Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Impliseer Jesus se woorde in Matteus 19:10-12 dat diegene wat besluit het om nie te trou nie, die gawe om ongetroud te kan bly, op ’n onverklaarbare manier ontvang het?

Kom ons kyk na die agtergrond waarteen Jesus sy opmerkings oor die ongetroude lewe gemaak het. Toe Fariseërs na hom toe gekom het en die onderwerp van egskeiding aangeroer het, het Jesus Jehovah se standaard vir die huwelik duidelik uiteengesit. Hoewel die Wet ’n man toegelaat het om vir sy vrou ’n skeibrief uit te skryf as hy “iets onwelvoegliks” aan haar gevind het, was dit nie van die begin af so nie (Deut. 24:1, 2). Daarna het Jesus gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, [pleeg] egbreuk.”—Matt. 19:3-9.

Toe die dissipels dít hoor, het hulle gesê: “As die saak van ’n man met sy vrou só staan, is dit nie raadsaam om te trou nie.” In antwoord hierop het Jesus gesê: “Nie almal maak plek vir die woord nie, maar net dié wat die gawe het. Want daar is eunugs wat uit hulle moeder se skoot so gebore is, en daar is eunugs wat deur die mense eunugs gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself eunugs gemaak het weens die koninkryk van die hemele. Wie daarvoor plek kan maak, laat hom daarvoor plek maak.”—Matt. 19:10-12.

Letterlike eunugs was dié wat so gebore is weens geboortegebreke of wat so geword het as gevolg van ’n ongeluk of verminking. Maar daar was ook diegene wat uit vrye wil besluit het om soos eunugs te lewe, al was hulle nie in letterlike sin eunugs nie. Hoewel hulle vry was om te trou, het hulle selfbeheersing aan die dag gelê en ongetroud gebly “weens die koninkryk van die hemele”. Soos Jesus het hulle die ongetroude lewe gekies sodat hulle hulle aan Koninkryksdiens kon wy. Hulle is nie gebore met die gawe om ongetroud te kan bly nie, en hulle het hierdie gawe ook nie ontvang nie. Hulle het daarvoor plek gemaak. Dit wil sê, hulle het die gawe doelbewus verkry.

Die apostel Paulus het voortgebou op Jesus se woorde en het verduidelik dat alle Christene—getroud of ongetroud—God op aanneemlike wyse kan dien, maar dat ’n ongetroude persoon wat “in sy hart vasstaan” in verband met sy ongehude staat, “beter doen”. Hoe so? Getroude mense moet hulle tyd en energie verdeel sodat hulle hulle maat kan behaag en na hom of haar kan omsien. Maar ongetroude Christene kan hulle op die Here se werk toespits sonder daardie verpligting. Hulle beskou hulle situasie as ’n “gawe” wat van God kom.—1 Kor. 7:7, 32-38.

Die Skrif toon dus dat ’n Christen nie die gawe om ongetroud te kan bly, op ’n onverklaarbare manier ontvang nie. Hy kweek dit eerder aan deur ongetroud te bly sodat hy Koninkryksbelange kan bevorder sonder om afgelei te word. Vandag is daar baie wat hulle in hulle hart voorgeneem het om om hierdie rede ongetroud te bly, en dit sal goed wees as ander vir hulle ’n bron van aanmoediging is.