Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah—Ons Voorsiener en Beskermer

Jehovah—Ons Voorsiener en Beskermer

“Omdat hy sy geneentheid op my gerig het, sal ek ook aan hom ontkoming verskaf. Ek sal hom beskerm omdat hy my naam leer ken het.”—PS. 91:14.

1, 2. Hoe verskil ons gesinsomstandighede en geestelike agtergronde?

JEHOVAH is die Insteller van die gesinsreëling (Ef. 3:14, 15). Maar al is ons lede van dieselfde gesin, het ons verskillende eienskappe en omstandighede. Dalk het jy van geboorte tot volwassenheid by jou ouers gewoon. Ander het moontlik hulle ouers aan die dood afgestaan, miskien weens siekte, ’n ongeluk of die een of ander tragedie. En party weet nie eers wie hulle ouers is nie.

2 Die lede van Jehovah se gesin van aanbidders het ook verskillende geestelike agtergronde. Dalk het jy ‘in die waarheid grootgeword’, soos party sal sê, en het jou ouers goddelike beginsels by jou ingeskerp (Deut. 6:6, 7). Of miskien is jy een van die duisende wat die waarheid geleer het as gevolg van die predikingswerk van ander knegte van Jehovah.—Rom. 10:13-15; 1 Tim. 2:3, 4.

3. Wat het ons almal in gemeen?

3 Ten spyte van die bogenoemde faktore het ons almal sekere dinge in gemeen. Ons almal ly die gevolge van Adam se ongehoorsaamheid en het onvolmaaktheid, sonde en die dood oorgeërf (Rom. 5:12). Nietemin kan ons, as ware aanbidders, Jehovah tereg as “ons Vader” aanspreek. Jesaja 64:8 sê aangaande God se uitverkore volk van die ou tyd: “O Jehovah, u is ons Vader”. Wat meer is, Jesus het sy modelgebed met die volgende woorde begin: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word.”—Matt. 6:9.

4, 5. Waaroor moet ons nadink terwyl ons die diepte van ons waardering vir ons Vader, Jehovah, ondersoek?

4 Ons hemelse Vader voorsien die sorg en beskerming wat ons nodig het as ’n volk wat sy naam in geloof aanroep. Die psalmis haal Jehovah se woorde aan: “Omdat hy [’n ware aanbidder] sy geneentheid op my gerig het, sal ek ook aan hom ontkoming verskaf. Ek sal hom beskerm omdat hy my naam leer ken het” (Ps. 91:14). Ja, Jehovah God red ons liefdevol van ons vyande en beskerm ons as sy volk sodat ons nie uitgewis word nie.

5 Om ons waardering vir ons hemelse Vader te versterk, sal ons drie belangrike gedagtes bespreek: (1) Ons Vader is ons Voorsiener. (2) Jehovah is ons Beskermer. (3) En God is ons beste Vriend. Terwyl ons hierdie gedagtes bespreek, sal dit goed wees as ons nadink oor ons verhouding met God en onderskei hoe ons hom as ons Vader kan eer. Dit sal ook voordelig wees om te peins oor die seëninge wat Jehovah in die vooruitsig stel vir diegene wat nader aan hom kom.—Jak. 4:8.

JEHOVAH, DIE GROOTSE VOORSIENER

6. Wat is een manier waarop Jehovah die Gewer van “elke goeie gawe” is?

6 “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo”, het die dissipel Jakobus geskryf, “want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte” (Jak. 1:17). Die lewe self is ’n wonderlike gawe van Jehovah (Ps. 36:9). As ons ons lewe gebruik om God se wil te doen, sal ons nou oorvloedige seëninge ontvang en die vooruitsig hê om vir ewig in die nuwe wêreld te lewe (Spr. 10:22; 2 Pet. 3:13). Maar hoe is dit moontlik in die lig van die tragiese gevolge van Adam se ongehoorsaamheid?

