Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP: ’N SINVOLLE LEWE IS MOONTLIK

Is ’n sinvolle lewe werklik moontlik?

Is ’n sinvolle lewe werklik moontlik?

“Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed.”—Psalm 90:10, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

HOE waar is hierdie woorde tog! Die lewe in hierdie wêreld is alte dikwels vol “swaarkry en leed”. Dalk het jy al gewonder: ‘Is dit enigsins moontlik om nou ’n waarlik sinvolle lewe te geniet?’

Neem byvoorbeeld Maria. Sy was altyd ’n baie aktiewe persoon, maar nou, op die ouderdom van 84, is sy feitlik aan haar huis gekluister. Haar verstand is nog helder, maar dit lyk of haar liggaam nie meer wil saamwerk nie. Kan sy haar lewe enigsins as sinvol beskou?

Wat van jou? Jy het jou dalk al afgevra of jou lewe sinvol is. Jou werk is miskien eentonig, uitputtend en vervelig. Jy ontvang dalk geen erkenning vir jou inspanning of jou werk nie. En al geniet jy ’n mate van sukses, voel jy moontlik onseker oor jou toekoms. Soms voel jy miskien ook eensaam of terneergedruk. Jou gesinslewe word moontlik gekenmerk deur konflik en onenigheid. Dalk het jy ’n geliefde aan die dood afgestaan. ’n Man met die naam André was baie geheg aan sy vader, wat skielik siek geword en gesterf het. Dit was ’n verskriklike slag vir André, en dit het ’n leemte in sy lewe gelaat wat hy voel nooit heeltemal gevul sal word nie.

Ongeag watter probleme ons ondervind, daar is iets wat ons eenvoudig moet weet: Is ’n sinvolle lewe werklik moontlik? Ons kan die antwoord vind in die lewe van ’n man wat sowat 2 000 jaar gelede op die aarde gewandel het—Jesus Christus. Ten spyte van al die struikelblokke waarvoor Jesus te staan gekom het, was sy lewe waarlik sinvol. Dit kan ook met ons die geval wees as ons sy voorbeeld volg.