Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Herders, volg die grootste Herders na

Herders, volg die grootste Herders na

“Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg.”—1 PET. 2:21.

1, 2. (a) Wat is die gevolg wanneer daar goed na skape omgesien word? (b) Waarom was baie mense in Jesus se dag soos skape sonder ’n herder?

SKAPE floreer wanneer ’n herder opreg belangstel in die welsyn van sy kudde. Volgens ’n handleiding oor skaapboerdery “sal die man wat die kudde net laat wei sonder om verdere aandag daaraan te gee, binne ’n paar jaar waarskynlik net ’n klomp sieklike en niewinsgewende skape oorhê.” Maar wanneer die herder goed na die skape omsien, sal sy kudde goed vaar.

2 Die gehalte van die sorg en aandag wat herders van die kudde van God gee aan elke skaap wat aan hulle toevertrou is, sal die geestelike gesondheid van die hele gemeente beïnvloed. Jy onthou dalk dat Jesus innig jammer gevoel het vir die menigtes, want “hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matt. 9:36). Waarom was hulle in so ’n ellendige toestand? Omdat diegene wat die verantwoordelikheid gehad het om die volk in God se Wet te onderrig, hardvogtig, veeleisend en skynheilig was. Eerder as om die lede van hulle kudde te help en te versorg, het Israel se geestelike leiers “swaar vragte” op hulle skouers gesit.—Matt. 23:4.

3. Waarvan moet gemeentelike ouer manne bewus wees terwyl hulle hulle verantwoordelikheid as geestelike herders nakom?

3 Hedendaagse Christenherders—die aangestelde ouer manne—het dus ’n ernstige verantwoordelikheid. Die skape in die kudde waarna hulle omsien, behoort aan Jehovah en aan Jesus, wat na homself as “die goeie herder” verwys het (Joh. 10:11). Die skape is “met ’n prys gekoop” wat Jesus met sy eie “kosbare bloed” betaal het (1 Kor. 6:20; 1 Pet. 1:18, 19). Hy is so lief vir die skape dat hy sy lewe gewilliglik vir hulle opgeoffer het. Ouer manne moet altyd in gedagte hou dat hulle onderherders is, wat onderworpe is aan die toesig van God se liefdevolle Seun, Jesus Christus, “die groot herder van die skape”.—Heb. 13:20.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Hoe moet Christenherders die kudde dus behandel? Gemeentelede word aangespoor om “gehoorsaam [te wees] aan dié wat die leiding” onder hulle neem. Aan die ander kant word Christen- ouer manne vermaan om ‘nie baas te speel oor dié wat God se erfenis is nie’. (Heb. 13:17; lees 1 Petrus 5:2, 3.) Hoe kan aangestelde ouer manne dan die leiding neem sonder om oor die kudde baas te speel? Met ander woorde, hoe kan ouer manne in die behoeftes van die skape voorsien sonder om die gesag te oorskry wat God aan opsieners gegee het?

“IN SY BOESEM SAL HY HULLE DRA”

5. Wat leer ons uit die illustrasie in Jesaja 40:11 omtrent Jehovah?

5 Die profeet Jesaja het aangaande Jehovah gesê: “Soos ’n herder sal hy sy kudde laat wei. Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra. Dié wat soog, sal hy met sorg lei” (Jes. 40:11). Hierdie illustrasie dra die gedagte oor dat Jehovah besorg is oor die behoeftes van gemeentelede wat swak en kwesbaar is. Net soos ’n herder bewus is van die spesifieke behoeftes van elke skaap in sy kudde en gereedstaan om hulle te help, is Jehovah bewus van die behoeftes van elke gemeentelid en is hy bly om die nodige sorg te voorsien. Net soos ’n herder ’n pasgebore lam in die vou van sy kleed dra wanneer dit nodig is, sal Jehovah—“die Vader van tere barmhartighede”—ons deur tye van beproewing dra. Hy sal ons vertroos wanneer ons voor ’n groot toets te staan kom of in groot nood verkeer.—2 Kor. 1:3, 4

