Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kweek die gees van ’n mindere aan

Kweek die gees van ’n mindere aan

“Wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, dié is groot.”—LUK. 9:48.

1, 2. Watter vermaning het Jesus sy apostels gegee, en waarom het hy dit gedoen?

DIT was 32 HJ. Jesus was in die streek Galilea toe probleme ontstaan het. ’n Paar van sy apostels het gestry oor wie die grootste onder hulle is. Die Evangelieskrywer Lukas berig: “’n Redenasie [het] onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste sou wees. Jesus, wat die redenering van hulle hart geken het, het ’n jong kind geneem, hom langs hom geplaas en vir hulle gesê: ‘Elkeen wat hierdie jong kind op grond van my naam ontvang, ontvang my ook, en elkeen wat my ontvang, ontvang ook hom wat my uitgestuur het. Want wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, dié is groot’” (Luk. 9:46-48). Op geduldige dog ferm wyse het Jesus die apostels gehelp om die belangrikheid van nederigheid te verstaan.

2 Het Jesus se vermaning dat die apostels hulle as minderes gedra, met die waardes van die eerste-eeuse Jode ooreengestem? Of het dit gebots met die algemene gees onder hulle? Die Theological Dictionary of the New Testament lewer kommentaar oor die maatskaplike toestande van daardie tyd en verduidelik: “Die vraag oor wie die grootste is, het in verband met elke situasie ontstaan, en om aan elkeen die eer te gee wat hom toekom, was ’n belangrike saak waaroor mense heeltyd besorg was.” Jesus het sy dissipels vermaan om anders te wees as mense in die algemeen.

3. (a) Wat beteken dit om jou as ’n mindere te gedra, en waarom sal dit dalk vir ons moeilik wees om dit te doen? (b) Watter vrae ontstaan oor hoe om die gees van ’n mindere aan te kweek?

3 Die Griekse woord wat as “mindere” vertaal word, verwys na iemand wat beskeie, nederig, gering en onbelangrik is, dit wil sê iemand wat min aansien en invloed het. Jesus het ’n jong kind gebruik om aan sy apostels duidelik te maak dat hulle nederig en beskeie moet wees. Daardie vermaning is vandag net soveel op ware Christene van toepassing as wat dit in die eerste eeu was. Dit is dalk vir ons moeilik om ons as minderes te gedra—ten minste onder sekere omstandighede. Die menslike neiging om trots te wees, sal ons dalk beweeg om aansien na te jaag. Die mededingende wêreld waarin ons lewe en die gees van die wêreld kan ons beïnvloed om selfbehep, aggressief of manipulerend te wees. Wat kan ons help om die gees van ’n mindere aan te kweek? Hoe is die persoon wat ‘hom as ’n mindere onder ons gedra, groot’? In watter aspekte van die lewe moet ons daarna streef om ’n nederige gees te openbaar?

“O DIE DIEPTE VAN GOD SE RYKDOM EN WYSHEID EN KENNIS!”

4, 5. Wat kan ons beweeg om nederigheid aan te kweek? Lig toe.

4 Een manier om nederigheid aan te kweek, is om te peins oor hoe groot Jehovah in vergelyking met ons is. Om die waarheid te sê, “daar is geen deurgronding van sy verstand nie” (Jes. 40:28). Die apostel Paulus het oor sekere aspekte van Jehovah se grootsheid kommentaar gelewer en geskryf: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!” (Rom. 11:33). Hoewel die mensdom se kennis oor baie dinge grootliks vermeerder het sedert Paulus sowat 2 000 jaar gelede hierdie woorde neergeskryf het, is hierdie stelling nog steeds waar. Ongeag hoeveel ons weet, dit behoort ons nederig te laat voel as ons besef dat daar nog oneindig baie is wat ons omtrent Jehovah, sy werke en sy weë kan leer.

5 Die besef dat ons nie die vermoë het om God se weë na te speur nie, het Leo * gehelp om homself as ’n mindere te beskou. As ’n jong man was Leo gefassineer deur die wetenskap. Omdat hy die fisiese heelal sover moontlik wou verstaan, het hy astrofisika gestudeer en tot ’n belangrike gevolgtrekking gekom. Hy sê: “My studies het my laat besef dat huidige wetenskaplike teorieë alleen die mensdom waarskynlik nie in staat sal stel om die heelal ten volle te verstaan nie. Daarom het ek in die regte begin studeer.” Na verloop van tyd het Leo ’n distriksprokureur en later ’n regter geword. Hy en sy vrou het die Bybel uiteindelik saam met Jehovah se Getuies begin studeer, die waarheid aangeneem en toegewyde knegte van God geword. Wat het Leo ten spyte van sy agtergrond gehelp om hom as ’n mindere te gedra? Sonder om te huiwer, antwoord hy: “Dit is toe ek besef het dat, ongeag hoeveel ons omtrent Jehovah en die heelal leer, daar nog veel meer is om te ontdek.”

6, 7. (a) Watter wonderlike voorbeeld van nederigheid voorsien Jehovah? (b) Hoe kan God se nederigheid ’n persoon “groot” maak?

