Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help jouself en ander deur God se Woord te gebruik

Help jouself en ander deur God se Woord te gebruik

“Ek [het] al die bevele aangaande alle dinge as reg beskou.”—PS. 119:128.

1. Waarom moet ons volle vertroue in God se Woord hê?

WANNEER die ouer manne dit oorweeg of ’n Bybelstudent kwalifiseer om aan die veldbediening deel te neem of nie, vra hulle hulle af: ‘Toon die persoon deur wat hy sê dat hy glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is?’ * Vir iemand wat graag ’n Koninkryksverkondiger wil word—trouens, vir al God se knegte—moet die antwoord ’n besliste ja wees. Waarom? Ons vertroue in God se Woord en ons vermoë om dit in die bediening te gebruik, sal ons in staat stel om ander te help om Jehovah te leer ken en redding te verkry.

2. Waarom moet ons ‘bly in die dinge wat ons geleer het’?

2 Die apostel Paulus het die belangrikheid van God se Woord beklemtoon toe hy aan Timoteus geskryf het: “Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo.” “Die dinge” wat Paulus gemeld het, is Bybelwaarhede wat Timoteus beweeg het om geloof in die goeie nuus te stel. Hierdie waarhede het vandag dieselfde uitwerking op ons gehad, en dit help ons steeds om “wys [te wees] tot redding” (2 Tim. 3:14, 15). Ons gebruik dikwels Paulus se volgende woorde om aan ander te toon dat die Bybel van God af kom, maar ons kan ook self baat vind by die woorde in 2 Timoteus 3:16. (Lees.) Kom ons ondersoek hierdie vers van naderby. As ons dit doen, sal dit ons vertroue opbou dat al Jehovah se leringe “reg” is.—Ps. 119:128.

“NUTTIG OM TE ONDERRIG”

3-5. (a) Hoe het ’n skare gereageer op die toespraak wat Petrus op Pinkster gehou het, en waarom? (b) Waarom het baie in Tessalonika die waarheid aanvaar? (c) Wat omtrent ons bediening beïndruk mense moontlik vandag?

3 Jesus het vir die nasie Israel gesê: “Ek stuur profete en wyse manne en openbare onderrigters na julle  toe” (Matt. 23:34). Jesus het van sy dissipels gepraat, vir wie hy geleer het om die Skrif in hulle bediening te gebruik. Op Pinkster 33 HJ het een van hierdie “openbare onderrigters”, die apostel Petrus, ’n toespraak gelewer voor ’n groot skare in Jerusalem waarin hy dikwels uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het. Toe hulle Petrus se toepassing van hierdie woorde gehoor het, is baie toehoorders “diep in die hart getref”. Hulle het berou getoon oor hulle sondes van die verlede. Ongeveer drieduisend wou God se vergifnis verkry en het Christene geword.—Hand. 2:37-41.

4 Nog ’n openbare onderrigter, die apostel Paulus, het die goeie nuus in gebiede ver van Jerusalem af verkondig. In die Masedoniese stad Tessalonika het hy byvoorbeeld gepraat met mense wat in ’n sinagoge aanbid het. Paulus het drie Sabbatte lank “uit die Skrif met hulle geredeneer en verduidelik en deur verwysings bewys dat die Christus moes ly en uit die dode moes opstaan”. Wat was die gevolg? “Party van [die Jode het] gelowiges geword”, en so ook “’n groot menigte van die Grieke”.—Hand. 17:1-4.

5 Baie mense is beïndruk deur die manier waarop God se knegte van vandag die Bybel gebruik. Nadat ’n huisbewoner in Switserland geluister het toe een van ons susters ’n teks lees, het hy haar gevra: “Wie verteenwoordig julle?” Sy het geantwoord: “Ons is Jehovah se Getuies.” Hy het gesê: “Ek moes geweet het. Wie anders buiten Jehovah se Getuies sou na my huis toe kom om die Bybel vir my te kom lees?”

6, 7. (a) Hoe kan diegene wat in die gemeente onderrig, goed gebruik maak van die Bybel? (b) Waarom is dit so belangrik om die Skrif doeltreffend tydens tuisbybelstudies te gebruik?