6. Hoe kan ’n ouer man as ’n geestelike herder Jehovah se voorbeeld volg?

6 Wat ’n wonderlike les kan ’n geestelike herder tog by ons hemelse Vader leer! Soos Jehovah, moet hy aandag skenk aan die behoeftes van die skape. As ’n ouer man bewus is van die probleme waarmee die skape te kampe het en watter spesifieke behoeftes onmiddellike aandag nodig het, sal hy die nodige aanmoediging en ondersteuning kan gee (Spr. 27:23). Dit is dus duidelik dat daar goeie kommunikasie tussen ’n ouer man en sy medegelowiges moet wees. Hoewel hy hulle reg op privaatheid respekteer, toon hy belangstelling in wat hy in die gemeente sien en hoor en stel hy hom liefdevol beskikbaar om ‘die swakkes by te staan’.—Hand. 20:35; 1 Tess. 4:11.

7. (a) Hoe is God se skape in die dae van Esegiël en Jeremia behandel? (b) Wat kan ons leer uit die feit dat Jehovah ontroue geestelike herders veroordeel het?

7 Let op die gesindheid van die herders van God se volk in die dae van Esegiël en Jeremia. Jehovah het hulle veroordeel omdat hulle veronderstel was om na sy skape om te sien, maar dit nie behoorlik gedoen het nie. Toe niemand oor die skape toesig gehou het nie, was die “skape vir al die wilde diere van die veld voedsel” en is hulle verstrooi. In plaas daarvan om die skape te voed, het daardie herders hulle uitgebuit en ‘hulleself gevoed’ (Eseg. 34:7-10; Jer. 23:1). God se veroordeling van daardie herders kan tereg toegepas word op die leiers van die Christendom. Maar dit beklemtoon ook hoe belangrik dit vir Christen- ouer manne is om Jehovah se kudde die nodige liefdevolle aandag te gee.

“EK HET VIR JULLE DIE VOORBEELD GESTEL”

8. Hoe het Jesus ’n uitstekende voorbeeld daarin gestel oor hoe om verkeerde gesindhede reg te stel?

8 Weens menslike onvolmaaktheid verstaan party van God se skape dalk nie heeltemal wat Jehovah van hulle verwag nie. Dalk tree hulle nie in ooreenstemming met skriftuurlike raad op nie of toon hulle optrede ’n gebrek aan geestelike volwassenheid. Hoe moet die ouer manne reageer? Hulle moet net so geduldig wees soos Jesus met sy dissipels was wanneer hulle herhaaldelik gestry het oor wie onder hulle die grootste in die Koninkryk sou wees. Jesus het nie ongeduldig met hulle geraak nie, maar het eerder aangehou om sy dissipels te leer en om hulle liefdevolle raad te gee oor hoe om nederig te wees (Luk. 9:46-48; 22:24-27). Deur hulle voete te was, het Jesus hulle ’n praktiese les geleer in nederigheid, ’n eienskap wat Christenopsieners moet openbaar.—Lees Johannes 13:12-15; 1 Pet. 2:21.

9. Watter gesindheid moes Jesus by sy dissipels regstel?

9 Jesus se beskouing van die rol van ’n geestelike herder het verskil van die beskouing wat Jakobus en Johannes eens gehad het. Die twee apostels het ’n vername posisie in die Koninkryk probeer verkry. Maar Jesus het hulle gesindheid reggestel deur te sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees” (Matt. 20:25, 26, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Die apostels moes die neiging weerstaan om oor hulle metgeselle ‘baas te speel’.

10. Hoe wil Jesus hê dat die ouer manne die kudde moet behandel, en watter voorbeeld het Paulus in hierdie verband gestel?

