Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy die onlangse nommers van Die Wagtoring noukeurig gelees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

Wat is bibliomansie, en hoe moet Christene dit beskou?

Bibliomansie is die gebruik om die Bybel op enige plek oop te slaan omdat daar geglo word dat die eerste teks waarop die oog val, die nodige hulp sal voorsien. Ware Christene soek nie voortekens nie. Hulle bestudeer eerder die Bybel om juiste kennis en goddelike leiding te verkry.—12/15, bladsy 3.

Wat is “die wêreld” wat sal verbygaan?

“Die wêreld” wat sal verbygaan, is die wêreld van mense wat nie in ooreenstemming met God se wil lewe nie (1 Joh. 2:17). Die aarde en getroue mense sal behoue bly.—1/1, bladsye 5-7.

Hoe spreek Abel tot ons, hoewel hy gesterf het? (Heb. 11:4).

Hy doen dit deur middel van geloof. Ons kan uit sy geloof leer en dit probeer navolg. Sy voorbeeld leef tot vandag toe voort.—1/1, bladsy 12.

In watter aspekte van die lewe moet ons versigtig wees dat niks ons van God vervreem nie?

Party hiervan is: Ons werk of beroep, die ontspanning en vermaak wat ons kies, assosiasie met ’n uitgesette familielid, ons gebruik van moderne tegnologie, bekommernisse oor ons gesondheid, ’n verkeerde beskouing van geld en om te veel waarde te heg aan ons eie beskouings of posisie.—1/15, bladsye 12-21.

Wat kan ons uit Moses se nederigheid leer?

Moses het nie toegelaat dat gesag na sy kop toe gaan nie. Hy het eerder op God staatgemaak, en nie op homself nie. Ons wil nooit toelaat dat mag, gesag of natuurlike vermoëns na ons kop toe gaan nie; ons wil eerder op Jehovah vertrou (Spr. 3:5, 6).—2/1, bladsy 5.

Waar sal die verresenes lewe?

’n Beperkte aantal—144 000—sal in die hemel lewe. Maar die meeste sal op die aarde opgewek word, met die vooruitsig om vir ewig hier te lewe.—3/1, bladsy 6.

Wat beteken dit wanneer die Bybel sê dat die Israeliete “onbesnede van hart” was? (Jer. 9:26).

Hulle was wederstrewig en opstandig, en hulle moes ontslae raak van die dinge wat hulle hart onontvanklik gemaak het—hulle denke, begeertes of beweegredes wat in stryd was met God s’n (Jer. 5:23, 24).—3/15, bladsye 9-10.

Hoe was Jesus ’n voorbeeld van iemand wat ’n sinvolle lewe gelei het?

Hy het ’n doel in die lewe gehad—om God se wil te doen. Hy het sy Vader innig liefgehad en was lief vir mense. Daarom het Jesus geweet dat sy Vader hom liefhet en dat hy Sy goedkeuring wegdra. Dit is die sleutels tot ’n sinvolle lewe.—4/1, bladsye 4-5.

Wat sluit die aardse deel van God se organisasie in?

Dit sluit die Bestuursliggaam, takkomitees, reisende opsieners, liggame van ouer manne, gemeentes en individuele Getuies in.—4/15, bladsy 29.

Waarom kan ons sê dat God nie wreed was toe hy sy oordele voltrek het nie?

Jehovah skep geen behae in die dood van die goddelose nie (Eseg. 33:11). Sy dade van die verlede toon dat hy mense uit liefde waarsku voordat hy oordeel voltrek. Dit kan ons die hoop gee dat ons sy toekomstige oordeelsdade kan oorleef.—5/1, bladsye 5-6.

Het die Israeliete misdadigers tereggestel deur hulle aan die paal te hang?

Nee. Ander eertydse nasies het dit gedoen, maar nie die Israeliete nie. Ten minste in die tyd van die eertydse Israeliete is kwaaddoeners eers doodgemaak, deur hulle byvoorbeeld te stenig (Lev. 20:2, 27). Dan is die lyk moontlik aan ’n paal gehang as ’n waarskuwing vir ander.—5/15, bladsy 13.

Waarom is dit so moeilik om wêreldvrede tot stand te bring?

Hoewel die mens al baie bereik het, is hy nie geskep met die vermoë om sy eie voetstappe te rig nie (Jer. 10:23). Satan beheer die wêreld, en daarom sal mense nooit vrede tot stand kan bring nie (1 Joh. 5:19).—6/1, bladsy 16.