Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Maak Jehovah se herinneringe die vreugde van jou hart

Maak Jehovah se herinneringe die vreugde van jou hart

“Ek het u herinneringe tot onbepaalde tyd my eie gemaak.”—PS. 119:111.

1. (a) Op watter maniere reageer mense op herinneringe, en waarom? (b) Hoe kan trots ’n mens se beskouing van raad beïnvloed?

MENSE reageer verskillend op raad. Party sal dalk ’n herinnering van iemand met gesag met ’n goeie gesindheid aanvaar, maar raad van ’n eweknie of ’n ondergeskikte onmiddellik verwerp. Emosionele reaksies op dissipline en teregwysing verskil ook grootliks. Sommige mense voel moontlik hartseer, bedroef of verleë terwyl ander gemotiveerd voel en wil verbeter. Waarom die verskil? Een faktor is trots. Ja, ’n hoogmoedige gees kan ’n persoon se oordeel belemmer, met die gevolg dat hy raad verwerp en waardevolle geleenthede om onderrig te word, verbeur.—Spr. 16:18.

2. Waarom waardeer ware Christene raad wat op God se Woord gegrond is?

2 Daarenteen waardeer ware Christene nuttige raad, veral wanneer dit op God se Woord gegrond is. Jehovah se herinneringe gee ons waardevolle insig; dit leer ons en help ons om slaggate soos materialisme, geslagsonsedelikheid en dwelm- en alkoholmisbruik te vermy (Spr. 20:1; 2 Kor. 7:1; 1 Tess. 4:3-5; 1 Tim. 6:6-11). Wat meer is, ons is vreugdevol weens “die goeie toestand van die hart” wat die gevolg is van gehoorsaamheid aan God se herinneringe.—Jes. 65:14.

3. Watter gesindheid van die psalmis moet ons navolg?

3 Om ons kosbare verhouding met ons hemelse Vader te bewaar, moet ons aanhou om die wyse onderrigting wat ons van Jehovah ontvang, in ons lewe toe te pas. Hoe goed is dit tog as ons gesindheid dié weerspieël van die psalmis, wat geskryf het: “Ek het u herinneringe tot onbepaalde tyd my eie gemaak, want  hulle is die vreugde van my hart”! (Ps. 119:111). Skep ons ook behae in Jehovah se gebooie of beskou ons dit soms as ’n las? Selfs as ons soms gegrief voel oor raad wat ons ontvang het, hoef ons nie moed op te gee nie. Ons kan onwankelbare vertroue in God se verhewe wysheid opbou! Kom ons kyk na drie maniere waarop ons dit kan doen.

BOU VERTROUE OP DEUR GEBED

4. Wat is een ding wat in Dawid se lewe konstant gebly het?

4 Daar was baie goeie en slegte tye in koning Dawid se lewe, maar een ding het konstant gebly—sy volkome vertroue in sy Skepper. Hy het gesê: “Tot u, o Jehovah, hef ek my siel op. O my God, in u het ek my vertroue gestel” (Ps. 25:1, 2). Wat het Dawid gehelp om sulke vertroue in sy hemelse Vader op te bou?

5, 6. Wat sê God se Woord vir ons oor Dawid se verhouding met Jehovah?

5 Baie mense bid net tot God wanneer hulle in groot nood verkeer. Sê nou ’n vriend of ’n familielid tree net met jou in verbinding wanneer hy geld of ’n guns nodig het. Ná verloop van tyd sal jy sy beweegredes begin bevraagteken. Maar Dawid was nie so nie. Sy verhouding met Jehovah het regdeur sy lewe—in goeie en slegte tye—sy geloof in sy God asook sy liefde vir hom weerspieël.—Ps. 40:8.

6 Let op Dawid se woorde van lof en dankbetuiging aan Jehovah: “O Jehovah ons Here, hoe majestueus is u naam tog op die ganse aarde, u wie se waardigheid bo die hemele bekend gemaak word!” (Ps. 8:1). Toon hierdie woorde nie wat ’n intieme verhouding Dawid met sy hemelse Vader gehad het nie? Dawid se waardering vir God se glorie en grootsheid het hom beweeg om Jehovah “die hele dag deur” te verheerlik.—Ps. 35:28.

