Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe hierdie wêreld tot ’n einde sal kom

Hoe hierdie wêreld tot ’n einde sal kom

“Julle is nie in die duisternis sodat daardie dag julle sal oorval soos vir diewe nie.”—1 TESS. 5:4.

1. Wat sal ons help om aan te hou waak en beproewinge te verduur?

WÊRELDSKOKKENDE gebeure sal binnekort plaasvind. Die vervulling van Bybelprofesieë bevestig hierdie feit, en daarom moet ons aanhou waak. Wat sal ons help om dit te doen? Die apostel Paulus spoor ons aan om ‘ons oë gerig te hou op die dinge wat nie gesien word nie’. Ja, ons moet ons beloning van die ewige lewe, hetsy in die hemel of op die aarde, voor oë hou. Soos die konteks toon, het Paulus hierdie woorde geskryf om medegelowiges aan te spoor om hulle toe te spits op die gelukkige uitkoms van hulle getroue weg. As hulle dit sou doen, sou dit hulle ook help om beproewinge en vervolging te verduur.—2 Kor. 4:8, 9, 16-18; 5:7.

2. (a) Wat moet ons doen as ons ’n vaste hoop wil behou? (b) Wat sal ons in hierdie en die volgende artikel bespreek?

2 Paulus se vermaning bevat ’n belangrike beginsel: As ons ’n vaste hoop wil behou, moet ons verder kyk as die dinge wat ons nou sien. Ons moet ons toespits op betekenisvolle gebeure wat nog nie gesien word nie (Heb. 11:1; 12:1, 2). Laat ons dus tien toekomstige gebeure bespreek wat ten nouste verband hou met ons hoop op die ewige lewe. *

WAT SAL NET VOOR DIE EINDE PLAASVIND?

3. (a) Watter verwikkeling wat nog moet plaasvind, word in 1 Tessalonisense 5:2, 3 gemeld? (b) Wat sal politieke leiers doen, en wie sal moontlik by hulle aansluit?

3 Een toekomstige verwikkeling word deur Paulus gemeld in sy brief aan die Tessalonisense. (Lees 1 Tessalonisense 5:2, 3.) Hy vestig die aandag op “Jehovah se dag”. Soos dit hier gebruik word, verwys “Jehovah se dag” na die tydperk wat sal begin met die vernietiging van valse godsdiens en sal uitloop op die oorlog van Armageddon. Maar net voordat hierdie dag van Jehovah begin, sal wêreldleiers sê: “Vrede en veiligheid!” Dit kan na een gebeurtenis of na ’n reeks gebeure verwys. Die nasies sal miskien dink dat hulle op die punt staan om party van hulle groot probleme op te los. Wat van die godsdiensleiers? Hulle is deel van die wêreld, en daarom is dit moontlik dat hulle by die politieke leiers sal aansluit (Op. 17:1, 2). Die geestelikes sal dus die valse profete van eertydse Juda navolg. Aangaande hulle het Jehovah gesê: “Hulle . . . sê: ‘Daar is vrede! Daar is vrede!’ terwyl daar geen vrede is nie.”—Jer. 6:14; 23:16, 17.

4. Wat besef ons in teenstelling met die mensdom oor die algemeen?

4 Ongeag wie ’n aandeel daaraan sal hê om “Vrede en veiligheid!” te sê, hierdie verwikkeling sal aandui dat Jehovah se dag weldra sal begin. Daarom kon Paulus sê: “Broers, julle is nie in die duisternis sodat daardie dag julle sal oorval soos vir diewe nie, want julle almal is kinders van die lig” (1 Tess. 5:4, 5). In teenstelling met die mensdom oor die algemeen besef ons wat huidige gebeure volgens die Skrif beteken. Presies hoe sal hierdie profesie oor die uitroep “Vrede en veiligheid!” vervul word? Ons sal moet kyk wat gebeur. Laat ons dus vasbeslote wees om “wakker en nugter van verstand [te] bly”.—1 Tess. 5:6; Sef. 3:8.