6 Hoe kan ons die Bybel in voller mate in ons onderrigting gebruik? As jy die voorreg het om die gemeente van die verhoog af te onderrig, moet jy spesifieke teksverwysings gebruik. Moenie sleuteltekste aanhaal of van ’n drukstuk of elektroniese toestel aflees nie, maar slaan die Bybel oop en lees daaruit, en spoor die gehoor aan om dit ook te doen. Neem ook tyd om die verse toe te pas op ’n wyse wat die gehoor sal help om nader aan Jehovah te kom. Pleks van ingewikkelde illustrasies en ondervindinge te gebruik wat bloot as vermaak dien, moet jy die tyd gebruik om God se Woord te verduidelik.

7 Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons tuisbybelstudies hou? Wanneer ons ons Christelike publikasies gebruik, moet ons versigtig wees dat ons nie die teksverwysings oorslaan nie. Ons moet die student aanmoedig om die teksverwysings te lees en hom help om dit te verstaan. Hoe? Nie deur lang verduidelikings te gee wat die studie in ’n reeks toesprake verander nie, maar deur die student aan te spoor om sy mening uit te spreek. Pleks van vir hom te sê wat om te glo of hoe om op te tree, kan ons weldeurdagte vrae vra wat hom sal help om die regte gevolgtrekkings te maak. *

“NUTTIG . . . OM TEREG TE WYS”

8. Met watter innerlike stryd het Paulus te kampe gehad?

8 Ons dink dikwels dat ‘teregwysing’ net deur Christen- ouer manne gedoen moet word. En opsieners het wel die verantwoordelikheid om ‘persone wat sonde beoefen, tereg te wys’ (1 Tim. 5:20; Tit. 1:13). Maar dit is ook belangrik dat ons onsself moet teregwys. Paulus was ’n voorbeeldige Christen wat ’n skoon gewete gehad het (2 Tim. 1:3). Nogtans het hy geskryf: “Ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde.” As ons die konteks  van hierdie woorde bestudeer, sal ons beter verstaan watter stryd Paulus moes voer om sy sondige natuur te beheers.—Lees Romeine 7:21-25.

9, 10. (a) Teen watter swakhede het Paulus moontlik gestry? (b) Hoe het Paulus heel moontlik sy stryd teen die sonde gevoer?

9 Watter swakhede het Paulus probeer oorkom? Hoewel hy nie uitdruklik gesê het wat dit is nie, het hy wel aan Timoteus geskryf dat hy “’n vermetele man” was (1 Tim. 1:13). Voor Paulus se bekering was hy rasend van woede teenoor die Christene. Toe hy gesê het hoe hy oor Christus se volgelinge gevoel het, het hy erken: “Ek [was] uitermate woedend teenoor hulle” (Hand. 26:11). Paulus het geleer om sy humeur te beteuel, maar soms het hy waarskynlik gesukkel om sy gevoelens en sy tong te beheers (Hand. 15:36-39). Wat het hom gehelp om dit te doen?

10 Toe Paulus aan die Christene in Korinte geskryf het, het hy beskryf wat hy gedoen het om homself tereg te wys. (Lees 1 Korintiërs 9:26, 27.) Hy het met goedgerigte geestelike houe teen sy onvolmaakte menslike natuur gestry. Hy het waarskynlik raad in die Bybel probeer vind, Jehovah gesmeek om hom te help om dit toe te pas en hom ingespan om te verbeter. * Ons kan by sy voorbeeld baat vind omdat ons ’n soortgelyke stryd teen ons onvolmaakte neigings voer.

11. Hoe kan ons ons ‘voortdurend toets’ om seker te maak dat ons in die weg van die waarheid wandel?

11 Ons moet nooit selfvoldaan raak wat ons aanbidding betref nie. Ons moet onsself eerder ‘voortdurend toets’ om seker te maak dat ons werklik in die weg van die waarheid wandel (2 Kor. 13:5). Wanneer ons tekste soos Kolossense 3:5-10 lees, kan ons ons afvra: ‘Span ek my in om my sondige neigings dood te maak, of laat ek toe dat my sedelike standaarde verswak? Wat doen ek as ek op ’n onsedelike webwerf afkom terwyl ek die Internet gebruik—maak ek dit onmiddellik toe of soek ek na ongepaste webwerwe?’ As ons die raad in God se Woord op so ’n persoonlike manier toepas, sal dit ons help om “wakker en nugter van verstand [te] bly”.—1 Tess. 5:6-8.