7. Hoe vind ons daarby baat as ons deur gebed nader aan God kom?

7 Soos Dawid, moet ons gereeld met Jehovah kommunikeer om vertroue in hom op te bou. Die Bybel sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jak. 4:8). Om deur gebed nader aan God te kom, is ook ’n belangrike manier waarop ons die heilige gees kan verkry.—Lees 1 Johannes 3:22.

8. Waarom moet ons herhalende gebede vermy?

8 Is jy geneig om frases te herhaal of dieselfde dinge oor en oor te sê wanneer jy bid? Indien wel, neem gerus voordat jy bid ’n paar oomblikke om te dink aan wat jy wil sê. Sal ’n vriend of ’n familielid daarvan hou as ons dieselfde woorde herhaal elke keer dat ons met hom praat? Hy sal dalk ophou om na ons te luister. Jehovah sal natuurlik nooit ’n opregte gebed van een van sy lojale knegte verwerp nie. Maar dit sal goed wees om nie in ’n groef vas te val wanneer ons met hom kommunikeer nie.

9, 10. (a) Wat kan ons in ons gebede insluit? (b) Wat kan ons help om uit die hart te bid?

9 As ons nader aan God wil kom, kan ons gebede natuurlik nie oppervlakkig wees nie. Hoe meer ons ons hart teenoor Jehovah uitstort, hoe nader sal ons aan hom kom en hoe meer sal ons op hom vertrou. Maar wat moet ons in ons gebede insluit? God se Woord antwoord: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word” (Fil. 4:6). Die feit is, enigiets wat ons verhouding met God of ons lewe as een van sy knegte raak, is ’n gepaste onderwerp vir gebed.

10 Ons kan baie leer uit die woorde van getroue mans en vroue wie se gebede in die Bybel opgeteken is (1 Sam. 1:10, 11; Hand. 4:24-31). Die Psalms bestaan uit hartgrondige gebede en liedere wat aan Jehovah gerig is. Elke menslike emosie,  van intense pyn tot loutere vreugde, kom in hierdie gebede en liedere na vore. As ons sulke uitdrukkings deur lojales ontleed, kan dit ons help om ons gebede tot Jehovah betekenisvol te maak.

PEINS OOR GOD SE HERINNERINGE

11. Waarom moet ons oor goddelike raad peins?

11 Dawid het gesê: “Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys” (Ps. 19:7). Ja, selfs as ons onervare is, kan ons wys word deur God se gebooie te gehoorsaam. Maar soms moet ons oor skriftuurlike raad peins as ons ten volle daarby wil baat vind. Dit geld vir raad in verband met hoe ons ons onkreukbaarheid kan handhaaf wanneer ons by die skool of by die werk onder druk geplaas word, hoe ons by God se standaard ten opsigte van bloed kan bly, hoe ons ons Christelike neutraliteit kan handhaaf en hoe ons Bybelbeginsels oor kleredrag en persoonsversorging kan toepas. As ons God se denke oor sulke sake kry, sal dit ons help om probleme vooruit te sien. Dan kan ons in ons hart besluit wat ons sal doen as die situasie sou opkom. Sulke beplanning en voorbereiding kan ons baie hartseer spaar.—Spr. 15:28.

12. Wat sal ons help om God se herinneringe ons eie te maak?

12 Toon ons lewenswandel dat ons geestelik wakker bly terwyl ons wag op die verwesenliking van God se beloftes? Byvoorbeeld, glo ons werklik dat Babilon die Grote binnekort vernietig gaan word? Is toekomstige seëninge, soos die ewige lewe op ’n paradysaarde, vir ons net so werklik as toe ons die eerste keer daarvan geleer het? Het ons ons ywer vir die bediening behou en nie toegelaat dat persoonlike sake in ons lewe voorkeur geniet nie? Wat van die opstandingshoop, die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit? Is hierdie geskille nog vir ons van die allergrootste belang? As ons oor sulke vrae peins, kan dit ons help om te doen wat die psalmis gesê het, om God se ‘herinneringe tot onbepaalde tyd ons eie te maak’.—Ps. 119:111.

