Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bewaar jou erfenis deur wyse keuses te maak

Bewaar jou erfenis deur wyse keuses te maak

“Verafsku wat goddeloos is, hou vas aan wat goed is.”—ROM. 12:9.

1, 2. (a) Wat het jou gehelp om te besluit om God te dien? (b) Watter vrae oor ons geestelike erfenis sal in hierdie artikel beantwoord word?

MILJOENE van ons het die wyse keuse gemaak om Jehovah God te dien en Jesus Christus se voetstappe noukeurig te volg (Matt. 16:24; 1 Pet. 2:21). Ons neem hierdie lewe van toewyding aan God nie ligtelik op nie. Ons keuse is nie gebaseer op oppervlakkige kennis van ’n paar tekste nie, maar op ’n deeglike studie van God se Woord. Gevolglik het ons talle geloofversterkende dinge geleer oor die erfenis wat Jehovah voorgehou het aan diegene wat ‘kennis inneem van hom en van die een wat hy uitgestuur het, Jesus Christus’.—Joh. 17:3; Rom. 12:2.

2 As ons ons goeie verhouding met ons hemelse Vader wil behou, moet ons keuses maak wat hom behaag. Hierdie artikel sal dus die volgende belangrike vrae bespreek: Wat is ons erfenis? Hoe moet ons dit beskou? Hoe kan ons seker maak dat ons ons erfenis verkry? Wat sal ons help om wyse keuses te maak?

ONS ERFENIS—WAT IS DIT?

3. Watter erfenis wag op (a) die gesalfdes en (b) die “ander skape”?

3 ’n Betreklike klein aantal Christene sien daarna uit om “’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis” te ontvang—die onskatbare voorreg om met Christus in die hemel te heers (1 Pet. 1:3, 4). Om hierdie erfenis te ontvang, moet hierdie persone “weer gebore word” (Joh. 3:1-3). Wat is die erfenis van die miljoene van Jesus se “ander skape” wat die goeie nuus van God se Koninkryk saam met sy gesalfde volgelinge verkondig? (Joh. 10:16). Die ander skape sal die erfenis ontvang wat die sondige Adam en  Eva nooit ontvang het nie—die ewige lewe op ’n paradysaarde waar daar geen lyding, dood en verdriet is nie (Op. 21:1-4). Jesus kon dus die belofte maak aan ’n kwaaddoener wat langs hom gesterf het: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Luk. 23:43.

4. Watter seëninge geniet ons alreeds?

4 Ons geniet selfs nou sekere aspekte van ons erfenis. Omdat ons geloof beoefen in “die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”, het ons innerlike vrede en ’n hegte verhouding met God (Rom. 3:23-25). Ons het ’n duidelike begrip van die kosbare beloftes in God se Woord. Dit verskaf ons groot vreugde om deel van ’n liefdevolle internasionale broederskap te wees. En wat ’n geseënde voorreg is dit om een van Jehovah se Getuies te wees. Dit is geen wonder dat ons ons erfenis koester nie!

5. Wat het Satan aan God se volk probeer doen, en wat kan ons help om teen sy sette vas te staan?

5 Om ons wonderlike erfenis te bewaar, moet ons egter op ons hoede bly vir Satan se sette. Satan het nog altyd probeer om God se volk te beïnvloed om keuses te maak wat daartoe kon lei dat hulle hulle erfenis verbeur (Num. 25:1-3, 9). Satan is bewus dat sy einde naby is, en daarom het hy sy pogings verskerp om ons te mislei. (Lees Openbaring 12:12, 17.) As ons wil “vasstaan teen die sette van die Duiwel”, moet ons ons erfenis altyd hoog op prys stel (Ef. 6:11). In hierdie verband is daar waardevolle lesse wat ons kan leer uit die waarskuwende voorbeeld van die aartsvader Isak se seun Esau.

MOENIE SOOS ESAU WEES NIE

6, 7. Wie was Esau, en watter erfenis sou hy ontvang?

