Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouers, kinders—Kommunikeer met liefde

Ouers, kinders—Kommunikeer met liefde

“Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.”—JAK. 1:19.

1, 2. Hoe voel ouers en kinders oor die algemeen oor mekaar, maar voor watter probleem kom hulle soms te staan?

“WAT sou jy graag vandag vir jou ouers wou sê as jy sou uitvind dat hulle môre gaan sterf?” Hierdie vraag is in die Verenigde State aan honderde kinders gestel. Eerder as om te konsentreer op bestaande probleme en verskille, het sowat 95 persent gesê dat hulle vir hulle ouers sou sê: “Ek’s jammer” en “Ek’s baie lief vir julle.”—For Parents Only, deur Shaunti Feldhahn en Lisa Rice.

2 Oor die algemeen is kinders lief vir hulle ouers en is ouers lief vir hulle kinders. Dit geld veral in Christengesinne. Hoewel ouers en kinders graag na aan mekaar wil wees, vind hulle dit soms moeilik om te kommunikeer. Waarom word party onderwerpe heeltemal vermy, selfs wanneer ouers en kinders gewoonlik eerlik en openhartig oor dinge praat? Watter faktore belemmer goeie kommunikasie? Hoe kan dit oorkom word?

Moenie toelaat dat afleidings en afsondering kommunikasie in julle gesin belemmer nie

‘KOOP DIE TYD UIT’ OM TE KOMMUNIKEER

3. (a) Waarom is goeie kommunikasie vir baie gesinne ’n uitdaging? (b) Waarom was dit nie vir gesinne in eertydse Israel moeilik om tyd saam deur te bring nie?

3 Baie gesinne vind dit moeilik om genoeg tyd vir betekenisvolle kommunikasie te hê. Dit was nie altyd die geval nie. Moses het Israelitiese vaders beveel: “Jy moet [God se woorde] by jou kind inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan” (Deut. 6:6, 7). Kinders het die dag óf met hulle ma by die huis deurgebring, óf met hulle pa in die landerye of by sy werksplek. Kinders en ouers het oorgenoeg tyd gehad om saam te wees en te gesels. Gevolglik kon ouers die behoeftes, begeertes en persoonlikhede van hulle kinders leer ken. Kinders het  ook genoeg tyd en geleenthede gehad om hulle ouers goed te leer ken.

4. Waarom is kommunikasie vandag vir baie gesinne moeilik?

4 Hoe anders is die lewe tog vandag! In party lande gaan kinders al op ’n vroeë ouderdom kleuterskool toe, soms wanneer hulle maar net twee jaar oud is. Min vaders en moeders werk van die huis af. Gedurende die min tyd wat ouers en kinders saam is, sal hulle dikwels eerder tyd voor die rekenaar, die televisie en ander elektroniese toestelle deurbring as om te gesels. In baie gevalle lei kinders en ouers aparte lewens; hulle is feitlik vreemdelinge. Hulle voer byna nooit betekenisvolle gesprekke nie.

5, 6. Hoe koop party ouers meer tyd uit om met hulle kinders deur te bring?

5 Kan jy die ‘tyd uitkoop’ van ander dinge sodat jy meer tyd saam met jou gesin kan deurbring? (Lees Efesiërs 5:15, 16.) Party gesinne besluit om tyd voor die televisie en rekenaar te beperk. Ander probeer om ten minste een maaltyd per dag as ’n gesin saam te eet. En wat ’n goeie geleentheid bied die reëling vir gesinsaanbidding tog aan ouers en kinders om nader aan mekaar te kom en geestelike sake kalm te bespreek! Om elke week ’n uur of wat hiervoor opsy te sit, is ’n goeie begin, maar meer is nodig om betekenisvolle gesprekke te bevorder. Dit verg daaglikse kommunikasie. Voordat jou kind skool toe gaan, kan jy iets aanmoedigends sê, die dagteks bespreek of saam met hom of haar bid. Dit kan ’n groot verskil aan jou kind se dag maak.

6 Party ouers het veranderinge in hulle lewenswyse aangebring sodat hulle meer tyd met hulle kinders kan deurbring. Neem byvoorbeeld Laura, * ’n ma met twee jong kinders, wat om hierdie rede uit haar voltydse werk bedank het. Sy sê: “In die oggend was ons almal haastig om by die werk of skool uit te kom. Teen die tyd dat ek in die aand by die huis gekom het, het die kinderoppasster die kinders reeds in die bed gesit en was hulle  al aan die slaap. Die feit dat ek opgehou werk het, beteken dat ons met minder geld moet klaarkom, maar ek voel dat ek nou in voeling is met wat my kinders dink en wat hulle probleme is. Ek luister na wat hulle in hulle gebede sê, en ek kan hulle leiding gee, hulle aanmoedig en hulle leer.”

