Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Julle weet nie die dag en ook nie die uur nie”

“Julle weet nie die dag en ook nie die uur nie”

“Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.”—MATT. 25:13.

1-3. (a) Watter situasies lig die punt toe van twee van Jesus se gelykenisse? (b) Watter vrae moet ons beantwoord?

STEL jou voor ’n vooraanstaande amptenaar vra jou om hom na ’n belangrike afspraak te neem. Maar ’n paar minute voordat jy hom vir die vergadering gaan haal, besef jy dat daar nie genoeg brandstof in jou voertuig is nie. Jy moet gou brandstof gaan koop. Terwyl jy weg is, daag die amptenaar op. Hy kyk rond, maar hy kan jou nie vind nie. Hy kan nie wag nie en vra dus iemand anders om hom te neem. Kort daarna kom jy terug en besef jy dat die amptenaar sonder jou weg is. Hoe sal jy voel?

2 Stel jou nou voor dat jy die amptenaar is en dat jy drie bekwame mans gekies het om belangrike werk te doen. Jy verduidelik wat die toewysing behels, en al drie aanvaar dit gewilliglik. Maar wanneer jy ’n ruk later terugkeer, vind jy uit dat net twee van hulle hulle taak verrig het. Wat meer is, die een wat dit nie gedoen het nie, maak verskonings. Trouens, hy het nie eers ’n poging aangewend nie. Hoe sal jy voel?

3 In sy gelykenisse van die maagde en die talente het Jesus soortgelyke situasies gebruik om toe te lig waarom party gesalfde Christene gedurende die tyd van die einde getrou en verstandig sou wees, maar ander nie (Matt. 25:1-30). * Hy het sy punt beklemtoon deur te sê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie”—dit wil sê wanneer Jesus God se oordeel aan Satan se wêreld sal voltrek (Matt. 25:13). Ons kan vandag hierdie raad toepas. Hoe kan ons daarby baat vind om aan te hou waak, soos Jesus ons aangespoor het? Wie is gereed vir oorlewing? En wat moet ons nou doen om aan te hou waak?

HOE ONS DAARBY BAAT VIND OM AAN TE HOU WAAK

4. Waarom beteken dit nie dat ons die horlosie moet dophou as ons wil ‘wakker bly’ nie?

4 Party bedrywighede, soos om in ’n fabriek te werk, ’n dokter te besoek of van openbare vervoer gebruik te maak, vereis dat ons ’n spesifieke rooster in ag neem. Maar tydens ander bedrywighede, soos om ’n brand te bestry of ná ’n ramp reddingswerk te doen, kan dit die aandag aftrek of, nog erger, gevaarlik wees om die horlosie dop te hou. Onder sulke omstandighede is dit baie belangriker om te konsentreer op die werk wat gedoen moet word as om by ’n spesifieke rooster te bly. Aangesien die einde van hierdie stelsel al hoe nader kom, is die werk om ander van Jehovah se voorsienings vir redding te vertel, belangriker as ooit tevore. Om as Christene wakker te bly, beteken nie om die horlosie dop te hou nie. Trouens, daar is ten minste vyf maniere waarop ons daarby baat vind om nie te weet op presies watter dag of uur die einde sal kom nie.

5. Hoe kan die feit dat ons nie die dag of die uur weet nie, help om te openbaar wat in ons hart is?

5 Eerstens, die feit dat ons nie weet wanneer die einde gaan kom nie, stel ons in staat om te openbaar wat werklik in ons hart is. Trouens, die feit dat ons dit nie weet nie, verleen waardigheid aan ons omdat dit ons in staat stel om ons wilsvryheid te gebruik om ons lojaliteit aan Jehovah te betoon. Hoewel ons daarna uitsien om die einde van hierdie stelsel te oorleef, dien ons Jehovah omdat ons hom liefhet en nie bloot om lewe te verkry nie. (Lees Psalm 37:4.) Ons put genot daaruit om sy wil te doen, en ons besef dat God ons leer om onsself te bevoordeel (Jes. 48:17). Nee, sy gebooie is nie vir ons swaar nie.—1 Joh. 5:3.

