Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus het die voorbeeld in nederigheid gestel

Jesus het die voorbeeld in nederigheid gestel

“Ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen.”—JOH. 13:15.

1, 2. Watter praktiese les het Jesus sy apostels op die laaste aand van sy lewe op aarde geleer?

DIT is die laaste aand van Jesus se lewe op aarde, en hy bring dit deur met sy dissipels in die bovertrek van ’n huis in Jerusalem. Gedurende die aandmaal staan Jesus op en sit hy sy boklere eenkant. Hy maak ’n handdoek om hom vas. Dan gooi hy water in ’n kom en begin hy die voete van die dissipels was en droog hy dit met die handdoek af. Daarna trek hy sy boklere aan. Waarom het Jesus hierdie nederige daad verrig?—Joh. 13:3-5.

2 Jesus het self verduidelik: “Weet julle wat ek aan julle gedoen het? . . . As ek dan, hoewel Here en Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Want ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen” (Joh. 13:12-15). Deur bereid te wees om so ’n nederige taak uit te voer, het Jesus sy apostels ’n praktiese les geleer wat diep op hulle verstande gegraveer sou wees en wat hulle sou aanspoor om in die dae wat voorlê, nederig te wees.

3. (a) Hoe het Jesus by twee geleenthede die belangrikheid van nederigheid beklemtoon? (b) Wat sal in hierdie artikel bespreek word?

3 Toe Jesus die voete van die apostels gewas het, was dit nie die eerste keer dat hy die belangrikheid van nederigheid beklemtoon het nie. By ’n vorige geleentheid, toe party van die apostels ’n mededingende gees geopenbaar het, het Jesus ’n jong kind langs hom geplaas, en Hy het vir hulle gesê: “Elkeen wat hierdie jong kind op grond van my naam ontvang, ontvang my ook, en elkeen wat my ontvang, ontvang ook hom wat my uitgestuur het. Want wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, dié is groot” (Luk. 9:46-48). Omdat Jesus geweet het dat die Fariseërs vernaamheid nagejaag het, het hy later in sy bediening gesê: “Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, en hy wat hom verneder, sal verhef word” (Luk. 14:11). Dit is duidelik dat Jesus wil hê dat sy volgelinge nederig, dit wil sê vry van trots en arrogansie, moet wees. Kom ons ondersoek sy voorbeeld van nederigheid van naderby sodat ons hom kan navolg. Ons sal ook sien hoe hierdie eienskap nie net die persoon wat dit openbaar, tot voordeel strek nie, maar ook ander.

“EK HET MY NIE IN DIE TEENOORGESTELDE RIGTING GEDRAAI NIE”

4. Hoe het God se enigverwekte Seun gedurende sy voormenslike bestaan nederigheid aan die dag gelê?

4 God se enigverwekte Seun het selfs voordat hy na die aarde gekom het, nederigheid aan die dag gelê. Gedurende sy voormenslike bestaan het Jesus ontelbare eeue met sy hemelse Vader deurgebring. Die Bybelboek Jesaja toon wat ’n hegte verhouding die Seun met sy Vader gehad het en sê: “Die Soewereine Heer Jehovah het my die tong gegee van dié wat geleer is, sodat ek kan weet hoe om die vermoeide met ’n woord te antwoord. Hy wek oggend na oggend; hy wek my oor om te hoor soos dié wat geleer is. Die Soewereine Heer Jehovah het my oor geopen, en ek was nie opstandig nie. Ek het my nie in die teenoorgestelde rigting gedraai nie” (Jes. 50:4, 5). Die Seun van God het ’n nederige gesindheid aan die dag gelê en noulettend aandag geskenk aan die dinge wat Jehovah hom geleer het. Hy was gretig en gewillig om by die ware God te leer. Jesus het die voorbeeld wat Jehovah in nederigheid stel deur barmhartigheid aan die sondige mensdom te bewys, ongetwyfeld noukeurig waargeneem!

