Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Hulle is deur heilige gees meegevoer’

‘Hulle is deur heilige gees meegevoer’

‘Hulle is deur heilige gees meegevoer’

“Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 PET. 1:21.

PUNTE OM OOR NA TE DINK

Hoe is God se boodskap deur die heilige gees aan Bybelskrywers oorgedra?

Watter bewyse toon dat die Bybel deur God geïnspireer is?

Wat kan jy elke dag doen om jou waardering vir God se Woord te behou?

1. Waarom het ons die geïnspireerde Woord van God nodig?

WAAR kom ons vandaan? Waarom is ons hier? Wat hou die toekoms vir ons in? Waarom is die wêreld in so ’n slegte toestand? Wat gebeur met ons wanneer ons sterf? Mense regoor die aarde vra hierdie vrae. Hoe sou ons geweet het wat die antwoorde op hierdie en ander belangrike vrae is as ons nie die geïnspireerde Woord van God gehad het nie? Sonder die Heilige Skrif sou persoonlike ondervinding ons vernaamste onderrigter gewees het. Sou ons, as persoonlike ondervinding ons onderrigter was, ooit soos die psalmis kon gevoel het oor “die wet van Jehovah”?—Lees Psalm 19:7.

2. Wat sal ons help om ons waardering vir die Bybel as ’n kosbare gawe van God te behou?

2 Die droewige werklikheid is egter dat party toegelaat het dat die liefde wat hulle aanvanklik vir Bybelwaarheid gehad het, afkoel. (Vergelyk Openbaring 2:4.) Hulle wandel nie meer op die weg wat Jehovah behaag nie (Jes. 30:21). Dit hoef nie met ons te gebeur nie. Ons kan en moet ons daarop toelê om ons waardering vir die Bybel en die leringe daarvan te behou. Die Bybel is ’n belangrike gawe van ons liefdevolle Skepper (Jak. 1:17). Wat sal ons help om ons waardering vir “die woord van God” te vergroot? ’n Sleutel is bepeinsing oor hoe Bybelskrywers gerig is om die Bybel te skryf. Dit sluit in dat ons dink aan party van die oorvloedige bewyse dat dit geïnspireer is. As ons dit doen, behoort dit ons aan te spoor om elke dag God se Woord te lees en die raad daarin toe te pas.—Heb. 4:12.

“DEUR HEILIGE GEES MEEGEVOER”—HOE?

3. Hoe is die profete en Bybelskrywers “deur heilige gees meegevoer”?

3 Ongeveer 40 manne het die Bybel oor ’n tydperk van 1 610 jaar—van 1513 VHJ tot 98 HJ—geskryf. Party was profete wat “deur heilige gees meegevoer is”. (Lees 2 Petrus 1:20, 21.) Die Griekse woord wat met “meegevoer” weergegee word, bevat die betekenis van “om van een plek na ’n ander te dra of te voer”, en dit “kan op verskillende maniere weergegee word, naamlik: beweeg word, gedryf word, jou laat beweeg”. * Handelinge 27:15 gebruik dit in ’n beskrywing van ’n boot wat deur die wind meegesleur is, of op ’n sekere koers gedryf is. Bybelprofete en -skrywers is “deur heilige gees meegevoer” in die sin dat God deur middel van sy werkende krag met hulle gekommunikeer het, hulle beweeg het en hulle gerig het. Gevolglik het hulle nie hulle eie idees nie, maar God se gedagtes neergeskryf. Soms het die geïnspireerde profete en skrywers nie eens geweet wat die dinge beteken wat hulle voorspel of neerskryf nie (Dan. 12:8, 9). Ja, “die hele Skrif is deur God geïnspireer” en is vry van menslike menings.—2 Tim. 3:16.

4-6. Op watter maniere het Jehovah sy boodskap aan die Bybelskrywers oorgedra? Lig toe.

4 Maar hoe is God se boodskap deur die heilige gees aan Bybelskrywers oorgedra? Het hulle die presiese bewoording ontvang of net gedagtes wat hulle in hulle eie woorde kon uitdruk? Dink aan hoe ’n sakeman moontlik ’n brief saamstel. Wanneer die presiese bewoording belangrik is, skryf hy die brief self of dikteer hy dit woord vir woord aan sy sekretaresse. Die sekretaresse tik dit, en die brief dra die sakeman se handtekening. Maar soms voorsien hy net die hoofgedagtes, en die sekretaresse stel die brief op deur haar eie styl of woordeskat te gebruik. Die sakeman proeflees dan moontlik die brief en laat die sekretaresse enige nodige veranderinge aanbring. Op die ou end dra die brief sy handtekening en word dit beskou as afkomstig van hom.

