Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer Jehovah se vrygewigheid en redelikheid

Waardeer Jehovah se vrygewigheid en redelikheid

“Jehovah is goed vir almal, en sy barmhartighede is oor al sy werke.”—PS. 145:9.

1, 2. Watter geleentheid het Jehovah se vriende?

“ONS is al byna 35 jaar lank getroud”, sê ’n Christenvrou met die naam Monika. “Ek en my man ken mekaar baie goed. Maar selfs ná al hierdie jare vind ons nog steeds dinge uit omtrent mekaar wat ons nooit geweet het nie!” Dit is ongetwyfeld in baie huwelike en vriendskappe die geval.

2 Ons geniet dit om diegene vir wie ons lief is, beter te leer ken. Maar van al die vriendskappe wat ons kan hê, is ons vriendskap met Jehovah die belangrikste. Ons sal nooit alles omtrent hom weet nie (Rom. 11:33). Ons sal tot in alle ewigheid die geleentheid en vreugde hê om groter waardering vir Jehovah se eienskappe te ontwikkel.—Pred. 3:11.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Die vorige artikel het ons gehelp om groter waardering vir Jehovah se toeganklikheid en sy onpartydigheid te ontwikkel. Kom ons bespreek nou nog twee van Jehovah se innemende eienskappe—sy vrygewigheid en sy redelikheid. Dit sal ons help om in voller mate te besef dat ‘Jehovah vir almal goed is en dat sy barmhartighede oor al sy werke is’.—Ps. 145:9.

JEHOVAH IS VRYGEWIG

4. Wat is die kern van ware vrygewigheid?

4 Wat beteken dit om vrygewig te wees? Ons vind die antwoord in Jesus se woorde in Handelinge 20:35: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.” Met hierdie eenvoudige stelling het Jesus die kern van ware vrygewigheid opgesom. ’n Vrygewige persoon gee vryelik van sy tyd, energie en middele ten behoewe van ander—en hy doen dit met graagte. In werklikheid word vrygewigheid nie gemeet aan die  grootte van die geskenk nie, maar aan die beweegrede van die gewer. (Lees 2 Korintiërs 9:7.) Niemand is vrygewiger as ons “gelukkige God”, Jehovah, nie.—1 Tim. 1:11.

5. Hoe betoon Jehovah vrygewigheid?

5 Hoe betoon Jehovah vrygewigheid? Hy voorsien in die behoeftes van alle mense, insluitende dié wat hom nog nie aanbid nie. Ja, “Jehovah is goed vir almal.” Hy ‘laat sy son opgaan oor goddeloses en goeies en laat dit reën op regverdiges en onregverdiges’ (Matt. 5:45). Daarom kon die apostel Paulus, toe hy met ongelowiges gepraat het, sê dat Jehovah “goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul” (Hand. 14:17). Dit is duidelik dat Jehovah teenoor alle mense vrygewig is.—Luk. 6:35.

6, 7. (a) In wie se behoeftes voorsien Jehovah graag? (b) Lig toe hoe God vir sy getroue aanbidders sorg.

6 Jehovah put veral vreugde daaruit om in die behoeftes van sy getroue aanbidders te voorsien. Koning Dawid het gesê: “Ek was eens ’n jong man, ook het ek oud geword, en tog het ek geen regverdige heeltemal verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie” (Ps. 37:25). Talle getroue Christene het al sulke bewyse van Jehovah se sorg gesien. Kyk na ’n voorbeeld.

