Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Natuurrampe—Bewys dit dat God wreed is?

Natuurrampe—Bewys dit dat God wreed is?

WAT JY DALK HOOR: “God heers oor die wêreld, en daarom is hy verantwoordelik vir natuurrampe; hy moet dus wreed wees.”

WAT DIE BYBEL SÊ: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Wie is “die bose”? Die Bybel identifiseer hom as Satan (Matteus 13:19; Markus 4:15). Is dit vergesog? Dink hieraan: As die wêreld onder Satan se beheer is, beïnvloed hy mense om net so selfsugtig, gierig en kortsigtig soos hy te wees. Help dit nie om te verduidelik waarom die mens sy omgewing op die aarde so sleg bestuur nie? Baie deskundiges waarsku dat die wanbestuur van die omgewing moontlik ’n rol speel in natuurrampe—hetsy deur dit te veroorsaak, te vererger of die mensegemeenskap meer aan die gevaar daarvan bloot te stel.

Maar waarom laat God Satan toe om soveel invloed uit te oefen? Om die antwoord te kry, moet ons teruggaan na die begin van die mensegeskiedenis, toe ons eerste ouers teen God as Heerser in opstand gekom het. Die meeste mense het sedertdien dieselfde weg ingeslaan. Hierdie keuse—om God se heerskappy te verwerp—het die mensewêreld in die hande van God se vyand, Satan, laat beland. Daarom het Jesus Satan “die heerser van die wêreld” genoem (Johannes 14:30). Sal Satan vir ewig heers? Nee!

Jehovah * staan nie gevoelloos teenoor die lyding wat Satan veroorsaak nie. Trouens, menselyding maak God baie hartseer. Die Bybel sê byvoorbeeld hoe God gevoel het toe die nasie Israel moeilike tye deurgemaak het: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak” (Jesaja 63:9). Gelukkig het God gereël om ’n einde te maak aan die wrede heerskappy van Satan—binnekort! Hy het sy Seun, Jesus Christus, aangestel om vir ewig as ’n regverdige Koning te regeer.

HOE DIT JOU RAAK: Satan se heerskappy kon mense nie teen natuurrampe beskerm nie, maar Jesus se heerskappy sal dit wel doen. Jesus het eenkeer opgetree om sy dissipels gedurende ’n hewige storm te beskerm. Die Bybelverslag sê: “Hy [het] die wind bestraf en vir die see gesê: ‘Bedaar! Wees stil!’ En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot kalmte gekom.” Die dissipels het gesê: “Wie is hy tog, want selfs die wind en die see gehoorsaam hom?” (Markus 4:37-41). Hierdie voorval gee ons die vertroue dat Jesus alle gehoorsame mense gedurende sy heerskappy as Koning sal beskerm.—Daniël 7:13, 14.

^ par. 5 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.