6 Byna 4 000 jaar gelede het Isak en Rebekka tweelingseuns gehad, Esau en Jakob. Terwyl die seuns grootgeword het, het hulle verskillende geaardhede en belangstellings ontwikkel. “Esau het ’n man geword wat geweet het hoe om te jag, ’n man van die veld”, terwyl “Jakob ’n onberispelike man [was] wat in tente gewoon het” (Gen. 25:27). Die Hebreeuse woord wat as ‘onberispelik’ vertaal word, sê die Bybelvertaler Robert Alter, “dui op onkreukbaarheid of selfs onskuld”.

7 Toe Esau en Jakob 15 jaar oud was, het hulle oupa Abraham gesterf, maar die belofte wat Jehovah aan Abraham gemaak het, het nie saam met hom gesterf nie. Jehovah het dit later aan Isak herhaal en het gesê dat al die nasies van die aarde hulleself deur middel van Abraham se saad sal seën. (Lees Genesis 26:3-5.) Daardie belofte het getoon dat die Messias—die getroue “saad” wat in Genesis 3:15 gemeld word—deur Abraham se nageslag sou kom. As Isak se eersgebore seun, het Esau die wetlike reg op daardie belofte gehad. Wat ’n wonderlike erfenis sou Esau tog ontvang! Het hy dit waardeer?

Moenie jou geestelike erfenis in gevaar stel nie

8, 9. (a) Watter keuse het Esau aangaande sy erfenis gemaak? (b) Wat het Esau jare later omtrent sy keuse besef, en hoe het hy gereageer?

8 Toe Esau eendag uit die veld gekom het, het hy gesien dat Jakob “besig [is] om ’n gereg te kook”. “Gee my asseblief gou ’n sluk van die rooi goed—die rooi goed daar, want ek is moeg!”, het Esau gesê. En toe sê Jakob vir Esau: “Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my!” Wat het Esau gekies? Verbasend genoeg het hy gesê: “Van watter nut is ’n geboortereg dan vir my?” Ja, Esau het ’n bord kos oor sy eersgeboortereg gekies! Om die ooreenkoms oor die geboortereg wettig te maak, het Jakob aangedring: “Sweer eers vir my!” Esau het sy geboortereg prysgegee sonder om te huiwer. Daarna het “Jakob . . . vir Esau brood en die lensiegereg gegee, en hy het geëet en gedrink. Toe het hy opgestaan en weggegaan. So het Esau die geboortereg verag.”—Gen. 25:29-34.

 9 Jare later, toe Isak gedink het dat hy binnekort sou sterf, het Rebekka reëlings getref om te verseker dat Jakob werklik die geboortereg ontvang wat Esau aan hom verkoop het. Toe Esau te laat besef dat hy ’n dwase keuse gemaak het, het hy Isak gesmeek: “Seën my, ja, ook my, my vader! . . . Het u nie vir my ’n seën oorgehou nie?” Toe Isak gesê het dat hy nie die seën kon verander wat hy reeds aan Jakob gegee het nie, “het Esau sy stem verhef en in trane uitgebars”.—Gen. 27:30-38.

10. Wat was Jehovah se beskouing van Esau en Jakob, en waarom?

10 Watter aspekte van Esau se gesindheid word in die Skrif beklemtoon? Hy het getoon dat dit vir hom belangriker was om sy vleeslike begeertes te bevredig as om die toekomstige seëninge te verkry wat hy weens sy erfenis sou ontvang. Esau se geboortereg was nie vir hom kosbaar nie, en dit is duidelik dat hy God nie werklik liefgehad het nie. Daarbenewens het Esau nie gedink aan die gevolge wat sy optrede op sy nageslag sou hê nie. In teenstelling hiermee het Jakob sy erfenis hoog op prys gestel. Jakob het byvoorbeeld sy ouers se instruksies gevolg toe hy ’n vrou gekies het (Gen. 27:46–28:3). Omdat Jakob hierdie keuse gemaak het wat geduld en selfopoffering vereis het, het hy ’n voorouer van die Messias geword. Wat was God se beskouing van Esau en Jakob? Jehovah het deur middel van die profeet Maleagi gesê: “Ek het Jakob liefgehad, en Esau het ek gehaat.”—Mal. 1:2, 3.