7. Hoe het God dit vir ons moontlik gemaak om ’n hegte verhouding met hom te hê?

7 Daar is oorvloedige bewyse dat Jehovah die Grootse Voorsiener is. Ons word byvoorbeeld deur sy onverdiende goedhartigheid gered. Ja, ons almal is sondig en het onvolmaaktheid van ons eerste aardse vader oorgeërf (Rom. 3:23). Nietemin het Jehovah uit liefde die inisiatief geneem om dit vir ons moontlik te maak om ’n hegte verhouding met hom te hê. “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak”, het die apostel Johannes geskryf, “want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenoffer vir ons sondes.”—1 Joh. 4:9, 10.

8, 9. Hoe was Jehovah in die tyd van Abraham en Isak die Grootse Voorsiener? (Sien prent aan begin van artikel.)

8 In die 19de eeu VHJ het ’n profetiese gebeurtenis ontvou wat getoon het hoe ver Jehovah sou gaan om dit vir gehoorsame mense moontlik te maak om vir ewig te lewe. Hebreërs 11:17-19 verduidelik: “Deur geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak so goed as geoffer, en die man wat die beloftes met blydskap ontvang het, het sy enigverwekte seun probeer offer, hoewel daar vir hom gesê is: ‘Wat “jou saad” genoem sal word, sal deur Isak wees.’ Maar hy het gereken dat God hom selfs uit die dode kon opwek; en daaruit het hy hom dan ook, by wyse van illustrasie, ontvang.” Dit is nie moeilik om die ooreenkoms te sien nie. Jehovah het sy Seun, Jesus Christus, ten behoewe van die mensdom opgeoffer.—Lees Johannes 3:16, 36.

9 Hoe bly moes Isak tog gewees het toe hy van ’n offerdood verlos is! Hy was ongetwyfeld dankbaar dat God ’n ander offerande voorsien het—’n ram wat daar naby in ’n ruigte vasgevang was (Gen. 22:10-13). Dit is geen wonder dat daardie plek toe “Jehovah-Jireh” genoem is nie, wat “Jehovah sal voorsien” beteken.—Gen. 22:14, vtn. in NW.

HY HET VOORSIENING GEMAAK VIR VERSOENING

10, 11. Wie het die leiding in “die bediening van die versoening” geneem, en hoe het hulle dit gedoen?

10 Wanneer ons nadink oor hoe Jehovah die Grootse Voorsiener is, erken ons met dankbaarheid die noodsaaklike rol wat Jesus Christus speel, net soos Paulus gedoen het toe hy geskryf het: “Ons [het] só geoordeel . . . , dat een mens vir almal gesterf het; almal het dus gesterf; en hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.”—2 Kor. 5:14, 15.

11 Die vroeë Christene het “die bediening van die versoening” blymoedig aanvaar weens hulle liefde vir God en hulle dankbaarheid vir die onskatbare voorreg om hom te dien. Hulle predikings- en dissipelmaakwerk het dit vir opregtes van hart moontlik gemaak om vrede met God te hê, sy vriendskap te geniet en uiteindelik sy geestelike kinders te word. Vandag voer gesalfde knegte van Jehovah ook hierdie bediening uit. Die werk wat hulle as ambassadeurs van God en Christus verrig, maak dit vir mense met die regte gesindheid moontlik om deur Jehovah getrek te word en gelowiges te word.—Lees 2 Korintiërs 5:18-20; Joh. 6:44; Hand. 13:48.

12, 13. Hoe kan ons toon dat ons al Jehovah se voorsienings waardeer?

12 Uit dankbaarheid teenoor Jehovah as die Grootse Voorsiener neem alle Christene met ’n aardse hoop saam met die gesalfdes aan die Koninkrykspredikingswerk deel. Wanneer ons aan hierdie werk deelneem, gebruik ons die Bybel—nog ’n wonderlike voorsiening van God (2 Tim. 3:16, 17). Wanneer ons God se geïnspireerde Woord op vaardige wyse in ons bediening gebruik, gee ons ander die geleentheid om die ewige lewe te verkry. Om ons met hierdie werk te help, maak elkeen van ons staat op nog ’n voorsiening van Jehovah—sy heilige gees (Sag. 4:6; Luk. 11:13). Die resultate is indrukwekkend, soos blyk uit elke uitgawe van die Jaarboek van Jehovah se Getuies. Wat ’n eer is dit tog om ’n aandeel aan hierdie werk te hê, tot lof van ons Vader en Voorsiener!

