voete van die beeld tref.—Dan. 2:45.

ANGLO-AMERIKA EN DIE WILDE DIER MET TWEE HORINGS

12, 13. Wat stel die wilde dier met twee horings voor, en wat doen hierdie dier?

12 Hoewel die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid ’n mengsel van yster en klei is, toon die visioen wat Jesus aan Johannes gegee het dat hierdie moondheid gedurende die laaste dae nog steeds ’n sleutelrol sal speel. Hoe so? Johannes het ’n visioen van ’n wilde dier met twee horings gesien wat soos ’n draak gepraat het. Wat stel hierdie vreemde dier voor? Dit het twee horings; dit is dus ’n tweeledige moondheid. Johannes sien weer die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, maar in ’n spesiale rol.—Lees Openbaring 13:11-15.

13 Hierdie wilde dier spoor die mense aan om ’n beeld van die wilde dier te maak. Johannes het geskryf dat die beeld van die dier te voorskyn sou kom, sou verdwyn en dan weer sou verrys. Dit is presies wat gebeur het met ’n organisasie wat deur Brittanje en die Verenigde State bevorder is, ’n organisasie wat bedoel was om die wêreld se koninkryke te verenig en te verteenwoordig. * Hierdie organisasie het ná die Eerste Wêreldoorlog te voorskyn gekom en het as die Volkebond bekend gestaan. Dit het met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog verdwyn. Gedurende dié oorlog het God se volk verklaar dat die beeld van die wilde dier volgens die profesie in Openbaring weer sou opkom. En dit hét weer verrys—as die Verenigde Nasies.—Op. 17:8.

14. In watter sin is die beeld van die wilde dier “’n agtste koning”?

14 Johannes het die beeld van die dier as “’n agtste koning” beskryf. In watter sin? Dit word nie as ’n agtste kop op die oorspronklike wilde dier uitgebeeld nie. Dit is slegs ’n beeld van daardie dier. Enige mag wat dit besit, kom van sy lidlande en veral van sy vernaamste ondersteuner, die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid (Op. 17:10, 11). Maar dit ontvang wel gesag om as ’n koning op te tree om ’n spesifieke taak te verrig, ’n taak wat ’n reeks gebeure aan die gang sit wat die geskiedenis sal verander.

DIE BEELD VAN DIE DIER VERSLIND DIE HOER

15, 16. Wat beeld die hoer af, en wat het met haar ondersteuning gebeur?

15 Volgens Johannes ry ’n simboliese hoer op ’n skarlakenkleurige wilde dier—die beeld van die wilde dier—en oorheers sy dit. Sy word “Babilon die Grote” genoem (Op. 17:1-6). Hierdie hoer beeld gepas alle valse godsdiens af, waarvan die kerke van die Christendom die vernaamste is. Godsdiensorganisasies het hulle seën aan die beeld van die dier gegee en invloed daaroor probeer uitoefen.

16 Maar gedurende die dag van die Here sien Babilon die Grote hoe die waters, die mense wat haar ondersteun, drasties opdroog (Op. 16:12; 17:15). Byvoorbeeld, toe die beeld van die dier aanvanklik te voorskyn gekom het, het die kerke van die Christendom—’n invloedryke deel van Babilon die Grote—die Westerse wêreld oorheers. Vandag het die kerke en hulle leiers die respek en ondersteuning van die massas verloor. Trouens, baie mense glo dat godsdiens tot konflik bydra of dit veroorsaak. ’n Groep Westerse intellektuele wat hulle stem al hoe meer laat hoor en al hoe strydlustiger word, dring daarop aan dat ’n einde gemaak word aan godsdiens se invloed op die gemeenskap.

17. Wat sal binnekort met valse godsdiens gebeur, en waarom?

17 Valse godsdiens sal egter nie net stadig verdwyn nie. Die hoer sal ’n mag bly waarmee rekening gehou moet word, wat konings na haar wil probeer skik totdat God ’n idee in die harte van regeerders sit. (Lees Openbaring 17:16, 17.) Jehovah sal binnekort die politieke elemente van Satan se stelsel, wat deur die Verenigde Nasies verteenwoordig word, valse godsdiens laat aanval. Hulle sal haar invloed vernietig en haar rykdom verwoes. So ’n gebeurtenis het net dekades gelede dalk onwaarskynlik gelyk. Vandag sit die hoer nie meer so stewig op die rug van die skarlakenkleurige dier nie. Sy sal egter nie stadig van die dier se rug afgly nie. Haar val sal skielik en op gewelddadige wyse plaasvind.—Op. 18:7, 8, 15-19.

