Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Versterk julle huwelik deur goeie kommunikasie

Versterk julle huwelik deur goeie kommunikasie

“Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word.”—SPR. 25:11.

1. Hoe het goeie kommunikasie huwelike gehelp?

“EK SOU eerder tyd saam met my vrou deurbring as met enigiemand anders”, sê ’n broer in Kanada. “Enige vreugdes wat ek ondervind, word vreugdevoller en enige pyn wat ek ondervind, word aansienlik minder wanneer ek by haar is.” ’n Eggenoot in Australië het geskryf: “In die 11 jaar wat ons saam is, het nie een dag verbygegaan dat ek nie met my vrou gepraat het nie. Ons vertrou mekaar ten volle en voel dat ons ’n sterk huwelik het. Gereelde en betekenisvolle kommunikasie is ’n hoofrede hiervoor.” ’n Suster in Costa Rica het gesê: “Goeie kommunikasie het nie net ons huwelik verryk nie; dit het ons nader aan Jehovah gebring, ons teen versoeking beskerm, ons as ’n egpaar verenig en ons liefde laat groei.”

2. Watter faktore kan goeie kommunikasie teëwerk?

2 Is daar goeie kommunikasie in julle huwelik of is dit vir julle ’n uitdaging om ’n betekenisvolle gesprek te voer? Dit is te verstane dat moeilike situasies sal ontstaan, want die huwelik verenig twee onvolmaakte mense met verskillende persoonlikhede, insluitende karaktertrekke wat hulle kultuur en die manier waarop hulle grootgemaak is, weerspieël (Rom. 3:23). Daarbenewens het ’n egpaar dalk verskillende kommunikasiestyle. Dit is met goeie rede dat die huweliksnavorsers John M. Gottman en Nan Silver sê: “Dit verg moed, vasbeslotenheid en veerkragtigheid om ’n blywende verhouding te hê.”

3. Wat het baie egpare al gehelp om hulle huwelik te versterk?

3 Dit verg beslis harde werk om ’n suksesvolle huwelik te hê. Maar dit kan ’n bron van onvergelyklike geluk wees. Huweliksmaats wat lief is vir mekaar, kan hulle lewe saam werklik geniet (Pred. 9:9). Dink aan die liefdevolle huwelik van Isak en Rebekka (Gen. 24: 67). Selfs nadat hulle al ’n geruime tyd getroud was, is daar geen aanduiding dat hulle geneentheid vir mekaar afgeneem het nie. Dieselfde kan vandag van baie egpare gesê word. Wat is hulle geheim? Deur insig, liefde, diepe respek en nederigheid aan te kweek en te openbaar, het hulle geleer om op eerlike dog liefdevolle wyse oor hulle gedagtes en gevoelens te praat. Wanneer hierdie fundamentele eienskappe ’n huwelik kenmerk, sal die kommunikasiekanale altyd oop wees, soos ons nou sal sien.

TOON INSIG

4, 5. Hoe kan insig ’n egpaar help om mekaar beter te verstaan? Gee voorbeelde.

4 “Hy wat insig in ’n saak toon, sal die goeie vind”, sê Spreuke 16:20. Dít is beslis waar wanneer dit kom by die huwelik en die gesinslewe. (Lees Spreuke 24:3.) Die beste bron van insig en wysheid is God se Woord. Genesis 2:18 sê vir ons dat God die vrou gemaak het om ’n komplement vir die man te wees, nie ’n replika van hom nie. Haar rol word weerspieël in die manier waarop sy kommunikeer. Mense verskil natuurlik, maar oor die algemeen hou vroue daarvan om oor hulle gevoelens, mense en verhoudings te praat. Hulle waardeer hartlike, intieme kommunikasie, want dit verseker hulle dat hulle geliefd is. Aan die ander kant is baie mans minder geneig om oor hulle gevoelens te praat en meer geneig om oor bedrywighede, probleme en oplossings praat. En mans wil gerespekteer word.

