Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God se oordele—Was dit wreed?

God se oordele—Was dit wreed?

OM HIERDIE vraag te beantwoord, kan ons kortliks kyk na twee voorbeelde van God se oordele in die Bybel—die Vloed van Noag se dag en die uitwissing van die Kanaäniete.

DIE VLOED VAN NOAG SE DAG

WAT JY DALK HOOR: “God was wreed toe hy ’n vloed gebring het wat die hele mensdom buiten Noag en sy gesin vernietig het.”

WAT DIE BYBEL SÊ: God het gesê: “Ek skep geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat ’n goddelose hom van sy weg afkeer en bly lewe” (Esegiël 33:11). Dit was dus glad nie vir God aangenaam om die goddeloses in Noag se dag te vernietig nie. Waarom het hy dit dan gedoen?

Die Bybel antwoord dat God in die verlede oordele oor goddelose mense gebring het om “vir goddelose mense ’n voorbeeld van toekomstige dinge” te gee (2 Petrus 2:5, 6). Watter voorbeeld het God voorsien?

Eerstens het God duidelik getoon dat hy, hoewel hy geen behae daarin skep om mense te vernietig nie, die dade sien van wrede mense wat lyding veroorsaak en dat hy hulle daarvoor aanspreeklik hou. Op sy vasgestelde tyd sal hy ’n einde maak aan alle ongeregtigheid en lyding.

Tweedens toon die voorbeeld van hoe God in die verlede opgetree het dat God mense uit liefde waarsku voordat hy oordeel voltrek. Noag was ’n prediker van regverdigheid, maar die meeste mense het hulle nie aan hom gesteur nie. Die Bybel sê: “Hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie.”—Matteus 24:39.

Het God altyd in ooreenstemming met hierdie voorbeeld opgetree? Ja. Hy het sy volk Israel byvoorbeeld gewaarsku om nie goddeloos te word soos die nasies om hulle nie, want dan sou hy toelaat dat vyande hulle land binneval; hulle hoofstad, Jerusalem, vernietig; en hulle in ballingskap wegvoer. Israel hét goddeloos begin handel—hulle het selfs kinders geoffer. Het Jehovah opgetree? Ja, maar eers nadat hy keer op keer profete gestuur het om sy volk te waarsku om hulle weë te verander voordat dit te laat is. Hy het selfs gesê: “Die Soewereine Heer Jehovah sal niks doen tensy hy sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—Amos 3:7.

HOE DIT JOU RAAK: Die voorbeeld wat Jehovah se oordele van die verlede voorsien, gee ons hoop. Ons  kan vol vertroue uitsien na die voltrekking van God se oordeel aan diegene wat wreed is en lyding veroorsaak. Die Bybel sê: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:9-11). Hoe beskou jy ’n oordeel wat die mensdom van lyding bevry? As wreed, of as barmhartig?

DIE UITWISSING VAN DIE KANAÄNIETE

WAT JY DALK HOOR: “Die vernietiging van die Kanaäniete was ’n wrede oorlogsmisdaad wat vergelyk kan word met hedendaagse volksmoorde.”

WAT DIE BYBEL SÊ: “Al [God se] weë is geregtigheid. [Hy is] ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie” (Deuteronomium 32:4). ’n Daad van goddelike geregtigheid kan nie met ’n menseoorlog vergelyk word nie. Waarom nie? Want in teenstelling met mense kan God harte lees—dit wil sê, hy kan sien wat mense innerlik is.

Toe God byvoorbeeld die stede Sodom en Gomorra geoordeel het en besluit het om hulle te vernietig, was die getroue man Abraham bekommerd oor die regverdigheid van die oordeel. Hy kon hom nie voorstel dat sy regverdige God “die regverdige saam met die goddelose [sou] wegvee” nie. God het hom geduldig verseker dat Hy Sodom sal spaar as daar selfs net tien regverdige mense in die stad is (Genesis 18:20-33). Dit is duidelik dat God die harte van daardie mense deursoek het en gesien het hoe verstok hulle in hulle goddeloosheid is.—1 Kronieke 28:9.

Net so het God die Kanaäniete geoordeel en tereg beveel dat hulle vernietig moet word. Die Kanaäniete was berug vir hulle wrede dade, wat ingesluit het dat hulle kinders lewend in offervure verbrand het (2 Konings 16:3). * Die Kanaäniete het geweet dat Jehovah Israel beveel het om die hele land in besit te neem. Dié wat besluit het om te bly en oorlog te voer, het hulle nie net doelbewus verset teen die Israeliete nie, maar ook teen Jehovah, wat kragtige bewyse voorsien het dat hy met sy volk is.

Wat meer is, God het barmhartigheid bewys aan Kanaäniete wat hulle goddeloosheid die rug toegekeer het en Jehovah se hoë sedelike standaarde aanvaar het. Byvoorbeeld, die Kanaänitiese prostituut Ragab is gered, tesame met haar familie. En toe die inwoners van die Kanaänitiese stad Gibeon gevra het dat daar barmhartigheid aan hulle bewys word, is hulle en al hulle kinders gespaar.—Josua 6:25; 9:3, 24-26.

HOE DIT JOU RAAK: Ons kan ’n lewensbelangrike les leer uit die oordeel wat aan die Kanaäniete voltrek is. Die voorspelde “dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” kom baie vinnig nader (2 Petrus 3:7). As ons lief is vir Jehovah, sal ons daarby baat vind wanneer hy ’n einde maak aan menselyding deur diegene wat sy regverdige heerskappy verwerp, van die aarde af uit te wis.

Die Kanaäniete was berug vir hulle wreedheid, en hulle het God en sy volk doelbewus teëgestaan

Jehovah herinner ons liefdevol aan die feit dat die keuses wat ouers maak, hulle kinders raak. God se Woord sê: “Jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag, deur Jehovah jou God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef” (Deuteronomium 30:19, 20). Is dit die woorde van ’n wrede God of van ’n God wat lief is vir mense en wil hê dat hulle die regte keuse moet maak?

^ par. 15 Argeoloë het bewyse opgegrawe dat die Kanaäniete babas in hulle aanbidding geoffer het.