’N “KONINGIN” WAT HAAR KANSE MISREKEN

5. (a) Hoe sal die “groot verdrukking” begin? (b) Watter “koningin” sal haar kanse op oorlewing misreken?

5 Watter gebeurtenis wat nog nie gesien word nie, sal dan plaasvind? Paulus het gesê: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom.” Die eerste fase van hierdie “skielike vernietiging” is die aanval op “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, wat ook as “die hoer” bekend staan (Op. 17:5, 6, 15). Hierdie aanval op alle vorme van valse godsdiens, insluitende die Christendom, is die begin van die “groot verdrukking” (Matt. 24:21; 2 Tess. 2:8). Hierdie gebeurtenis sal vir baie mense ’n skok wees. Waarom? Omdat die hoer haarself tot op daardie tydstip as ’n “koningin” sal beskou wat “nooit verdriet [sal] sien nie”. Maar sy sal skielik ontdek dat sy haar kanse op oorlewing misreken het. Sy sal redelik vinnig uitgeroei word, asof “in een dag”.—Op. 18:7, 8.

6. Deur wie sal valse godsdiens vernietig word?

6 God se Woord identifiseer die hoer se aanvaller as ’n “wilde dier” met “tien horings”. ’n Studie van die boek Openbaring toon dat die wilde dier na die Verenigde Nasies (VN) verwys. “Die tien horings” stel alle huidige politieke magte voor wat hierdie “skarlakenkleurige wilde dier” ondersteun (Op. 17:3, 5, 11, 12). * Hoe verwoestend sal die aanval wees? Die nasies van die VN sal die hoer se rykdom plunder, haar ware karakter blootlê, haar verslind en “haar heeltemal . . . verbrand”. Haar vernietiging sal finaal wees.—Lees Openbaring 17:16.

7. Wat sal aanleiding gee tot die aanval deur die “wilde dier”?

7 Bybelprofesie toon ook wat tot hierdie aanval aanleiding sal gee. Op die een of ander manier sal Jehovah dit in die harte van politieke leiers sit “om sy gedagte uit te voer”, naamlik om die hoer te verwoes (Op. 17:17). Godsdiens, wat mense aanhits om oorlog te maak, is nog steeds ’n mag wat verdeeldheid in die wêreld veroorsaak; gevolglik sal die nasies dalk dink dat dit in hulle eie nasionale belang is om die hoer te vernietig. Trouens, wanneer die heersers haar aanval, sal hulle dink dat hulle hulle eie “een gedagte” uitvoer. Maar in werklikheid tree hulle op as God se werktuig om alle valse godsdiens uit te wis. In ’n verbasende ommekeer sal een deel van Satan se stelsel dus ’n ander deel aanval, en Satan sal magteloos wees om dit te voorkom.—Matt. 12:25, 26.

’N AANVAL OP GOD SE VOLK

8. Wat is die aanval deur “Gog van die land Magog”?

8 Nadat valse godsdiens vernietig is, sal God se knegte nog steeds “in veiligheid” en “sonder muur woon” (Eseg. 38:11, 14). Wat sal gebeur met hierdie oënskynlik weerlose groep mense wat aanhou om Jehovah te aanbid? Dit wil voorkom asof hulle die teiken van ’n volskaalse aanval deur “baie volke” sal word. God se Woord beskryf hierdie verwikkeling as die aanval deur “Gog van die land Magog”. (Lees Esegiël 38:2, 15, 16.) Hoe moet ons hierdie aanval beskou?

9. (a) Wat is vir ’n Christen van die grootste belang? (b) Watter stappe moet ons nou doen om ons geloof te versterk?