DIE DIERE KOM TOT HULLE EINDE

18. (a) Wat sal die wilde dier doen, en met watter gevolg? (b) Watter koninkryke word volgens Daniël 2:44 deur God se Koninkryk vernietig? (Sien die venster op bladsy 17.)

18 Nadat valse godsdiens vernietig is, sal die wilde dier, Satan se aardse politieke stelsel, aangehits word om God se Koninkryk aan te val. Omdat die hemel buite die bereik van die konings van die aarde is, sal hulle hulle woede uithaal op diegene op die aarde wat God se Koninkryk ondersteun. Die gevolg is onvermydelik (Op. 16:13-16; 17:12-14). Daniël beskryf een aspek van die finale slag. (Lees Daniël 2:44.) Die wilde dier wat in Openbaring 13:1 gemeld word, sy beeld en die wilde dier met twee horings sal vernietig word.

19. Watter vertroue kan ons hê, en wat is dit nou die tyd om te doen?

19 Ons lewe in die laaste dae van die sewende kop. Daar sal nie nog koppe op hierdie dier verskyn voordat dit vernietig word nie. Die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid sal die oorheersende wêreldmoondheid wees wanneer valse godsdiens uitgewis word. Die profesieë van Daniël en Johannes word tot in die fynste besonderheid vervul. Ons kan die vertroue hê dat die vernietiging van valse godsdiens en die slag van Armageddon binnekort sal aanbreek. God het hierdie besonderhede vooraf geopenbaar. Sal ons ag slaan op die profetiese waarskuwings? (2 Pet. 1:19). Dit is nou die tyd om ons aan Jehovah se kant te skaar en om sy Koninkryk te ondersteun.—Op. 14:6, 7.

[Voetnote]

^ par. 3 In die Bybel simboliseer die getal tien dikwels ’n volledige groep—in hierdie geval, al die koninkryke wat uit die Romeinse Ryk gespruit het.

^ par. 5 Hoewel die komponente van die tweeledige wêreldmoondheid al sedert die 18de eeu bestaan het, beskryf Johannes dit soos dit aan die begin van die dag van die Here sou wees. Trouens, die vervulling van die visioene wat in Openbaring opgeteken is, vind gedurende “die dag van die Here” plaas (Op. 1:10). Die sewende kop het eers gedurende die Eerste Wêreldoorlog as ’n verenigde wêreldmoondheid begin funksioneer.

^ par. 8 Daniël het die verskriklike vernietiging voorsien wat hierdie koning gedurende daardie oorlog sou aanrig en geskryf: “Op ’n wonderbare [verskriklike] wyse sal hy verwoesting aanrig” (Dan. 8:24). Die Verenigde State het byvoorbeeld verskriklike verwoesting op ’n ongeëwenaarde skaal aangerig toe dit twee atoombomme op ’n vyand van die tweeledige wêreldmoondheid gewerp het.

^ par. 13 Sien Openbaring—Sy groot klimaks is op hande! bladsye 240, 241, 253.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 17]

WIE MAAK “AL HIERDIE KONINKRYKE” UIT?

Die profesie in Daniël 2:44 sê dat God se Koninkryk “al hierdie koninkryke [sal] verbrysel en daar ’n einde aan [sal] maak”. Hierdie profesie verwys slegs na die koninkryke wat deur die verskillende dele van die beeld voorgestel word.

Wat van al die ander menseregerings? Die parallelle profesie in Openbaring voorsien meer besonderhede. Dit toon dat “die konings van die hele bewoonde aarde” op “die groot dag van God die Almagtige” teen Jehovah versamel sal word (Op. 16:14; 19:19-21). Dit is dus nie net die koninkryke van die beeld wat by Armageddon vernietig sal word nie, maar ook alle ander menseregerings.