Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verwelkom Christus—Die glorieryke Koning!

Verwelkom Christus—Die glorieryke Koning!

“Gaan in u prag voort tot sukses.”—PS. 45:4.

1, 2. Waarom is Psalm 45 vir ons van belang?

’N GLORIERYKE koning ry ter wille van waarheid en regverdigheid en gaan uit om sy vyande te verslaan. Ná sy finale oorwinning trou hy met ’n lieflike bruid. Die koning word deur al die toekomstige geslagte heen onthou en geloof. Dit is die basiese tema van Psalm 45.

2 Die 45ste Psalm is egter baie meer as net ’n opwindende verhaal met ’n gelukkige einde. Die gebeurtenisse wat daarin gemeld word, is vir ons betekenisvol. Dit raak ons lewe nou, sowel as in die toekoms. Laat ons dus noukeurig aandag skenk terwyl ons hierdie psalm ondersoek.

“MY HART IS GEROER DEUR ’N AANGENAME SAAK”

3, 4. (a) Wat is “’n aangename saak” wat vir ons van belang is, en watter uitwerking kan dit op ons hart hê? (b) In watter sin is ons ‘werke in verband met ’n koning’, en hoe word ons tong soos ’n stif?

3 Lees Psalm 45:1. “’n Aangename saak” wat die hart van die psalmis raak en dit ‘roer’, hou verband met ’n koning. Die Hebreeuse werkwoord wat vertaal word as “is geroer”, het oorspronklik beteken “om uit te borrel”, of “te kook”. Hierdie saak het die psalmis se hart van entoesiasme laat oorborrel en het sy tong soos “die stif van ’n vaardige kopiïs” laat word.

4 Wat van ons? Die goeie nuus van die Messiaanse Koninkryk is ’n aangename saak wat ons hart raak. In 1914 het die Koninkryksboodskap besonder “aangenaam” geword. Van toe af hou die boodskap nie meer met ’n toekomstige Koninkryk verband nie, maar met ’n werklike regering wat nou in die hemel regeer. Dit is die “goeie nuus van die koninkryk” wat ons “in die hele bewoonde aarde verkondig . . . as ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). Word ons hart deur die Koninkryksboodskap “geroer”? Verkondig ons die goeie nuus van die Koninkryk met ywer? Soos in die geval van die psalmis, is ons “werke . . . in verband met ’n koning”—ons Koning Jesus Christus. Ons verkondig dat hy as die hemelse Koning van die Messiaanse Koninkryk gekroon is. Wat meer is, ons nooi almal—heersers en onderdane—om hulle aan sy koningskap te onderwerp (Ps. 2:1, 2, 4-12). En ons tong word soos “die stif van ’n vaardige kopiïs”, aangesien ons die geskrewe Woord baie in ons predikingswerk gebruik.

Ons verkondig vreugdevol die goeie nuus oor ons Koning, Jesus Christus

‘MINSAAMHEID IS OP DIE KONING SE LIPPE UITGESTORT’

5. (a) In watter opsigte was Jesus ‘mooi’? (b) Hoe is ‘minsaamheid op die Koning se lippe uitgestort’, en hoe kan ons sy voorbeeld probeer navolg?

5 Lees Psalm 45:2. Die Bybel sê baie min oor hoe Jesus gelyk het. As ’n volmaakte man was hy ongetwyfeld ‘mooi’. Maar wat hom besonder mooi gemaak het, was sy getrouheid aan Jehovah en sy onwrikbare onkreukbaarheid. Daarbenewens het Jesus “innemende woorde” gebruik toe hy die Koninkryksboodskap verkondig het (Luk. 4:22; Joh. 7:46). Probeer ons om sy voorbeeld in ons predikingswerk na te volg en om woorde te gebruik wat mense se hart sal raak?—Kol. 4:6.

