Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | HET ONS GOD NODIG?

Waarom ontstaan die vraag?

Waarom ontstaan die vraag?

“Kom jy goed klaar sonder God? Miljoene sê ja.” Dit was onlangs die boodskap op ’n reklamebord waarvoor ’n ateïstiese groep betaal het. Hulle meen klaarblyklik dat hulle God nie nodig het nie.

Dan is daar weer baie wat sê dat hulle aan God glo, maar wanneer hulle besluite neem, is dit asof hy nie bestaan nie. Salvatore Fisichella, ’n Katolieke aartsbiskop, het van lidmate van sy kerk gesê: “Mense wat vandag na ons kyk, sal waarskynlik nie besef dat ons Christene is nie, want ons lewenswyse is dieselfde as dié van ongelowiges.”

Party mense is so besig dat hulle nie tyd het om aan God te dink nie. Hulle meen dat hy so ver weg of so onbereikbaar is dat hy nie ’n betekenisvolle rol in hulle lewe kan speel nie. As sulke mense hulle enigsins tot God wend, is dit slegs wanneer hulle in die moeilikheid is of iets nodig het—amper asof hy ’n kneg is wat altyd vir hulle moet regstaan.

Ander beoefen nie wat hulle kerk leer nie, miskien omdat hulle meen dat godsdiensleringe van min praktiese waarde is. Om net een voorbeeld te noem, 76 persent van die Katolieke in Duitsland glo dat dit aanvaarbaar is as ’n man en vrou saamwoon voordat hulle trou—’n beskouing wat in stryd is met die leringe van hulle kerk sowel as die Bybel (1 Korintiërs 6:18; Hebreërs 13:4). Katolieke is natuurlik nie die enigstes wat besef dat hulle lewenswyse nie ooreenkom met wat hulle kerk leer nie. Geestelikes van baie godsdienste kla dat hulle gemeentelede soos ateïste optree.

Hierdie voorbeelde lei logieserwys tot die vraag: Het ons God werklik nodig? Dit is glad nie ’n nuwe kwessie nie. Dit is reeds in die begin van die Bybel geopper. Om die antwoord op die vraag te vind, kan ons gerus ’n paar geskille ondersoek wat in die Bybelboek Genesis ontstaan het.