Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons Jehovah se diens eerste stel?

Waarom moet ons Jehovah se diens eerste stel?

Waarom moet ons Jehovah se diens eerste stel?

“My mond sal u regverdigheid verkondig, die hele dag u redding.”—PS. 71:15.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Watter faktore het die lewenswyse van Noag, Moses, Jeremia en Paulus bepaal?

Watter selfondersoek sal bepaal hoe jy jou lewe gebruik?

Waarom is jy vasbeslote om Jehovah se diens eerste te stel?

1, 2. (a) Wat gee ’n persoon se toewyding aan Jehovah te kenne? (b) Hoe kan dit ons help as ons die keuses van Noag, Moses, Jeremia en Paulus ondersoek?

WANNEER jy ’n toegewyde en gedoopte volgeling van Jesus word, doen jy ’n baie ernstige stap. Jou toewyding aan God is die ernstigste besluit wat jy as ’n individu kan neem. Dit is asof jy sê: ‘Jehovah, ek wil hê dat u my Meester in elke aspek van my lewe moet wees. Ek is u kneg. Ek wil hê dat u moet bepaal hoe ek my tyd moet bestee, wat my prioriteite moet wees en hoe ek my middele en talente moet gebruik.’

2 As jy ’n toegewyde Christen is, is dít basies wat jy Jehovah belowe het. Jy moet geprys word vir jou besluit; dit was die regte en verstandige ding om te doen. Maar wat impliseer die feit dat jy Jehovah as jou Meester erken, in verband met die manier waarop jy jou tyd gebruik? Die voorbeelde van Noag, Moses, Jeremia en die apostel Paulus kan ons help om hierdie vraag te ondersoek. Elkeen van hulle was ’n heelhartige kneg van Jehovah. Ons situasie is soortgelyk aan hulle s’n. Die besluite wat hulle geneem het met betrekking tot hulle vernaamste strewes, kan ons aanspoor om te ontleed hoe ons ons tyd gebruik.—Matt. 28:19, 20; 2 Tim. 3:1.

VOOR DIE VLOED

3. Hoe is ons tyd soortgelyk aan dié van Noag?

3 Jesus het ’n vergelyking getref tussen Noag se tyd en ons s’n. “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees”, het hy gesê. Hulle het “geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie” (Matt. 24:37-39). Die meeste mense van vandag gaan voort met hulle daaglikse lewe sonder om te let op die dringendheid van ons tyd. Hulle slaan geen ag op die waarskuwings wat God se knegte verkondig nie. Baie dryf selfs die spot met die gedagte dat God in menseaangeleenthede sal ingryp—net soos mense in Noag se dag gedoen het (2 Pet. 3:3-7). Maar hoe het Noag sy tyd in daardie vyandige milieu gebruik?

4. Hoe het Noag sy tyd gebruik nadat hy sy opdrag van Jehovah ontvang het, en waarom?

4 Nadat Noag oor God se voorneme ingelig is en hy sy opdrag ontvang het, het hy ’n ark gebou om mense en diere te bewaar (Gen. 6:13, 14, 22). Noag het ook Jehovah se naderende oordeel verkondig. Die apostel Petrus noem hom “’n prediker van regverdigheid”, wat aandui dat Noag sy medemens probeer help het om die erns van hulle situasie te besef. (Lees 2 Petrus 2:5.) Dink jy dat dit redelik sou gewees het as Noag en sy gesin hulle daarop toegespits het om ’n besigheid op te bou, vooruitgang onder hulle tydgenote te maak of ’n gerieflike lewenswyse na te streef? Natuurlik nie! Omdat hulle geweet het wat voorgelê het, het hulle sulke afleidings vermy.

DIE KEUSES VAN ’N EGIPTIESE PRINS

5, 6. (a) Waarvoor was die opvoeding wat Moses ontvang het, waarskynlik bedoel om hom voor te berei? (b) Waarom het Moses die geleenthede wat hy in Egipte gehad het, verwerp?

