Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HET JY GEWEET?

Het jy geweet?

Is Jerusalem se tempel ooit ná 70 HJ herbou?

JESUS het gesê dat nie ’n klip van Jehovah se tempel op ’n klip gelaat sou word nie—’n profesie wat vervul is toe die Romeinse leër onder Titus Jerusalem in 70 HJ vernietig het (Matt. 24:2). Keiser Julianus wou die tempel later herbou.

Julianus is al die laaste heidense keiser van Rome genoem. Hierdie broerskind van Konstantyn die Grote het ’n sogenaamde Christelike opvoeding ontvang. Maar nadat hy in 361 HJ tot keiser uitgeroep is, het hy daardie opvoeding en die verdorwe vorm van die Christelike godsdiens van sy dag openlik verwerp ten gunste van die heidendom. Geskiedenisboeke verwys na hom as “die Afvallige”.

Julianus het die Christelike godsdiens gehaat. Een rede was waarskynlik dat hy as sesjarige toegekyk het toe verteenwoordigers van die Christelike godsdiens sy pa en familielede vermoor het. Volgens kerkgeskiedskrywers het Julianus die Jode aangemoedig om hulle tempel te herbou omdat hy geglo het dat dit sou bewys dat Jesus ’n valse profeet was. *

Daar bestaan geen twyfel dat Julianus die tempel wou herbou nie. Geskiedkundiges is dit nie eens of hy werklik die herbouwerk begin het nie en, indien wel, waarom hy dit laat vaar het nie. Maar een ding is seker. Julianus is vermoor minder as twee jaar nadat hy die bewind oorgeneem het, en sy projek het saam met hom gesneuwel.

Die tempel soos dit moontlik in Jesus se dag gelyk het, uitgebeeld op sy oorspronklike ligging

^ par. 5 Jesus het nie gesê dat die tempel nooit herbou sou word nie, maar dat dit vernietig sou word, wat wel in 70 HJ gebeur het.