Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Uit ons argief

‘Dit was die beste boodskap wat tot nog toe gehoor is’

‘Dit was die beste boodskap wat tot nog toe gehoor is’

“WAARVOOR word dit gebruik?” het George Naish gevra terwyl hy gewys het na ’n hoop 18-meter lange houtstompe by die wapenhuis in Saskatoon, Saskatchewan, Kanada. Daar is vir hom gesê dat die hout gebruik is om gedurende die Eerste Wêreldoorlog seintorings te bou. “Die gedagte het by my opgekom dat ons daardie stompe kon gebruik om radiotorings te bou”, het broer Naish later vertel, “en so het die idee van ’n teokratiese radiostasie ontstaan.” Net ’n jaar later—in 1924—het CHUC begin uitsaai. Dit was een van die eerste radiostasies in Kanada wat godsdiensprogramme uitgesaai het.

Aangesien Kanada ongeveer so groot is soos Europa, was dit ideaal om daar oor die radio te getuig. “Danksy ons radio-uitsendings het die waarheid baie mense bereik met wie ons nie persoonlik in aanraking kon kom nie”, sê Florence Johnson, wat by die stasie in Saskatoon gewerk het. “En aangesien die radio destyds iets nuuts was, was mense gretig om te luister na enigiets wat uitgesaai word.” Teen 1926 het die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het) hulle eie radiostasies in vier Kanadese stede gehad. *

Wat sou jy gehoor het as jy na een van hierdie uitsendings geluister het? Sangers van die plaaslike gemeente het dikwels liedere gesing, begelei deur musiekinstrumente en selfs klein orkeste. Die broers het natuurlik ook toesprake en Bybelbesprekings gehou. Amy Jones, wat aan die besprekings deelgeneem het, vertel: “Wanneer ek my aan iemand voorgestel het terwyl ek velddiens gedoen het, het die huisbewoner soms gesê: ‘O ja, ek het jou op die radio gehoor.’”

Bybelstudente in Halifax, Nieu-Skotland, het ’n soort radioprogram gebruik wat destyds iets nuuts was—’n geselsprogram waarby luisteraars kon inbel en Bybelvrae vrae. “Die reaksie op hierdie soort program was ongelooflik”, het een broer geskryf. “Die aantal oproepe was byna te veel vir die stasie om te behartig.”

Soos die apostel Paulus, het die Bybelstudente ’n gemengde reaksie op die boodskap ontvang (Hand. 17:1-5). Party luisteraars het van die boodskap gehou. Byvoorbeeld, toe Hector Marshall gehoor het dat die Bybelstudente oor die radio van Studies in the Scriptures praat, het hy ses dele bestel. “Ek het gedink dat die boeke my sou help om Sondagskool te hou”, het hy later geskryf. Maar teen die tyd dat Hector Deel 1 klaargelees het, het hy besluit om sy kerk te verlaat. Hy het ’n ywerige evangeliedienaar geword en het Jehovah, tot sy dood in 1998, getrou gedien. In die ooste van Nieu-Skotland het kolonel J. A. MacDonald die dag nadat die toespraak “Die Koninkryk, die hoop van die wêreld” uitgesaai is, vir ’n plaaslike broer gesê: “Die mense van Kaap Breton-eiland het gister ’n boodskap gehoor wat die beste boodskap was wat ons tot nog toe in hierdie deel van die wêreld gehoor het.”

Die geestelikes was egter woedend. Party Katolieke in Halifax het gedreig om die stasie vanwaar die Bybelstudente hulle programme uitgesaai het, op te blaas. In 1928 het die regering, aangehits deur godsdiensleiers, skielik aangekondig dat hulle nie die uitsaailisensies van stasies wat aan die Bybelstudente behoort, sou hernieu nie. In reaksie hierop het broers en susters Who Owns the Air? versprei—’n gedrukte boodskap wat beswaar gemaak het teen hierdie onregverdige behandeling. Nietemin het regeringsamptenare geweier om die Bybelstudente se uitsaailisensies te hernieu.

Het dit die klein groepie van Jehovah se knegte in Kanada se gees gedemp? “Aan die begin het dit beslis soos ’n groot oorwinning vir die vyand gelyk”, het Isabel Wainwright erken. “Maar ek het geweet dat Jehovah dit sou verhoed het as dit sy voorneme was. Daarom moes dit beteken het dat ons moet aanpas by ’n ander en veel beter manier om die goeie nuus van die Koninkryk bekend te maak.” Pleks van baie op die radio staat te maak om ’n getuienis te lewer, het die Bybelstudente in Kanada hulle daarop begin toespits om mense by hulle huise te besoek. Nietemin het die radio in sy tyd beslis ’n kragtige rol gespeel om ‘die beste boodskap wat tot nog toe gehoor is’, uit te saai.—Uit ons argief in Kanada.

^ par. 4 Om oor die lug te getuig, het broers in Kanada ook uitsaaityd by kommersiele radiostasies gekoop.