5 “My man wil probleme eerder gou oplos as om na my te luister terwyl ek my uitpraat”, het ’n suster in Brittanje gesê. “Dit kan werklik frustrerend wees wanneer ek net simpatie wil hê.” Een man het geskryf: “Toe ek en my vrou pas getroud was, was ek geneig om vinnig ’n oplossing te probeer vind wanneer sy ’n probleem gehad het. Maar ek het gou geleer dat sy in werklikheid net wil hê dat ek na haar moet luister (Spr. 18:13; Jak. 1:19). ’n Man met insig gee ag op sy vrou se gevoelens en probeer om sy benadering daarby aan te pas. Terselfdertyd verseker hy haar dat haar gedagtes en gevoelens vir hom belangrik is (1 Pet. 3:7). Sy probeer dan ook om sy sienswyse te verstaan. Wanneer ’n man en vrou hulle skriftuurlike rolle verstaan, waardeer en vervul, word hulle huwelik iets pragtigs. Wat meer is, hulle kan saamwerk om wyse en gebalanseerde besluite te neem en uit te voer.

6, 7. (a) Op watter manier kan die beginsel wat in Prediker 3:7 gevind word, egpare help om insig te toon? (b) Hoe kan ’n vrou onderskeidingsvermoë toon, en wat moet ’n man probeer doen?

6 ’n Egpaar met insig weet ook dat daar “’n tyd [is] om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Pred. 3:1, 7). “Ek besef nou dat daar tye is wanneer dit nie gepas is om ’n kwessie te opper nie”, sê ’n suster wat al tien jaar lank getroud is. “As my man oorlaai is met werk of ander verantwoordelikhede, wag ek ’n bietjie voordat ek sekere sake opper. Ons gesprekke verloop dan baie gladder.” Vroue met onderskeidingsvermoë gebruik ook aangename woorde in die wete dat ’n woord “wat op sy regte tyd gespreek word”, nie net bekoorlik is nie, maar ook gewaardeer word.—Lees Spreuke 25:11.

Klein dingetjies maak ’n groot verskil in ’n huwelik

7 ’n Christenman moet sy deel doen, nie net deur na sy vrou te luister nie, maar ook deur hard te probeer om sy eie gevoelens duidelik uit te spreek. ’n Ouer man wat al 27 jaar lank getroud is, het gesê: “Ek moet hard daaraan werk om vir my vrou te sê wat diep in my hart is.” ’n Broer wat al 24 jaar lank getroud is, sê: “Ek is geneig om dinge op te krop en te dink: ‘As ek nie oor hierdie kwessie praat nie, sal dit weggaan.’ Maar ek het besef dat dit nie ’n teken van swakheid is om te wys hoe ek voel nie. Wanneer ek sukkel om my uit te druk, bid ek vir die regte  woorde en die regte manier om dit te sê. Dan haal ek diep asem en begin ek praat.” Die regte tyd is ook belangrik, moontlik wanneer die egpaar alleen is en die dagteks bespreek of die Bybel saam lees.

8. Watter bykomende motivering het Christenegpare om ’n sukses van hulle huwelik te maak?

8 Gebed en ’n sterk begeerte om hulle kommunikasievaardighede te verbeter, is vir die man sowel as die vrou belangrik. Dit kan wel moeilik wees om ou gewoontes af te leer. Maar wanneer ’n egpaar lief is vir Jehovah, hom vir sy gees vra en hulle huwelik as heilig beskou, het hulle die soort motivering wat min mense het. ’n Vrou wat 26 jaar getroud is, het geskryf: “Ek en my man neem Jehovah se beskouing van die huwelik ernstig op, en daarom oorweeg ons dit nie eers om uitmekaar te gaan nie. Dít laat ons harder werk om probleme op te los deur saam daaroor te praat.” Sulke lojaliteit en godvrugtige toegewydheid behaag God en bring sy ryk seën mee.—Ps. 127:1.

LAAT JULLE LIEFDE TOENEEM

9, 10. Op watter praktiese maniere kan ’n egpaar hulle band van liefde versterk?