10 Jesus verwag dat ouer manne die kudde behandel soos hy dit behandel het. Hulle moet bereid wees om hulle metgeselle te dien, nie om as meesters oor hulle op te tree nie. Die apostel Paulus het hierdie nederige gesindheid geopenbaar, want hy het vir die ouer manne in Efese gesê: “Julle weet goed hoe ek, van die eerste dag dat ek die landstreek Asië betree het, die hele tyd by julle was en die Here as slaaf gedien het met die grootste ootmoed.” Die apostel wou hê dat daardie ouer manne ander op ’n opregte, nederige wyse moes help. Hy het gesê: “Ek het in alles vir julle getoon dat julle deur so te arbei die swakkes moet bystaan” (Hand. 20:18, 19, 35). Paulus het vir die Korintiërs gesê dat hy nie die meester oor hulle geloof is nie. Hy was eerder ’n nederige medewerker vir hulle vreugde (2 Kor. 1:24). Paulus het ’n goeie voorbeeld vir hedendaagse ouer manne gestel deur nederigheid aan die dag te lê en hard te werk.

‘HOU STEWIG VAS AAN DIE BETROUBARE WOORD’

11, 12. Hoe sal ’n ouer man dalk ’n medegelowige help om ’n besluit te neem?

11 ’n Gemeentelike ouer man moet ‘stewig aan die betroubare woord vashou met betrekking tot sy onderrigkuns’ (Tit. 1:9). Maar hy doen dit “in ’n gees van sagmoedigheid” (Gal. 6:1). Eerder as om sy metgeselle in die gemeente te dwing om op ’n sekere manier op te tree, dink ’n goeie geestelike herder aan maniere waarop hy hulle hart kan bereik. ’n Ouer man sal dalk die aandag vestig op die skriftuurlike beginsels wat ’n broer moet oorweeg wanneer hy ’n belangrike besluit moet neem. Hy sal moontlik materiaal oor die onderwerp met hom bespreek wat in ons publikasies verskyn het. Hy sal die persoon miskien ook aanspoor om te dink aan hoe verskillende handelswyses sy verhouding met Jehovah sal beïnvloed. Die ouer man kan beklemtoon hoe belangrik dit is om God se leiding in gebed te soek voordat ’n besluit geneem word (Spr. 3:5, 6). Nadat die ouer man die saak met die medegelowige bespreek het, sal hy hom toelaat om sy eie besluit te neem.—Rom. 14:1-4.

12 Die enigste gesag wat Christenopsieners het, kom uit die Bybel. Dit is dus noodsaaklik dat hulle die Bybel op ’n vaardige wyse gebruik en bly by wat dit sê. As ouer manne dít doen, sal dit hulle help om nooit hulle gesag te misbruik nie. Hulle is immers net onderherders, en elke gemeentelid sal teenoor Jehovah en Jesus aanspreeklik wees vir die besluite wat hy of sy neem.—Gal. 6:5, 7, 8

“VOORBEELDE VIR DIE KUDDE”

13, 14. Op watter gebiede moet ’n ouer man ’n voorbeeld vir die kudde wees?

13 Nadat die apostel Petrus die ouer manne in die gemeente vermaan het om nie ‘baas te speel oor dié wat aan hulle toevertrou is nie’, het hy hulle aangespoor om ‘voorbeelde vir die kudde te word’ (1 Pet. 5:3; vtn. in NW). Hoe kan ’n ouer man ’n voorbeeld vir die kudde wees? Kyk na twee van die vereistes waaraan ’n man moet voldoen wat “na ’n opsienersamp streef”. Hy moet “gesond van verstand” wees en moet “aan sy eie huisgesin goeie leiding gee”. As ’n ouer man ’n gesin het, moet hy op ’n voorbeeldige wyse aan sy gesin leiding gee, want “as ’n man immers nie weet hoe om aan sy eie huisgesin leiding te gee nie, hoe sal hy vir God se gemeente sorg?” (1 Tim. 3:1, 2, 4, 5). Om vir ’n opsienersamp te kwalifiseer, moet ’n man gesond van verstand wees in die sin dat hy goddelike beginsels goed verstaan en weet hoe om dit in sy lewe toe te pas. Hy lê goeie oordeel aan die dag en neem nie haastige besluite nie. Wanneer gemeentelede hierdie eienskappe in die ouer manne sien, boesem dit by hulle vertroue in.