11. (a) Waarom is Esau se voorbeeld vir ons as Christene van belang? (b) Waarom het Paulus na hoerery verwys toe hy van Esau se optrede gepraat het?

11 Is wat die Bybel oor Esau sê, vandag vir Christene van belang? Ja, beslis. Die apostel Paulus het mede-Christene vermaan om seker te maak dat “daar geen hoereerder is of enigeen wat heilige dinge nie waardeer nie, soos Esau, wat in ruil vir een maaltyd sy regte as eersgeborene weggegee het” (Heb. 12:16). Hierdie vermaning is nog steeds op Christene van toepassing. Ons moet ons waardering vir heilige dinge behou sodat vleeslike begeertes nie die oorhand oor ons kry en ons ons geestelike erfenis verloor nie. Maar waarom het Paulus na hoerery verwys toe hy van Esau se optrede gepraat het? Omdat ’n gesindheid soos dié van Esau dit waarskynliker maak dat ’n persoon heilige dinge sal prysgee vir ongeoorloofde genot, soos hoerery.

BEREI JOU HART NOU VOOR

12. (a) Hoe stel Satan versoekings voor ons? (b) Gee skriftuurlike voorbeelde wat ons kan help wanneer ons moeilike keuses moet maak.

12 As knegte van Jehovah plaas ons ons beslis nie in situasies wat ons in die versoeking  bring om ons aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak nie. Ons bid eerder dat Jehovah God nie sal toelaat dat ons swig as iemand ons in die versoeking bring om aan Hom ongehoorsaam te wees nie (Matt. 6:13). Maar Satan probeer heeltyd om ons geestelikheid te ondermyn terwyl ons daarna streef om ons onkreukbaarheid in hierdie verdorwe wêreld te handhaaf (Ef. 6:12). As die god van hierdie goddelose stelsel van dinge weet die Duiwel hoe om ons onvolmaakte begeertes uit te buit deur versoekings voor ons te stel wat eie is aan onvolmaakte mense (1 Kor. 10:8, 13). Stel jou byvoorbeeld ’n situasie voor wat jou die geleentheid bied om ’n spesifieke begeerte op onsedelike wyse te bevredig. Watter keuse sal jy maak? Sal jy soos Esau wees en sê: ‘Gee dit gou vir my!’ Of sal jy die versoeking weerstaan en daarvan vlug, soos Jakob se seun Josef, wat deur Potifar se vrou versoek is?—Lees Genesis 39:10-12.

13. (a) Hoe het baie mense van vandag soos Josef opgetree, maar hoe het baie soos Esau opgetree? (b) Wat moet ons doen sodat ons nie soos Esau optree nie?

13 Baie van ons broers en susters was al in situasies waar hulle moes kies of hulle soos Esau of soos Josef sou optree. Die meeste het wyslik opgetree en Jehovah se hart bly gemaak (Spr. 27:11). Maar toe party van ons medegelowiges voor versoeking te staan gekom het, het hulle gekies om soos Esau op te tree en het hulle hulle geestelike erfenis in gevaar gestel. Trouens, geslagsonsedelikheid is dikwels die rede vir die regterlike optrede en uitsettings wat elke jaar plaasvind. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons ons hart nou voorberei—lank voordat ons ons in situasies bevind wat ons onkreukbaarheid op die proef stel! (Ps. 78:8). Ons kan ten minste twee stappe doen wat as ’n verskansing, of verdediging, teen versoeking sal dien en ons sal help om later wyse keuses te maak.