5. Hoe het Jesus, in sy rol as Migael die aartsengel, ’n goeie voorbeeld van nederigheid en beskeidenheid gestel in sy handelinge met die Duiwel?

5 Nie elke skepsel in die hemel het dieselfde gesindheid gehad as die enigverwekte Seun van God nie. Die engel wat Satan die Duiwel geword het, het nie die begeerte gehad om by Jehovah te leer nie, maar het toegelaat dat eienskappe wat die teenoorgestelde is van nederigheid—verwaandheid en trots—in hom ontwikkel, en hy het sover gegaan om teen Jehovah in opstand te kom. In teenstelling hiermee was Jesus nie ontevrede met sy posisie in die hemel nie en wou hy nooit sy gesag misbruik nie. As Migael die aartsengel het Jesus nie sy gesag oorskry toe hy ‘met die Duiwel ’n geskil oor Moses se liggaam’ gehad het nie. God se Seun het eerder nederigheid en beskeidenheid aan die dag gelê. Dit het hom behaag om Jehovah, die Opperregter van die heelal, sake op Sy manier en tyd te laat hanteer.—Lees Judas 9.

6. Hoe het Jesus nederigheid aan die dag gelê toe hy die toewysing aanvaar het om as die Messias te dien?

6 Die dinge wat Jesus gedurende sy voormenslike bestaan geleer het, het ongetwyfeld die profesieë ingesluit wat besonderhede oor sy lewe op aarde as die Messias voorspel het. Daarom het hy waarskynlik vooraf geweet dat onaangename ondervindinge op hom gewag het. Nogtans het Jesus die toewysing aanvaar om op die aarde te lewe en as die beloofde Messias te sterf. Waarom? Die apostel Paulus het die aandag gevestig op die nederigheid van God se enigverwekte Seun toe hy geskryf het: “Hoewel hy in God se gedaante bestaan het, [het hy] geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg . . . nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword.”—Fil. 2:6, 7

AS ’N MENS “HET HY HOMSELF VERNEDER”

7, 8. Hoe het Jesus nederigheid gedurende sy kinderjare en sy aardse bediening geopenbaar?

7 Paulus het geskryf: “Toe [Jesus] hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal” (Fil. 2:8). Vanaf sy kinderjare het Jesus vir ons ’n voorbeeld van nederigheid gestel. Hoewel Jesus deur onvolmaakte ouers—Josef en Maria— grootgemaak is, het hy nederig “aan hulle onderdanig gebly” (Luk. 2:51). Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog vir jongmense, wat vir hulle gewillige onderdanigheid aan hulle ouers deur God geseën sal word!

8 As ’n volwassene het Jesus nederigheid geopenbaar deur Jehovah se wil eerste te stel, nie sy eie nie (Joh. 4:34). Gedurende sy bediening het Jesus Christus God se persoonlike naam gebruik en opregte mense gehelp om juiste kennis van Jehovah se eienskappe en Sy voorneme met die mensdom op te doen. Jesus se lewe het ook ooreengestem met wat hy ander oor Jehovah geleer het. Byvoorbeeld, in die modelgebed was die eerste punt wat Jesus gemeld het: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matt. 6:9). Sodoende het Jesus vir sy volgelinge getoon dat die heiliging van Jehovah se naam vir hulle van die allergrootste belang moet wees. Dit is hoe hy self gelewe het. Teen die einde van sy aardse bediening kon Jesus in gebed tot Jehovah sê: “Ek het u naam aan hulle [die apostels] bekend gemaak en sal dit bekend maak” (Joh. 17:26). Wat meer is, gedurende Jesus se bediening het hy Jehovah altyd die eer gegee vir wat hy op die aarde vermag het.—Joh. 5:19.