6 Nog ’n faktor wat ons help om nederig te wees, is die feit dat Jehovah self nederigheid openbaar. Dink hieraan: “Ons is God se medewerkers” (1 Kor. 3:9). Stel jou dit voor! Jehovah, die God van ongeëwenaarde grootheid, verleen waardigheid aan ons deur ons ’n geleentheid te gee om ons bediening met behulp van sy Woord, die Bybel, uit te voer. Hoewel Jehovah die een is wat die saadjies wat ons plant en natgooi, laat groei, gee hy ons die eerbare posisie om sy medewerkers te wees (1 Kor. 3:6, 7). Is dit nie ’n wonderlike voorbeeld van God se nederigheid nie? Jehovah se voorbeeld van nederigheid moet sekerlik vir elkeen van ons ’n groot aansporing wees om ons as minderes te gedra.

7 God se voorbeeld van nederigheid het ’n kragtige uitwerking op die psalmis Dawid gehad. Hy het vir Jehovah gesing: “U sal my u skild van redding gee, en u nederigheid maak my groot” (2 Sam. 22:36). Dawid het enige grootheid wat hy in Israel gehad het, aan Jehovah se nederigheid toegeskryf—aan die feit dat God hom neerbuig, of hom verneder, om aandag aan hom te skenk (Ps. 113:5-7). Is dit enigsins anders in ons geval? Wat het enige van ons, in terme van eienskappe, vermoëns en voorregte, wat ons nie van Jehovah “ontvang het nie”? (1 Kor. 4:7). Die persoon wat hom as ’n mindere gedra, is “groot” in die sin dat hy as ’n kneg van Jehovah waardevoller word (Luk. 9:48, vtn. in NW). Kom ons bespreek waarom dit die geval is.

‘’N MINDERE ONDER JULLE IS GROOT’

8. Watter uitwerking het nederigheid op ons gesindheid teenoor Jehovah se organisasie?

8 Nederigheid is noodsaaklik om tevrede in God se teokratiese organisasie te wees en om die gemeentelike reëling te ondersteun. Neem byvoorbeeld ’n jong vrou genaamd Petra, wat in ’n Getuiegesin grootgeword het. Omdat Petra dinge op haar eie manier wou doen, het sy haar van die gemeente onttrek. Jare later het sy weer met die gemeente begin assosieer. Sy is nou bly om deel van Jehovah se organisasie te wees en ondersteun die gemeentelike reëling ywerig. Wat het hierdie keer die verskil gemaak? Sy skryf: “Die twee belangrikste eienskappe wat ek moes verstaan en aankweek om in God se organisasie tuis te voel, was nederigheid en beskeidenheid.”

9. Watter soort gesindheid het ’n nederige persoon teenoor die geestelike voedsel wat ons ontvang, en waarom maak dit hom waardevoller?

9 ’n Nederige persoon het hartgrondige waardering vir Jehovah se voorsienings, wat geestelike voedsel insluit. So ’n persoon is dus ’n ywerige student van die Bybel en leser van Die Wagtoring en Ontwaak! Soos baie ander getroue knegte van Jehovah, is dit dalk sy gewoonte om elke nuwe publikasie te lees voordat hy dit op ’n boekrak in sy persoonlike biblioteek wegsit. Wanneer ons nederige waardering toon deur ons Bybelpublikasies te lees en te bestudeer, maak ons geestelike vooruitgang en kan Jehovah ons in groter mate in sy diens gebruik.—Heb. 5:13, 14.

10. Hoe kan ons die gesindheid van ’n mindere in die gemeente openbaar?

10 Iemand wat hom as ’n mindere gedra, is in nog ’n opsig “groot”. Elke gemeente het bekwame manne wat onder die leiding van Jehovah se heilige gees aangestel is om as ouer manne te dien. Hulle tref reëlings in verband met geestelike sake soos gemeentelike vergaderinge, velddiens en herderswerk. Wanneer ons die gesindheid van ’n mindere openbaar deur hierdie reëlings gewillig te ondersteun, dra ons tot die vreugde, vrede en eenheid van die gemeente by. (Lees Hebreërs 13:7, 17.) Is jy, indien jy as ’n ouer man of bedieningskneg dien, nie nederig dankbaar teenoor Jehovah dat hy so ’n diensvoorreg aan jou toevertrou het nie?

11, 12. Watter gesindheid sal ons vir Jehovah se organisasie waardevoller maak, en waarom?

11 Iemand wat hom as ’n mindere gedra, is “groot”, of waardevoller vir Jehovah se organisasie, omdat sy nederigheid hom ’n goeie en nuttige kneg van God maak. Jesus moes sy dissipels vermaan om hulle as minderes te gedra omdat party van hulle deur die heersende gees van die dag beïnvloed is. “’n Redenasie [het] onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste sou wees”, sê Lukas 9:46. Begin ons dalk ook redeneer dat ons in die een of ander opsig beter is as ons medegelowiges of as mense in die algemeen? Baie in die wêreld om ons word deur trots en selfsug aangedryf. Laat ons hulle gesindheid vermy deur ons nederig te gedra. As ons dit doen en Jehovah se wil eerste stel, sal ons verkwikkender metgeselle vir ons broers en susters wees.

