Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gedra julle as koninkryksburgers!

Gedra julle as koninkryksburgers!

Gedra julle as koninkryksburgers!

“Gedra julle as burgers.”—FIL. 1:27, vtn. in NW.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Wie kan Koninkryksburgers wees?

Wat moet ons doen met betrekking tot die Koninkryk se taal, geskiedenis en wette?

Hoe toon Koninkryksburgers dat hulle God se standaarde liefhet?

1, 2. Waarom het Paulus se raad aan die gemeente in Filippi spesiale betekenis gehad?

DIE apostel Paulus het die gemeente in Filippi aangespoor: “Gedra julle . . . op ’n wyse wat die goeie nuus . . . waardig is.” (Lees Filippense 1:27.) Die Griekse woord wat Paulus gebruik het en wat met “gedra julle” vertaal word, kan ook weergegee word met “gedra julle as burgers”. Hierdie uitdrukking het spesiale betekenis vir die gemeente in Filippi gehad. Waarom? Omdat Filippi blykbaar een van ’n eksklusiewe groep stede was waar die inwoners ’n vorm van Romeinse burgerskap gegee is. Romeinse burgers in Filippi en dwarsdeur die Romeinse Ryk was trots op hulle status en het spesiale beskerming onder die Romeinse wet geniet.

2 Die lede van die gemeente in Filippi het ’n groter rede gehad om trots te wees. Paulus het hulle daaraan herinner dat hulle burgerskap as gesalfde Christene “in die hemele” bestaan (Fil. 3:20). Hulle was burgers, nie van ’n blote menseryk nie, maar van God se Koninkryk. As sodanig het hulle ongeëwenaarde beskerming en voordele geniet.—Ef. 2:19-22.

3. (a) Wie het die geleentheid om ’n Koninkryksburger te wees? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Paulus se vermaning: “Gedra julle as burgers”, is hoofsaaklik van toepassing op diegene wat saam met Christus in die hemel sal regeer (Fil. 3:20). Maar by uitbreiding kan dit toegepas word op diegene wat die aardse onderdane van God se Koninkryk sal wees. Waarom? Omdat alle toegewyde Christene dieselfde Koning, Jehovah, dien en volgens dieselfde standaarde moet lewe (Ef. 4:4-6). Vandag doen mense groot moeite om aan die vereistes te voldoen om ’n burger van ’n welvarende land te word. Hoeveel te meer moet ons die geleentheid waardeer om ’n Koninkryksburger te wees! Om ons waardering vir hierdie voorreg te vergroot, gaan ons ’n paar ooreenkomste bespreek tussen die vereistes om ’n burger van ’n menseregering te word en om ’n burger van God se Koninkryk te word. Dan sal ons drie dinge ondersoek wat ons moet doen as ons die eer wil behou om ’n Koninkryksburger te wees.

VEREISTES VIR BURGERSKAP

4. Wat is die suiwer taal, en hoe “praat” ons dit?

4 Leer die taal. Party menseregerings vereis dat diegene wat om burgerskap aansoek doen, die hooftaal van die land moet praat. Selfs nadat hulle burgerskap ontvang het, streef party mense nog jare lank daarna om die nuwe taal te bemeester. Hulle leer dalk die grammatikareëls vinnig, maar dit neem hulle moontlik ’n ruk om die woorde reg uit te spreek. God se Koninkryk vereis eweneens dat sy burgers leer wat die Bybel die “suiwer taal” noem. (Lees Sefanja 3:9.) Wat is hierdie taal? Dit is die waarheid oor God en oor sy voornemens soos dit in die Bybel gevind word. Ons “praat” die suiwer taal wanneer ons gedrag met God se wette en beginsels strook. Burgers van God se Koninkryk leer dalk basiese Bybelbeginsels gou en word gedoop. Maar selfs ná hulle doop moet hulle daarna streef om die suiwer taal al hoe beter te “praat”. Hoe? Elkeen van ons moet die gaping oorbrug tussen wat ons omtrent Bybelbeginsels weet en wat ons doen.