5 So ook is party dele van die Bybel “deur die vinger van God” voorsien (Eks. 31:18). Wanneer die presiese bewoording noodsaaklik was, het Jehovah dit dan ook gedikteer. In Eksodus 34:27 lees ons byvoorbeeld: “Jehovah het verder vir Moses gesê: ‘Skryf hierdie woorde vir jou op, want ooreenkomstig hierdie woorde sluit ek ’n verbond met jou en Israel.’” Jehovah het eweneens vir die profeet Jeremia gesê: “Skryf vir jou in ’n boek al die woorde wat ek tot jou sal spreek.”—Jer. 30:2.

6 Maar in die meeste gevalle is gedagtes eerder as spesifieke woorde wonderdadig in die harte en verstande van Bybelskrywers geplaas, wat hulle in staat gestel het om hulle eie woorde te kies om dit uit te druk. “Die byeenbringer het gesoek om die welgevallige woorde te vind en korrekte woorde van waarheid neer te skryf”, sê Prediker 12:10. Die Evangelieskrywer Lukas het ‘alles van die begin af noukeurig nagespeur om dit in logiese volgorde te skryf’ (Luk. 1:3). God se gees het verseker dat menslike onvolmaaktheid nie sy boodskap besmet nie.

7. Hoe getuig die feit dat God mense gebruik het om die Bybel te skryf, van Sy wysheid?

7 Die feit dat God mense gebruik het om die Bybel te skryf, getuig van sy groot wysheid. Woorde dra nie net inligting oor nie, maar ook emosies en gevoelens. Sê nou Jehovah het engele as skrywers gebruik? Kon hulle emosies soos vrees, droefheid en teleurstellings wat so eie aan die mens is, met die gevoel van ’n mens oorgedra het? Deur onvolmaakte mense toe te laat om die bewoording te kies vir die gedagtes wat hulle deur middel van die heilige gees ontvang het, het God sy boodskap oorgedra met warmte, verskeidenheid en die trefkrag van menslike emosies en gevoelens!

HOU DIE BEWYSE VOOR OË

8. Waarom kan daar gesê word dat die Bybel van alle ander godsdiensboeke verskil?

8 Daar is oorvloedige bewyse dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is. Die Bybel stel ons in staat om God te leer ken soos geen ander godsdiensboek nie. Byvoorbeeld, die geskrifte van Hindoeïsme sluit boeke in met Vediese gesange, ’n versameling van ritualistiese kommentare oor hierdie gesange, filosofiese verhandelinge wat die Oepanisjads genoem word en die epiese verhale wat as Ramajana en die Mahabharata bekend staan. Die Bhagavad Gita, ’n boek wat sedelike instruksies bevat, is deel van die Mahabharata. Die een deel van Boeddhisme se Tipitaka (Drie Versamelings) handel hoofsaaklik oor reëls en regulasies in verband met die gemeenskapslewe vir monnike en nonne. Nog ’n deel handel grotendeels oor Boeddhistiese leerstellings. ’n Derde deel is ’n verslag van die mondelinge leringe van Boeddha. Boeddha het nie beweer dat hy ’n god is nie, en hy het baie min oor God gesê. Die tekste van Confucianisme is ’n mengsel van verslae van gebeure, sedelike reëls, towerformules en liedere. Die heilige boek van Islam verkondig weliswaar geloof in een God en beeld hom uit as God wat alwetend is en voorkennis het, maar dit openbaar nie eers die naam van God, Jehovah, wat duisende kere in die Bybel voorkom nie.

9, 10. Wat kan ons in die Bybel omtrent God leer?