7 ’n Paar jaar gelede het ’n voltydse bedienaar met die naam Nancy haar in ’n penarie bevind. “Ek het R570 vir my huur nodig gehad, wat ek die volgende dag moes betaal”, vertel Nancy. “Ek het nie geweet hoe ek die geld in die hande sou kry nie. Ek het oor die probleem gebid, en toe het ek na my werk gegaan waar ek as ’n kelnerin gewerk het. Ek het nie verwag om daardie aand baie geld in fooitjies te ontvang nie, want daardie tyd van die week was gewoonlik nie baie besig nie. Tot my verbasing het baie mense daardie aand na die restaurant toe gekom. Toe ek my fooitjies ná my skof opgetel het, was daar R570.” Nancy is daarvan oortuig dat Jehovah milddadig voorsien het presies wat sy nodig gehad het.—Matt. 6:33.

8. Wat is Jehovah se grootste gawe?

8 Almal kan by Jehovah se grootste gawe baat vind. Wat is dit? Die losprysoffer van sy Seun. Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). In hierdie konteks verwys “die wêreld” na die mensdom. Ja, almal wat Jehovah se grootste gawe aanvaar, kan daarby baat vind. Diegene wat geloof in Jesus beoefen, sal lewe in oorvloed—die ewige lewe—ontvang! (Joh. 10:10). Watter groter bewyse kan daar tog wees dat Jehovah vrygewig is?

 VOLG JEHOVAH SE VRYGEWIGHEID NA

Die Israeliete is aangespoor om Jehovah se vrygewigheid na te volg (Sien paragraaf 9)

9. Hoe kan ons Jehovah se vrygewigheid navolg?

 9 Hoe kan ons Jehovah se vrygewigheid navolg? Jehovah “[verskaf] aan ons alles ryklik vir ons genot”; daarom moet ons “mededeelsaam” wees en dus tot die vreugde van ander bydra (1 Tim. 6:17-19). Ons gebruik ons middele met graagte om geskenke aan ons geliefdes te gee en behoeftiges te help. (Lees Deuteronomium 15:7.) Wat kan ons help om te onthou om vrygewig te wees? Party Christene volg hierdie praktiese benadering: Wanneer hulle ook al ’n geskenk ontvang, soek hulle na ’n geleentheid om vir iemand anders ’n geskenk te gee. Die Christengemeente is geseën met tallose broers en susters wat ’n vrygewige gees probeer aankweek.

10. Wat is ’n uitstekende manier om vrygewig te wees?

10 Een van die beste maniere om vrygewig te wees, is om in woord en daad van onsself te gee. Hoe kan ons dit doen? Deur ons tyd en energie te gebruik om ander te help en aan te moedig (Gal. 6:10). Om te kyk hoe ons in hierdie opsig vaar, kan ons ons afvra: ‘Voel ander dat ek bereid is om van myself te gee en na hulle bekommernisse te luister? Stem ek in wanneer iemand my vra om hulle met ’n projek of ’n takie te help, as dit vir my moontlik is? Wanneer laas het ek ’n familielid of ’n medegelowige opreg geprys?’ As ons ‘altyddeur gee’, sal ons beslis aan Jehovah en aan ons vriende nader kom.—Luk. 6:38; Spr. 19:17.

11. Wat is ’n paar maniere waarop ons teenoor Jehovah vrygewig kan wees?

 11 Ons kan ook teenoor Jehovah vrygewig wees. “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge”, maan die Skrif (Spr. 3:9). Hierdie “waardevolle dinge” sluit ons tyd, energie en middele in, wat ons vryelik in  sy diens kan gebruik. Selfs jong kinders kan leer om teenoor Jehovah vrygewig te wees. “Wanneer ons gesin ’n bydrae by die Koninkryksaal maak, laat ons ons kinders die geld in die bydraebussie gooi”, sê Jason. “Hulle geniet dit, want hulle sê dat hulle ‘vir Jehovah iets gee’.” Kinders wat op ’n jong ouderdom die vreugde ondervind wat dit meebring om aan Jehovah te gee, sal waarskynlik aanhou om as volwassenes vrygewig teenoor hom te wees.—Spr. 22:6.