13 Met die oog op al God se voorsienings sal dit goed wees as ons ons afvra: ‘Doen ek my bes in my bediening sodat ek vir Jehovah kan toon hoeveel ek sy voorsienings waardeer? Hoe kan ek verbeter en ’n doeltreffender verkondiger van die goeie nuus word?’ Ons kan ons dankbaarheid vir God se wonderlike voorsienings toon deur Koninkryksbelange altyd eerste in ons lewe te stel. As ons dit doen, sal Jehovah in ons behoeftes voorsien (Matt. 6:25-33). God se liefde spoor ons sekerlik aan om alles in ons vermoë te doen om hom te behaag en sy hart bly te maak.—Spr. 27:11.

14. Hoe was Jehovah die Redder van sy volk?

14 Die psalmis Dawid het gesing: “Ek is geteisterd en arm. Jehovah neem my in aanmerking. U is my hulp en die Een wat aan my ontkoming verskaf” (Ps. 40:17). Jehovah was herhaaldelik die Redder van sy volk as ’n groep, veral wanneer hulle vyande hulle wreed vervolg en verbete teëgestaan het. Hoe dankbaar is ons tog vir God se hulp gedurende sulke tye en vir die talle geestelike voorsienings wat hy voortdurend verskaf!

JEHOVAH AS BESKERMER

15. Lig toe hoe ’n liefdevolle vader sy kind beskerm het.

15 ’n Liefdevolle vader sorg nie net vir sy kinders nie, maar hy probeer hulle ook beskerm. Hy sal hulle van nature probeer red as hulle in gevaar is. ’n Broer onthou ’n spesifieke voorval wat plaasgevind het toe hy maar net ’n jong seun was. Toe hy en sy pa ná velddiens op pad was huis toe, moes hulle ’n stroom oorsteek. Daardie oggend het ’n stortreën veroorsaak dat die stroom in vloed was. Die enigste manier om die stroom oor te steek, was om van een groot klip na ’n ander te spring. Die seun het voor sy pa gegaan, sy balans verloor, in die vloedwaters geval en twee keer onder die water verdwyn. Hoe dankbaar was die seun tog dat sy pa hom vinnig aan die skouer vasgegryp en hom gered het voordat hy verdrink het! Ons hemelse Vader red ons van die woeste strome van hierdie goddelose wêreld en sy heerser, Satan. Jehovah is beslis die beste Beskermer wat enigiemand ooit kan hê.—Matt. 6:13; 1 Joh. 5:19.

16, 17. Hoe het Jehovah die Israeliete gehelp en beskerm toe hulle teen die Amalekiete geveg het?

16 Jehovah se liefdevolle beskerming word goed toegelig deur wat gebeur het nadat hy die Israeliete in 1513 VHJ uit slawerny in Egipte gered het en wonderdadig beskerm het toe hulle deur die Rooisee getrek het. Nadat die nasie deur die wildernis in die rigting van die berg Sinai getrek het, het hulle by Refidim aangekom.

17 Weens die goddelike profesie in Genesis 3:15 was Satan moontlik desperaat toe hy gesoek het na ’n geleentheid om die kwesbare Israeliete aan te val. Hy het die Amalekiete gebruik, wat vyande van God se volk was (Num. 24:20). Dink aan wat Jehovah verrig het deur middel van vier getroue manne—Josua, Moses, Aäron en Hur. Terwyl Josua teen die Amalekiete geveg het, het Moses, Aäron en Hur op ’n nabygeleë heuwel gestaan. Die Israeliete het die oorhand gekry wanneer Moses sy hande opgelig het. Toe sy hande swaar geword het, het Aäron en Hur hulle ondersteun. Met Jehovah se hulp en beskerming het Josua “Amalek en sy volk derhalwe . . . verslaan” (Eks. 17:8-13). Moses het ’n altaar daar gebou en dit “Jehovah-Nissi” genoem, wat “Jehovah is my Seinpaal” beteken.—Lees Eksodus 17:14, 15; vtn. in NW.

