Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 UIT ONS ARGIEF

Die koning was verheug!

Die koning was verheug!

DIT was Augustus 1936. Robert en George Nisbet was by die Koninklike Kraal in Swaziland. Vanuit ’n klankmotor het hulle kort tevore musiekopnames en toe opnames van broer J.F Rutherford se toesprake gespeel. Koning Sobhuza II was verheug. “Ons was baie verleë toe hy die transkripsiemasjien, die plate en die luidspreker wou koop wat ons gebruik het om die Koninkryksboodskap te verkondig!” vertel George.

Robert het gesê dat hy jammer is maar dat hierdie dinge nie te koop is nie. Waarom nie? Want die gereedskap het aan iemand anders behoort. Die Koning wou weet wie dit is.

Robert se antwoord was: “Dit behoort alles aan ’n ander Koning.” Toe het Sobhuza gevra wie hierdie Koning is. “Dit is Jesus Christus, die Koning van God se Koninkryk”, het Robert gesê.

“O, hy’s ’n groot Koning”, het Sobhuza met diep respek erken. “Ek wil niks neem wat aan hom behoort nie.”

Robert het geskryf: ‘Ek was baie beïndruk met die opperhoof, koning Sobhuza, se geaardheid. Hy het vlot Engels gepraat sonder om enigsins windmakerig of trots te wees, en hy was baie reguit en maklik om mee te gesels. Ek het ongeveer 45 minute lank by hom in sy kantoor gesit terwyl George buite musiek gespeel het.

‘Later daardie dag’, het Robert verder geskryf, ‘het ons die Swazi- Nasionale Skool besoek waar ons die heel interessantste ondervinding gehad het. Ons het vir die skoolhoof getuig, en hy het aandagtig geluister. Toe ons van die masjien melding gemaak het en aangebied het om die opnames vir die hele skool te speel, was hy baie opgewonde en het hy byna honderd studente laat roep om op die gras te kom sit en luister. Daar is vir ons gesê dat die hoërskool landboukunde, tuinmaak, houtwerk, bouwerk, Engels en rekeningkunde vir seuns aanbied en verpleging, huishoudkunde en ander nuttige vakke vir meisies aanbied.’ Die Opperhoof se ouma het die skool gestig. *

Hoërskoolleerlinge wat in 1936 ’n openbare toespraak in Swaziland bywoon

Koning Sobhuza het al vanaf 1933 graag geluister na pioniers wat die Koninklike Kraal besoek het. By een geleentheid  het hy selfs sy persoonlike lyfwag van 100 krygsmanne byeengeroep om na opnames van die Koninkryksboodskap te kom luister. Hy het op die tydskrifte ingeteken en lektuur geneem. Kort voor lank het die Koning ’n byna volledige teokratiese biblioteek gehad! Wat meer is, hy het dit gehou selfs toe die Britse koloniale regering ons lektuur gedurende die Tweede Wêreldoorlog verbied het.

Koning Sobhuza II het nog steeds die Getuies in die Koninklike Kraal by Lobamba verwelkom en het selfs geestelikes laat roep om na hulle Bybeltoesprake te kom luister. Terwyl ’n plaaslike Getuie met die naam Helvie Mashazi Matteus hoofstuk 23 bespreek het, het ’n groep geestelikes woedend opgespring en hom probeer dwing om te sit. Maar die Koning het tussenbeide getree en het broer Mashazi gevra om voort te gaan. Boonop het die Koning vir die gehoor gesê dat hulle al die Bybeltekste wat in die toespraak gemeld word, moet neerskryf!

Nadat vier geestelikes by ’n ander geleentheid na ’n toespraak geluister het wat deur ’n pionierbroer gehou is, het hulle hulle krae omgedraai en gesê: “Ons is nie meer predikante nie; ons is nou Jehovah se Getuies.” Toe het hulle die pionier gevra of hy enige boeke soos dié van die Opperhoof het.

Vanaf die 1930’s tot sy dood in 1982 het die Opperhoof Jehovah se Getuies gerespekteer en nie toegelaat dat hulle vervolg word omdat hulle nie Swazi-rituele uitvoer nie. Daarom het die Getuies goeie rede gehad om teenoor hom dankbaar te wees, en hulle was opreg bedroef oor sy dood.

Teen die begin van 2013 was daar meer as 3 000 Koninkryksverkondigers in Swaziland. In hierdie land, met net oor ’n miljoen inwoners, was daar 1 verkondiger vir elke 384 mense. Meer as 260 pioniers was bedrywig in 90 gemeentes, en 7 496 het die Gedenkmaal in 2012 bygewoon. Dit is duidelik dat daar groot potensiaal is vir verdere groei. ’n Stewige grondslag is beslis gelê gedurende daardie vroeë besoeke wat in die 1930’s aan Swaziland afgelê is.—Uit ons argief in Suid-Afrika.

^ par. 8 The Golden Age, 30 Junie 1937, bladsy 629.