Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verslag oor die jaarvergadering

’n Vergadering wat deur eenheid en opwindende planne gekenmerk is

’n Vergadering wat deur eenheid en opwindende planne gekenmerk is

JAARVERGADERINGE van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië wek altyd opgewondenheid. Hoe waar was dit tog van die 127ste jaarvergadering, wat op Saterdag 1 Oktober 2011 gehou is! Genooide gaste van regoor die wêreld het by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City, New Jersey, VSA, vergader.

Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam het die vreugdevolle skare verwelkom. Hy het vir die afgevaardigdes uit sowat 85 lande gesê dat hulle ’n unieke internasionale eenheid geniet. Hierdie eenheid gee ’n goeie getuienis en verheerlik Jehovah. Om die waarheid te sê, eenheid was ’n tema wat herhaaldelik in hierdie vergadering voorgekom het.

’N GOEIE VERSLAG UIT MEXIKO

Die eerste deel op die program het die eenheid van Jehovah se volk toegelig. Baltasar Perla het ’n onderhoud met drie medelede van die Mexikaanse Bethelgesin gevoer oor die samesmelting van ses Sentraal-Amerikaanse takkantore met die takkantoor in Mexiko. Vanweë hierdie samesmelting het die Bethelgesin in Mexiko meer multikultureel en internasionaal geword. Die instroming van medegelowiges uit verskillende lande het tot wedersydse aanmoediging gelei. Dit is asof God ’n groot uitveër geneem het en landsgrense uitgewis het.

Een uitdaging wat die samesmelting gebied het, was om verkondigers te help om nie afgesonder te voel van Jehovah se organisasie nie, al is daar nie meer ’n takkantoor in hulle land nie. Daarom het elke gemeente ’n beveiligde e-posverbinding sodat selfs diegene in afgeleë gebiede direk met die takkantoor kan kommunikeer.

DIE JONGSTE NUUS UIT JAPAN

James Linton van die takkantoor in Japan het verduidelik watter uitwerking die aardbewing en tsoenami’s wat daardie land in Maart 2011 getref het, op ons broers gehad het. Baie Getuies het hulle geliefdes sowel as hulle besittings verloor. Getuies buite die rampgebied het verblyf vir meer as 3 100 aangebied, asook honderde voertuie. Vrywilligers wat aan Streekboukomitees verbonde is, het ononderbroke gewerk om broers se huise te herstel. Meer as 1 700 mense het vrywillig aangebied om te dien waar hulle nodig is. ’n Span vrywilligers van die Verenigde State het met die herstelwerk aan Koninkryksale gehelp, en 575 vrywilligers het aan hierdie projek gewerk.

Baie aandag is aan die geestelike en emosionele welsyn van die slagoffers geskenk. Oor die 400 ouer manne het gedien waar herderswerk nodig was. Die Bestuursliggaam se besorgdheid het duidelik geblyk toe twee sone-opsieners van die wêreldhoofkwartier na die rampgebied gereis het om aanmoediging te gee. Die besorgdheid wat Getuies van regoor die wêreld geopenbaar het, was ’n bron van groot vertroosting.

REGSOORWINNINGS

Die gehoor het aandagtig geluister toe Stephen Hardy van die takkantoor in Brittanje ’n bespreking oor onlangse regsoorwinnings gelei het. Byvoorbeeld, die Franse regering het belasting van R626 miljoen geëis van die vereniging wat ons in Frankryk gebruik. Die geskil is opgelos toe die Europese Hof van Menseregte (EHMR) in ons guns beslis het en verklaar het dat die Franse regering Artikel 9 van die Europese Konvensie, wat godsdiensvryheid beskerm, verbreek het. Die bewoording van die beslissing toon dat hierdie saak nie om geld gedraai het nie, want dit het gesê: “Die weiering om ’n godsdiensvereniging te erken, die ontbinding daarvan, die gebruik van neerhalende taal ten opsigte van ’n godsdiensbeweging, is alles voorbeelde van inmenging met die reg wat deur Artikel 9 van die Konvensie gewaarborg word.”

Die EHMR het ook in ons guns beslis in ’n saak in verband met Armenië. Reeds sedert 1965 is die EHMR van mening dat die Europese Konvensie mense nie teen verpligte militêre diens beskerm nie. Die Groot Kamer—die hoogste vlak van die Europese Hof—het beslis dat “verset teen militêre diens, wanneer ’n ernstige en onoorkomelike konflik die dryfveer is,” deur die Europese Konvensie gewaarborg behoort te word. Hierdie beslissing verplig Armenië en lande soos Azerbeidjan en Turkye om hierdie reg te erken.

