Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die pionierdiens versterk ons verhouding met God

Die pionierdiens versterk ons verhouding met God

“Dit is goed om ons God met melodieë te besing.”—PS. 147:1.

1, 2. (a) Watter uitwerking kan dit hê as ons aan ’n geliefde dink en van hom praat? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Watter vrae sal ons bespreek?

WANNEER ons aan ’n geliefde dink en van daardie persoon praat, kan dit ons band met hom versterk. Dit geld ook vir ons verhouding met Jehovah God. As ’n herder het Dawid baie nagte na die sterrehemel opgekyk en oor hulle onvergelyklike Skepper gepeins. Hy het geskryf: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink, en die mensekind dat u vir hom sorg?” (Ps. 8:3, 4). En toe die apostel Paulus gedink het aan hoe Jehovah se voorneme in verband met geestelike Israel op ’n wonderbaarlike manier in vervulling gegaan het, het hy uitgeroep: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis!”—Rom. 11:17-26, 33.

2 Terwyl ons aan die bediening deelneem, dink ons aan Jehovah en praat ons van hom. Dit het ’n positiewe uitwerking. Baie vir wie dit moontlik is om in die voltydse bediening te wees, het gevind dat dieper liefde vir Jehovah een van die seëninge is wat dit meebring om ’n groter aandeel aan die Koninkryksdiens te hê. Hetsy jy nou in die voltydse diens is of daardie doelwit nastreef, dink hieraan: Hoe kan die voltydse bediening jou verhouding met Jehovah versterk? As jy pionier, vra jou af: ‘Wat sal my help om in hierdie lonende vorm van diens te bly?’ As jy nog nie pionier nie, kan jy jou afvra: ‘Watter aanpassings kan ek maak sodat ek dit kan doen?’ Kom ons kyk na maniere waarop die voltydse diens ons verhouding met God kan versterk.

 DIE VOLTYDSE DIENS EN ONS VERHOUDING MET GOD

3. Watter uitwerking het dit op ons wanneer ons in die bediening oor toekomstige Koninkrykseëninge praat?

3 As ons toekomstige Koninkrykseëninge met ander bespreek, kom ons nader aan Jehovah. Watter teks gebruik jy graag in die huis-tot-huis-bediening? Is jou gunstelingteks dalk Psalm 37:10, 11; Daniël 2:44; Johannes 5:28, 29 of Openbaring 21:3, 4? Elke keer dat ons sulke beloftes met ander bespreek, word ons daaraan herinner dat ons vrygewige God werklik die gewer is van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”. Dit laat ons nader aan hom kom.—Jak. 1:17.

4. Waarom waardeer ons God se goedheid meer wanneer ons die geestelike armoede van ander sien?

4 Wanneer ons die geestelike armoede sien van diegene vir wie ons getuig, gee dit ons groter waardering vir die waarheid. Mense in die wêreld het geen betroubare leiding wat hulle kan help om suksesvol en gelukkig te wees nie. Die meeste bekommer hulle oor die toekoms en het geen hoop nie. Hulle soek na die betekenis van die lewe. Selfs die meeste godsdienstige mense het min kennis van die Skrif. Hulle is baie soos die mense van eertydse Nineve. (Lees Jona 4:11.) Wanneer ons ’n groter aandeel aan die bediening het, sien ons duideliker die kontras tussen die geestelike toestand van diegene vir wie ons getuig en die geestelike toestand van Jehovah se volk (Jes. 65:13). Ons word herinner aan Jehovah se goedheid omdat hy nie net in ons geestelike behoeftes voorsien nie, maar almal nooi om geestelik verkwik te word en ’n ware hoop te kry.—Op. 22:17.

5. Hoe laat dit ons oor ons eie probleme voel wanneer ons ander geestelik help?

5 As ons ander geestelik help, is dit vir ons makliker om nie deur ons persoonlike probleme oorweldig te word nie. Trisha, ’n gewone pionier, het dit besef toe haar ouers geskei het. Sy vertel: “Dit was een van die ontstellendste gebeurtenisse in my lewe.” Eendag, toe sy baie hartseer was en by die huis wou bly, het sy nietemin ’n Bybelstudie gaan hou met drie kinders wat baie moeilike huislike omstandighede gehad het. Hulle pa het hulle verlaat, en hulle ouer broer het hulle mishandel. Trisha sê: “Enige probleem of hartseer waarmee ek te kampe gehad het, was niks in vergelyking met hulle s’n nie. Gedurende die studie het hulle oë verhelder en het hulle gegiggel van opgewondenheid en vreugde. Daardie kinders was ’n gawe van Jehovah af, veral op daardie dag.”

