Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit God se Woord

Waarom het God Jesus aarde toe gestuur?

Waarom het God Jesus aarde toe gestuur?

Hierdie artikel bespreek vrae wat jy dalk al gevra het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Waar was Jesus voordat God hom aarde toe gestuur het?

Jesus het as ’n geespersoon in die hemel gelewe voordat hy in Betlehem gebore is. Hy was God se eerste skepping en die enigste een wat regstreeks deur God geskep is. Hy word dus gepas God se enigverwekte Seun genoem. In die hemel het hy dikwels as God se verteenwoordiger gespreek. Daarom word hy die Woord genoem. Hy het ook as God se helper opgetree en aan die skepping van alle ander dinge deelgeneem (Johannes 1:2, 3, 14). Jesus het ontelbare eeue lank saam met God in die hemel gelewe voordat die mens geskep is.—Lees Miga 5:2; Johannes 17:5.

2. Hoe het God sy Seun aarde toe gestuur?

Jehovah het Jesus se lewe deur middel van die heilige gees vanuit die hemel na die baarmoeder van Maria oorgeplaas. Jesus het dus nie ’n mensevader gehad nie. Engele het sy geboorte aan plaaslike herders aangekondig, wat in die nag in die oop veld gebly het terwyl hulle oor hulle kuddes wag gehou het. (Lukas 2:8-12). Jesus is dus nie in die middel van die winter gebore nie, maar waarskynlik vroeg in Oktober, wanneer die weer nog warm is. ’n Ruk later het Maria en haar man, Josef, Jesus na hulle huis in Nasaret geneem en hom daar grootgemaak. Josef het Jesus as sy seun aangeneem en vir hom gesorg.—Lees Matteus 1:18-23.

Toe Jesus omtrent 30 jaar oud was, is hy gedoop, en God het in die openbaar bekend gemaak dat Jesus sy Seun is. Toe het Jesus begin met die werk wat God hom gestuur het om te doen.—Lees Matteus 3:16, 17.

3. Waarom het God Jesus aarde toe gestuur?

God het Jesus gestuur om mense die waarheid te leer. Jesus het mense geleer oor God se Koninkryk, ’n regering in die hemel wat vrede op die hele aarde tot stand sal bring. Hy het die hoop op die ewige lewe voorsien (Johannes 4:14; 18:36, 37). Jesus het mense ook baie dinge geleer oor hoe om ware geluk te vind (Matteus 5:3; 6:19-21). Hy het ander deur sy voorbeeld geleer. Hy het byvoorbeeld getoon hoe God se wil selfs in moeilike omstandighede gedoen kan word. Toe hy mishandel is, het hy nie kwaad vir kwaad vergeld nie.—Lees 1 Petrus 2:21-24.

Jesus het sy volgelinge selfopofferende liefde geleer. Hy het baie voorregte geniet terwyl hy saam met sy Vader in die hemel gelewe het, en tog het hy sy Vader nederig gehoorsaam en aarde toe gekom om onder die mense te woon. Niemand kan vir ons ’n beter voorbeeld van liefde stel as Jesus nie.—Lees Johannes 15:12, 13; Filippense 2:5-8.

4. Wat het Jesus deur sy dood bereik?

God het Jesus ook gestuur om vir ons sondes te sterf (Johannes 3:16). Ons is almal sondaars, wat beteken dat ons onvolmaak en sondig is. Dit is waarom ons siek word en sterf. In teenstelling hiermee was die eerste man, Adam, volmaak. Hy het geen sonde gehad nie en sou nooit gesterf of siek geword het nie. Maar hy het sy volmaaktheid verloor toe hy ongehoorsaam was aan God. Ons het sonde en die loon daarvan, die dood, van Adam geërf.—Lees Romeine 5:12; 6:23.

Jesus, wat ’n volmaakte mens was, het nie vir sy eie sondes gesterf nie. Hy het vir ons sondes gesterf. Jesus se dood maak dit vir ons moontlik om die ewige lewe te geniet en deur God geseën te word.—Lees 1 Petrus 3:18.