5. Waarom moet ons soveel moontlik omtrent die geskiedenis van Jehovah se organisasie leer?

5 Bestudeer die geskiedenis. Iemand wat ’n burger van ’n menseregering wil word, moet moontlik iets omtrent daardie regering se geskiedenis leer. Diegene wat Koninkryksburgers wil word, moet eweneens soveel moontlik van God se Koninkryk leer. Neem die voorbeeld van die seuns van Korag, wat in eertydse Israel gedien het. Hulle het groot behae geskep in Jerusalem en sy plek van aanbidding en in die vertelling van die stad se geskiedenis. Dit was nie soseer die geboue wat hulle beïndruk het nie, maar wat die stad en daardie plek van aanbidding verteenwoordig het. Jerusalem was “die stad van die Grootse Koning”, Jehovah, want dit was die sentrum van rein aanbidding. Dit was hier dat Jehovah se Wet aan die volk geleer is. Dit was aan die volk waaroor die Koning van Jerusalem regeer het, dat Jehovah liefderyke goedhartigheid bewys het. (Lees Psalm 48:1, 2, 9, 12, 13.) Wil jy, soos hulle, die geskiedenis van die aardse deel van Jehovah se organisasie bestudeer en ander daarvan vertel? Hoe meer jy leer omtrent God se organisasie en hoe Jehovah sy volk onderskraag, hoe werkliker sal God se Koninkryk vir jou wees. Jou begeerte om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, sal natuurlikerwys toeneem.—Jer. 9:24; Luk. 4:43.

6. Waarom is dit redelik dat Jehovah vereis dat ons Koninkrykswette en -beginsels moet leer en gehoorsaam?

6 Ken die wette. Menseregerings vereis dat hulle onderdane die wette van die land moet leer en gehoorsaam. Dit is dan net redelik dat Jehovah sal verwag dat ons die wette en beginsels wat alle Koninkryksburgers rig, moet leer en gehoorsaam (Jes. 2:3; Joh. 15:10; 1 Joh. 5:3). Mensewette is dikwels gebrekkig en kan onregverdig wees. Maar “die wet van Jehovah is volmaak” (Ps. 19:7). Skep ons behae in God se wet en lees ons sy Woord elke dag? (Ps. 1:1, 2). Die enigste manier waarop ons God se wet kan leer ken, is om dit self te bestudeer. Niemand kan dit vir ons doen nie.

KONINKRYKSBURGERS HET GOD SE STANDAARDE LIEF

7. Volgens watter hoër standaard lewe Koninkryksburgers?

7 As ons Koninkryksburgers wil bly, moet ons God se standaarde nie net ken nie, maar dit ook liefhê. Baie burgers van menseregerings dat hulle saamstem met die wette en standaarde van die land waarin hulle woon. Maar wanneer ’n vereiste vir hulle ongerieflik is en hulle dink dat niemand hulle sien nie, verbreek hulle die wet. Hierdie mense is dikwels “mensebehaers” (Kol. 3:22). Koninkryksburgers lewe volgens ’n hoër standaard. Ons gehoorsaam God se wette met graagte, selfs wanneer geen ander mens ons sien nie. Waarom? Omdat ons die Wetgewer liefhet.—Jes. 33:22; lees Lukas 10:27.

8, 9. Hoe kan jy vasstel of jy God se wette werklik liefhet?

8 Hoe kan jy vasstel of jy God se wette werklik liefhet? Ondersoek die manier waarop jy reageer wanneer jy raad ontvang oor iets wat jy as ’n persoonlike voorkeur beskou—byvoorbeeld oor kleredrag en persoonsversorging. Voordat jy ’n Koninkryksburger geword het, het jy moontlik verkies om slordig of verleidelik aan te trek. Toe jou liefde vir God begin toeneem het, het jy geleer om aan te trek op ’n wyse wat hom eer (1 Tim. 2:9, 10; 1 Pet. 3:3, 4). Jy dink miskien dat jy nou beskeie aantrek. Maar sê nou ’n ouer man sê vir jou dat jou voorkeur in kleredrag ’n aantal verkondigers in die gemeente erg aanstoot gee? Hoe sal jy reageer? Sal jy ’n verdedigende houding aanneem, gegrief voel of steeks wees? ’n Fundamentele wet van God se Koninkryk is dat alle burgers Christus moet navolg (1 Pet. 2:21). Aangaande Jesus se voorbeeld het die apostel Paulus geskryf: “Laat elkeen van ons sy naaste behaag in wat goed is vir sy opbouing. Want selfs die Christus het homself nie behaag nie” (Rom. 15:2, 3). Ter wille van die vrede in die gemeente is ’n ryp Christen bereid om hom sonder gegriefdheid na die gewete van ander te skik.—Rom. 14:19-21.