6. Hoe voel God wanneer ons hom uit liefde dien, en waarom voel hy so?

6 ’n Tweede manier waarop ons daarby baat vind om nie die dag of die uur te weet nie, is dat dit ons die geleentheid bied om Jehovah se hart bly te maak. Wanneer ons hom uit liefde dien—nie weens ’n datum of net vir ’n beloning nie—dra ons by tot Jehovah se antwoord op die ongegronde aantygings van sy teenstander, Satan. (Job 2:4, 5; lees Spreuke 27:11.) Wanneer ons dink aan al die pyn en ellende wat die Duiwel veroorsaak het, verskaf dit ons vreugde om Jehovah se soewereiniteit te verdedig en Satan se goddelose heerskappy te verwerp.

7. Waarom dink jy dat dit wenslik is om ’n selfopofferende lewe te lei?

7 Derdens, as ons Jehovah dien sonder ’n spesifieke datum in gedagte, spoor dit ons aan om ’n selfopofferende lewe te lei. Party mense van vandag wat God nie ken nie, glo ook dat die wêreld in sy huidige toestand nie veel langer kan voortbestaan nie. Omdat hulle die een of ander naderende ramp vrees, het hulle die gesindheid: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf” (1 Kor. 15:32). Maar ons is nie bevrees nie. Ons weier om ons af te sonder sodat ons ons selfsugtige begeertes kan bevredig (Spr. 18:1). Ons verloën ons eerder en gebruik ons tyd, energie en ander bates vryelik om die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander bekend te maak. (Lees Matteus 16:24.) Ons put genot daaruit om God te dien, veral om ander te help om hom te leer ken.

8. Watter Bybelvoorbeeld toon waarom ons in groter mate op Jehovah en sy Woord moet vertrou?

8 ’n Vierde manier waarop ons daarby baat vind om nie die dag of die uur te weet nie, is dat dit ons help om in groter mate op Jehovah te vertrou en om sy Woord ywerig toe te pas in ons lewe. ’n Vername aspek van ons sondige menslike natuur is ons neiging om op onsself te vertrou. Paulus het alle Christene gemaan: “Wie dink dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” Drie-en-twintigduisend het Jehovah se guns verloor kort voordat Josua God se volk in die Beloofde Land sou inlei. “Hierdie dinge”, sê Paulus, “is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het”.—1 Kor. 10:8, 11, 12.

9. Hoe kan beproewinge ons louter en ons nader aan God laat kom?

9 ’n Vyfde manier waarop ons daarby baat vind om nie te weet wanneer die einde sal kom nie, is dat dit ons die geleentheid bied om deur beproewinge gelouter te word. (Lees Psalm 119:71.) Die laaste dae van hierdie stelsel is inderdaad “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1-5). Baie in Satan se wêreld haat ons, en daarom sal ons moontlik weens ons geloof vervolg word (Joh. 15:19; 16:2). As ons ons verneder en God se leiding gedurende hierdie beproewinge soek, sal ons geloof gelouter, of gesuiwer, word asof deur vuur. Ons gooi nie tou op nie. Inteendeel, ons sal nader aan Jehovah kom as wat ons dalk ooit gedink het moontlik is.—Jak. 1:2-4; 4:8.

10. Wat laat dit voel asof die tyd vlieg?

10 Die verloop van tyd is relatief. Wanneer ons besig is en nie die horlosie dophou nie, voel dit asof die tyd vlieg. As ons ons eweneens verdiep in die opwindende werk wat Jehovah ons gegee het, sal daardie dag en uur heel moontlik aanbreek voordat ons dit besef. In hierdie verband het die meeste gesalfdes ’n wonderlike voorbeeld gestel. Kom ons bespreek kortliks wat gebeur het nadat Jesus in 1914 as Koning gekroon is en kyk hoe party gereed was en ander nie.