13. Waarom het die eerste-eeuse Christene dit moeilik gevind om party dinge te verstaan? Gee ’n voorbeeld.

13 Daar is dinge wat in die Bybel gemeld word wat ons dalk nie nou ten volle verstaan nie omdat dit nog nie Jehovah se bestemde tyd is om dit te verklaar nie. Jesus het oor en oor vir sy apostels gesê dat hy sal moet ly en doodgemaak moet word. (Lees Matteus 12:40; 16:21.) Maar die apostels het nie verstaan wat hy bedoel nie. Hulle het dit eers ná sy dood en opstanding verstaan toe hy ’n vleeslike liggaam aangeneem het, aan ’n aantal dissipels verskyn het en “hulle verstand ten volle geopen [het] om die betekenis van die Skrif te begryp” (Luk. 24:44-46; Hand. 1:3). Net so het Christus se volgelinge eers verstaan dat God se Koninkryk in die hemel opgerig sou word toe heilige gees op Pinkster 33 HJ op hulle uitgestort is.—Hand. 1:6-8.

14. Watter goeie voorbeeld het baie broers aan die begin van die 20ste eeu gestel, al het hulle ’n verkeerde begrip gehad oor wat in die laaste dae sou gebeur?

14 Aan die begin van die 20ste eeu het ware Christene eweneens ’n paar verkeerde verwagtinge aangaande “die laaste dae” gehad (2 Tim. 3:1). Byvoorbeeld, in die jaar 1914 het party gedink dat hulle binnekort hemel toe geneem sou word. Toe hulle hoop nie onmiddellik verwesenlik is nie, het ’n verdere ondersoek van die Skrif aan die lig gebring dat ’n groot predikingskampanje voorgelê het (Mark. 13:10). Daarom het J.F. Rutherford, wat destyds die leiding in die  predikingswerk geneem het, in 1922 vir diegene wat teenwoordig was by die internasionale byeenkoms in Cedar Point, Ohio, VSA, gesê: “Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Sedertdien is die verkondiging van “die goeie nuus van die koninkryk” ’n kenmerk van Jehovah se hedendaagse knegte.—Matt. 4:23; 24:14.

15. Hoe vind ons daarby baat as ons nadink oor die manier waarop God met sy volk gehandel het?

15 As ons nadink oor die wonderlike manier waarop Jehovah met sy volk gehandel het, in die verlede en die hede, gee dit ons groter vertroue in sy vermoë om sy wil en voorneme in die toekoms uit te voer. Terselfdertyd help God se herinneringe ons om profesieë wat nog vervul moet word, in ons verstand en hart lewend te hou. Ons kan seker wees dat dit ons sal help om vertroue in sy beloftes op te bou.

BOU VERTROUE OP DEUR DADE VAN AANBIDDING

16. Watter seëninge bring dit mee om in die bediening bedrywig te bly?

16 Ons God, Jehovah, is ’n dinamiese God, ’n God van aksie. “Wie is kragtig soos u, o Jah?”, het die psalmis gevra. Hy het bygevoeg: “U hand is sterk, u regterhand is verhewe” (Ps. 89:8, 13). In ooreenstemming hiermee waardeer en seën Jehovah ons pogings om Koninkryksbelange te bevorder. Hy sien dat sy knegte—hetsy manlik of vroulik, jonk of oud—nie agteroorsit en “die brood van luiheid” eet nie (Spr. 31:27). Ons volg ons Skepper na deur besig te bly met teokratiese bedrywighede. Om God heelhartig te dien, is vir ons lonend, en Jehovah skep groot behae daarin om ons bediening te seën.—Lees Psalm 62:12.