BOUPROJEKTE

Guy Pierce van die Bestuursliggaam was vervolgens aan die woord en het gesê dat hulle weet dat almal daar nuuskierig is oor ons bouprojekte in die staat New York. Toe is ’n video vertoon oor die verwikkelinge by Wallkill, Patterson en die eiendomme wat onlangs in Warwick en Tuxedo, New York, aangeskaf is. By Wallkill sal ’n nuwe woongebou, wat in 2014 voltooi sal word, meer as 300 bykomende kamers voorsien.

Daar word beplan om ’n eiendom van 100 hektaar in Warwick te ontwikkel. “Hoewel ons nog nie seker is wat Jehovah se wil in verband met Warwick is nie”, het broer Pierce gesê, “gaan ons voort met die ontwikkeling van die perseel met die bedoeling om die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies daarheen te verskuif.” Daar word ook beplan om ’n stuk grond van 20 hektaar tien kilometer noord van Warwick te gebruik om masjinerie en boumateriaal tydelik te berg. “Ons hoop om die hele projek binne vier jaar te voltooi nadat ons toestemming vir die bouwerk gekry het”, het broer Pierce gesê. “Dan kan ons eiendom in Brooklyn verkoop word.”

“Het die Bestuursliggaam sy beskouing oor die nabyheid van die groot verdrukking verander?” het broer Pierce gevra. “Glad nie”, het hy geantwoord. “As die groot verdrukking ons planne onderbreek, sal dit wonderlik wees, regtig wonderlik!”

PASOP VIR DIE BRULLENDE LEEU

Stephen Lett, nog ’n lid van die Bestuursliggaam, het daarna 1 Petrus 5:8 bespreek: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.” Broer Lett het gesê dat etlike eienskappe van leeus Petrus se illustrasie ’n gepaste beskrywing van die Duiwel maak.

Aangesien leeus sterker en vinniger as mense is, moet ons nie in ons eie krag teen Satan probeer veg of vir hom probeer weghardloop nie. Ons het Jehovah se hulp nodig (Jes. 40:31). ’n Leeu jag stilletjies; ons moet dus die geestelike duisternis waarin Satan sy prooi soek, vermy. Net soos ’n leeu wat ’n onskadelike wildsbok of ’n slapende sebravulletjie doodmaak, is Satan genadeloos en wil hy ons baie graag doodmaak. En nadat ’n leeu sy honger gestil het, is die slagoffers dikwels onherkenbaar, net soos “die laaste toestande” van Satan se geestelike slagoffers “vir hulle erger [word] as die eerste” (2 Pet. 2:20). Ons moet Satan dus weerstaan en stewig vashou aan die Bybelbeginsels wat ons geleer het.—1 Pet. 5:9.

WAARDEER JOU PLEK IN JEHOVAH SE HUIS

“Ons het almal ’n plek in Jehovah se huis”, het die volgende spreker, Samuel Herd van die Bestuursliggaam, gesê. Alle Christene het ’n plek in God se “huis”—sy geestelike tempel—die reëling om hom op grond van Jesus se losprysoffer te aanbid. Hierdie plek moet as ’n kosbare voorreg gekoester word. Soos Dawid, wil ons ‘al die dae van ons lewe in die huis van Jehovah woon’.—Ps. 27:4.

Broer Herd het na Psalm 92:12-14 verwys en gevra: “Hoe maak Jehovah dit vir ons moontlik om te floreer?” Hy het geantwoord: “In die geestelike paradys hou God ons warm, beskerm hy ons en gee hy ons verkwikkende waters van waarheid. Laat ons hom hiervoor dank.” Broer Herd het die gehoor toe aangespoor: “Laat ons vergenoeg wees om in Jehovah se huis te bly—nie net vir ’n kort tydjie nie, maar vir ewig.”

