Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | LEUENS WAT DIT MOEILIK MAAK OM GOD LIEF TE HÊ

Die leuen dat God ’n verborgenheid is

Die leuen dat God ’n verborgenheid is

WAT BAIE MENSE GLO

Die Christelike godsdiens “in sy drie vernaamste vorme, Rooms-Katolisisme, Oosters-Ortodoksie en Protestantisme, erken een God in drie Persone: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Volgens die Christelike teologie is dit nie ’n erkenning van drie gode nie, maar dat hierdie drie persone in wese een is.”—The New Encyclopædia Britannica.

DIE WAARHEID VOLGENS DIE BYBEL

Jesus, die Seun van God, het nooit gesê dat hy gelyk is aan sy Vader of van dieselfde wese is as hy nie. Hy het eerder gesê: “Ek [gaan] na die Vader toe . . . , want die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Hy het ook vir een van sy volgelinge gesê: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader en na my God en julle God.”—Johannes 20:17.

Die heilige gees is nie ’n persoon nie. Vroeë Christene is “met heilige gees vervul”, en Jehovah het gesê: “Ek [sal] van my gees op elke soort vlees uitstort” (Handelinge 2:1-4, 17). Die heilige gees maak nie deel uit van ’n Drie-eenheid nie. Dit is God se werkende krag.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Die Drie-eenheid, verduidelik die Katolieke geleerdes Karl Rahner en Herbert Vorgrimler, “sou nie sonder openbaring bekend kon wees nie en kan selfs ná openbaring nie ten volle verstaan word nie”. Kan jy werklik iemand liefhê wat jy glad nie kan leer ken of verstaan nie? Die Drie-eenheidsleer veroorsaak dus dat mense God nie kan leer ken of liefhê nie.

Marco, wat in ’n vorige artikel aangehaal is, het gemeen dat die Drie-eenheid dit moeilik maak om nader aan God te kom. “Ek het gedink dat God sy identiteit vir my verberg”, sê hy, “en dit het gemaak dat hy selfs nog afsydiger, ontoegankliker en ’n groter verborgenheid vir my was.” Maar “God is nie ’n God van verwarring nie” (1 Korintiërs 14:33, American Standard Version). Hy verberg nie sy identiteit vir ons nie. Hy wil hê dat ons hom moet ken. Jesus het gesê: “Ons aanbid wat ons ken.”—Johannes 4:22.

“Toe ek geleer het dat God nie deel is van ’n Drie-eenheid nie”, sê Marco, “kon ek uiteindelik ’n persoonlike verhouding met hom aanknoop.” As ons Jehovah as ’n afsonderlike Persoon beskou, en nie as ’n geheimsinnige vreemdeling nie, is dit baie makliker om hom lief te hê. Die Bybel sê: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.”—1 Johannes 4:8.