Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEER JOU KINDERS

Jesus Christus—’n Baba of ’n magtige koning?

Jesus Christus—’n Baba of ’n magtige koning?

In Desember sien baie mense oral in die wêreld prente of beelde van Jesus as ’n baba. Hy is in ’n krip, ’n groot bak waaruit diere hooi kan eet. Maar moet ons aan Jesus dink as net ’n baba? * Kom ons vind uit hoe ons eintlik aan hom moet dink. Ons kan dit doen deur te kyk na wat een aand met ’n groep herders in die weivelde naby Betlehem gebeur het.

’n Engel verskyn skielik aan die herders. Hy sê vir hulle: “Daar is vandag vir julle . . . ’n Redder gebore, wat Christus die Here is.” Die engel sê ook vir hulle dat hulle Jesus sal vind waar hy “in doeke toegedraai is en in ’n krip lê”. Dadelik verskyn daar baie ander engele, en hulle begin ‘God loof’.

Hoe sal jy voel as jy hoor hoe engele God loof?— Die herders is bly! “Laat ons dan tot in Betlehem gaan”, sê hulle, “en hierdie ding sien wat plaasgevind het.” Daar vind hulle “Maria sowel as Josef . . . en die kindjie wat in die krip lê”.

Kort daarna kom ander mense na Betlehem, waar Maria en Josef is. Wanneer die herders hulle vertel wat gebeur het, is hulle almal verwonderd. Is jy bly dat jy van al hierdie wonderlike dinge weet?— Ons almal wat lief is vir God, is bly daaroor. Kom ons kyk nou hoekom Jesus se geboorte mense so bly maak. Om dit te doen, moet ons teruggaan na die tyd voordat Maria getroud was.

Eendag kom ’n engel met die naam Gabriël na Maria toe. Hy belowe dat sy ’n baba sal hê en sê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.” Gabriël sê ook: “Hy sal [as koning] heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”

Maria vra hoe dit kan gebeur, want sy het nog nooit gemeenskap met ’n man gehad nie. Gabriël antwoord: “Krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word.” Om God se Seun uit die hemel te neem en sy lewe in Maria se baarmoeder te sit sodat hy later as ’n baba gebore kon word—dit was ’n groot wonderwerk!

Het jy al prente of tonele gesien van drie “wyse manne” wat saam met die herders by die baba Jesus is?— Wanneer dit Kersfeestyd is, sien ’n mens dit baie. Maar dit is nie heeltemal reg nie. Die “wyse manne” was eintlik sterrewiggelaars, en sterrewiggelary is verkeerd in God se oë. Kom ons kyk wat hulle gevind het toe hulle daar aankom. Die Bybel sê: “Toe hulle in die huis ingaan, het hulle die jong kindjie by sy moeder Maria gesien.” Jesus was toe nie meer ’n baba in ’n krip nie; hy was ’n kindjie wat by Josef en Maria in ’n huis gebly het!

Hoe het die sterrewiggelaars geweet waar Jesus is?— Hulle is deur ’n “ster” gelei, nie na Betlehem toe nie, maar eers na koning Herodes toe in Jerusalem. Die Bybel sê dat Herodes Jesus wou vind om hom dood te maak. Dink ’n bietjie hieroor. Wie dink jy het iets wat soos ’n ster gelyk het, gebruik om die sterrewiggelaars na Herodes toe te lei?— Dit was nie die ware God, Jehovah, nie, maar sy teenstander, of vyand, Satan die Duiwel!

Vandag wil Satan hê dat mense aan Jesus moet dink as net ’n hulpelose baba. Maar die engel Gabriël het vir Maria gesê: “Hy sal [as koning] heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.” Jesus regeer nou as Koning in die hemel, en hy sal binnekort al God se vyande vernietig. Dit is hoe ons aan Jesus moet dink, en ons moet ander daarvan vertel.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te spoor om sy gedagtes uit te spreek.