9 Al weet ons vooruit van hierdie aanval op God se volk, is ons nie uitermate angstig nie. Ons eie redding is nie vir ons van die grootste belang nie, maar eerder die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit. Jehovah het immers gesê: “Julle sal moet weet dat ek Jehovah is” (Eseg. 6:7, sien voetnoot in NW). Hierdie en soortgelyke uitdrukkings kom meer as 60 keer voor. Ons sien dus met groot belangstelling uit na die vervulling van hierdie uitsonderlike aspek van Esegiël se profesie in die volle vertroue dat “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos” (2 Pet. 2:9). Intussen wil ons gebruik maak van elke geleentheid om ons geloof te versterk sodat ons ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah sal kan handhaaf ongeag die toetse waarvoor ons te staan kom. Wat moet ons doen? Ons moet bid, God se Woord bestudeer en daaroor peins en ander van die Koninkryksboodskap vertel. As ons dít doen, sal ons hoop op die ewige lewe seker en vas wees, soos “’n anker”.—Heb. 6:19; Ps. 25:21.

DIE NASIES SAL JEHOVAH MOET ERKEN

10, 11. Wat sal tot Armageddon aanleiding gee, en wat sal gedurende hierdie tyd plaasvind?

10 Tot watter wêreldskokkende gebeurtenis sal die aanval op Jehovah se knegte aanleiding gee? Jehovah sal, deur middel van Jesus en die hemelse leërs, ten behoewe van Sy volk ingryp (Op. 19:11-16). Hierdie ingryping sal “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”—Armageddon—wees.—Op. 16:14, 16.

11 Aangaande hierdie oorlog sê Jehovah deur Esegiël: “‘Ek sal deur my hele bergstreek ’n swaard teen [Gog] oproep’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah. ‘Die swaard van elkeen sal teen sy eie broer wees.’” Diegene wat aan Satan se kant is, sal paniekbevange wees en in verwarring gebring word en sal hulle wapens teen mekaar gebruik—soldaat teen soldaat. Maar onheil sal Satan ook tref. Jehovah sê: “Vuur en swael sal ek op [Gog] laat reën en op sy krygsbendes en op die baie volke wat saam met hom sal wees” (Eseg. 38:21, 22). Wat sal die gevolg van hierdie goddelike optrede wees?

12. Wat sal die nasies gedwing word om te doen?

12 Die nasies sal moet besef dat hulle verpletterende nederlaag op bevel van Jehovah plaasgevind het. Dan sal Satan se magte, soos die eertydse Egiptiese aanvallers wat die Israeliete by die Rooisee agternagesit het, moontlik in wanhoop uitroep: “Jehovah veg beslis vir hulle”! (Eks. 14:25). Ja, die nasies sal gedwing word om Jehovah te erken. (Lees Esegiël 38:23.) Hoe naby is ons aan die begin van hierdie reeks gebeure?

GEEN ANDER WÊRELDMOONDHEID SAL OPSTAAN NIE

13. Wat weet ons omtrent die vyfde deel van die beeld wat Daniël beskryf?

13 ’n Profesie in die boek Daniël stel ons in staat om vas te stel waar ons in die tydstroom is. Daniël beskryf ’n beeld in menslike vorm wat uit verskillende metale bestaan (Dan. 2:28, 31-33). Dit stel opeenvolgende wêreldmoondhede voor wat ’n groot invloed op God se volk gehad het, in die verlede en die hede. Dit is Babilon, Medo-Persië, Griekeland, Rome—en die laaste wêreldmoondheid, in ons tyd. ’n Studie van Daniël se profesie toon dat hierdie laaste wêreldmoondheid afgebeeld word deur die voete en tone van die beeld. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Brittanje en die Verenigde State ’n spesiale bondgenootskap aangegaan. Ja, die vyfde deel van Daniël se beeld is die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid. Die voete maak die laaste deel van die beeld uit, wat aandui dat geen ander menslike wêreldmoondheid op die toneel sal verskyn nie. Die feit dat die voete en tone van yster en klei is, stel die verswakte toestand van die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid voor.

14. Watter wêreldmoondheid sal heers wanneer Armageddon kom?

14 Dieselfde profesie dui aan dat God se Koninkryk, wat deur ’n groot klip afgebeeld word, in 1914 uit die berg van Jehovah se soewereiniteit gekap is. Hierdie klip is nou vinnig op pad na sy teiken—die voete van die beeld. By Armageddon sal die voete en die res van die beeld verbrysel word. (Lees Daniël 2:44, 45.) Die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid sal dus nog die heersende wêreldmoondheid wees wanneer Armageddon kom. Hoe opwindend sal dit tog wees om die algehele vervulling van hierdie profesie te aanskou! * Maar wat gaan Jehovah met Satan doen?