5 Kom ons kyk nou na die voorbeeld van Moses. Hy is in ’n Egiptiese paleis grootgemaak as die aangenome seun van Farao se dogter. As ’n jong prins is hy “in al die wysheid van die Egiptenaars” opgevoed (Hand. 7:22; Eks. 2:9, 10). Hierdie opvoeding was waarskynlik bedoel om hom voor te berei vir ’n loopbaan in Farao se hof. Hy kon vernaamheid in die magtigste regering van daardie tyd verwerf het en die luukshede, voorregte en genietinge gehad het wat so ’n posisie hom sou verskaf het. Maar was dit Moses se oogmerk om hierdie dinge te geniet?

6 As gevolg van die opleiding wat hy vroeg in sy lewe van sy eie ouers ontvang het, het Moses waarskynlik geweet wat Jehovah aan sy voorouers Abraham, Isak en Jakob belowe het. Moses het geloof in hierdie beloftes beoefen. Hy het ongetwyfeld goed nagedink oor sy toekoms en sy lojaliteit aan Jehovah. Wat het hy dus besluit toe die tyd aangebreek het om te kies of hy ’n Egiptiese prins of ’n Israelitiese slaaf sou wees? Moses het verkies “om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê”. (Lees Hebreërs 11:24-26.) Later het hy Jehovah se leiding gevolg oor hoe hy sy lewe moet gebruik (Eks. 3:2, 6-10). Waarom het Moses dit gedoen? Omdat hy God se beloftes geglo het. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat daar vir hom geen toekoms in Egipte is nie. Hierdie nasie is dan ook kort daarna verpletter deur tien plae wat van God afkomstig was. Sien jy die les hierin vir diegene wat vandag aan Jehovah toegewy is? Ons moet ons nie toespits op ’n loopbaan of enige genietinge van hierdie stelsel van dinge nie, maar moet eerder ons aandag op Jehovah en sy diens vestig.

JEREMIA HET GEWEET WAT KOM

7. Hoe was Jeremia se situasie soortgelyk aan ons s’n?

7 Nog iemand wat Jehovah se diens eerste gestel het, was die profeet Jeremia. Jehovah het Jeremia as sy profeet aangestel om ’n oordeelsboodskap teen die afvallige Jerusalem en Juda te verkondig. In sekere sin het Jeremia “aan die einde van die dae” gelewe (Jer. 23:19, 20). Hy het goed geweet dat die stelsel waarin hy lewe, nie sou voortbestaan nie.

8, 9. (a) Waarom moes Barug se denke reggestel word? (b) Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons planne maak?

8 Wat was die logiese gevolg van Jeremia se oortuiging? Hy het nie ’n toekoms in daardie gedoemde stelsel probeer bou nie. Watter nut sou dit hê om dit te doen? Maar Jeremia se sekretaris, Barug, het dinge ’n ruk lank nie duidelik gesien nie. God het Jeremia dus geïnspireer om vir sy sekretaris te sê: “Kyk! Wat ek opgebou het, breek ek af, en wat ek geplant het, ruk ek uit, ja, die hele land. Maar wat jou betref, jy hou aan om vir jou groot dinge te soek. Moet dit nie aanhou soek nie. Want kyk, ek bring rampspoed oor alle vlees . . . en ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.”—Jer. 45:4, 5

9 Ons kan nie seker wees watter “groot dinge” Barug vir hom gesoek het nie. * Maar ons weet wel dat dit dinge was wat geen toekoms gehad het nie, dinge wat tot ’n einde gekom het toe die Babiloniërs Jerusalem in 607 VHJ verower het. Sien jy ’n les hierin vir ons? Om in die lewensbehoeftes te voorsien, vereis dat ons in sekere mate vir die toekoms moet beplan (Spr. 6:6-11). Maar hoe wys sou dit wees om baie tyd en energie te wy aan strewes wat nie van blywende waarde is nie? Jehovah se organisasie gaan weliswaar voort om nuwe Koninkryksale, takfasiliteite en ander teokratiese projekte te beplan. Maar hierdie projekte het wel ’n toekoms, want die doel daarvan is om Koninkryksbelange te bevorder. Dit sal vir al Jehovah se toegewyde knegte gepas wees om soortgelyke prioriteite te stel wanneer hulle planne maak. Is jy in jou hart oortuig dat jy ‘eers die koninkryk en Jehovah se regverdigheid soek’?—Matt. 6:33.