9 Beskou nog twee baie belangrike onderwerpe: ons gesindheid teenoor seks en ons beskouing van die huwelik. Diegene wat nog nie burgers van God se Koninkryk is nie, praat homoseksualiteit miskien goed, beskou pornografie as onskadelike pret en dink dat egbreuk en egskeiding bloot persoonlike sake is. Koninkryksburgers het hierdie kortsigtige, egosentriese gesindhede laat vaar. Hoewel baie Christene voorheen ’n onsedelike lewe gelei het, beskou hulle nou seks en die huwelik as gawes van God. Hulle waardeer Jehovah se hoë standaarde en stem heelhartig saam dat diegene wat voortgaan om hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak, nie waardig is om ’n Koninkryksburger te wees nie (1 Kor. 6:9-11). Maar hulle besef ook dat die hart verraderlik is (Jer. 17:9). Hulle waardeer dus spesifieke waarskuwings wat hulle help om hoë sedelike standaarde te handhaaf.

KONINKRYKSBURGERS WAARDEER WAARSKUWINGS

10, 11. Watter tydige waarskuwings gee God se Koninkryk, en hoe voel jy oor hierdie waarskuwings?

10 Menseregerings voorsien soms gesondheidswaarskuwings in verband met voedsel en medisyne. Nie alle voedsel en medisyne is natuurlik sleg nie. Maar as ’n spesifieke produk gevaarlik is, sal die regering moontlik gebalanseerde waarskuwings gee om sy burgers te beskerm. As die regering dit nie doen nie, sal dit skuldig wees aan nalatigheid. God se Koninkryk gee eweneens tydige waarskuwings oor spesifieke sedelike en geestelike gevare. Byvoorbeeld, die Internet is ’n nuttige middel om kommunikasie, opvoeding en vermaak te verskaf. God se organisasie gebruik die Internet en vermag baie daardeur. Maar baie webwerwe op die Internet is sedelik en geestelik gevaarlik. Webwerwe wat pornografie bevorder, hou ’n duidelike gevaar in vir die geestelike gesondheid van Koninkryksburgers. Die ‘getroue slaaf’-klas waarsku ons al dekades lank teen sulke webwerwe. Hoe dankbaar is ons tog vir hierdie geestelike gesondheidswaarskuwings!

11 In onlangse jare het ’n ander soort webwerf baie gewild geword—een wat nuttig kan wees as dit baie versigtig gebruik word. Maar hierdie webwerwe, wat bekend staan as sosiale netwerke, is ook potensieel verwoestend. Dit kan ’n persoon aan slegte omgang blootstel (1 Kor. 15:33). Dit is dan geen wonder nie dat God se organisasie gebalanseerde waarskuwings oor die gebruik van hierdie webwerwe gee. Het jy alles gelees wat die getroue slaaf in onlangse tye oor die gebruik van sosiale netwerke gepubliseer het? Hoe onverstandig sal dit tog wees om hierdie webwerwe te gebruik sonder om dié materiaal te lees! * Dit sal wees soos om sterk medisyne te neem sonder om eers die waarskuwingsetiket op die bottel te lees.

12. Waarom is dit dwaas om waarskuwings te verontagsaam?

12 Diegene wat die waarskuwings van die getroue slaaf verontagsaam, doen hulleself en hulle geliefdes onvermydelik leed aan. Party het aan pornografie verslaaf geraak of het hulle aan onsedelikheid skuldig gemaak en hulleself dan wysgemaak dat Jehovah nie kan sien wat hulle doen nie. Hoe dwaas is dit tog om te glo dat ons ons gedrag vir Jehovah kan wegsteek! (Spr. 15:3; lees Hebreërs 4:13.) God wil hierdie persone help, en hy beweeg sy aardse verteenwoordigers om hulle te probeer reghelp (Gal. 6:1). Maar net soos menseregerings die burgerskap kan herroep van iemand wat sekere dade pleeg, sal Jehovah die burgerskap herroep van diegene wat sy standaarde onberouvol skend (1 Kor. 5:11-13). * Hy is nietemin barmhartig. Diegene wat berou toon en hulle lewenswandel verander, kan weer ’n goeie posisie voor Jehovah verkry en ’n Koninkryksburger bly (2 Kor. 2:5-8). Wat ’n eer het ons tog om so ’n liefdevolle Koning te dien!

