Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Watter redes het eerste-eeuse Jode gehad om “in afwagting” van die Messias te wees?

In die dae van Johannes die Doper ‘het die volk in afwagting verkeer en het almal in hulle harte oor Johannes geredeneer: “Is hy miskien die Christus?”’ (Luk. 3:15). Waarom was die Jode destyds in afwagting van die Messias? Daar is ’n paar redes.

Ná Jesus se geboorte het Jehovah se engel aan herders verskyn wat na hulle kudde in die veld naby Betlehem omgesien het. Die engel het gesê: “Daar is vandag vir julle in die stad van Dawid ’n Redder gebore, wat Christus die Here is” (Luk. 2:8-11). Daarna het “’n menigte van die hemelse leër” by die engel aangesluit en God geloof en gesê: * “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid.”—Luk. 2:13, 14.

Hierdie aankondiging het sekerlik ’n kragtige uitwerking op daardie nederige herders gehad. Hulle het onmiddellik na Betlehem vertrek, en toe hulle Josef en Maria en die baba Jesus gevind het, “het hulle die woord bekend gemaak wat oor die jong kindjie tot hulle gespreek is”. Gevolglik was “almal wat dit gehoor het, . . . verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is” (Luk. 2:17, 18). Die woorde “almal wat dit gehoor het” gee te kenne dat die herders met ander persone buiten Josef en Maria gepraat het. En toe die herders op pad huis toe was, het hulle “God [bly] verheerlik en [loof] oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos dit aan hulle vertel is” (Luk. 2:20). Hierdie herders het beslis nie die goeie dinge wat hulle omtrent die Christus gehoor het, vir hulleself gehou nie!

Toe Maria haar eersgebore seun na Jerusalem gebring het om hom vir Jehovah aan te bied, soos die Mosaïese Wet vereis het, het die profetes Anna “begin om dank aan God te betuig en met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het, oor die kind te praat” (Luk. 2:36-38; Eks. 13:12). Nuus oor die Messias se verskyning het dus bly versprei.

Later “het sterrewiggelaars uit oostelike streke na Jerusalem gekom en gesê: ‘Waar is die een wat as koning van die Jode gebore is? Want ons het sy ster gesien toe ons in die ooste was, en ons het gekom om aan hom hulde te bewys’” (Matt. 2:1, 2). “Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom; en nadat hy al die hoofpriesters en skrifgeleerdes van die volk bymekaargeroep het, het hy hulle begin vra waar die Christus gebore sou word” (Matt. 2:3, 4). Baie mense is dus in kennis gestel: Die verwagte Messias het gekom! *

Lukas 3:15, wat vroeër aangehaal is, gee te kenne dat party Jode gedink het dat Johannes die Doper moontlik die Christus is. Maar Johannes het hierdie idee uit die weg geruim met die woorde: “Die een wat ná my kom, is sterker as ek, wie se sandale ek nie werd is om uit te trek nie. Hy sal julle met heilige gees en met vuur doop” (Matt. 3:11). Johannes se beskeie woorde het ongetwyfeld groter afwagting geskep vir die Messias se koms.

Het die eerste-eeuse Jode dalk die tyd van die Messias se koms bereken op grond van die profesie van die 70 weke wat in Daniël 9:24-27 opgeteken is? Hoewel hierdie moontlikheid nie uitgesluit kan word nie, kan dit ook nie bevestig word nie. Die feit is dat daar talle teenstrydige vertolkings van die 70 weke in Jesus se dag was, en nie een daarvan stem naastenby ooreen met ons huidige begrip nie. *

Die Essene, wat oor die algemeen as ’n Joodse monnikesekte beskou is, het ander geleer dat twee Messiasse teen die einde van 490 jaar sou verskyn, maar ons kan nie met sekerheid sê dat die Essene hulle berekeninge op Daniël se profesie gebaseer het nie. Al het hulle dit gedoen, is dit onwaarskynlik dat die Jode oor die algemeen deur die chronologie van hierdie afgesonderde groep beïnvloed sou word.

In die tweede eeu HJ het party Jode geglo dat die 70 weke die tydperk dek vanaf die vernietiging van die eerste tempel in 607 VHJ tot die vernietiging van die tweede tempel in 70 HJ, terwyl ander die vervulling van die profesie verbind het met die Makkabese tydperk van die tweede eeu VHJ. Daar was dus geen duidelike eenstemmigheid oor hoe die 70 weke bereken moet word nie.

As die profesie van die 70 weke in die eerste eeu HJ reg bereken is, sou ons verwag het dat die apostels en ander eerste-eeuse Christene daarna sou verwys het as bewys dat die beloofde Messias, Jesus Christus, presies op tyd gekom het. Maar daar is geen bewyse dat die eerste Christene dit gedoen het nie.

Daar is nog ’n noemenswaardige faktor. Evangelieskrywers het dikwels daarop gewys dat sekere profesieë in die Hebreeuse Geskrifte in Jesus Christus vervul is (Matt. 1:22, 23; 2:13-15; 4:13-16). En tog verbind nie een van hulle Jesus se verskyning op aarde met die profesie van die 70 weke nie.

Ter opsomming: Ons kan nie bevestig dat mense in Jesus se dag die profesie oor die 70 weke reg verstaan het nie. Maar die Evangelies voorsien ander betroubare redes waarom die Jode “in afwagting” van die Messias sou wees.

^ par. 4 Die Bybel sê nie dat die engele “gesing” het toe Jesus gebore is nie.

^ par. 7 Ons vra dalk: Hoe het die sterrewiggelaars die verskyning van die “ster” in die Ooste en die geboorte van die “koning van die Jode” met mekaar verbind? Kan dit wees dat hulle die nuus van Jesus se geboorte gehoor het toe hulle deur Israel gereis het?

^ par. 9 Vir ons huidige begrip van die profesie oor die 70 weke, sien hoofstuk 11 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!