JEHOVAH IS REDELIK

12. Wat beteken dit om redelik te wees?

12 Nog een van Jehovah se innemende eienskappe is redelikheid. Wat beteken dit om redelik te wees? Die woord wat gewoonlik in die Nuwe Wêreld-vertaling as “redelik” vertaal word, beteken in die oorspronklike taal “toegewend” (Tit. 3:1, 2, vtn. in NW). ’n Redelike persoon dring nie altyd op die letter van die wet aan nie, en hy is ook nie uitermate streng, ernstig of ongevoelig nie. Hy probeer eerder om ander liefdevol te behandel en om hulle omstandighede in ag te neem. Hy is bereid om na ander te luister en om, wanneer gepas, hulle versoeke toe te staan en sy vereistes aan te pas.

13, 14. (a) Hoe openbaar Jehovah redelikheid? (b) Wat kan ons uit God se handelinge met Lot oor redelikheid leer?

13 Hoe openbaar Jehovah redelikheid? Hy neem sy knegte se gevoelens liefdevol in ag, en hy staan hulle versoeke dikwels toe. Dink byvoorbeeld aan Jehovah se handelinge met die regverdige man Lot. Toe Jehovah besluit het om die stede Sodom en Gomorra te vernietig, het hy Lot duidelike instruksies gegee om na die berge toe te vlug. Maar om die een of ander rede het Lot by Jehovah gepleit om na ’n ander plek te vlug. Dink net—Lot het Jehovah in werklikheid gevra om Sy instruksies te verander!—Lees Genesis 19:17-20.

14 Dit is dalk maklik om Lot te oordeel en te dink dat hy swak of ongehoorsaam was. Jehovah kon Lot tog sekerlik op enige plek aan die lewe gehou het, en Lot se vrese was dus in werklikheid ongegrond. Nietemin is dit hoe Lot gevoel het, en Jehovah het toegegee. Hy het Lot toegelaat om na ’n stad te vlug wat Hy van plan was om te vernietig. (Lees Genesis 19:21, 22.) Dit is duidelik dat Jehovah nie streng of onbuigsaam is nie. Hy is toegewend en redelik.

15, 16. Hoe het die Mosaïese Wet Jehovah se redelikheid weerspieël? (Sien prent aan begin van artikel.)

15 Beskou nog ’n voorbeeld van Jehovah se redelikheid soos dit in die Mosaïese Wet weerspieël word. As ’n Israeliet te arm was om ’n lam of ’n bok as ’n offerande te bring, kon hy twee tortelduiwe of twee duiwe in plek daarvan bring. Maar gestel ’n Israeliet was so arm dat hy nie eers twee duiwe kon bekostig nie. Dan het Jehovah die behoeftige Israeliet toegelaat om ’n bietjie meel te offer. Maar let op hierdie belangrike besonderheid: Dit kon nie sommer enige meel gewees het nie; dit moes “fynmeel” gewees het, die soort wat vir geëerde gaste gebruik is (Gen. 18:6). Waarom is dit betekenisvol?—Lees Levitikus 5:7, 11.

16 Wel, stel jou voor dat jy ’n Israeliet is en redelik arm is. Wanneer jy by die tabernakel aankom met ’n bietjie meel wat jy as ’n offerande bring, sien jy ryker Israeliete wat veediere bring. Jy voel dalk verleë oor jou skynbaar onbeduidende offerande van meel. Dan onthou jy dat jou offerande wel in Jehovah se oë waardevol is. Waarom? Om maar een ding te noem, Jehovah het vereis dat die meel van ’n hoë gehalte moet wees. Jehovah het as ’t ware vir armer Israeliete gesê: ‘Ek besef dat jy  nie kan bekostig wat ander kan bekostig nie, maar ek weet ook dat wat jy my gee, jou beste is.’ Ja, Jehovah openbaar redelikheid deur die beperkings en die omstandighede van sy knegte in ag te neem.—Ps. 103:14.