6, 7. (a) Hoe word ons geloof versterk wanneer ons Bybelwaarhede aan ander leer? (b) Watter uitwerking het dit op ons waardering vir God se wysheid wanneer ons sien hoe Bybelstudente hulle lewe verbeter deur skriftuurlike beginsels toe te pas?

6 Wanneer ons Bybelwaarhede aan ander leer, bou dit ons geloof op. Aangaande party Jode wat nie toegepas het wat hulle ander geleer het nie, het die apostel Paulus geskryf: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie?” (Rom. 2:21). Hoe anders is pioniers van vandag tog! Hulle het oor die algemeen baie geleenthede om ander die waarheid te leer en Bybelstudies te hou. Om dit op doeltreffende wyse te doen, moet hulle vir elke studie voorberei en moontlik navorsing doen om vrae te beantwoord. ’n Pionier met die naam Janeen verduidelik: “Elke keer dat ek die geleentheid het om ander die waarheid te leer, voel ek dat hierdie waarhede al hoe dieper in my verstand en hart gegraveer word. Gevolglik stagneer my geloof nie, maar dit hou aan groei.”

7 Wanneer ons sien hoe Bybelstudente hulle lewe verbeter deur Bybelbeginsels toe te pas, gee dit ons groter waardering vir God se wysheid (Jes. 48:17, 18). Dít help ons weer om meer vasbeslote te wees om aan te  hou om hierdie beginsels in ons lewe toe te pas. Adrianna, nog ’n pionier, sê: “Mense kan ’n mislukking van hulle lewe maak wanneer hulle op hulle eie wysheid staatmaak. Maar wanneer hulle op Jehovah se wysheid begin vertrou, vind hulle onmiddellik daarby baat.” Phil sê eweneens: “’n Mens sien hoe Jehovah mense kan verander wat nie op hulle eie kon verander nie.”

8. Watter uitwerking het die goeie assosiasie van diegene saam met wie ons in die bediening werk, op ons?

8 Die goeie assosiasie van diegene saam met wie ons in die bediening werk, bou ons geestelik op (Spr. 13:20). Die meeste pioniers bring baie tyd saam met mede-evangeliedienaars in die bediening deur. Dit voorsien verdere geleenthede vir “wedersydse aanmoediging”. (Rom. 1:12; lees Spreuke 27:17.) ’n Pionier met die naam Lisa vertel: “By die werk heers daar dikwels ’n mededingende en jaloerse gees. ’n Mens word daagliks aan skinderpraatjies en vulgêre taal blootgestel. Almal wil suksesvol wees ongeag die koste. Soms word jy bespot as gevolg van jou Christelike gedrag. Maar dit is werklik opbouend om met mede-Christene in die bediening saam te werk. Wanneer ek aan die einde van die dag huis toe kom, voel ek verkwik, al is ek hoe moeg.”

9. Watter uitwerking het dit op die driedubbele tou van die huwelik as ons saam met ons huweliksmaat pionier?

9 As ons saam met ons huweliksmaat pionier, versterk dit die driedubbele tou van die huwelik (Pred. 4:12). Madeline, wat saam met haar man pionier, verduidelik: “Ek en my man kan gesels oor ons dag in die bediening of iets in ons Bybellees wat ons in die bediening kan toepas. Elke jaar wat ons saam pionier, raak ons verhouding hegter.” Trisha sê eweneens: “Ons albei lê  ons daarop toe om nie skuld te maak nie, en daarom stry ons nie oor geld nie. Ons het dieselfde velddiensrooster en is dus baie betrokke by mekaar se herbesoeke en Bybelstudies, en dit help ons om nader aan mekaar en aan Jehovah te kom.”

Om in die voltydse diens te wees, lei tot ’n bevredigende lewe (Sien paragraaf 9)

10. Watter uitwerking het dit op ons vertroue in Jehovah wanneer ons die Koninkryk eerste stel en God se ondersteuning ondervind?