9. Wat het Sagaria aangaande die Messias voorspel, en hoe is dit deur Jesus vervul?

9 Sagaria het profeties aangaande die Messias geskryf: “Wees baie bly, o dogter van Sion. Roep triomfantlik uit, o dogter van Jerusalem. Kyk! Jou koning kom na jou toe. Hy is regverdig, ja, gered; nederig, en hy ry op ’n esel, ja, op ’n volgroeide dier, die hingsvul van ’n eselin” (Sag. 9:9). Hierdie profesie is vervul toe Jesus voor die Pasga in die jaar 33 HJ in Jerusalem ingegaan het. Die skare het hulle boklere sowel as boomtakke op die pad uitgesprei. Trouens, toe hy in die stad ingaan, het die hele stad in beroering gekom. Selfs toe Jesus deur die publiek as Koning toegejuig is, was hy nederig.—Matt. 21:4-11.

10. Wat is bewys deur die feit dat Jesus gewillig tot in die dood gehoorsaam was?

10 Jesus Christus was nederig en gehoorsaam tot aan die einde van sy aardse lewe, toe hy aan ’n folterpaal gesterf het. Hy het dus bo alle twyfel bewys dat mense aan Jehovah lojaal kan bly, selfs wanneer hulle tot die uiterste beproef word. Jesus het ook getoon dat Satan verkeerd was toe hy beweer het dat mense Jehovah om selfsugtige redes dien (Job 1:9-11; 2:4). Christus se rekord van volmaakte onkreukbaarheid het ook bevestig dat Jehovah die regmatige en regverdige Soewerein van die heelal is. Dit het Jehovah se hart ongetwyfeld verbly om die onwrikbare lojaliteit van sy nederige Seun te sien.—Lees Spreuke 27:11.

11. Watter vooruitsigte is deur die losprysoffer van Jesus Christus vir gelowige mense moontlik gemaak?

11 Deur middel van sy dood aan ’n folterpaal het Jesus ook die losprys vir die mensdom betaal (Matt. 20:28). Dit het sondige mense die geleentheid gebied om vir ewig te lewe en het aan die eise van geregtigheid voldoen. Paulus het geskryf dat “een daad van regverdiging vir alle soorte mense tot regverdigverklaring vir die lewe [gelei het]” (Rom. 5:18). Jesus se dood het die vooruitsig op onsterflike lewe in die hemel vir geesgesalfde Christene moontlik gemaak, en die vooruitsig op ewige lewe op die aarde vir die “ander skape”.—Joh. 10:16; Rom. 8:16, 17.

EK IS “NEDERIG VAN HART”

12. Hoe het Jesus sagmoedigheid en nederigheid in sy handelinge met onvolmaakte mense geopenbaar?

12 Jesus het almal “wat swoeg en swaar belaai is”, genooi om na hom toe te kom. Hy het gesê: “Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind” (Matt. 11:28, 29). Nederigheid en sagmoedigheid het Jesus beweeg om goedhartig en onpartydig te wees in sy handelinge met onvolmaakte mense. Hy was redelik in wat hy van sy dissipels verwag het. Jesus het hulle geprys en aangemoedig. Hy het hulle nie onbevoeg of onwaardig laat voel nie. Jesus het ander beslis nie hard behandel of onderdruk nie. Inteendeel, hy het sy volgelinge verseker dat hulle verkwik sou word as hulle nader aan hom kom en sy leringe toepas, want sy juk is sag en sy vrag is lig. Mense van albei geslagte en alle ouderdomme het op hulle gemak gevoel in sy teenwoordigheid.—Matt. 11:30.

13. Hoe het Jesus medelye aan minderbevoorregtes betoon?

13 Jesus het medelye gehad met die gewone mense van Israel omdat hulle minder bevoorreg was, en hy het liefdevol aan hulle behoeftes aandag geskenk. Naby Jerigo het hy ’n blinde bedelaar met die naam Bartimeus en sy blinde metgesel, wie se naam onbekend is, teëgekom. Hulle het Jesus om hulp bly vra, maar die skare het die mans streng aangesê om stil te bly. Hoe maklik sou dit vir Jesus gewees het om die smekinge van die blinde mans te ignoreer! Maar Jesus het eerder gevra dat hulle na hom gebring word, en beweeg deur innige jammerte het hy hulle sig herstel. Ja, Jesus het sy Vader, Jehovah, nagevolg deur nietige sondaars op nederige wyse te behandel en barmhartigheid aan hulle te bewys.—Matt. 20:29-34; Mark. 10:46-52.

