Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moses—’n Man van liefde

Moses—’n Man van liefde

WAT IS LIEFDE?

Liefde behels innige geneentheid vir ander. ’n Liefdevolle persoon toon deur sy woorde en dade hoe hy voel oor diegene vir wie hy lief is, selfs as dit persoonlike opofferings verg.

HOE HET MOSES LIEFDE GEOPENBAAR?

Moses het getoon dat hy God liefhet. Hoe? Wel, dink aan die woorde in 1 Johannes 5:3: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar.” Moses het volgens hierdie beginsel gelewe. Ongeag wat God van hom gevra het—hetsy dit die angswekkende toewysing was om die magtige Farao te konfronteer of die skynbaar eenvoudige taak om sy staf oor die Rooi See uit te strek—Moses was gehoorsaam. Of die opdrag nou maklik of moeilik was, Moses het dit uitgevoer. “Hy het net so gedoen.”—Eksodus 40:16.

Moses het liefde vir sy mede-Israeliete getoon. Hulle het besef dat Jehovah Moses gebruik om sy volk te lei, en daarom het hulle Moses met allerhande probleme genader. Ons lees: “Die volk het van die oggend tot die aand toe voor Moses bly staan” (Eksodus 18:13-16). Stel jou voor hoe uitputtend dit vir Moses was om—uur ná uur—te luister terwyl die Israeliete hom van hulle probleme vertel het! Maar Moses was bly om die mense vir wie hy lief was, te help.

Moses het nie net geluister na sy geliefdes nie, maar ook vir hulle gebid. Hy het selfs gebid vir diegene wat hom te na gekom het! Byvoorbeeld, toe Moses se suster, Mirjam, teen hom gemurmureer het, het Jehovah haar met melaatsheid getref. Moses het hom nie verbly oor haar straf nie, maar het onmiddellik vir haar gebid: “O God, asseblief! Genees haar, asseblief!” (Numeri 12:13). Slegs liefde sou Moses beweeg het om so ’n onselfsugtige gebed te doen.

WATTER LESSE LEER ONS?

Ons kan Moses navolg deur innige liefde vir God aan te kweek. Hierdie liefde beweeg ons om sy gebooie “uit die hart” te gehoorsaam (Romeine 6:17). As ons Jehovah uit die hart gehoorsaam, maak ons sy hart bly (Spreuke 27:11). En dit hou ook vir ons voordele in. As ons God uit opregte liefde dien, sal ons nie net die regte dinge doen nie, maar dit ook geniet om dit te doen!—Psalm 100:2.

Nog ’n manier waarop ons Moses kan navolg, is deur selfopofferende liefde vir ander aan te kweek. Wanneer vriende of familielede ons van hulle probleme vertel, beweeg liefde ons om (1) met opregte belangstelling na hulle te luister; (2) empatie vir hulle te hê, of te voel wat hulle voel; en (3) te toon dat ons vir hulle omgee.

Soos Moses kan ons vir ons geliefdes bid. Soms voel ons miskien hulpeloos wanneer hulle ons van hulle probleme vertel. Ons sê dalk selfs: “Ek is jammer dat ek nie veel meer kan doen as om vir jou te bid nie.” Maar onthou: “Wanneer ’n regverdige bid, het daardie gebed groot krag” (Jakobus 5:16, The Kingdom New Testament). Ons gebede kan Jehovah in werklikheid beweeg om iets vir die persoon te doen wat Hy andersins dalk nie sou gedoen het nie. Is daar dan enigiets beters wat ons vir ons geliefdes kan doen as om vir hulle te bid? *

Stem jy nie saam dat ons baie by Moses kan leer nie? Hoewel hy ’n gewone mens was, het hy ’n uitsonderlike voorbeeld van geloof, nederigheid en liefde gestel. Hoe noukeuriger ons sy voorbeeld navolg, hoe meer sal ons onsself sowel as ander bevoordeel.—Romeine 15:4.

^ par. 8 As ons wil hê dat God ons gebede moet verhoor, moet ons opreg daarna streef om aan sy vereistes te voldoen. Vir meer inligting, sien hoofstuk 17 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.