10 Ons bou groter vertroue in Jehovah op wanneer ons Koninkryksbelange eerste stel, Jehovah se ondersteuning ondervind en sien hoe hy ons gebede verhoor. In ’n mate geld dit vir alle lojale Christene. Maar diegene wat in die voltydse diens is, vind dat vertroue op Jehovah hulle kan help om in die pionierdiens te bly. (Lees Matteus 6:30-34.) Curt, wat ’n pionier en ’n waarnemende kringopsiener is, het ingestem om ’n gemeente te besoek wat twee en ’n half uur van sy huis af is. Hy en sy vrou, ook ’n pionier, het net genoeg petrol in hulle motor gehad om by die gemeente uit te kom, maar nie genoeg om terug te keer nie. En hy sou eers ’n week later sy salaris ontvang. Curt sê: “Ek het begin twyfel of ek die regte besluit geneem het.” Hulle het gebid, en toe het hulle besluit om die toewysing te aanvaar in die vertroue dat God in hulle behoeftes sal voorsien. Net toe hulle wou vertrek, het ’n suster hulle besoek en gesê dat sy vir hulle ’n geskenk het. Dit was die presiese bedrag wat hulle nodig gehad het. Curt sê: “Wanneer ’n mens kort-kort sulke ondervindinge het, is dit maklik om Jehovah se hand te sien.”

11. Wat is ’n paar van die seëninge wat die pionierdiens meebring?

11 Ja, wanneer pioniers hulle in Jehovah se diens inspan en ’n intieme verhouding met hom nastreef, het hulle al dikwels gevind dat hulle ‘ingehaal’ word deur ’n blykbaar eindelose stroom seëninge (Deut. 28:2). Maar die pionierdiens het nogtans uitdagings. Nie een van God se knegte kan die probleme wat Adam se opstand veroorsaak het, heeltemal vryspring nie. Hoewel party pioniers ’n ruk lank moes ophou pionier, kan die uitdagings van die pionierdiens dikwels die hoof gebied word of selfs vermy word. Wat kan pioniers help om in hulle spesiale vorm van diens te volhard?

HOE OM IN DIE VOLTYDSE DIENS TE BLY

12, 13. (a) Wat moet ’n pionier doen as hy sukkel om aan die uurvereiste te voldoen? (b) Waarom moet daaglikse Bybellees, persoonlike studie en bepeinsing deel van ’n pionier se program wees?

12 Die meeste pioniers het ’n baie vol program. Dit kan ’n uitdaging wees om alles gedaan te kry, en daarom is dit belangrik om goed georganiseerd te wees (1 Kor. 14:33, 40). As ’n pionier sukkel om aan die uurvereiste te voldoen, moet hy dalk weer kyk na hoe hy sy tyd gebruik (Ef. 5:15, 16). Hy kan hom afvra: ‘Hoeveel tyd bestee ek in werklikheid aan ontspanning of stokperdjies? Moet ek meer selfdissipline aan die dag lê? Kan ek my werkrooster aanpas?’ Enige Christen sal erken dat dit maklik is om al hoe meer dinge by ons program te voeg; daarom moet diegene wat in die voltydse diens is, hulle program gereeld in oënskou neem en aanpassings maak indien nodig.

13 Daaglikse Bybellees, persoonlike studie en bepeinsing moet deel van ’n pionier se program wees. ’n Pionier het dus selfdissipline nodig sodat minder belangrike bedrywighede nie inbreuk maak op die tyd wat hy vir hierdie noodsaaklike dinge opsygesit het nie (Fil. 1:10). Byvoorbeeld, stel jou voor dat hy ná ’n lang dag in die bediening by die huis aankom. Hy wil die aand gebruik om vir die vergadering voor te berei. Maar eers lees hy sy pos. Dan skakel hy die rekenaar aan en lees en beantwoord hy sy e-posse. Terwyl hy aanlyn is, besoek hy ’n webwerf om te sien of die prys afgekom het van ’n item wat hy wil koop. Voor hy hom kom kry, het byna twee uur verloop en het hy  nog nie met sy voorbereiding begin nie. Waarom is dit ’n probleem? Professionele atlete moet na hulle liggaam omsien as hulle ’n lang loopbaan wil hê. Net so het pioniers ’n goeie roetine van persoonlike studie nodig om hulle geestelik op te bou as hulle in die voltydse diens wil volhard.—1 Tim. 4:16.