‘WEES GOU OM TE HOOR’

7. Watter algemene klagte het kinders sowel as ouers?

7 Nadat die skrywers van die boek For Parents Only baie onderhoude met jongmense gevoer het, het hulle nog ’n faktor geïdentifiseer wat kommunikasie belemmer. Hulle sê: “Die kinders se algemeenste en grootste klagte oor hulle ouers was: ‘Hulle luister nie.’” Dit is nie net die kinders wat hierdie probleem ondervind nie. Ouers het dikwels dieselfde klagte oor hulle kinders. Om die kommunikasiekanale oop te hou, moet gesinslede na mekaar luister—werklik luister.—Lees Jakobus 1:19.

8. Hoe kan ouers werklik na hulle kinders luister?

8 Ouers, luister julle werklik na julle kinders? Dit kan moeilik wees as julle moeg is of as dit klink asof die kind oor iets onbenulligs praat. Maar wat vir jou onbenullig klink, is dalk vir jou kind baie belangrik. Om ‘gou te wees om te hoor’, beteken dat jy nie net aandag skenk aan wat jou kind sê nie, maar ook aan hoe hy of sy dit sê. ’n Jongmens se stemtoon en lyftaal voorsien leidrade oor hoe hy of sy voel. Dit is ook belangrik om vrae te vra. “’n Persoon se gedagtes is soos water in ’n diep put”, sê die Bybel, “maar iemand met insig kan dit uitskep” (Spr. 20:5, Today’s English Version). Insig en onderskeidingsvermoë is veral nodig wanneer jy jou kinders wil kry om oor sensitiewe onderwerpe te praat.

9. Waarom moet kinders na hulle ouers luister?

9 Kinders, gehoorsaam julle julle ouers? “Luister, my seun, na die dissipline van jou vader”, sê God se Woord, “en moenie die wet van jou moeder verlaat nie” (Spr. 1:8). Onthou, julle ouers is lief vir julle en dra julle belange op die hart; daarom is dit wys om na hulle te luister en hulle te gehoorsaam (Ef. 6:1). Dit is makliker om gehoorsaam te wees wanneer daar goeie kommunikasie is en wanneer julle weet dat julle geliefd is. Sê vir julle ouers hoe julle oor dinge voel. Dit sal hulle help om julle te verstaan. Julle moet natuurlik ook probeer om hulle te verstaan.

10. Wat leer ons uit die Bybel se verslag van Rehabeam?

10 Wees versigtig om na raad te luister van jongmense wat dieselfde ouderdom as julle is. Hulle sal dalk vir julle sê wat julle wil hoor, maar hulle raad sal julle moontlik glad nie help nie. Trouens, dit kan selfs skadelik wees. Omdat jongmense nie die wysheid en ondervinding van ouer mense het nie, het die meeste van hulle nie ’n langtermyn beskouing van dinge nie en kan hulle miskien nie die gevolge van sekere dade onderskei nie. Dink aan die voorbeeld van koning Salomo se seun Rehabeam. Toe hy die koning van Israel geword het, sou dit van hom verstandig gewees het om die raad van die ouer manne te volg. Pleks daarvan het hy die dwase raad gevolg van die jonger manne met wie hy grootgeword het. Hy het dus die ondersteuning van die meeste van die onderdane van sy koninkryk verloor (1 Kon. 12:1-17). Moenie Rehabeam se onverstandige weg navolg nie, maar werk hard om die kommunikasiekanale met julle ouers oop te hou. Sê vir hulle wat julle dink. Vind baat by hulle raad en hulle wysheid.—Spr. 13:20.

11. Wat sal die gevolg moontlik wees as ouers nie toeganklik is nie?

 11 Ouers, as julle nie wil hê dat julle kinders by hulle portuurs moet raad soek nie, moet julle toeganklik wees, maklik om mee te praat. Een tienersuster het geskryf: “As ek net ’n seun se naam noem, word my ouers ongemaklik. Dít laat my weer ongemaklik voel, en dan wil ek nie verder praat nie.” Nog ’n jong suster het geskryf: “Baie tieners wil hulle ouers se raad hê, maar as hulle ouers hulle nie ernstig opneem nie, sal hulle na iemand gaan wat dit wel sal doen, selfs na dié met minder ondervinding.” As julle bereid is om met meegevoel na julle kinders te luister ongeag waaroor hulle praat, sal julle waarskynlik vind dat hulle openhartig met julle sal praat en julle leiding sal verwelkom.

WEES “STADIG OM TE PRAAT”

12. Hoe kan ouers se reaksie kommunikasie met hulle kinders belemmer?

12 Nog ’n faktor wat kommunikasie belemmer, is as ouers emosioneel of negatief reageer op wat hulle kinders vir hulle sê. Dit is te verstane dat Christenouers hulle kinders wil beskerm. In hierdie “laaste dae” is daar baie geestelike en ander gevare (2 Tim. 3:1-5). Maar wat ouers meen beskermend is, is dalk vir hulle kinders oorbeskermend.