WAT MET GOD SE VERNAAMSTE TEENSTANDER SAL GEBEUR

15. Wat sal ná Armageddon met Satan en sy demone gebeur?

15 Eerstens sal Satan die vernietiging van sy hele organisasie op aarde van begin tot einde moet aanskou. Dan word die aandag op Satan gerig. Die apostel Johannes vertel wat daarna gebeur. (Lees Openbaring 20:1-3.) Jesus Christus—die “engel . . . met die sleutel van die afgrond”—sal Satan en sy demone gryp, hulle in die afgrond werp en hulle duisend jaar lank daar hou (Luk. 8:30, 31; 1 Joh. 3:8). Hierdie daad maak die eerste fase uit van die vermorseling van die slang se kop. *Gen. 3:15.

16. In watter toestand sal Satan wees wanneer hy in “die afgrond” is?

16 Wat is “die afgrond” waarin Satan en die demone gewerp sal word? Die Griekse woord aʹbys·sos wat Johannes gebruik het, beteken “baie of buitengewoon diep”. Dit word ook vertaal met “onpeilbaar, grensloos” en “die oneindige diepte”. Dit is dus ’n plek wat heeltemal buite die bereik is van enigiemand behalwe Jehovah en sy aangestelde engel “met die sleutel van die afgrond”. Daar sal Satan in ’n toestand van doodse onaktiwiteit wees sodat “hy die nasies nie meer [sal] mislei” nie. Ja, hierdie “brullende leeu” sal tot swye gebring word!—1 Pet. 5:8.

GEBEURE WAT ’N TYD VAN VREDE VOORAFGAAN

17, 18. (a) Watter gebeure wat nog nie gesien word nie, het ons tot dusver bespreek? (b) Watter tydperk sal ons ná hierdie gebeure geniet?

17 Betekenisvolle verwikkelinge en wêreldskokkende gebeure lê voor. Ons wil graag sien hoe die profesie oor die uitroep “Vrede en veiligheid!” vervul word. Dan sal ons die vernietiging van Babilon die Grote, die aanval deur Gog van Magog en die oorlog van Armageddon aanskou, waarna Satan en sy demone in die afgrond gewerp sal word. Ná hierdie gebeure, wanneer alle goddeloosheid uit die weg geruim is, sal ’n nuwe hoofstuk in die lewe begin—Christus se Duisendjarige Heerskappy, waartydens ons ’n “oorvloed van vrede” sal geniet.—Ps. 37:10, 11.

18 Benewens die vyf gebeure wat ons tot dusver ondersoek het, is daar ander “dinge wat nie gesien word nie” waarop ons “ons oë gerig [wil] hou”. Hierdie gebeure sal in die volgende artikel bespreek word.

^ par. 2 Die tien gebeure word in hierdie en die volgende artikel bespreek.

^ par. 6 Sien Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!, bladsye 251-258.

^ par. 14 “Al hierdie koninkryke” waaraan daar volgens Daniël 2:44 ’n einde gemaak sal word, verwys na die koninkryke, of wêreldmoondhede, wat afgebeeld word deur die dele van die beeld. Maar ’n parallelle Bybelprofesie toon dat “die konings van die hele bewoonde aarde” teen Jehovah sal saamspan op “die groot dag van God die Almagtige” (Op. 16:14; 19:19-21). Dit is dus nie net die koninkryke van die beeld wat by Armageddon vernietig sal word nie, maar ook al die ander koninkryke van hierdie wêreld.

^ par. 15 Die finale verbryseling van die slang se kop vind ná die einde van die duisend jaar plaas wanneer Satan en sy demone in “die poel van vuur en swael” gewerp word.—Op. 20:7-10; Matt. 25:41.