“ELKEEN WAT HOM VERNEDER, SAL VERHEF WORD”

14. Watter voordele het Jesus se nederigheid meegebring?

14 Die nederigheid wat Jesus Christus deur sy lewe heen geopenbaar het, het vreugde en voordele vir baie meegebring. Dit het Jehovah se hart verbly om te sien dat sy geliefde Seun hom nederig aan die goddelike wil onderwerp. Die apostels en dissipels is deur Jesus se sagmoedigheid en nederigheid verkwik. Sy voorbeeld, sy leringe en sy hartlike lof het hulle aangespoor om geestelike vooruitgang te maak. Gewone mense het by Jesus se nederigheid baat gevind omdat hy hulle gehelp het, hulle geleer het en hulle aangemoedig het. Trouens, alle loskoopbare mense sal langtermynvoordele uit Jesus se losprysoffer put.

15. Hoe het Jesus by sy nederigheid baat gevind?

15 Wat van Jesus? Het hy by sy nederigheid baat gevind? Ja, want Jesus het vir sy dissipels gesê: “Elkeen wat hom verneder, sal verhef word” (Matt. 23:12). Hierdie woorde is in sy eie geval bewaarheid. Paulus verduidelik: “God [het Jesus] tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader.” Weens Jesus se nederigheid en getrouheid toe hy op aarde was, het Jehovah God sy Seun verhef, deur hom gesag te gee oor skepsele in die hemel en op aarde.—Fil. 2:9-11.

JESUS SAL “RY TER WILLE VAN WAARHEID EN NEDERIGHEID”

16. Wat toon dat die optrede van God se Seun ook in die toekoms deur nederigheid gekenmerk sal word?

16 Die optrede van God se Seun sal ook in die toekoms deur nederigheid gekenmerk word. Die psalmis het voorspel hoe Jesus vanuit ’n verhewe hemelse posisie teen Sy vyande sal optree en het gesing: “Gaan in u prag voort tot sukses; ry ter wille van waarheid en nederigheid en regverdigheid” (Ps. 45:4). By Armageddon sal Jesus Christus nie net ter wille van waarheid en regverdigheid ry nie, maar ook ter wille van nederigheid. En wat sal aan die einde van sy Duisendjarige Heerskappy gebeur wanneer die Messiaanse Koning “alle regering en alle gesag en mag tot niet gemaak het”? Sal hy nederigheid aan die dag lê? Ja, want hy sal “die koninkryk aan sy God en Vader oorgee”.—Lees 1 Korintiërs 15:24-28.

17, 18. (a) Waarom is dit vir Jehovah se knegte belangrik om Jesus se voorbeeld van nederigheid na te volg? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

17 Wat van ons? Sal ons die voorbeeld volg wat Jesus vir ons gestel het en nederigheid aan die dag lê? Hoe sal ons vaar wanneer die Koning Jesus Christus kom om by Armageddon oordeel te voltrek? Aangesien hy ter wille van nederigheid en regverdigheid ry, sal hy net diegene red wat nederig en regverdig is. Ons oorlewing hang dus daarvan af dat ons nederigheid aankweek. Wat meer is, net soos Jesus Christus se nederigheid vir hom en vir ander voordele meegebring het, sal dit op verskeie maniere voordelig wees as ons nederigheid aan die dag lê.

18 Wat kan ons help om Jesus se voorbeeld van nederigheid na te volg? Hoe kan ons nederigheid nastreef ondanks die uitdagings waarvoor ons moontlik te staan kom? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.