9 Terwyl die meeste vername godsdiensboeke baie min, indien enigiets, oor God sê, vertel die Bybel ons van Jehovah God en sy bedrywighede. Dit help ons om die baie fasette van sy persoonlikheid te sien. Die Bybel openbaar God nie net as ’n almagtige, wyse en regverdige God nie, maar ook as ’n God wat ons liefhet. (Lees Johannes 3:16; 1 Johannes 4:19.) Verder sê die Bybel vir ons: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Hand. 10:34, 35). In sekere sin bevestig die beskikbaarheid van die Bybel hierdie waarheid. Taalkundiges sê dat daar vandag sowat 6 700 tale in die wêreld is, waarvan ongeveer 100 deur 90 persent van die wêreldbevolking gepraat word. Nietemin is die Bybel, in sy geheel of gedeeltelik, in meer as 2 400 tale vertaal. Byna almal in die wêreld het toegang tot ten minste dele daarvan.

10 Jesus het gesê: “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk” (Joh. 5:17). ‘Jehovah is van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd God.’ Dink net aan alles wat hy al gedoen het! (Ps. 90:2). Slegs die Bybel vertel ons van God se bedrywighede in die verlede en die hede en openbaar wat hy in die toekoms sal doen. Die Skrif leer ons ook wat hom behaag en wat hom mishaag, en dit toon hoe ons nader aan hom kan kom (Jak. 4:8). Ons moenie toelaat dat enige persoonlike strewes of belange ons van hom wegtrek nie.

11. Watter ontsaglike en betroubare wysheid word in die Bybel gevind?

11 Die ontsaglike en betroubare wysheid wat in die Bybel gevind word, dui ook aan dat die boek van ’n hoër Bron kom as die mens. Die apostel Paulus het geskryf: “Wie het die denke van Jehovah leer ken, dat hy hom kan onderrig?” (1 Kor. 2:16). Hierdie vers is gebaseer op wat die profeet Jesaja die mense van sy dag gevra het: “Wie het die afmetings van die gees van Jehovah geneem, en wie kan aan hom as sy raadsman enigiets bekend maak?” (Jes. 40:13). Die antwoord is natuurlik: Niemand. Geen wonder dat die toepassing van skriftuurlike raad oor die huwelik, kinders, vermaak, assosiasie, vlytigheid, eerlikheid en sedelikheid voortreflike resultate lewer nie! Die Bybel gee ons nooit slegte raad nie. Mense daarenteen is eenvoudig nie wys genoeg om raad te gee wat altyd werk nie (Jer. 10:23). Hulle raad word voortdurend hersien en aangepas wanneer hulle besef dat die vroeëre raad tekort geskiet het. “Die gedagtes van die mense”, sê die Bybel, “[is] soos ’n asemstoot.”—Ps. 94:11.

12. Ondanks watter pogings deur die eeue heen het die Bybel behoue gebly?

12 Nog ’n bewys dat die ware God die Outeur van die Bybel is, hou verband met wat die geskiedenis openbaar oor pogings wat aangewend is om die Bybel se boodskap te vernietig. In 168 VHJ het die Siriese koning Antiogos IV die geïnspireerde boeke van die Wet probeer vind om dit te verbrand. Die Romeinse keiser Diokletianus se verordening om die vergaderplekke van die Christene af te breek en hulle eksemplare van die Bybel te verbrand, is in 303 HJ uitgevaardig. Die vernietiging het ’n dekade lank geduur. Ná die 11de eeu was pouse aan die spits van die pogings om die verspreiding van Bybelkennis te onderdruk en het hulle die vertaling van die Skrif in tale van die gewone mense teëgestaan. Ondanks hierdie pogings deur Satan en sy agente het die Bybel tot ons dag behoue gebly. Jehovah het niemand toegelaat om sy gawe aan die mensdom uit te wis nie.

BEWYSE WAT BAIE OORTUIG HET

13. Watter bewyse van die Bybel se inspirasie kan ons aanvoer?

13 Daar is nog bewyse van die Bybel se inspirasie: die interne harmonie, wetenskaplike akkuraatheid, vervulde profesieë, buitengewone openhartigheid, krag om lewens te verander, geskiedkundige noukeurigheid en bevredigende antwoorde op die vrae wat in paragraaf 1 gemeld word. Kyk na wat sekere mense gehelp het om te sien dat die Bybel van God kom.

14-16. (a) Wat het ’n Moslem, ’n Hindoe en ’n agnostikus oortuig dat die Bybel van goddelike oorsprong is? (b) Watter bewyse van die goddelike inspirasie van die Bybel gebruik jy graag in die bediening?

