Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah ‘dra elke dag die vrag vir my’

Jehovah ‘dra elke dag die vrag vir my’

Ten spyte van ernstige gesondheidsprobleme wat moontlik ondraaglik gelyk het, het ek regdeur my lewe gesien hoe ons dierbare hemelse Vader my liefdevol ondersteun. En ek ondervind nou al meer as 20 jaar lank die besondere vreugde om Jehovah as ’n pionier te dien.

Ek is in 1956 met spina bifida gebore. Omdat die neurale buis in my ruggraat nie heeltemal toegegroei het nie, het senubeskadiging dit vir my moeilik gemaak om te loop en ook ander ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak.

’n Ruk voordat ek gebore is, het Getuie-sendelinge die Bybel met my ouers begin studeer. Gedurende my kinderjare was daar net ’n paar afgesonderde verkondigers in my tuisdorp Usakos, Namibië. Daarom het ons die materiaal vir gemeentelike vergaderinge as ’n gesin bespreek. Op sewejarige ouderdom moes ek ’n urostomie ondergaan, ’n operasie wat gedoen is om ’n kunsmatige opening in my liggaam te maak sodat ek kon urineer. Op 14-jarige ouderdom het ek epilepsie ontwikkel. Omdat die naaste hoërskool ver weg was en ek spesiale sorg van my ouers moes ontvang, kon ek nie my skoolloopbaan voltooi nie.

Ek het nietemin besluit om myself geestelik op te bou. Baie van ons Christelike publikasies was destyds nog nie in my moedertaal, Afrikaans, beskikbaar nie. Ek het dus geleer om Engels te lees sodat ek ’n aantal van ons boeke kon bestudeer. Ek het ’n Koninkryksverkondiger geword en is op 19-jarige ouderdom gedoop. Gedurende die daaropvolgende vier jaar het ek baie gesondheids- en emosionele probleme ondervind. En omdat die gemeenskap in my tuisdorp baie heg was, het mensevrees my daarvan weerhou om ywerig aan die bediening deel te neem.

Toe ek in my vroeë 20’s was, het ons van Namibië na Suid-Afrika getrek en kon ek vir die eerste keer met ’n gemeente assosieer. Dit was wonderlik! Maar ek moes weer eens ’n operasie ondergaan—hierdie keer ’n kolostomie.

’n Hele ruk daarna het ek ’n kringopsiener oor pionierdiens hoor praat. Sy woorde het my hart geraak. Ek het geweet dat my gesondheid nie ideaal was nie, maar ek het gesien hoe Jehovah my deur talle moeilike tye gedra het. Ek het dus aansoek gedoen om ’n gewone pionier te word. Maar as gevolg van my gesondheidsprobleme het die ouer manne gehuiwer om my aansoek goed te keur.

Ek het nietemin besluit om my bes in die Koninkrykspredikingswerk te doen. Met die hulp van my ma en ander het ek dit reggekry om ses maande lank pionierure aan die bediening te bestee. Dit het getoon dat ek vasbeslote is om te pionier en dat ek kan regkom ten spyte van my gesondheidsprobleme. Ek het weer eens aansoek gedoen, en hierdie keer is my aansoek goedgekeur. Op 1 September 1988 het ek ’n gewone pionier geword.

As ’n pionier het ek die hele tyd gesien hoe Jehovah my ondersteun. Om nuwelinge die waarheid te leer eerder as om op my eie situasie te fokus, het my beskerm, my opgebou en my gehelp om geestelik te groei. Dit het my groot vreugde verskaf om ’n aantal mense te help om tot toewyding en doop te vorder.

My gesondheid is nog steeds swak. Maar Jehovah ‘dra elke dag die vrag vir my’ (Ps. 68:19). Hy maak my lewe nie net draaglik nie; hy maak dit vir my ’n plesier!