12 Jesus se vermaning om ons as minderes te gedra, is werklik ’n aansporing. Moet ons nie hard probeer om die gees van ’n mindere in alle aspekte van die lewe te openbaar nie? Kom ons kyk veral na drie aspekte.

STREEF DAARNA OM ’N MINDERE TE WEES

13, 14. Hoe moet ’n man of ’n vrou hom of haar as ’n mindere gedra, en watter uitwerking kan dit op ’n huwelik hê?

13 In die huwelik. Vandag is baie mense so besorg oor hulle persoonlike regte dat hulle daarop aandring selfs as dit beteken dat hulle ander se regte skend. ’n Mindere word egter gelei deur die gesindheid wat Paulus ons aangespoor het om te openbaar. In sy brief aan die Romeine skryf hy: “Laat ons dan die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is” (Rom. 14:19). Iemand wat hom of haar as ’n mindere gedra, streef vrede met almal na, en veral met sy of haar kosbare huweliksmaat.

14 Dink byvoorbeeld aan ontspanning. ’n Egpaar verskil dalk in hulle voorkeure wat vermaak betref. Die man hou dalk daarvan om gedurende sy vrye tyd rustig by die huis te bly en ’n boek te lees. Maar die vrou verkies dalk om te gaan uiteet of by vriende te kuier. Sal dit nie vir die vrou makliker wees om haar man te respekteer as sy sien dat hy nederigheid openbaar en werklik haar voorkeure en afkeure in ag neem eerder as om net te dink aan wat hy wil hê nie? En hoe sal ’n man tog sy vrou liefhê en waardeer as hy sien dat sy nie net haar sin probeer kry nie, maar dat sy sý wense in ag neem! Die huweliksband word versterk as al twee huweliksmaats hulle as minderes gedra.—Lees Filippense 2:1-4.

15, 16. Watter gesindheid het Dawid in Psalm 131 aanbeveel, en hoe moet dit ons gedrag in die gemeente beïnvloed?

15 In die gemeente. Vir baie mense in die wêreld is die onmiddellike bevrediging van hulle begeertes van die allergrootste belang. Hulle het baie min geduld en dit is vir hulle ’n beproewing om vir iets te wag. As ons die gees van ’n mindere aankweek, help dit ons om op Jehovah te wag. (Lees Psalm 131:1-3.) Die voordele wat dit inhou om nederig te wees en op Jehovah te wag, is veiligheid en seëninge, vertroosting en tevredenheid. Dit is geen wonder dat Dawid sy mede-Israeliete aangespoor het om geduldig op hulle God te wag nie!

16 Jy kan soortgelyke vertroosting vind as jy nederig op Jehovah wag (Ps. 42:5). Miskien ‘begeer jy ’n voortreflike werk’, en daarom ‘streef jy na ’n opsienersamp’ (1 Tim. 3:1-7). Jy moet natuurlik alles in jou vermoë doen om toe te laat dat die heilige gees die eienskappe in jou laat ontwikkel wat ’n opsiener moet hê. Maar sê nou dit lyk of die proses langer neem in jou geval as in die geval van ander? ’n Mindere, wat geduldig wag om ’n diensvoorreg te ontvang, sal voortgaan om Jehovah vreugdevol te dien en sal bly wees oor enige toewysing wat hy ontvang.

17, 18. (a) Watter voordele bring dit mee wanneer ons om vergifnis vra en bereid is om ander te vergewe? (b) Watter handelswyse word in Spreuke 6:1-5 aanbeveel?

17 In ons verhoudings met ander. Vir die meeste mense is dit moeilik om om verskoning te vra. Maar knegte van God kweek die gees van ’n mindere aan deur hulle foute te erken en om vergifnis te vra. Hulle vergewe ander ook vryelik vir hulle foute. Terwyl trots verdeeldheid en twis bevorder, bevorder vergifnis vrede in die gemeente.

18 Ons sal ons dalk moet ‘verneder’ deur opreg om verskoning te vra as ons weens omstandighede buite ons beheer nie ’n ooreenkoms kan nakom nie. Hoewel die ander party dalk ’n mate van skuld dra, is ’n nederige Christen besorg oor sy eie tekortkominge en is hy bereid om dit te erken.—Lees Spreuke 6:1-5.

19. Waarom moet elkeen van ons dankbaar wees vir die Bybelse raad om ons as ’n mindere te gedra?

19 Hoe dankbaar is ons tog vir die skriftuurlike aanmoediging om die gees van ’n mindere aan te kweek! Hoewel ons dit soms moeilik sal vind om so ’n gees te openbaar, kan die regte beskouing van ons posisie in verhouding tot ons Skepper en waardering vir sy nederigheid ons beweeg om hierdie voortreflike eienskap aan te kweek. As ons dit doen, sal ons inderdaad as knegte van Jehovah waardevoller wees. Mag elkeen van ons ons dus as ’n mindere gedra.

^ par. 5 Van die name is verander.