14 Anwar * het as ’n Moslem in ’n Midde-Oosterse land grootgeword. Terwyl hy tydelik in Noord-Amerika gewoon het, het Jehovah se Getuies hom by sy huis besoek. “Destyds”, sê Anwar, “het ek ’n swak dunk van Christelike godsdienste gehad as gevolg van die Kruistogte en die Inkwisisie. Maar omdat ek van nature nuuskierig is, het ek ’n Bybelstudie aanvaar.” Nie lank daarna nie het Anwar teruggekeer huis toe en kontak met die Getuies verloor. Jare later het hy na Europa getrek, waar hy sy Bybelstudie hervat het en tot hierdie gevolgtrekking gekom het: “Die vervulling van Bybelprofesieë, die interne harmonie van die Heilige Skrif, die gebrek aan teenstrydighede in die Bybel en die liefde onder Jehovah se aanbidders het my oortuig dat die Bybel God se Woord is.” Anwar is in 1998 gedoop.

15 Die 16-jarige Asha kom uit ’n vroom Hindoegesin. “Ek het net gebid wanneer ek tempel toe gegaan het of swaar gekry het”, sê sy, “maar wanneer dit met my goed gegaan het, het ek nooit aan God gedink nie.” Sy sê verder: “Maar my lewe het heeltemal verander toe Jehovah se Getuies aan my deur geklop het.” Asha het die Bybel bestudeer en God as haar Vriend leer ken. Wat het haar oortuig dat die Bybel deur God geïnspireer is? Sy verduidelik: “Die Bybel het elke vraag beantwoord wat ek gevra het. Dit het my gehelp om geloof te hê sonder om God eens te sien—dit wil sê sonder om na ’n tempel te gaan om voor ’n afgod neer te buig.”

16 Paula is as ’n Katoliek grootgemaak, maar teen die tyd dat sy ’n jong volwassene was, het sy haar as ’n agnostikus beskou. Toe het iets gebeur. “Ek het ’n vriend raakgeloop wat ek maande lank nie gesien het nie”, vertel sy. “Dit was in die hippie-era. Toe ek sien hoe hy verander het—hy was nou netjies en gelukkig—het ek hom gevra: ‘Wat het met jou gebeur, en waar was jy?’ Hy het gesê dat hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het en het toe vir my getuig.” Toe hierdie voormalige agnostikus sien watter krag Bybelwaarheid uitoefen, het dit haar tot die boodskap van die Bybel aangetrek, en sy het aanvaar dat dit deur God geïnspireer is.

“U WOORD IS ’N LAMP VIR MY VOET”

17. Watter uitwerking kan dit op jou hê as jy God se Woord elke dag lees en daaroor peins?

17 Die Bybel is ’n wonderlike gawe wat Jehovah deur middel van sy heilige gees voorsien het. Skep behae daarin om dit elke dag te lees, en jou liefde vir die Bybel en die Outeur daarvan sal toeneem (Ps. 1:1, 2). Open elke studiesessie met gebed en vra dat God se gees jou gedagtes moet rig (Luk. 11:13). Die Bybel bevat God se gedagtes; wanneer jy dus peins oor wat dit sê, kan jy God se denke jou eie maak.

18. Waarom wil jy voortgaan om uit die Bybel te leer?

18 Terwyl jou juiste kennis van die waarheid toeneem, moet jy toepas wat jy leer. (Lees Psalm 119:105.) Kyk diep in die Skrif soos jy in ’n spieël sal kyk. As jy dan sien dat jy veranderinge moet aanbring, bring dit aan (Jak. 1:23-25). Gebruik God se Woord soos ’n swaard om jou oortuigings te verdedig en om valse leringe uit die harte van sagmoediges te verwyder (Ef. 6:17). Terwyl jy dit doen, moet jy dankbaar wees dat die profete en manne wat gebruik is om die boodskap van die Bybel op te teken, inderdaad “deur heilige gees meegevoer is”.

[Voetnote]

^ par. 3 A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature.

^ par. 14 Van die name is verander.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 29]

Lees die Bybel elke dag, en jou liefde vir die Outeur daarvan sal toeneem

[Prent op bladsy 26]

’n Brief word beskou as afkomstig van die persoon wie se handtekening dit dra