VEILIG BEWAAR TEEN SATAN SE KLOUE

18, 19. Watter beskerming het God in ons tyd aan sy knegte voorsien?

18 Jehovah beskerm diegene wat hom liefhet en gehoorsaam. Soos die Israeliete by Refidim, wend ons ons tot God om ons te beskerm wanneer ons teen vyande te staan kom. Jehovah het ons al dikwels as ’n groep beskerm, en hy hou ons uit die Duiwel se kloue. Dink aan die talle kere toe God ons broers veilig bewaar het terwyl hulle hulle Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Dit was byvoorbeeld die geval gedurende die Nazi-era in Duitsland en ander lande in die 1930’s en vroeë 1940’s. As ons lewensverhale en verslae in die Jaarboek oor God se beskerming gedurende tye van vervolging lees en daaroor nadink, sal dit ons vertroue in Jehovah as ons Toevlug versterk.—Ps. 91:2.

Jehovah kan ons medegelowiges gebruik om ons te help om getrou te bly in moeilike tye (Sien paragrawe 18-20)

19 Deur middel van Jehovah se organisasie en ons publikasies ontvang ons liefdevolle herinneringe wat ons beskerm. Kyk hoe dit ons in onlangse tye tot voordeel gestrek het. Terwyl hierdie wêreld al hoe dieper sink in die moeras van losbandigheid en pornografie, het Jehovah dringende herinneringe en praktiese hulp voorsien om ons teen sedelike gevare te waarsku. Ons ontvang byvoorbeeld vaderlike raad om slegte omgang deur die misbruik van sosiale netwerke te vermy. *1 Kor. 15:33.

20. Watter beskerming en leiding word deur die Christengemeente voorsien?

20 Hoe kan ons toon dat ons werklik “deur Jehovah geleer word”? Deur sy gebooie nougeset te onderhou (Jes. 54:13). In die veilige hawe van ons gemeentes vind ons die nodige leiding en beskerming, want dit is waar getroue manne wat as ouer manne dien, skriftuurlike hulp en raad voorsien (Gal. 6:1). Jehovah gebruik hierdie “gawes in die vorm van mense” om liefdevol vir ons te sorg (Ef. 4:7, 8). Hoe moet ons reageer? Gewillige onderdanigheid en gehoorsaamheid bring God se seën mee.—Heb. 13:17.

21. (a) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

21 Laat ons vasbeslote wees om deur heilige gees gelei te word en sodoende die leiding van ons hemelse Vader gehoorsaam. Ons moet ook nadink oor die lewensweg van sy Seun, Jesus Christus, wie se onvergelyklike voorbeeld ons probeer navolg. Omdat Jesus tot in die dood gehoorsaam was, het hy ’n ryk beloning ontvang (Fil. 2:5-11). Ons sal ook geseën word as ons met ons hele hart op Jehovah vertrou (Spr. 3:5, 6). Laat ons dus altyd op Jehovah vertrou as die allerbeste Voorsiener en Beskermer. Wat ’n vreugde en groot voorreg is dit tog om hom te dien! Ons liefde vir hom sal toeneem wanneer ons nadink oor die derde aspek van ons Vader se sorg—sy vriendskap. Die volgende artikel bespreek hoe Jehovah ons beste Vriend is.

^ par. 19 Voorbeelde van sulke herinneringe kan gevind word in die artikels “Die Internet—Maak wyse gebruik van ’n wêreldwye kommunikasiemiddel” in Die Wagtoring van 15 Augustus 2011, bladsye 3-5, “Pasop vir die Duiwel se strikke!” en “Staan vas en vermy Satan se strikke!” in Die Wagtoring van 15 Augustus 2012, bladsye 20-29.