“NUTTIG . . . OM DINGE REG TE STEL”

12, 13. (a) Wat moet ons doel wees wanneer ons ‘dinge wil regstel’, en hoe kan ons Jesus se voorbeeld in hierdie verband volg? (b) Watter soort spraak is onaanvaarbaar wanneer ons ‘dinge regstel’ met ander?

12 Die Griekse uitdrukking wat met “om dinge reg te stel” weergegee word, beteken “om tot die regte toestand te herstel”. Soms moet ons dinge met ander regstel omdat hulle ons of ons optrede verkeerd verstaan het. Byvoorbeeld, die Joodse godsdiensleiers het gekla dat Jesus vriendelik was teenoor “belastinggaarders en sondaars”. Jesus het geantwoord: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel. Gaan dan en leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerandes nie’” (Matt. 9:11-13). Hy het God se woorde geduldig en liefdevol aan almal verduidelik. Nederiges het Jehovah dus leer ken as “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid” (Eks. 34:6). Omdat God se Seun ’n poging aangewend het “om dinge reg te stel”, het baie geloof in die goeie nuus gestel.

13 Jesus se voorbeeld leer ons hoe ons ander moet help. Iemand wat ontsteld is, sal dalk kortaf sê: ‘Ek gaan nou iets met jou regstel.’ Maar so ’n benadering is nie wat met die woorde in 2 Timoteus 3:16 bedoel word nie. “Die hele Skrif” gee ons nie toestemming om iemand oor die kole te haal nie. Soos “swaardsteke”, veroorsaak  skerp kritiek dikwels baie pyn en bring dit selde enige voordele mee.—Spr. 12:18.

14-16. (a) Hoe kan ouer manne ‘dinge regstel’ op ’n manier wat ander help om hulle probleme op te los? (b) Waarom is dit so belangrik “om dinge reg te stel” op ’n skriftuurlike manier wanneer dit kom by die grootmaak van kinders?

14 Hoe kan ons dinge dan op geduldige en liefdevolle wyse ‘regstel’? Gestel ’n egpaar vra ’n Christen- ouer man om hulle te help omdat hulle dikwels stry. Wat sal die ouer man moontlik doen? Sonder om kant te kies, kan hy met die egpaar oor Bybelbeginsels redeneer. Hy kan dalk die beginsels gebruik wat in hoofstuk 3 in die boek Die geheim van gesinsgeluk gevind word. Gedurende die bespreking kan die man en vrou onderskei watter raad elkeen in voller mate moet toepas. Later sal die ouer man die egpaar vra hoe hulle vaar en verdere hulp aanbied, indien nodig.

 15 Hoe kan ouers ‘dinge regstel’ op ’n manier wat hulle kinders geestelik opbou? Stel jou voor dat jy jou tienerdogter wil help om ’n vriendskap te vermy waaroor jy bedenkinge het. Eerstens moet jy uitvind wat die feite is. Dan, as daar rede tot kommer is, kan jy met haar praat en miskien punte uit Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2 gebruik. In die daaropvolgende dae kan jy meer tyd met haar deurbring. Jy kan ook op haar gemoedstemming let wanneer sy in die veldbediening uitgaan of saam met die gesin ontspan. As jy geduldig en liefdevol is, sal jou dogter aanvoel dat jy in haar belangstel. Sy sal waarskynlik beweeg word om jou raad toe te pas en sodoende ’n rampspoedige wending in haar lewe vermy.

As ouers die Bybel op liefdevolle wyse gebruik “om dinge reg te stel” met hulle kinders, help hulle hulle om baie hartseer te vermy (Sien paragraaf 15)

16 Net so kan ons op geduldige en liefdevolle wyse diegene aanmoedig wat bekommerd is oor hulle gesondheid, terneergedruk is omdat hulle hulle werk verloor het of verward is oor sekere Bybelleringe. Jehovah se volk geniet groot  voordele omdat hulle God se Woord gebruik “om dinge reg te stel”.