6. Hoe het God Jesus “tot onbepaalde tyd” geseën?

6 Weens Jesus se heelhartige toegewydheid het Jehovah hom gedurende sy bediening op die aarde geseën en hom ná sy offerdood beloon. Die apostel Paulus het geskryf: “Toe hy [Jesus] hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal. Juis daarom het God hom ook tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader” (Fil. 2:8-11). Jehovah het Jesus “tot onbepaalde tyd” geseën deur hom tot onsterflike lewe op te wek.—Rom. 6:9.

DIE KONING WORD BO SY “METGESELLE” VERHEF

7. In watter opsigte het God Jesus meer as sy “metgeselle” gesalf?

7 Lees Psalm 45:6, 7Weens Jesus se diep liefde vir regverdigheid en sy haat vir enigiets wat sy Vader oneer kan aandoen, het Jehovah hom as Koning van die Messiaanse Koninkryk gesalf. Jesus is met “vreugdeolie” gesalf, meer as sy “metgeselle”, dit wil sê die konings van Juda uit die geslagslyn van Dawid. Hoe so? Eerstens is Jesus deur Jehovah self gesalf. Tweedens het Jehovah hom as Koning sowel as Hoëpriester gesalf (Ps. 2:2; Heb. 5:5, 6). Derdens is Jesus nie met olie gesalf nie, maar met heilige gees, en laastens is sy koningskap nie ’n aardse koningskap nie, maar ’n hemelse koningskap.

8. Waarom kan ons sê dat ‘God Jesus se troon is’, en waarom kan ons seker wees dat sy koningskap regverdig is?

8 In 1914 het Jehovah sy Seun in die hemel as sy Messiaanse Koning gekroon. ‘Die septer van sy koningskap is ’n septer van reg’, en daarom is die regverdigheid en onpartydigheid van sy heerskappy gewaarborg. Sy gesag is geldig, aangesien ‘God sy troon is’; dit wil sê, Jehovah is die grondslag van sy koningskap. Wat meer is, Jesus se troon sal “tot onbepaalde tyd” bly staan. Is jy nie trots om Jehovah te dien onder so ’n magtige Koning wat deur God aangestel is nie?

DIE KONING ‘GORD SY SWAARD AAN’

9, 10. (a) Wanneer het Christus sy swaard aangegord, en hoe het hy dit onmiddellik gebruik? (b) Hoe sal Christus sy swaard in die toekoms gebruik?

9 Lees Psalm 45:3. Jehovah beveel sy Koning om ‘sy swaard aan sy heup te gord’ en gee Jesus sodoende die gesag om oorlog te voer teen almal wat God se soewereiniteit teëstaan en om Sy oordele teen hulle te voltrek (Ps. 110:2). Omdat Christus ’n onsigbare Stryder-Koning is, word hy as “o magtige” aangespreek. Toe hy sy swaard in 1914 aangegord het, het hy die oorwinning oor Satan en sy demone behaal en hulle uit die hemel na die omgewing van die aarde neergeslinger.—Op. 12:7-9.

10 Dit was maar net die begin van die Koning se seëvierende tog. Hy moet nog “sy oorwinning . . . voltooi” (Op. 6:2). Jehovah se oordele moet nog aan al die elemente van Satan se stelsel op die aarde voltrek word, en Satan en sy demone moet verwyder word. Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, sal eerste uit die weg geruim word. Dit is Jehovah se voorneme om die politieke heersers te gebruik om hierdie goddelose “hoer” te vernietig (Op. 17:16, 17). Daarna sal die Stryder-Koning Satan se politieke stelsel tot niet maak. Christus, wat ook “die engel van die afgrond” genoem word, sal dan sy oorwinning voltooi deur Satan en sy demone in die afgrond te werp (Op. 9:1, 11; 20:1-3). Kom ons kyk hoe Psalm 45 hierdie opwindende gebeurtenisse voorspel het.

