Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die tyd om te gee?

Die tyd om te gee?

“Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—HANDELINGE 20:35.

’n Rede waarom party Kersfees vier.

Soos Jesus gesê het, maak dit die gewer sowel as die ontvanger gelukkig wanneer ’n geskenk gegee word. Baie wil hierdie geluk ervaar, en daarom beskou hulle die gee van geskenke as een van die belangrikste aspekte van Kersfees. Byvoorbeeld, selfs gedurende verlede jaar se ekonomiese krisis het elke huisgesin in Ierland volgens ’n opname verwag om meer as 500 euro’s (ongeveer R5 500) aan Kersgeskenke te bestee.

Waarom is dit ’n uitdaging?

Baie voel dat die gee van Kersgeskenke eerder meer stres as geluk meebring. Hoe so? Baie kopers voel verplig om geskenke te koop wat hulle nie kan bekostig nie. En aangesien almal op dieselfde tyd geskenke wil koop, maak die skares mense en lang toue in winkels dit ’n onaangename ondervinding vir baie.

Watter Bybelbeginsels kan jou help?

“Gee altyddeur”, het Jesus gesê (Lukas 6:38). * Hy het nie gesê dat geskenke net gedurende ’n sekere tyd van die jaar gegee moet word wanneer daar van mense verwag word om te gee nie. Jesus het sy volgelinge aangespoor om altyddeur spontaan te gee, om dit ’n gewoonte te maak.

Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Volgens een Bybelkommentator beteken Paulus se woorde dat “niks ooit gegee moet word ‘onder dwang’, uit ’n gevoel dat jy verplig word om te gee nie”. ’n Mens kan nie “’n blymoedige gewer” wees en terselfdertyd verplig voel om op ’n spesifieke tyd ’n spesifieke artikel aan ’n spesifieke persoon te gee nie—soos so dikwels die geval is wanneer Kersgeskenke gegee word.

“As die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie” (2 Korintiërs 8:12). God verwag nie dat Christene skuld moet aangaan om duur geskenke te koop nie. Inteendeel, wanneer iemand gee ‘volgens wat hy het’, is sy geskenke nie net bevredigend nie, maar “veral aanneemlik”. Wat ’n verkwikkende teenstelling vorm dit tog met die “koop nou, betaal later”-boodskap van adverteerders gedurende die Kersseisoen!

^ par. 8 Party Bybelvertalings sê eenvoudig: “Gee.” Maar in die oorspronklike Grieks dui die werkwoordvorm op ’n voortdurende handeling. Om die volle betekenis oor te dra van die woord wat Jesus gebruik het, gee die Nuwe Wêreld-vertaling dit weer met “gee altyddeur”.