14, 15. (a) Waarom moet pioniers hulle lewe eenvoudig hou? (b) Wat moet ’n pionier doen as hy probleme ondervind?

14 Suksesvolle pioniers probeer hard om hulle lewe eenvoudig te hou. Jesus het sy dissipels aangespoor om ’n eenvoudige oog te hê (Matt. 6:22). Hy het sy lewe eenvoudig gehou sodat hy sy bediening kon uitvoer sonder om afgelei te word. Hy het gesê: “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Matt. 8:20). ’n Pionier wat uit Jesus se voorbeeld wil leer, moet in gedagte hou: Hoe meer materiële dinge hy besit, hoe meer sal hy hê om in stand te hou, te herstel of te vervang.

15 Pioniers besef dat hulle nie hierdie diensvoorreg geniet omdat hulle dit meer as ander verdien nie. Dit is slegs danksy God se onverdiende goedhartigheid dat ons enige gawe of diensvoorreg kan hê. Om in die pionierdiens te bly, moet ’n persoon dus op Jehovah vertrou (Fil. 4:13). Daar sal uitdagings en probleme wees (Ps. 34:19). Wanneer dit gebeur, moet pioniers hulle tot Jehovah wend vir leiding en hom die geleentheid gee om hulle te help, eerder as om gou hulle diensvoorreg prys te gee. (Lees Psalm 37:5.) Namate hulle God se liefdevolle hulp ervaar, sal hulle al hoe nader kom aan hom as hulle sorgsame hemelse Vader.—Jes. 41:10.

KAN JY DIE PIONIERDIENS BETREE?

16. Wat moet jy doen as jy wil pionier?

16 As jy die seëninge wil ondervind wat diegene in die voltydse diens geniet, moet jy Jehovah van jou begeerte vertel (1 Joh. 5:14, 15). Praat met diegene wat pionier. Stel progressiewe doelwitte wat jou sal help om ’n pionier te word. Dit is wat Keith en Erika gedoen het. Hulle het voltyds gewerk, en soos baie egpare van hulle ouderdom, het hulle kort nadat hulle getroud is, ’n huis en ’n nuwe motor gekoop. Hulle sê: “Ons het gedink dat daardie dinge vir ons tevredenheid sou meebring—maar dit het nie.” Toe Keith sy werk verloor het, het hy as ’n hulppionier gedien. Hy vertel: “Die pionierdiens het my laat besef hoeveel vreugde die bediening verskaf.” Hulle het vriende gemaak met ’n pionieregpaar wat hulle gehelp het om te sien watter vreugde dit meebring om ’n eenvoudige lewe te lei en te pionier. Wat het Keith en Erika gedoen? “Ons het ’n lys gemaak van ons geestelike doelwitte, dit teen ons yskas vasgeplak en ’n regmerkie langs elke doelwit gemaak wanneer ons dit bereik het.” Mettertyd kon hulle die pionierdiens betree.

17. Waarom sal dit verstandig wees om te sien of jy jou program of lewenswyse kan aanpas sodat jy kan pionier?

17 Kan jy begin pionier? As jy nie nou sien hoe dit moontlik is nie, kan jy alles in jou vermoë doen om nader aan Jehovah te kom deur ’n volle aandeel aan die bediening te hê. Nadat jy jou situasie biddend ondersoek het, sal jy dalk vind dat ’n paar aanpassings in jou program of lewenswyse dit vir jou moontlik sal maak om te pionier. As jy kan pionier, sal die vreugdes wat jy sal smaak, enige opofferings wat jy moet maak, ver oortref. Jy sal groter tevredenheid hê omdat jy Koninkryksbelange bo jou eie stel (Matt. 6:33). Jy sal die geluk ondervind wat dit meebring om aan ander te gee. Daarbenewens sal jy meer geleenthede hê om aan Jehovah te dink en van hom te praat, wat jou liefde vir hom sal vergroot en aan hóm vreugde sal verskaf.