CHRISTENE RESPEKTEER GOD SE WOORD

David Splane, ook van die Bestuursliggaam, het in die volgende toespraak verduidelik dat ware Christene nog altyd God se Woord gerespekteer het. In die eerste eeu het hulle daarop vertrou om die besnydenisgeskil te besleg (Hand. 15:16, 17). Maar sekere naamchristene van die tweede eeu wat in Griekse filosofie opgelei is, het hulle intellektuele bevrediging bo die Skrif begin stel. Ander het later Bybelleringe met die menings van die sogenaamde Kerkvaders en Romeinse keisers vervang, wat tot talle valse leerstellings gelei het.

Broer Splane het daarop gewys dat Jesus in ’n illustrasie aangedui het dat daar deurentyd ware gesalfde Christene op die aarde sou wees om die waarheid te verdedig (Matt. 13:24-30). Ons weet nie vir seker wie hulle was nie. Talle het egter deur die eeue heen onskriftuurlike opvattings en gebruike veroordeel. Onder hulle was aartsbiskop Agobard van Lyon in die 9de eeu, Petrus van Bruys, Hendrik van Lausanne en Valdès (of Waldus) in die 12de eeu, John Wycliffe in die 14de eeu, William Tyndale in die 16de eeu, en Henry Grew en George Storrs in die 19de eeu. Jehovah se Getuies van vandag handhaaf nog steeds skriftuurlike standaarde en erken die Bybel as die grondslag van die waarheid. Daarom het die Bestuursliggaam Johannes 17:17 as ons jaarteks vir 2012 gekies: “U woord is die waarheid.”

OPWINDENDE AANPASSINGS VIR OPLEIDING EN DIENS

’n Aankondiging wat deur Anthony Morris van die Bestuursliggaam gedoen is, het aanpassings vir sendelinge en spesiale pioniers uiteengesit. Vanaf September 2012 sal klasse van die Bybelskool vir Christenegpare in sekere lande gehou word. Die fokus van die Gileadskool is verander. Vanaf Oktober verlede jaar sal almal wat by Gilead opgelei word, reeds in die een of ander vorm van spesiale voltydse diens wees—as sendelinge wat nog nie Gilead bygewoon het nie, as spesiale pioniers, as reisende opsieners of as Betheliete. Gegradueerdes sal gebruik word om God se volk te versterk en te stabiliseer—vanuit takkantore, in die reisende werk of in dig bevolkte gebiede waar hulle gemeentes in die predikingswerk kan aanmoedig.

Spesiale pioniers sal gestuur word na gebiede in afgeleë en afgesonderde streke waar die predikingswerk nog nie gedoen word nie. Vanaf 1 Januarie 2012 word party gegradueerdes aan die Bybelskool vir Ongetroude Broers en die Bybelskool vir Christenegpare as tydelike spesiale pioniers aangestel en gebruik om die werk in afgeleë gebiede te begin en uit te brei. Hulle word vir ’n jaar op ’n slag, tot ’n maksimum van drie jaar, spesialepionier-toewysings gegee. Diegene wat doeltreffend is, sal moontlik permanente toewysings ontvang.

Die jaarvergadering van 2011 was ’n vreugdevolle tyd. Ons vertrou op Jehovah vir sy seën op die nuwe reëlings om ons predikingswerk uit te brei en die broederskap verder te verenig—alles tot sy heerlikheid en lof.

[Venster/Prente op bladsye 18, 19]

ONS HET HULLE BETER LEER KEN

Op die program is daar ook ’n onderhoud gevoer met vyf van die nege weduwees van voormalige lede van die Bestuursliggaam. Susters Marina Sydlik, Edith Suiter, Melita Jaracz, Melba Barry en Sydney Barber het vertel hoe hulle die waarheid leer ken het en die voltydse diens betree het. Elkeen het die gehoor vertel van onvergeetlike tye in hulle lewe, herinneringe aan hulle man en die seëninge wat hulle as ’n egpaar geniet het. Hierdie onderhoude is op ’n hartroerende noot afgesluit toe die gehoor Lied 86, “Getroue vroue, Christensusters”, saamgesing het.

[Prente]

(Bo) Daniel en Marina Sydlik; Grant en Edith Suiter; Theodore en Melita Jaracz

(Onder) Lloyd en Melba Barry; Carey en Sydney Barber

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Ses takkantore is onder die leiding van die takkantoor in Mexiko saamgevoeg

MEXIKO

GUATEMALA

HONDURAS

EL SALVADOR

NICARAGUA

COSTA RICA

PANAMA

[Prent op bladsy 17]

Voorlopige ontwerp van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies by Warwick, New York