“NUTTIG . . . OM IN REGVERDIGHEID TE DISSIPLINEER”

17. Waarom moet ons dissipline met dankbaarheid aanvaar?

17 “Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend.” En tog “lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid” (Heb. 12:11). Die meeste Christene sal saamstem dat die dissipline wat hulle van hulle gelowige ouers ontvang het, hulle gehelp het. En om dissipline van Jehovah te aanvaar, wat deur middel van Christen- ouer manne gegee word, hou ons op die weg van die lewe.—Spr. 4:13.

18, 19. (a) Waarom is die raad in Spreuke 18:13 so belangrik “om in regverdigheid te dissiplineer”? (b) Wat is dikwels die gevolg wanneer ouer manne oortreders op sagmoedige en liefdevolle wyse hanteer?

18 Om dissipline op doeltreffende wyse te gee, is ’n kuns. Jehovah het vir Christene gesê om dit “in regverdigheid” toe te dien (2 Tim. 3:16). Ons moet ons dus deur Bybelbeginsels laat rig. ’n Voorbeeld hiervan word gevind in Spreuke 18:13: “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering.” Wanneer ouer manne dus met ’n persoon moet praat wat van ’n ernstige sonde beskuldig word, moet hulle die saak deeglik ondersoek en uitvind presies wat die feite is (Deut. 13:14). Slegs dan kan hulle “in regverdigheid” dissiplineer.

19 Wat meer is, God se Woord beveel Christen- ouer manne om ander “met sagmoedigheid” tereg te wys. (Lees 2 Timoteus 2:24-26.) ’n Persoon het dalk wel Jehovah se naam oneer aangedoen en onskuldige mense leed aangedoen. Maar as ’n ouer man kwaad word wanneer hy so iemand raad gee, sal dit die persoon nie help nie. Wanneer ouer manne egter “die goedhartigheid van God” navolg, kan hulle die persoon wat gesondig het, beweeg om berou te toon.—Rom. 2:4.

20. Watter beginsels moet ouers toepas wanneer hulle hulle kinders dissiplineer?

20 Ouers moet Bybelbeginsels toepas terwyl hulle hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” opvoed (Ef. 6:4). ’n Vader moenie sy seun straf op grond van ’n eensydige verslag oor die seun se gedrag nie. En in ’n Christengesin is daar geen plek vir gewelddadige woede nie. “Jehovah [is] baie teer in geneentheid en barmhartig”, en diegene wat die verantwoordelikheid het om jonges te dissiplineer, moet probeer om dieselfde liefdevolle eienskappe aan die dag te lê.—Jak. 5:11.

JEHOVAH SE KOSBARE GAWE AAN ONS

21, 22. Watter deel van Psalm 119:97-104 beskryf die beste hoe jy oor Jehovah se Woord voel?

21 ’n Godvresende man het eenkeer verduidelik waarom hy Jehovah se wet liefhet. (Lees Psalm 119:97-104.) Deur dit te bestudeer, het hy wysheid, insig en begrip verkry. Om by die raad daarin te bly, het hom gehelp om valse paaie te vermy wat vir ander hartseer meegebring het. Dit was vir hom aangenaam en bevredigend om die Skrif te bestudeer. Hy was vasbeslote om gehoorsaam te wees aan die God wie se instruksies hom so ’n voorsprong in die lewe gegee het.

22 Waardeer jy “die hele Skrif”? Jy kan dit gebruik om jou geloof op te bou dat God wel sy voorneme sal vervul. Die geïnspireerde raad daarin beskerm jou teen die dodelike gevolge wat dit inhou om sonde te beoefen. En as jy dit op vaardige wyse aan ander verduidelik, kan jy hulle help om die weg van die lewe te vind en daarop te bly. Mag ons ten volle gebruik maak van “die hele Skrif” terwyl ons ons alwyse en liefdevolle God, Jehovah, dien.

^ par. 1 Sien Georganiseer om Jehovah se wil te doen, bladsy 80.

^ par. 7 Wanneer Jesus ander geleer het, het hy hulle dikwels gevra: “Wat dink julle?” Dan het hy vir ’n antwoord gewag.—Matt. 18:12; 21:28; 22:42.

^ par. 10 Paulus se briewe moedig ons aan om teen ons sondige neigings te stry (Rom. 6:12; Gal. 5:16-18). Dit is redelik om tot die slotsom te kom dat hy die raad wat hy aan ander gegee het, self toegepas het.—Rom. 2:21.