Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees wys—Soek “bekwame leiding”

Wees wys—Soek “bekwame leiding”

Wees wys—Soek “bekwame leiding”

Die lewe is al met ’n reis vergelyk. Maar menslike wysheid is dikwels van min waarde om mense te help om hulle pad met welslae deur die lewe te baan. Baie ly skipbreuk in die stormagtige waters van die lewe (Ps. 107:23, 27). Waarom is hierdie metafoor gepas?

In die ou tyd was seevaart ’n uitdaging wat ondervinding vereis het. Dit was ’n kuns wat gewoonlik aan die voete van ervare seemanne, moontlik ’n stuurman, geleer is (Hand. 27:9-11). Talle ou skilderye beklemtoon die belangrikheid van die stuurman se rol deur hom groter as ander uit te beeld. Om hulle voor te berei vir die oop see, het seevaarders geleer van sterre, winde en ander verwysingspunte. Die Bybel beskryf sekere seemanne as “vaardiges” en gebruik ’n woord wat “wyses” kan beteken.—Eseg. 27:8, vtn. in NW.

Om die lewensprobleme van vandag die hoof te bied, kan net so moeilik lyk soos ’n seevaart in die ou tyd. Wat kan ons help?

HOE KAN ONS “BEKWAME LEIDING” VERKRY?

Hou die metafoor dat die lewe soos ’n reis is, in gedagte en beskou hierdie Bybelwaarheid: “’n Wyse sal luister en meer onderrigting inneem, en ’n man met begrip verwerf bekwame leiding” (Spr. 1:5, 6). Die Hebreeuse woord wat met “bekwame leiding” weergegee word, kan die dade beskryf van die bevelvoerder van ’n skip in die ou tyd. Dit sinspeel op die vermoë om met bekwaamheid te lei en te rig.

Hoewel dit inspanning verg, kan ons “bekwame leiding” verkry en leer om met welslae op die lewensee te “vaar”. Soos Spreuke aandui, moet ons “wysheid”, “begrip” en “insig” laat saam werk (Spr. 1:2-6; 2:1-9). En ons kan nie versuim om na goddelike leiding te soek nie, want selfs die goddeloses weet moontlik hoe om “leiding” met onregverdige oogmerke te voorsien.—Spr. 12:5.

Dit is dus noodsaaklik dat ons ywerige studente van God se Woord moet wees. Deur Bybelstudie kan ons kosbare inligting inneem oor Jehovah en die een wat Hom die beste weerspieël, Jesus Christus (Joh. 14:9). Ons ontvang baie wyse raad by Christelike vergaderinge. Ons kan ook leer uit die ondervinding van ander, insluitende ons ouers.—Spr. 23:22.

DINK VOORUIT EN BEPLAN

“Bekwame leiding” is veral belangrik wanneer ons ons in figuurlike sin in onstuimige waters bevind. Twyfel oor wat om in ’n ingewikkelde situasie te doen, kan ons as ’t ware verlam, met rampspoedige gevolge.—Jak. 1:5, 6.

Dit is interessant dat die woord wat met “bekwame leiding” vertaal word, ook gebruik word met verwysing na oorlogvoering. Ons lees: “Met bekwame leiding [“met goeie strategie”, The Revised English Bible] sal jy jou oorlog voer, en in die veelheid van raadgewers is daar redding.”—Spr. 20:18; 24:6.

Soos ’n strateeg wat ’n stryd beplan, sal dit goed wees as ons vooruitdink aan moontlike gevare vir ons geestelikheid (Spr. 22:3). Byvoorbeeld, jy moet dalk besluit of jy ’n nuwe werk of bevordering sal aanvaar. Jy sal natuurlik die salaris, die reistyd na en van die werk asook ander besonderhede in ag neem. Daar is egter ander punte om in gedagte te hou: Is die aard van die werk in ooreenstemming met Bybelbeginsels? Watter uitwerking sal die werksure, byvoorbeeld skofwerk, op my Christelike bedrywighede hê?—Luk. 14:28-30.

Loretta, een van Jehovah se Getuies, het ’n goeie werk by ’n voedselverpakkingsmaatskappy gehad. Toe die maatskappy verskuif sou word, is Loretta ’n belangrike posisie by die nuwe plek aangebied: “Dit is ’n unieke geleentheid”, het die direkteure vir haar gesê. “Ons het reeds uitgevind dat daar ’n Koninkryksaal daar naby is.” Maar Loretta wou haar lewe vereenvoudig sodat sy die Skepper in groter mate kon dien. Sy het besef dat die nuwe pos haar minder tyd vir Christelike bedrywighede sou gee. Sy het dus haar bedanking ingedien, hoewel die direkteur haar vertroulik meegedeel het dat sy die enigste werknemer is wat hulle eintlik wil behou. Loretta, wat nou al sowat 20 jaar ’n gewone pionier is, is oortuig dat die goeie resultate wat sy verkry het, regstreeks verband gehou het met die feit dat sy met “bekwame leiding”, ja, in ooreenstemming met die raad in God se Woord, beplan het. Sy het haar verhouding met Jehovah versterk en het die voorreg gehad om etlike mense te help om Bybelwaarheid aan te neem.

“Bekwame leiding” is beslis nodig in die gesin. Om kinders groot te maak, is ’n langtermyntaak, en die keuses wat op geestelike of materiële gebied gemaak word, het ’n uitwerking op die toekoms van almal in die gesin (Spr. 22:6). Christenouers kan hulle byvoorbeeld afvra: ‘Leer ons ons kinders deur middel van ons gesprekke en voorbeeld geestelike waardes wat hulle sal help om as volwassenes wys op te tree? Help ons lewenswyse hulle om te verstaan hoe om met ’n eenvoudige lewe vergenoeg te wees en om op hulle Christelike bediening te fokus?’—1 Tim. 6:6-10, 18, 19.

Ware sukses word nie bepaal deur die materiële of sosiale doelwitte wat mense in die wêreld dikwels najaag nie. Koning Salomo het dit verstaan. Hy is geïnspireer om te skryf “dat dit goed sal afloop met dié wat die ware God vrees, omdat hulle hom gevrees het” (Pred. 8:12). Dit bevestig beslis dat dit wys is om “bekwame leiding” te soek wat op God se Woord gebaseer en in ooreenstemming daarmee is.—2 Tim. 3:16, 17.

[Prent op bladsy 30]

Om hulle rol te beklemtoon, is stuurmanne dikwels groter as ander seemanne uitgebeeld

[Erkenning]

Su concessione del Ministero per i Beni e le Attività Culturali. It is forbidden to reproduce or duplicate this image in any way or by any means.