9 Liefde, “’n volmaakte band van eenheid”, is die belangrikste eienskap in ’n huwelik (Kol. 3:14). Ware liefde neem toe terwyl ’n lojale egpaar die lewe, met sy vreugdes en sy uitdagings, saam deurmaak. Hulle word selfs hegter vriende en waardeer mekaar se geselskap. Sulke huwelike word gevoed, nie net deur ’n paar groot dade, soos dit deur die media uitgebeeld word nie, maar deur tallose kleiner dade—’n drukkie, ’n liefdevolle woordjie, ’n bedagsame gebaar, ’n hartlike glimlag of ’n opregte “hoe was jou dag?” Hierdie klein dingetjies kan ’n groot verskil in ’n huwelik maak. ’n Egpaar wat al 19 jaar lank gelukkig getroud is, bel of SMS mekaar gedurende die dag “net om te sien hoe dit gaan”, het die man gesê.

10 Liefde spoor ’n egpaar ook aan om mekaar heeltyd beter te leer ken (Fil. 2:4). Hierdie kennis laat hulle liefde selfs verder toeneem ondanks hulle onvolmaakthede. ’n Suksesvolle huwelik is nie staties nie, maar die verhouding word met verloop van tyd dieper en sterker. As jy getroud is, kan jy jou dus afvra: ‘Hoe goed ken ek my maat? Verstaan ek sy of haar gevoelens en menings oor sake? Hoe dikwels dink ek aan my maat en dink ek aan die eienskappe wat my in die eerste plek tot hom of haar aangetrek het?’

 KWEEK RESPEK AAN

11. Waarom is respek noodsaaklik vir ’n suksesvolle huwelik? Lig toe.

11 Selfs die gelukkigste huwelike is nie volmaak nie, en al is ’n egpaar lief vir mekaar, stem hulle dalk nie altyd saam nie. Abraham en Sara het nie altyd met mekaar saamgestem nie (Gen. 21:9-11). Tog het hulle verskille nie ’n wig tussen hulle ingedryf nie. Waarom nie? Hulle het mekaar met waardigheid en respek behandel. Abraham het byvoorbeeld vir Sara “asseblief” gesê (Gen. 12:11, 13). Op haar beurt het sy Abraham gehoorsaam en aan hom gedink as haar “heer” (Gen. 18:12). Wanneer ’n egpaar ’n gebrek aan respek vir mekaar het, kan dit gewoonlik gesien word in hulle spraakpatroon en stemtoon (Spr. 12:18). As hulle nie die onderliggende probleem oplos nie, kan hulle huwelik op rampspoed afstuur.—Lees Jakobus 3:7-10, 17, 18.

12. Waarom moet veral pasgetroudes hard werk om op respekvolle wyse met mekaar te leer praat?

12 Veral pasgetroudes moet hard werk om op vriendelike en respekvolle wyse met mekaar te praat, wat ’n atmosfeer van ope en eerlike kommunikasie sal skep. “Hoewel die eerste jare van die huwelik vreugdevol is, kan dit soms frustrerend wees”, sê een man. “Terwyl jy leer hoe jou vrou oor sekere dinge voel en wat haar gewoontes en behoeftes is—en sy jou leer ken—kan dinge ’n bietjie wankelrig raak! Maar dit sal julle albei goed te pas kom as julle ’n redelike benadering sowel as ’n sin vir humor het en die stabiliserende eienskappe van nederigheid, geduld en vertroue op Jehovah aan die dag lê.” Hoe waar is hierdie woorde tog!

OPENBAAR WARE NEDERIGHEID

13. Waarom is nederigheid ’n noodsaaklike faktor in ’n gesonde, gelukkige huwelik?

13 Goeie kommunikasie in ’n huwelik is soos ’n stroom wat rustig deur ’n tuin vloei. Om “nederig van verstand” te wees, speel ’n sleutelrol daarin om hierdie stroom voortdurend te laat vloei (1 Pet. 3:8). ’n Broer wat al 11 jaar lank getroud is, het gesê: “Nederigheid is die vinnigste manier om ’n verskil op te los, want dit beweeg jou om te sê: ‘Ek’s jammer.’” ’n Ouer man wat 20 jaar lank gelukkig getroud is, sê: “Soms is die woorde  ‘Ek’s jammer’ belangriker as ‘Ek’s lief vir jou.’” Hy het bygevoeg: “Gebed is een van die vinnigste maniere om nederigheid te verkry. Wanneer ek en my vrou Jehovah saam in gebed nader, word ons aan ons onvolmaaktheid en God se onverdiende goedhartigheid herinner. Hierdie subtiele herinnering help my om dinge in die regte perspektief te sien.”