DIE KONING RY “TER WILLE VAN WAARHEID”

11. Hoe ry Christus “ter wille van waarheid”?

11 Lees Psalm 45:4. Die Stryder-Koning voer nie ’n oorlog van verowering om gebiede te beset en volke te onderwerp nie. Hy voer ’n regverdige oorlog met edele doelwitte. Hy ry “ter wille van waarheid en nederigheid en regverdigheid”. Die belangrikste waarheid wat verdedig moet word, is die feit dat Jehovah die Universele Soewerein is. Satan het die regmatigheid van Jehovah se heerskappy bevraagteken toe hy teen Hom in opstand gekom het. Van toe af word hierdie grondwaarheid betwis deur demone sowel as mense. Die tyd het nou aangebreek vir Jehovah se gesalfde Koning om uit te ry om die waarheid oor Jehovah se soewereiniteit eens en vir altyd te bevestig.

12. Hoe ry die Koning ‘ter wille van nederigheid’?

12 Die Koning ry ook ‘ter wille van nederigheid’. As God se enigverwekte Seun het hy ’n uitstekende voorbeeld gestel in nederigheid en lojale onderdanigheid aan sy Vader se soewereiniteit (Jes. 50:4, 5; Joh. 5:19). Alle lojale onderdane van die Koning moet sy voorbeeld navolg en hulle nederig in alle dinge aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp. Slegs diegene wat dit doen, sal toegelaat word om in God se beloofde nuwe wêreld te lewe.—Sag. 14:16, 17.

13. Hoe ry Christus ‘ter wille van regverdigheid’?

13 Christus ry ook ‘ter wille van regverdigheid’. Die regverdigheid wat die Koning verdedig, is “God se regverdigheid”—Jehovah se standaarde van wat reg en verkeerd is (Rom. 3:21; Deut. 32:4). Jesaja het aangaande die Koning Jesus Christus voorspel: “’n Koning sal vir regverdigheid regeer” (Jes. 32:1). Jesus se heerskappy sal die beloofde ‘nuwe hemele en nuwe aarde’ waarin ‘regverdigheid sal woon’, tot stand bring (2 Pet. 3:13). Elke inwoner van daardie nuwe wêreld sal aan Jehovah se standaarde moet voldoen.—Jes. 11:1-5.

DIE KONING VERRIG “VREESINBOESEMENDE DINGE”

14. Hoe sal Christus se regterhand “vreesinboesemende dinge” verrig? (Sien prent aan begin van artikel.)

14 Terwyl die Koning ry, is daar ’n swaard aan sy heup gegord (Ps. 45:3). Maar dan kom die tyd vir hom om die swaard in sy regterhand te neem en dit te gebruik. Die psalmis voorspel dat die Koning “vreesinboesemende dinge” met sy regterhand sal verrig (Ps. 45:4). Wanneer Jesus Christus ry om Jehovah se oordele by Armageddon te voltrek, sal hy “vreesinboesemende dinge” teen sy vyande verrig. Ons weet nie presies hoe hy Satan se stelsel sal vernietig nie. Maar wat hy ook al doen, dit sal diegene wat nie op die goddelike waarskuwing ag geslaan het om hulle aan die Koning se heerskappy te onderwerp nie, met skrik vervul. (Lees Psalm 2:11, 12.) In sy profesie aangaande die tyd van die einde het Jesus gesê dat mense “flou [sal] word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom; want die kragte van die hemele sal geskud word”. Hy het bygevoeg: “En dan sal hulle die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid in ’n wolk sien kom.”—Luk. 21:26, 27.

15, 16. Wie sal “die leërs” uitmaak wat Christus in die stryd volg?

15 Die boek Openbaring kondig aan dat die Koning “met krag en groot heerlikheid” kom om oordeel te voltrek en sê: “Ek het die hemel geopend gesien, en kyk! ’n wit perd. En die een wat daarop sit, word Getrou en Waaragtig genoem, en hy oordeel en voer oorlog in regverdigheid. Ook het die leërs wat in die hemel was, hom op wit perde gevolg, en hulle was geklee in wit, skoon, fyn linne. En uit sy mond kom ’n skerp lang swaard om die nasies mee te slaan, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor hulle optree. Hy trap ook die wynpers van die toorn van die gramskap van God die Almagtige.”—Op. 19:11, 14, 15.