13. Waarom moet ouers nie hulle mening te gou uitspreek nie?

13 Dit is verstandig van ouers om nie hulle mening te gou uit te spreek nie. Dit is wel nie altyd maklik om stil te bly wanneer julle kinders vir julle iets ontstellends sê nie. Maar dit is belangrik om aandagtig te luister voordat julle iets sê. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering” (Spr. 18:13). As julle kalm bly, sal julle meer hoor, en julle kinders sal aanhou praat. Julle moet al die feite hê voordat julle kan help. Agter al die “wilde praatjies” is daar dalk ’n hart vol verwarring (Job 6:1-3). As liefdevolle ouers moet julle julle ore gebruik om begrip te verkry en julle tong gebruik om te genees.

14. Waarom moet kinders stadig wees om te praat?

14 Kinders, julle moet ook ‘stadig wees om te praat’ en nie onmiddellik kapsie maak teen wat julle ouers sê nie, want hulle het die godgegewe verantwoordelikheid om julle op te lei (Spr. 22:6). Hulle het dalk situasies ervaar soos dié wat julle nou ervaar. Wat meer is, hulle is spyt oor die foute wat hulle gemaak het toe hulle jonk was en wil julle werklik beskerm sodat julle nie dieselfde foute maak nie. Beskou julle ouers dus as vriende, nie vyande nie; as raadgewers, nie teenstanders nie. (Lees Spreuke 1:5.) “Eer jou vader en jou moeder”, en wys vir hulle dat julle hulle liefhet soos hulle julle liefhet. Dit sal dit vir hulle makliker maak “om [julle] in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed”.—Ef. 6:2, 4.

WEES “STADIG OM TOORNIG TE WORD”

15. Wat sal ons help om kalm te bly en met ons geliefdes geduldig te wees?

15 Ons is nie altyd geduldig met diegene vir wie ons lief is nie. “Aan die heiliges en getroue broers in eenheid met Christus in Kolosse”, het die apostel Paulus geskryf: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie. . . . Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kol. 1:1, 2; 3:19, 21). Paulus het die Efesiërs vermaan: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word” (Ef. 4:31).  As ons lankmoedigheid, sagmoedigheid en selfbeheersing—aspekte van die vrug van God se gees—aankweek, sal dit ons help om kalm te bly, selfs wanneer ons onder druk is.—Gal. 5:22, 23.

16. Hoe het Jesus sy dissipels tereggewys, en waarom was dit so merkwaardig?

16 Dink aan die voorbeeld van Jesus. Stel jou die hewige spanning voor wat hy ondervind het tydens sy laaste aandmaal met sy apostels. Jesus het geweet dat hy oor ’n paar uur ’n stadige en pynlike dood sou sterf. Die heiliging van sy Vader se naam en die redding van die mensegesin het daarvan afgehang dat hy getrou bly. Maar juis tydens daardie maaltyd het “’n driftige woordewisseling onder [die apostels] ontstaan oor wie van hulle blykbaar die grootste was”. Jesus het nie op hulle geskreeu of bitterheid teenoor hulle uitgespreek nie. Hy het eerder kalm met hulle geredeneer. Jesus het hulle daaraan herinner dat hulle deur moeilike tye heen by hom gebly het. Hoewel Satan hulle geëis het om hulle soos koring te sif, het Jesus sy vertroue uitgespreek dat hulle getrou sou bly. Hy het selfs ’n verbond met hulle gesluit.—Luk. 22:24-32.

Luister julle aandagtig na julle kinders?

17. Wat sal ’n kind help om kalm te bly?

17 Kinders moet ook kalm bly. Veral wanneer ’n kind die tienerjare bereik, voel hy dalk dat sy ouers se reëls ’n aanduiding is dat hulle hom nie ten volle vertrou nie. Al lyk dit soms so, moet jy besef dat jou ouers se besorgdheid toon dat hulle jou liefhet. Deur kalm na jou ouers te luister en jou samewerking te gee, sal jy hulle respek wen en ’n reputasie as ’n verantwoordelike persoon opbou. En dan sal jy moontlik meer vryheid op sekere gebiede gegee word. Om selfbeheersing te beoefen, is die verstandige weg. “’n Sot laat al sy gees uit”, lui ’n wyse spreuk, “maar hy wat wys is, hou dit tot op die laaste kalm.”—Spr. 29:11.

18. Hoe bevorder liefde goeie kommunikasie?

18 Liewe ouers en kinders, moet dus nie ontmoedig word as die kommunikasie in julle gesin nie so openhartig is as wat julle sou wou hê nie. Hou aan om werk daarvan te maak, en hou aan om in die waarheid te wandel (3 Joh. 4). In die nuwe wêreld sal volmaakte mense volmaak met mekaar oor die weg kom, sonder misverstande en twis. Maar op die oomblik doen ons almal dinge waaroor ons later spyt is. Moet dus nie huiwer om om verskoning te vra nie. Vergewe vryelik. “[Wees] harmonies saamgevoeg . . . in liefde” (Kol. 2:2). Liefde is kragtig. ‘Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Dit raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles’ (1 Kor. 13:4-7). As julle aanhou om liefde aan te kweek, sal kommunikasie floreer, wat tot die geluk van julle gesin sal bydra en lof tot Jehovah sal bring.

^ par. 6 Naam is verander.