GESALFDES IS GEREED

11. Waarom het party gesalfdes ná 1914 tot die slotsom gekom dat die Heer talm?

11 Dink aan Jesus se gelykenisse van die maagde en die talente. As die maagde of die slawe in hierdie gelykenisse geweet het wanneer die bruidegom of die heer kom, sou dit nie vir hulle nodig gewees het om aan te hou waak nie. Maar hulle het nie geweet nie, en daarom moes hulle gereed bly. Hoewel die gesalfdes dekades lank geweet het dat 1914 ’n betekenisvolle jaar sou wees, het hulle nie ten volle verstaan wat sou gebeur nie. Toe dinge nie verloop soos hulle verwag het nie, het dit moontlik gelyk of die Bruidegom talm. ’n Broer het later gesê: “n Paar van ons het werklik gedink dat ons gedurende die eerste week van daardie Oktober [1914] hemel toe sou gaan.”

12. Hoe het gesalfdes getoon dat hulle getrou en verstandig is?

12 Dink net hoe ontmoedigend dit kon gewees het om die einde te verwag en dat dit dan nie kom nie! Wat meer is, die broers het teenstand ondervind wat met die Eerste Wêreldoorlog verband gehou het. Dit het ’n tydperk van relatiewe onbedrywigheid, soos slaap, ingelei. Maar in 1919 was daar ’n wekroep! Jesus het na God se geestelike tempel gekom, en ’n tyd vir inspeksie het aangebreek. Party het egter nie hierdie inspeksie deurstaan nie en het gevolglik hulle voorreg verloor om voort te gaan om vir die Koning ‘handel te dryf’ (Matt. 25:16). Dit was asof hulle, soos die dwase maagde, nie hulle voorraad geestelike olie pligsgetrou aangevul het nie. En soos die trae slaaf, was hulle nie bereid om persoonlike opofferings ter wille van die Koninkryk te maak nie. Maar die meerderheid van die gesalfdes het onwrikbare lojaliteit getoon, asook ’n sterk begeerte om hulle Heer selfs gedurende die moeilike oorlogsjare te dien.

13. Wat was die gesindheid van die slaafklas ná 1914, en wat is vandag hulle gesindheid?

13 Ná 1914 het Die Wagtoring hierdie betekenisvolle verklaring gemaak: “Broeders, dié van ons wat die regte gesindheid teenoor God het, is nie teleurgesteld oor enige van Sy reëlings nie. Ons wou nie hê dat ons eie wil moet geskied nie; toe ons besef het dat ons die verkeerde verwagting in verband met Oktober 1914 gekoester het, was ons dus bly dat die Here nie Sy Plan verander het om ons te pas nie. Ons wou nie hê dat Hy dit moet doen nie. Ons wil net graag Sy planne en voornemens verstaan.” Hierdie gesindheid van nederigheid en toegewydheid is nog steeds kenmerkend van die Here se gesalfdes. Hulle beweer nie dat hulle geïnspireer is nie, maar hulle is vasbeslote om op die aarde vir die Here ‘handel te dryf’. En nou volg “’n groot menigte” “ander skape”, Christene met ’n aardse hoop, hulle waaksaamheid en ywer na.—Op. 7:9; Joh. 10:16.

ONS MOET GEREED WEES

14. Hoe sal dit ons beskerm as ons na aan God se kanaal vir die voorsiening van geestelike voedsel bly?

14 Net soos gesalfde Christene, bly waaksame lede van die groot menigte na aan God se aangestelde kanaal vir die voorsiening van geestelike voedsel. Gevolglik is dit asof hulle ook hulle voorraad geestelike olie deur middel van God se Woord en gees aanvul. (Lees Psalm 119:130; Johannes 16:13.) Danksy die krag wat hulle hieruit put, is hulle ook gereed vir Christus se terugkeer en bly hulle bedrywig selfs onder swaar beproewing. Byvoorbeeld, in ’n Nazi-gevangeniskamp het die broers aanvanklik net een Bybel gehad. Hulle het dus gebid vir nog geestelike voedsel. Kort daarna het hulle uitgevind dat ’n broer wat pas in hegtenis geneem is, daarin geslaag het om ’n paar nuwe nommers van Die Wagtoring in sy houtbeen in die kamp in te smokkel. Een van die oorlewendes was ’n gesalfde broer, Ernst Wauer, wat later gesê het: “Jehovah het ons op ’n wonderbaarlike wyse gehelp om die versterkende gedagtes in die artikels te memoriseer.” Toe het hy gesê: “Dit is deesdae so maklik om geestelike voedsel te kry, maar waardeer ons dit altyd? Ek is oortuig dat Jehovah ’n oorvloed seëninge sal uitstort op diegene wat op hom vertrou, wat lojaal bly en wat aan sy tafel eet.”