‘EK BESKOU DIT AS ’N KLOMP VULLIS’

10, 11. (a) Waarop het Paulus sy pogings toegespits voordat hy ’n Christen geword het? (b) Waarom het Paulus se doelwit heeltemal verander?

10 Laat ons laastens na die voorbeeld van Paulus kyk. Voor sy bekering tot die Christelike godsdiens het hy ’n oënskynlik belowende toekoms gehad. Hy het die Joodse wet onder een van die beroemdste onderrigters van sy dag bestudeer. Hy het volmag van die Joodse hoëpriester ontvang. En hy het groter vooruitgang in Judaïsme gemaak as talle van sy tydgenote (Hand. 9:1, 2; 22:3; 26:10; Gal. 1:13, 14). Maar dit alles het verander toe Paulus besef het dat Jehovah nie meer die Jode as ’n nasie seën nie.

11 Paulus het besef dat ’n loopbaan in die Joodse stelsel geen waarde vanuit Jehovah se oogpunt gehad het nie; dit het geen toekoms gehad nie (Matt. 24:2). Hierdie voormalige Fariseër het selfs gesê dat hy nou die dinge wat hy vroeër belangrik geag het, as “’n klomp vullis” beskou in vergelyking met sy nuwe, verligte begrip van God se voornemens en die voorreg van die Christelike bediening. Paulus het sy strewes in Judaïsme laat vaar en die res van sy dae op aarde daaraan gewy om die goeie nuus te verkondig.Lees Filippense 3:4-8, 15; Hand. 9:15.

ONDERSOEK JOU PRIORITEITE

12. Waarop het Jesus hom ná sy doop toegespits?

12 Noag, Moses, Jeremia, Paulus en baie ander soos hulle het die meeste van hulle tyd en energie aan teokratiese strewes gewy. Hulle is goeie voorbeelde vir ons. Jesus is natuurlik die beste voorbeeld van al Jehovah se toegewyde knegte (1 Pet. 2:21). Ná sy doop het Jesus die res van sy lewe op aarde daaraan gewy om die goeie nuus te verkondig en Jehovah te eer. Vir ’n Christen wat Jehovah as sy Meester erken, moet dit voor die hand liggend wees dat diens aan Jehovah ’n prioriteit in sy lewe moet wees. Is dit jou prioriteit? En hoe kan die strewe na teokratiese doelwitte versoen word met die nodige sekulêre bedrywighede?—Lees Psalm 71:15; 145:2.

13, 14. (a) Wat word alle toegewyde Christene aangespoor om te oorweeg? (b) Watter bevrediging kan God se knegte smaak?

13 Deur die jare heen het Jehovah se organisasie Christene herhaaldelik aangespoor om dit biddend te oorweeg of hulle kan pionier. Die omstandighede van party van Jehovah se getroue knegte laat hulle om verskeie redes nie toe om gemiddeld 70 uur per maand aan die predikingswerk te wy nie. Hulle moenie sleg voel hieroor nie (1 Tim. 5:8). Maar wat van jou? Is die pionierdiens werklik buite jou bereik?

14 Dink aan die vreugde wat so baie van God se knegte gedurende vanjaar se Gedenkmaalseisoen ervaar het. Gedurende Maart kon hulppioniers danksy ’n spesiale voorsiening kies of hulle 30 of 50 uur aan velddiens sou bestee (Ps. 110:3). Miljoene het hulppionierdiens gedoen, en daar het buitengewone opgewondenheid en vreugde in die gemeentes geheers. Kan jy jou sake so reël dat jy meer dikwels hierdie vreugde kan smaak? Aan die einde van elke dag bied dit ’n toegewyde Christen groot bevrediging om te kan sê: “Jehovah, ek het alles gedoen wat ek kon in u diens.”

