Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Het die Israeliete misdadigers tereggestel deur hulle aan die paal te hang?

In die ou tyd het baie nasies sekere misdadigers tereggestel deur hulle aan die paal te hang. Die Romeine het so ’n persoon aan ’n paal vasgemaak of vasgenael, waar hy soms dae lank gehang het totdat hy gesterf het as gevolg van pyn, dors, honger en blootstelling aan die elemente. Die Romeine het paalstraf as ’n skandelike straf beskou wat aan die veragtelikste misdadigers toegedien is.

Wat van die eertydse nasie Israel? Het die Israeliete misdadigers tereggestel deur hulle aan ’n paal te hang? Die Mosaïese Wet het bepaal: “As daar in ’n man ’n sonde is wat die doodsvonnis verdien en hy doodgemaak is en jy hom aan ’n paal gehang het, mag sy lyk nie die hele nag aan die paal bly hang nie; maar jy moet hom vir seker dié dag nog begrawe” (Deut. 21:22, 23). In die tyd van die eertydse Israeliete is ’n persoon wat verdien het om te sterf, klaarblyklik eers doodgemaak en dan aan ’n paal of ’n boom gehang.

In hierdie verband sê Levitikus 20:2: “Enige man van die kinders van Israel en enige inwonende vreemdeling wat as ’n vreemdeling in Israel woon, wat enigeen van sy nageslag aan Molog gee, moet vir seker doodgemaak word. Die volk van die land moet hom met klippe doodgooi.” Diegene in wie daar “’n mediumistiese of ’n voorspellende gees” was, is ook doodgemaak. Hoe? Deur hulle ‘met klippe te gooi’.—Lev. 20:27.

In Deuteronomium 22:23, 24 lees ons: “As ’n meisie, ’n maagd, aan ’n man verloof is, en ’n man het haar in die stad gevind en by haar gaan lê, dan moet julle hulle twee na die poort van dié stad uitbring en hulle met klippe gooi, en hulle moet sterf, die meisie omdat sy nie in die stad geskreeu het nie, en die man omdat hy die vrou van sy medemens verneder het. So moet jy die kwaad uit jou midde wegruim.” Onder die vroeë Israeliete was steniging die vernaamste manier om diegene tereg te stel wat aan ’n afskuwelike misdaad skuldig was. *

Klaarblyklik is ’n persoon wat verdien het om te sterf, eers doodgemaak en dan aan ’n paal of ’n boom gehang

Deuteronomium 21:23 sê: “Iemand wat opgehang is, is deur God vervloek.” Die gebruik om die lyk van ’n veragtelike persoon wat ‘deur God vervloek’ is, in die openbaar te vertoon, sou sekerlik ’n blywende indruk op die Israeliete gemaak het. Ja, om die liggaam van ’n persoon wat tereggestel is, aan ’n paal of ’n boom te hang, het vir ander as ’n waarskuwing gedien.

^ par. 6 Baie geleerdes is dit eens dat ’n misdadiger onder die Wet eers tereggestel is voordat sy liggaam aan ’n paal gehang is. Maar daar is bewyse dat party misdadigers teen die eerste eeu lewendig deur die Jode aan die paal gehang is en so gesterf het.