15, 16. Hoe is ’n egpaar se ywer vir die Christelike bediening beloon, en wat kan jy uit sulke ondervindinge leer?

15 Die ander skape bly ook besig in die Heer se werk, in volle ondersteuning van Christus se broers (Matt. 25:40). In teenstelling met die goddelose en trae slaaf in Jesus se gelykenis is hulle bereid om opofferings te maak en hulle in te span om Koninkryksbelange eerste te stel. Byvoorbeeld, toe Jon en Masako genooi is om in die Chineessprekende veld in Kenia te help, het hulle aanvanklik bedenkinge gehad. Maar nadat hulle hulle omstandighede biddend oorweeg het, het hulle besluit om soontoe te trek.

16 Hulle is ryklik beloon vir hulle ywer. “Die bediening hier is ongelooflik”, het hulle gesê. Hulle het sewe Bybelstudies begin. En nog talle opwindende ondervindinge het gevolg. Hulle het gesê: “Ons dank Jehovah elke dag dat hy ons toelaat om hier te dien.” Daar is natuurlik baie ander broers en susters wat deur hulle besluite getoon het dat hulle vasbeslote is om druk besig te wees in God se diens wanneer die einde kom. Dink aan die duisende wat aan die Gileadskool gegradueer het en die sendingdiens betree het. Lees gerus die artikel: “Ons doen ons bes!” in Die Wagtoring van 15 Oktober 2001 om meer omtrent hierdie spesiale diens uit te vind. Terwyl jy hierdie boeiende verslag oor ’n dag in die sendingwerk lees, kan jy dink aan maniere waarop jy jou diens tot lof van God kan uitbrei en gevolglik jou vreugde kan vergroot.

JY MOET OOK AANHOU WAAK

17. Waarom is dit ’n seën om nie die dag of die uur te weet nie?

17 Dit is duidelik dat dit vir ons ’n seën is om nie te weet op presies watter dag of uur hierdie stelsel tot ’n einde sal kom nie. Ons voel nie gefrustreerd of teleurgesteld nie, maar kom eerder al hoe nader aan Jehovah, ons liefdevolle Vader, terwyl ons ons daarin verdiep om sy wil te doen. Die feit dat ons ons hand aan die ploeg geslaan het en dit as ’t ware daar hou en afleidings vermy, het tot oorvloedige vreugde in ons Heer se diens gelei.—Luk. 9:62.

18. Waarom wil ons nie tou opgooi nie?

18 God se oordeelsdag kom vinnig nader. Nie een van ons wil Jehovah of Jesus teleurstel nie. Hulle het in hierdie laaste dae kosbare diensvoorregte aan ons toevertrou. Hoe waardeer ons tog die vertroue wat hulle in ons stel!—Lees 1 Timoteus 1:12.

19. Hoe kan ons toon dat ons gereed is?

19 Ongeag of ons die hoop het om lewe in die hemel of op die Paradysaarde te geniet, laat ons vasbeslote wees om getrou te bly aan ons godgegewe toewysing om te preek en dissipels te maak. Ons weet nog steeds nie op presies watter dag of uur Jehovah se dag sal aanbreek nie, en hoef ons dit werklik te weet? Ons kan en sal gereed bly (Matt. 24:36, 44). Ons is seker dat ons, solank ons ten volle op Jehovah vertrou en sy Koninkryk eerste stel, nie teleurgestel sal word nie.—Rom. 10:11.

^ par. 3 Sien Die Wagtoring van 1 Maart 2004, bladsye 14-18.