Ouer manne help hulle gesinne om vir die bediening voor te berei (Sien paragraaf 13)

14 Nog ’n gebied waarop opsieners ’n goeie voorbeeld vir hulle mede-Christene stel, is deur die leiding in velddiens te neem. In hierdie verband het Jesus die voorbeeld vir opsieners gestel. Om die goeie nuus van die Koninkryk bekend te maak, was ’n belangrike deel van Jesus se aardse bedrywighede. Hy het vir sy dissipels gewys hoe om hierdie werk te doen (Mark. 1:38; Luk. 8:1). Hoe aanmoedigend is dit tog vir verkondigers in ons dag om skouer aan skouer saam met die ouer manne te preek, hulle ywer vir hierdie lewensreddende werk te sien en uit hulle onderrigmetodes te leer! Die opsieners se ywerige vasbeslotenheid om ten spyte van hulle besige rooster hulle tyd en energie te gebruik om die goeie nuus te verkondig, spoor die hele gemeente aan om soortgelyke ywer te openbaar. Ouer manne kan ook vir hulle broers ’n goeie voorbeeld stel deur vir gemeentelike vergaderinge voor te berei, kommentaar te lewer en deel te neem aan ander bedrywighede, soos om die Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou.—Ef. 5:15, 16; lees Hebreërs 13:7.

Opsieners stel die voorbeeld in die veldbediening (Sien paragraaf 14)

“ONDERSTEUN DIE SWAKKES”

15. Wat is ’n paar redes waarom ouer manne herdersbesoeke doen?

15 ’n Goeie herder is gou om op te tree om ’n skaap te help wat beseer is of siek word. Net so moet die ouer manne onmiddellik aandag skenk aan enigiemand in die gemeente wat ly of geestelike hulp nodig het. Die bejaardes en siekes sal dalk hulp nodig hê wat hulle fisiese behoeftes betref, maar hulle het veral geestelike hulp en aanmoediging nodig (1 Tess. 5:14). Jong gemeentelede kom dalk voor uitdagings te staan, soos om “die begeertes wat eie is aan die jeug”, te weerstaan (2 Tim. 2:22). Herderswerk sluit dus in dat ouer manne gemeentelede van tyd tot tyd besoek sodat hulle kan verstaan voor watter situasies die kudde te staan kom en hulle met gepaste skriftuurlike raad kan aanmoedig. As sulke kwessies vroegtydig hanteer word, kan baie probleme opgelos word voordat dit ernstig word.

16. Watter hulp kan die ouer manne verleen wanneer ’n gemeentelid geestelike hulp nodig het?

16 Gestel ’n probleem word so ernstig dat die geestelike gesondheid van ’n gemeentelid in gevaar is. “Is iemand onder julle siek?”, het die Bybelskrywer Jakobus gevra. “Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is, gesond maak, en Jehovah sal hom oprig. Ook as hy sondes gepleeg het, sal dit hom vergewe word” (Jak. 5:14, 15). Selfs as die persoon wat geestelik siek is, nie “die ouer manne . . . roep” nie, moet hulle hom help sodra hulle bewus word van sy situasie. Wanneer die ouer manne saam met en vir hulle broers bid en hulle in moeilike tye ondersteun, is hulle geestelik verkwikkend en aanmoedigend vir diegene onder hulle sorg.—Lees Jesaja 32:1, 2.

17. Wat kan die gevolg wees wanneer ouer manne “die groot herder” navolg?

17 Christenherders probeer om “die groot herder”, Jesus Christus na te volg in alles wat hulle in Jehovah se organisasie doen. Die kudde vind grootliks baat by die geestelike hulp van hierdie verantwoordelike manne en hou aan om te floreer. Ons is dankbaar hiervoor, en dit beweeg ons om ons onvergelyklike Herder, Jehovah, te loof.