Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Watter uitwerking het kleur op jou?

Watter uitwerking het kleur op jou?

Wanneer jy om jou kyk, werk jou oog en jou brein saam om inligting te versamel. Jy sien ’n vrug en besluit of jy dit wil eet of nie. Jy kyk na die lug en dink dat dit nie vandag sal reën nie. Jy sien die woorde wat jy nou lees en weet wat dit beteken. Eintlik is dit kleur wat ’n uitwerking op jou het. Werklik?

Die kleur van die vrug wat jy gesien het, help jou om te bepaal of dit ryp is en lekker sal smaak. Die kleur van die lug en wolke help jou om te weet wat die weer inhou. Terwyl jy die woorde van hierdie artikel lees, is jou oë gemaklik met die kleurkontras tussen die teks en die agtergrond. Ja, jy kom dit dalk nie eers agter nie, maar jy maak voortdurend van kleur gebruik om jou te help om inligting oor die wêreld om jou te verwerk. Kleur het egter ook ’n uitwerking op jou emosies.

KLEUR EN JOU EMOSIES

Terwyl jy verby die rakke in ’n winkel stap, is daar oral om jou artikels wat so verpak is dat dit jou oog vang. Hetsy jy dit besef of nie, adverteerders doen moeite om kleure en kleurkombinasies te kies wat by jou spesifieke begeertes, jou geslag en jou ouderdomsgroep pas. Binnehuisversierders, klereontwerpers en kunstenaars weet ook dat kleure ’n emosionele reaksie kan uitlok.

Mense sal dalk kleure op verskillende maniere interpreteer weens die plaaslike kultuur en gebruike. Byvoorbeeld, party mense in Asië verbind rooi met voorspoed en feesviering, maar in dele van Afrika is rooi die kleur van rou. Sekere kleure lok egter dieselfde emosionele reaksie by verskillende mense uit, ongeag hoe hulle grootgeword het. Kom ons kyk na drie kleure en die uitwerking wat dit op jou kan hê.

ROOI word baie maklik raakgesien. Rooi word dikwels verbind met energie, oorlog en gevaar. Dit is ’n kleur wat diep op die emosies inwerk en wat ’n mens se metabolisme kan versnel, jou vinniger kan laat asemhaal en jou bloeddruk kan laat styg.

Die Hebreeuse woord vir “rooi” wat in die Bybel gebruik word, is afkomstig van ’n woord wat “bloed” beteken. Die Bybel gebruik helderrooi, of skarlaken, om ’n onvergeetlike beeld te skep van ’n moorddadige prostituut wat in purper en skarlaken geklee is en op “’n skarlakenkleurige wilde dier . . . vol lasterlike name” ry.—Openbaring 17:1-6.

GROEN lok ’n teenoorgestelde reaksie as rooi uit, want dit vertraag ’n mens se metabolisme en het ’n kalmerende uitwerking. Groen is ’n rustige kleur en word dikwels verbind met kalmte. Ons voel ontspanne wanneer ons groen tuine en heuwels sien. Die skeppingsverslag in Genesis sê dat God groen gras en plante vir die mensdom voorsien het.—Genesis 1:11, 12, 30.

WIT word dikwels verbind met lig, veiligheid en reinheid. Dit word ook verbind met goedheid, onskuld en suiwerheid. Wit is die kleur wat die meeste in die Bybel genoem word. In visioene word mense en engele uitgebeeld in wit klere, wat regverdigheid en geestelike reinheid beklemtoon (Johannes 20:12; Openbaring 3:4; 7:9, 13, 14). Wit perde met ruiters  wat in wit, skoon linne geklee is, simboliseer regverdige oorlogvoering (Openbaring 19:14). God gebruik wit om te beklemtoon dat hy gewillig is om sondes te vergewe: “Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word.”—Jesaja 1:18.

KLEUR AS ’N GEHEUEHULP

Die gebruik van kleur in die Bybel toon dat God insig het in die mens se emosionele reaksie op kleur. Die Bybelboek Openbaring voorspel byvoorbeeld wat die mens tans ondervind, insluitende oorlog, hongersnood en onnatuurlike dood weens voedseltekorte en pessiektes. Om ons te help om dit te onthou, stel ’n treffende visioen ons bekend aan ruiters op perde—nie net gewone perde nie, maar perde van verskillende kleure.

Die eerste perd is spierwit en simboliseer die regverdige oorlogvoering van Christus Jesus. Daarna sien ons ’n vuurrooi perd, wat oorlogvoering tussen nasies voorstel. Hierdie perd word gevolg deur ’n onheilspellende swart perd, wat hongersnood afbeeld. Dan sien ons ’n “vaal perd; en die een wat daarop sit, het die naam Dood gehad” (Openbaring 6:1-8). Die kleur van elke perd kan ’n emosionele reaksie by ons uitlok wat pas by die simboliese betekenis van die perd. Ons kan hierdie perde van verskillende kleure en wat hulle in ons dag voorstel, maklik onthou.

Daar is baie voorbeelde in die Bybel waar kleur gebruik word om ’n helder prentjie te skilder van wat gesê word. Ja, die Skepper van lig, kleur en die menslike oog gebruik kleur op meesterlike wyse as ’n onderrigmiddel om vir lesers verstaanbare en onvergeetlike beelde te skilder. Kleur help ons om inligting te versamel en te verwerk. Kleur het ’n uitwerking op ons emosies. Kleur kan ons help om belangrike begrippe te onthou. Kleur is ’n liefdevolle gawe van ons Skepper en help ons om die lewe te geniet.