KONINKRYKSBURGERS WAARDEER OPVOEDING

13. Hoe toon Koninkryksburgers dat hulle opvoeding waardeer?

13 Talle menseregerings doen baie om hulle burgers op te voed. Hulle organiseer skole wat geletterdheid bevorder en praktiese vaardighede leer. Koninkryksburgers waardeer hierdie sekulêre skole en leer vlytig om te lees, te skryf en hulleself finansieel te onderhou. Hulle waardeer selfs nog meer die opvoeding wat hulle as burgers van God se Koninkryk ontvang. Deur middel van die Christengemeente bevorder Jehovah geletterdheid. Ouers word aangespoor om vir hulle jong kinders te lees. Die getroue slaaf publiseer elke maand ’n aantal bladsye Bybelse materiaal in Die Wagtoring en Ontwaak! As jy elke dag van die maand ’n paar bladsye lees, sal jy tred hou met hierdie lewensbelangrike kanaal van Koninkryksopvoeding.

14. (a) Watter opleiding ontvang ons? (b) Watter wenke vir die aand vir Gesinsaanbidding het jy geniet om toe te pas?

14 Koninkryksburgers ontvang elke week opleiding by hulle gemeentelike vergaderinge. Byvoorbeeld, die Teokratiese Bedieningskool help studente al meer as ses dekades lank om bekwame onderrigters van God se Woord te wees. Het jy by hierdie skool aangesluit? In onlangse jare het die getroue slaaf groot klem gelê op die weeklikse aand vir Gesinsaanbidding. Hierdie reëling versterk die gesin. Het jy daarin geslaag om die wenke toe te pas wat in ons lektuur gepubliseer word? *

15. Wat is een van die grootste voorregte wat ons het?

15 Burgers van menseregerings sal in die openbaar ondersteuning vir ’n politieke party werf en sal selfs van deur tot deur gaan om dit te doen. Koninkryksburgers ondersteun God se Koninkryk ywerig en op baie groter skaal, op straat sowel as van deur tot deur. Trouens, soos in die vorige studieartikel gemeld word, is Die Wagtoring, wat Jehovah se Koninkryk aankondig, nou die tydskrif met die grootste verspreiding ter wêreld! Een van die grootste voorregte wat ons het, is om ander van God se Koninkryk te vertel. Neem jy ywerig deel aan die predikingswerk?—Matt. 28:19, 20.

16. Hoe kan jy bewys dat jy ’n goeie burger van God se Koninkryk is?

16 God se Koninkryk sal binnekort die enigste regering wees wat oor die aarde heers. Dit sal toesig hou oor alle aspekte van die daaglikse lewe, nie net die geestelike nie, maar ook die burgerlike aspekte. Sal jy dan ’n goeie burger van God se Koninkryk wees? Dit is nou die tyd om te bewys dat dit die geval sal wees. In al die besluite wat jy elke dag neem, moet jy alles tot heerlikheid van Jehovah doen en so bewys dat jy jou as ’n goeie burger van God se Koninkryk gedra.—1 Kor. 10:31.

[Voetnote]

^ par. 11 Sien byvoorbeeld die Ontwaak! van Julie 2011, bladsye 24-27; Augustus 2011, bladsye 10-13; en Februarie 2012, bladsye 3-9.

^ par. 14 Sien Die Wagtoring, 15 Augustus 2011, bladsye 6-7 en Ons Koninkryksbediening, Januarie 2011, bladsye 3-6.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 14]

Slaan jy ag op Bybelse waarskuwings in verband met die Internet?

[Prent op bladsy 12]

Skep jy, soos die seuns van Korag, behae in rein aanbidding en die geskiedenis daarvan?

[Prent op bladsy 15]

Julle aand vir Gesinsaanbidding kan grootliks help om goeie Koninkryksburgers van jou en jou geliefdes te maak