Behou goeie kommunikasie in julle huwelik

14. Watter uitwerking kan trots op ’n huwelik hê?

14 Trots daarenteen bevorder beslis nie vrede nie. Dit smoor kommunikasie omdat dit die begeerte sowel as die moed wegneem om om verskoning te vra. In plaas daarvan om nederig te sê: “Ek’s jammer; vergewe my asseblief”, sal ’n trotse persoon verskonings maak. Eerder as om ’n swakheid moedig te erken, wys hy op die foute van die ander persoon. Wanneer hy seergemaak is, streef hy nie vrede na nie; hy neem aanstoot en kap dalk terug met harde woorde en kille stilte (Pred. 7:9). Ja, trots kan die einde van ’n huwelik beteken. Onthou: “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.”—Jak. 4:6.

15. Verduidelik hoe die beginsel in Efesiërs 4:26, 27 ’n egpaar kan help om verskille op te los.

15 Dit sou natuurlik naïef wees om te dink dat trots nooit sal kop uitsteek nie. Ons moet dit identifiseer en onmiddellik daarvan werk maak. Paulus het vir mede-Christene gesê: “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie” (Ef. 4:26, 27). As ons nie hierdie raad in God se Woord volg nie, kan dit tot onnodige angs lei. “Soms het ek en my man nie die raad in Efesiërs 4:26, 27 toegepas nie”, vertel ’n suster. “Daardie nagte het ek baie sleg geslaap!” Hoeveel beter is dit tog om sake onmiddellik te bespreek met die doel om vrede te maak! Natuurlik sal huweliksmaats mekaar moontlik ’n rukkie moet gee om af te koel. Dit is ook gepas om Jehovah te vra om jou te help om in die regte gemoedstemming te kom. Dit sluit ’n nederige gees in, wat jou sal help om op die probleem eerder as op jouself te konsentreer, want dit sal net die situasie vererger.—Lees Kolossense 3:12, 13.

16. Hoe kan nederigheid ’n egpaar help om mekaar se sterk punte in die regte lig te beskou?

16 Nederigheid en beskeidenheid help ’n getroude persoon om op die sterk punte van sy of haar maat te konsentreer. Ter toeligting: ’n Vrou het dalk spesiale talente wat sy ten behoewe van die gesin gebruik. As haar man nederig en beskeie is, sal hy nie bedreig voel nie, maar sal hy haar aanmoedig om haar gawes te gebruik en sodoende toon dat hy haar waardeer en koester (Spr. 31:10, 28; Ef. 5:28, 29). Terselfdertyd sal ’n nederige en beskeie vrou nie spog oor haar vermoëns of haar man verkleineer nie. Hulle twee is immers “een vlees”, en wat die een seermaak, maak die ander seer.—Matt. 19:4, 5.

17. Wat kan egpare vandag help om ’n gelukkige huwelik te hê wat lof aan God bring?

17 Jy wil ongetwyfeld hê dat jou huwelik soos dié van Abraham en Sara of Isak en Rebekka moet wees—waarlik gelukkig, blywend en ’n huwelik wat lof aan Jehovah bring. Indien wel, moet jy God se beskouing van die huwelik behou. Vertrou op sy Woord vir insig en wysheid. Kweek ware liefde—“die vlam van Jah”—aan deur jou maat se goeie eienskappe te waardeer (Hoogl. 8:6). Werk hard om nederigheid te ontwikkel. Behandel jou huweliksmaat met respek. As jy hierdie dinge doen, sal julle huwelik jou hart asook jou hemelse Vader se hart bly maak (Spr. 27:11). Trouens, jy voel moontlik soos ’n man wat 27 jaar lank getroud is. Hy het geskryf: “Ek kan my die lewe sonder my vrou nie voorstel nie. Ons huwelik raak elke dag sterker. Dis omdat ons lief is vir Jehovah en gereeld met mekaar kommunikeer.”