Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | LEUENS WAT DIT MOEILIK MAAK OM GOD LIEF TE HÊ

Die waarheid kan jou vrymaak

Die waarheid kan jou vrymaak

Jesus het eendag in Jerusalem oor sy Vader, Jehovah, gepraat en die valse godsdiensleiers van sy dag aan die kaak gestel (Johannes 8:12-30). Wat hy by daardie geleentheid gesê het, toon hoe ons vandag gewilde opvattings oor God kan ondersoek. Jesus het gesê: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:31, 32.

“[Bly] in my woord.” Jesus stel hier die standaard waarvolgens ’n mens kan bepaal of godsdiensleringe “die waarheid” is. Wanneer jy iets hoor wat oor God gesê word, moet jy jou afvra: ‘Stem dit ooreen met Jesus se woorde en die res van die Heilige Skrif?’ Dit sal goed wees as jy die mense navolg wat na die apostel Paulus se woorde geluister het en “die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek [het] of hierdie dinge [die dinge wat hulle geleer het] so was”.—Handelinge 17:11.

Marco, Rosa en Raymonde, wat almal in die eerste artikel van hierdie reeks aangehaal is, het hulle opvattings sorgvuldig ondersoek deur die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Wat het hulle geleer?

Marco: “Ons Bybelonderrigter het die Skrif gebruik om al my en my vrou se vrae te beantwoord. Ons liefde vir Jehovah het begin toeneem, en as man en vrou het ons ook nader aan mekaar gekom!”

Rosa: “Ek het aanvanklik gedink dat die Bybel niks meer is as ’n filosofiese boek wat God deur middel van menslike redenasies probeer verduidelik nie. Maar ek het mettertyd die Bybel se antwoorde op my vrae gevind. Nou is Jehovah vir my ’n werklike persoon. Hy is Iemand wat ek kan vertrou.”

Raymonde: “Ek het God gevra om my te help om van hom te leer. Kort daarna het ek en my man die Bybel begin studeer. Ons het uiteindelik die waarheid omtrent Jehovah geleer! Ons was baie bly toe ons uitvind watter soort God hy is.”

Die Bybel lê nie net leuens oor God bloot nie; dit openbaar ook die waarheid oor sy aantreklike eienskappe. Dit is sy geïnspireerde Woord, en dit help ons om “die dinge [te] ken wat goedgunstig deur God aan ons gegee is” (1 Korintiërs 2:12). Vind gerus self uit hoe die Bybel algemene maar belangrike vrae oor God, sy voorneme en ons toekoms kan beantwoord. Lees die antwoorde op party van hierdie vrae onder “Bybelleringe > Antwoorde op Bybelvrae” by www.pr418.com/af. Jy kan ook ’n Bybelstudie op hierdie webwerf aanvra of een van Jehovah se Getuies persoonlik vra om die Bybel met jou te studeer. Ons is seker dat so ’n studie jou sal laat besef dat dit makliker is om God lief te hê as wat jy ooit gedink het moontlik is.