17. Watter soort diens aanvaar Jehovah?

 17 Ons kan vertroosting put uit die wete dat Jehovah ons heelhartige diens aanvaar omdat hy redelik is (Kol. 3:23). ’n Bejaarde Italiaanse suster met die naam Constance het gesê: “Om met ander oor my Skepper te praat, is waarvoor ek die liefste is. Dit is waarom ek aanhou om te preek en Bybelstudies te hou. Soms is ek spyt dat my gesondheid my nie toelaat om meer te doen nie. Maar ek besef dat Jehovah my beperkings ken en dat hy vir my lief is en waardeer wat ek wel kan doen.”

VOLG JEHOVAH SE REDELIKHEID NA

18. Wat is een manier waarop ouers Jehovah se voorbeeld kan navolg?

18 Hoe kan ons Jehovah se redelikheid navolg? Dink weer aan Jehovah se handelinge met Lot. Jehovah was die een wat die gesag gehad het; nogtans het hy liefdevol geluister terwyl Lot sy gevoelens uitgespreek het. En God het Lot se versoek toegestaan. Kan jy as ’n ouer Jehovah se voorbeeld navolg? Kan jy na jou kinders se versoeke luister en dit, wanneer gepas, toestaan? In verband hiermee het Die Wagtoring van 1 September 2007 gemeld dat party ouers hulle kinders soms by die bespreking oor huisreëls betrek. Byvoorbeeld, ouers besluit dalk om ’n inkomtyd vas te stel, en hulle het sekerlik die reg om te besluit hoe laat hulle kinders by die huis moet wees. Nogtans kan Christenouers luister na wat hulle kinders te sê het oor die tyd waarop daar besluit is. In party gevalle sal ouers miskien die vasgestelde tyd aanpas solank Bybelbeginsels nie geskend word nie. Wanneer ouers hulle kinders se mening in verband met huisreëls in ag neem, sal hulle moontlik vind dat die kinders die reëls beter sal verstaan en meer geneig sal wees om dit te gehoorsaam.

19. Hoe kan ouer manne Jehovah se redelikheid probeer navolg?

19 Gemeentelike ouer manne probeer om Jehovah se redelikheid na te volg deur die omstandighede van hulle medegelowiges in ag te neem. Onthou dat Jehovah selfs die offerandes van armer Israeliete waardeer het. Net so is party broers en susters baie beperk ten opsigte van wat hulle in die bediening kan doen, dalk weens gesondheidsprobleme of bejaardheid. Sê nou hierdie dierbares voel ontmoedig as gevolg van hulle beperkings? Die ouer manne kan hulle liefdevol verseker dat Jehovah hulle liefhet omdat hulle hom hulle beste gee.—Mark. 12:41-44.

20. Beteken redelikheid dat ons minder as ons bes in ons diens aan God doen? Verduidelik.

20 Maar om redelik te wees, beteken natuurlik nie dat ons minder as ons bes in ons diens aan God doen net om vir onsself goed te wees nie (Matt. 16:22). Ons wil nie agteroor sit en dan ons gesindheid verdedig deur te sê dat ons redelik is nie. Ons almal moet ‘ons kragtig inspan’ om Koninkryksbelange te ondersteun (Luk. 13:24). Ons probeer in werklikheid om ’n balans tussen twee beginsels te vind. Aan die een kant span ons ons in en doen ons ons bes in ons diens. Aan die ander kant hou ons in gedagte dat Jehovah nooit meer van ons vra as wat ons kan gee nie. Wanneer ons hom ons beste gee, kan ons seker wees dat ons hom behaag. Ons geniet dit ongetwyfeld om so ’n dankbare en redelike Meester te dien. In die volgende artikel sal ons nog twee aspekte van Jehovah se innemende persoonlikheid bespreek.—Ps. 73:28.

“Eer Jehovah met jou waardevolle dinge.”—Spr. 3:9 (Sien paragraaf 11)

“Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel.”—Kol. 3:23(Sien paragraaf 17)