17, 18. Waarom kan daar gesê word dat dade van geloof ons help om vertroue in Jehovah se raad op te bou? Gee ’n voorbeeld.

 17 Hoe help dade van geloof ons om in Jehovah vertroue op te bou? Dink aan die skriftuurlike verslag van Israel se intog in die Beloofde Land. Jehovah het die priesters wat die verbondsark gedra het, beveel om in die Jordaanrivier in te stap. Maar toe die volk nadergekom het, kon hulle sien dat die rivier weens die lentereën in vloed was. Wat sou die Israeliete doen? Sou hulle op die rivieroewer kamp opslaan en weke of langer wag vir die vloedwater om te sak? Nee, hulle het ten volle op Jehovah vertrou en sy instruksies gevolg. Wat was die gevolg? Die verslag sê: “Die oomblik toe die priesters se voete aan die water geraak het, het die rivier ophou vloei, . . . en die priesters het in die droë rivierbedding naby Jerigo gestaan terwyl die res deurgegaan het” (Jos. 3:12-17, Contemporary English Version). Stel jou voor hoe aanmoedigend dit moes gewees het om te sien hoe daardie woeste waters opdam! Ja, die Israeliete se geloof in Jehovah is versterk omdat hulle sy instruksies vertrou het.

Sal jy vertroue toon soos dié wat Jehovah se volk in Josua se dag getoon het? (Sien paragrawe 17, 18)

18 Jehovah verrig weliswaar nie sulke wonderwerke ten behoewe van sy hedendaagse volk nie, maar hy seën wel hulle dade van geloof. God se werkende krag stel hulle in staat om die opdrag uit te voer om die Koninkryksboodskap wêreldwyd te verkondig. En Jehovah se vernaamste Getuie, die verrese Christus Jesus, het sy dissipels verseker dat hy hulle in hierdie belangrike werk sou ondersteun deur te sê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies . . . Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:19, 20). Baie Getuies wat skaam of teruggetrokke was, kan self getuig dat God se heilige gees hulle die moed gegee het om in die veldbediening met vreemdelinge te praat.—Lees Psalm 119:46; 2 Korintiërs 4:7.

19. Waarvan kan ons, ondanks ons beperkings, seker wees?

19 Party broers en susters het groot fisiese beperkings weens siekte of bejaardheid. Tog kan hulle seker wees dat “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” die omstandighede van elke ware Christen verstaan (2 Kor. 1:3). Hy waardeer alles wat ons doen om Koninkryksbelange te bevorder. Terwyl ons alles doen wat ons omstandighede toelaat, moet ons in gedagte hou dat dit hoofsaaklik ons geloof in Christus se losprys is wat tot ons redding sal lei.—Heb. 10:39.

20, 21. Wat is ’n paar maniere waarop ons vertroue in Jehovah kan toon?

20 Ons aanbidding behels dat ons ons tyd, energie en materiële middele in die volste mate moontlik in God se diens benut. Ja, ons wil “die werk van ’n evangeliedienaar” met ons hele hart doen (2 Tim. 4:5). Trouens, ons doen dit graag omdat dit ander help om “tot juiste kennis van die waarheid [te] kom” (1 Tim. 2:4). Dit is duidelik dat dit ons geestelik ryk maak wanneer ons Jehovah eer en loof (Spr. 10:22). En dit help ons om ’n onverbreeklike band van vertroue met ons Skepper te vorm.—Rom. 8:35-39.

21 Soos ons bespreek het, vertrou ons nie outomaties op Jehovah om ons wyse raad te gee nie; ons moet daaraan werk om sulke vertroue op te bou. Vertrou dus op Jehovah deur middel van gebed. Peins oor hoe Jehovah sy wil in die verlede uitgevoer het en hoe hy dit in die toekoms sal doen. En hou aan om in Jehovah vertroue op te bou deur middel van dade van aanbidding. Ja, Jehovah se herinneringe sal tot in alle ewigheid daar wees. En as jy daarop ag slaan, kan jy vir ewig lewe!