15. Wat moet ’n jong Christen se oogmerk wees met betrekking tot sekulêre opleiding?

15 As jy die einde van jou vereiste skoolopleiding nader, vind jy moontlik dat jy goeie gesondheid en min verantwoordelikhede het. Het jy dit ernstig oorweeg om die gewone pionierdiens te betree? Skoolvoorligters glo ongetwyfeld dat dit tot jou beswil is om verder te studeer en ’n sekulêre loopbaan na te streef. Maar hulle stel hulle vertroue in ’n maatskaplike en finansiële stelsel wat geen blywende toekoms het nie. As jy daarenteen ’n teokratiese loopbaan kies, sal jy doelwitte nastreef wat werklik lonend en blywend is. En jy sal Jesus se volmaakte voorbeeld volg. Hierdie wyse besluit sal jou gelukkig maak. Dit sal jou beskerm. En dit sal toon dat jy vasbeslote is om jou toewyding aan Jehovah na te leef.—Matt. 6:19-21; 1 Tim. 6:9-12.

16, 17. Watter vrae ontstaan met betrekking tot sekulêre werk en ander strewes?

16 Baie van God se knegte werk vandag lang ure om in die basiese behoeftes van hulle gesin te voorsien. Maar party werk dalk langer ure as wat nodig is (1 Tim. 6:8). Die handelswêreld doen sy bes om ons te oortuig dat ons nie kan klaarkom sonder sy stortvloed produkte en elke nuwe model wat op die mark kom nie. Maar ware Christene wil nie hê dat Satan se wêreld hulle prioriteite moet bepaal nie (1 Joh. 2:15-17). En wat afgetredenes betref, kan hulle hulle tyd enigsins beter gebruik as om te pionier en Jehovah se diens sodoende eerste te stel?

17 Alle toegewyde knegte van Jehovah kan hulle afvra: Wat is my vernaamste oogmerk in die lewe? Stel ek Koninkryksbelange eerste? Volg ek Jesus se selfopofferende gesindheid na? Slaan ek ag op Jesus se raad om hom voortdurend te volg? Kan ek my rooster aanpas sodat ek meer tyd aan die Koninkrykspredikingswerk of ander teokratiese strewes kan wy? Kweek ek voortdurend ’n selfopofferende gees aan, al laat my omstandighede my nie tans toe om my diens uit te brei nie?

“GEWILLIG EN BEKWAAM”

18, 19. Waaroor kan jy bid, en waarom sal so ’n versoek Jehovah behaag?

18 Dit is ’n vreugde om die ywer van God se volk te aanskou. Maar party is nie juis geneig om te pionier nie of voel nie bekwaam om dit te doen nie—al laat hulle omstandighede dit toe (Eks. 4:10; Jer. 1:6). Wat dan? Is dit nie ’n gepaste onderwerp vir gebed nie? Beslis. Paulus het vir medegelowiges gesê dat Jehovah hulle “gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer” (Fil. 2:13, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). As jy nie gemotiveerd voel om jou bediening uit te brei nie, moet jy Jehovah vra om jou die begeerte sowel as die vermoë te gee om dit te doen.—2 Pet. 3:9, 11.

19 Noag, Moses, Jeremia, Paulus en Jesus was almal toegewyde manne. Hulle het hulle tyd en energie gebruik om Jehovah se waarskuwende boodskap te verkondig. Hulle het nie toegelaat dat hulle aandag afgelei word nie. Die einde van die teenswoordige stelsel van dinge is op hande; gevolglik moet almal van ons wat ons lewe aan God toegewy het, seker wees dat ons steeds ons uiterste bes doen om hierdie voortreflike skriftuurlike voorbeelde na te volg (Matt. 24:42; 2 Tim. 2:15). As ons dit doen, kan ons Jehovah behaag en sy ryk seëninge ontvang.—Lees Maleagi 3:10.

[Voetnoot]

^ par. 9 Sien God se woord vir ons deur Jeremia, bladsye 104-106.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Mense het geen ag geslaan op Noag se waarskuwing nie

[Prent op bladsy 24]

Het jy dit ernstig oorweeg om die gewone pionierdiens te betree?