Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer jou kinders

Gierigheid het tot Gehasi se ondergang gelei

Gierigheid het tot Gehasi se ondergang gelei

WOU jy al ooit iets baie graag hê? * Dan is jy soos die meeste mense. Maar moet jy probeer kry wat jy wil hê deur ’n leuen te vertel?— Nee, jy moenie. Iemand wat dit doen, is gierig. Kom ons kyk hoe gierigheid tot die ondergang gelei het van ’n man met die naam Gehasi. Hy was ’n kneg van Elisa, ’n profeet van die ware God, Jehovah.

Elisa en Gehasi het lank gelede gelewe, omtrent duisend jaar voordat God se Seun, Jesus, op die aarde gebore is. Jehovah het Elisa gebruik om ongelooflike dinge te doen—om wonderwerke te verrig! Die Bybel vertel ons byvoorbeeld van ’n belangrike man in die Siriese leër wat die ernstige siekte melaatsheid gehad het. Niemand kon hom gesond maak nie, maar Elisa doen dit wel.

Wanneer Elisa deur God gebruik word om mense gesond te maak, aanvaar hy nooit geld daarvoor nie. Weet jy hoekom nie?— Omdat Elisa weet dat daardie wonderwerke van Jehovah kom—nie van homself nie. Wanneer Naäman genees is, is hy so gelukkig dat hy vir Elisa geskenke van goud, silwer en mooi klere wil gee. Elisa wil niks hê nie, maar Gehasi wil baie graag hierdie geskenke hê.

Nadat Naäman weggaan, hardloop Gehasi agter hom aan sonder om vir Elisa te sê. Weet jy wat Gehasi vir Naäman sê wanneer hy by hom kom?— ‘Elisa het my gestuur om vir jou te sê dat twee besoekers so pas gekom het. Hy wil graag twee stelle klere hê om vir die manne te gee.’

Maar dit is ’n leuen! Gehasi het die storie oor die twee besoekers opgemaak. Hy doen dit omdat hy die klere wil hê wat Naäman aan Elisa wou gee. Naäman weet dit natuurlik nie. Hy gee die geskenke dus met graagte aan Gehasi. Naäman gee vir Gehasi selfs meer as waarvoor Gehasi gevra het. Weet jy wat toe gebeur?

Wanneer Gehasi by die huis kom, vra Elisa vir hom: ‘Waar was jy?’

‘Ag, nêrens nie’, antwoord Gehasi. Maar Jehovah het aan Elisa geopenbaar wat Gehasi gedoen het. Gevolglik sê Elisa: ‘Dit is nie die tyd om geld en klere te aanvaar nie!’

Gehasi het geld en klere geneem wat nie aan hom behoort het nie. Daarom laat God Naäman se melaatsheid oor Gehasi kom. Wat dink jy kan ons hieruit leer?— Een les wat ons leer, is dat ons nie stories moet opmaak en vertel wat nie waar is nie.

Waarom het Gehasi ’n storie opgemaak wat eintlik ’n leuen was?— Dit is omdat Gehasi gierig was. Hy wou dinge hê wat nie aan hom behoort nie, en hy het daardie dinge probeer kry deur leuens te vertel. As gevolg daarvan het hy vir die res van sy lewe aan ’n vreeslike siekte gely.

Maar eintlik het Gehasi baie meer as sy gesondheid verloor. Weet jy wat dit was?— Hy het God se guns en sy liefde verloor. Mag ons nooit enigiets doen wat sal veroorsaak dat ons dit verloor nie! Laat ons eerder goedhartig wees en bereid wees om ons besittings met ander te deel.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.