DINK NA EN BEREI JOU VOOR

Ons bou ons weerstand teen versoeking op deur na Jehovah se wysheid te soek

14. Watter vrae kan ons help om te “verafsku wat goddeloos is” en “[vas te hou] aan wat goed is”?

14 Die eerste stap behels dat ons nadink oor die gevolge van ons dade. Die diepte van ons waardering vir ons geestelike erfenis hang grootliks af van die diepte van ons liefde vir Jehovah, die Gewer van hierdie erfenis. As ons immers vir iemand lief is, wil ons daardie persoon nie seermaak nie. Ons streef eerder daarna om sy goedkeuring te verdien. Daarom is dit verstandig van ons om tyd te neem om na te dink aan wat die gevolge vir ons en vir ander sal wees as ons voor onrein vleeslike begeertes swig. Ons moet ons afvra: ‘Hoe sal my selfsugtige daad my verhouding met Jehovah beïnvloed? Watter uitwerking sal die verkeerde daad op my gesin hê? Hoe sal dit my broers en susters in die gemeente raak? Kan ek ander laat struikel?’ (Fil. 1:10). Ons kan ons ook afvra: ‘Is ’n paar oomblikke van ongeoorloofde genot die moeite werd as ek dink aan die hartseer wat my keuse sal veroorsaak? Wil ek werklik soos Esau wees en bitterlik huil wanneer ek besef wat ek gedoen het?’ (Heb. 12:17). As ons oor sulke vrae nadink, sal dit ons help om te “verafsku wat goddeloos is” en “[vas te hou] aan wat goed is” (Rom. 12:9). Dit is veral ons liefde vir Jehovah wat ons sal beweeg om ons erfenis te bewaar.—Ps. 73:28.

15. Wat sal ons help om ons weerstand op te bou teen dinge wat ons geestelikheid in gevaar stel?

15 Die tweede stap behels dat ons ons weerstand opbou. Jehovah het baie voorsienings gemaak wat ons help om ons weerstand op te bou teen faktore in die wêreld wat ons geestelikheid in gevaar stel. Sy voorsienings sluit Bybelstudie,  Christelike vergaderinge, die veldbediening en gebed in (1 Kor. 15:58). Elke keer dat ons ons hart in gebed voor Jehovah uitstort en elke keer dat ons ’n betekenisvolle aandeel aan die Christelike bediening het, versterk ons as ’t ware ons verskansing teen versoeking. (Lees 1 Timoteus 6:12, 19.) Hoe meer ons ons inspan, hoe sterker sal ons weerstand wees (Gal. 6:7). Dit word in die tweede hoofstuk van Spreuke beklemtoon.

‘BLY SOEK DAARNA’

16, 17. Hoe kan ons die vermoë verkry om wyse keuses te maak?

16 Spreuke hoofstuk 2 spoor ons aan om wysheid en denkvermoë te verkry. Hierdie gawes stel ons in staat om te kies tussen reg en verkeerd, tussen selfdissipline en selfbevrediging. Maar ons sukses in hierdie verband hang af van ons bereidwilligheid om ons in te span. Die Bybel beklemtoon hierdie fundamentele waarheid en sê: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou bewaar, sodat jy met jou oor aandag kan skenk aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë; as jy bowendien na begrip roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, as jy daarna bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind. Want Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë.”—Spr. 2:1-6.

17 Dit is duidelik dat ons aan die vereistes moet voldoen wat in Spreuke genoem word, as ons die vermoë wil verkry om wyse keuses te maak. As ons toelaat dat Jehovah se woorde ons innerlike persoon vorm, as ons voortdurend bid vir God se leiding en as ons na God se kennis bly soek soos na verborge skatte, kan ons daarin slaag om versoeking te weerstaan.

18. Wat is jy vasbeslote om te doen, en waarom?

18 Jehovah gee kennis, begrip, onderskeidingsvermoë en wysheid aan diegene wat hulle inspan om hierdie gawes na te streef. Hoe meer ons daarna soek en dit gebruik, hoe nader sal ons kom aan Jehovah, die Gewer daarvan. En ons intieme verhouding met Jehovah God sal as ’n beskerming dien wanneer ons voor ’n versoeking te staan kom. As ons nader aan Jehovah kom en ’n eerbiedige vrees vir hom het, sal dit ons beskerm sodat ons ons nie aan oortreding skuldig maak nie (Ps. 25:14; Jak. 4:8). Ons vriendskap met Jehovah en die wysheid wat hy ons gee, sal ons help om wyse keuses te maak wat Jehovah se hart sal verbly en ons erfenis sal bewaar.