16 Wie sal Christus se medestryders wees wat die hemelse “leërs” uitmaak wat hom in die stryd volg? Toe Jesus sy swaard vir die eerste keer aangegord het om Satan en sy demone uit die hemel te werp, het “sy engele” hom vergesel (Op. 12:7-9). Ons kan logieserwys tot die slotsom kom dat die heilige engele by die oorlog van Armageddon deel van Christus se leërs sal uitmaak. Sal sy leërs ander insluit? Jesus het sy gesalfde broers belowe: “Aan hom wat oorwin en my dade tot die einde toe onderhou, sal ek gesag oor die nasies gee, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor die mense optree, sodat hulle soos kleivoorwerpe verbrysel sal word, net soos ek van my Vader ontvang het” (Op. 2:26, 27). Christus se hemelse leërs sal dus ook sy gesalfde broers insluit wat hulle hemelse beloning teen daardie tyd sou ontvang het. Die gesalfde medeheersers sal aan sy sy wees wanneer hy “vreesinboesemende dinge” verrig terwyl hy met ’n ysterstaf as herder teenoor die nasies optree.

DIE KONING VOLTOOI SY OORWINNING

17. (a) Wat stel die wit perd voor waarop Christus ry? (b) Wat stel die swaard en die boog voor?

17 Lees Psalm 45:5. Die Koning sit op ’n wit perd, wat oorlog voorstel wat in Jehovah se oë rein en regverdig is (Op. 6:2; 19:11). Benewens ’n swaard het hy ook ’n boog. Ons lees: “Ek het gesien, en kyk! ’n wit perd; en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi.” Die swaard en die boog stel die middele voor wat Christus sal gebruik om aan sy vyande oordeel te voltrek.

Voëls sal geroep word om die aarde te reinig (Sien paragraaf 18)

18. In watter opsig sal Christus se ‘pyle skerp’ wees?

18 Die psalmis voorspel in digterlike taal dat die Koning se ‘pyle skerp is in die hart van sy vyande’ en dat ‘volke onder hom bly val’. Dit sal ’n wêreldwye slagting wees. Jeremia het voorspel: “Dié wat deur Jehovah omgebring is, sal dié dag beslis van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde lê” (Jer. 25:33). ’n Parallelle profesie sê: “Ek het ook ’n engel in die son sien staan, en hy het met ’n harde stem uitgeroep en vir al die voëls wat in die middel van die hemel vlieg, gesê: ‘Kom hier, kom bymekaar vir die groot aandmaal van God, sodat julle die vlesige dele van konings en die vlesige dele van militêre bevelvoerders en die vlesige dele van sterk manne en die vlesige dele van perde en van dié wat op hulle sit, en die vlesige dele van almal, van vrygeborenes sowel as van slawe en van klein en groot, kan eet.’”—Op. 19:17, 18.

19. Hoe sal Christus ‘voortgaan tot sukses’ en sy oorwinning voltooi?

19 Nadat Christus Satan se goddelose stelsel van dinge op die aarde vernietig het, sal hy ‘in sy prag tot sukses voortgaan’ (Ps. 45:4). Hy sal sy oorwinning voltooi deur Satan en sy demone in die afgrond te werp vir die hele duur van die Duisendjarige Heerskappy (Op. 20:2, 3). Aangesien die Duiwel en sy engele dan in ’n toestand van doodse onbedrywigheid sal wees, sal die bewoners van die aarde die heerskappy van hulle seëvierende en glorieryke Koning kan geniet sonder die goddelose invloed van Satan en sy demone. Maar voordat hulle sien hoe die hele aarde geleidelik in ’n paradys omskep word, sal hulle nog ’n rede hê om hulle saam met hulle Koning en sy hemelse metgeselle te verbly. Hierdie vreugdevolle gebeurtenis sal in die volgende artikel bespreek word.