Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Sien die lieflikheid van Jehovah’

‘Sien die lieflikheid van Jehovah’

Angswekkende omstandighede kan ’n verskriklike uitwerking op ons hê. Dit kan ons gedagtes oorheers, ons van ons krag beroof en selfs ons lewensuitkyk beïnvloed. Koning Dawid van eertydse Israel het baie ontberinge verduur. Hoe het hy dit die hoof gebied? Dawid gee die antwoord in ’n hartroerende psalm: “Met my stem het ek tot Jehovah om hulp begin roep; met my stem het ek tot Jehovah om guns begin roep. Voor hom het ek my besorgdheid bly uitstort; voor hom het ek van my benoudheid bly vertel, toe my gees in my versmag het. Toe het u my weg geken.” Ja, Dawid het nederig tot God om hulp gebid.—Ps. 142:1-3.

Gedurende moeilike tye het Dawid nederig tot Jehovah om hulp gebid

In ’n ander psalm het Dawid gesing: “Een ding het ek van Jehovah gevra—dit sal ek soek: Dat ek al die dae van my lewe in die huis van Jehovah mag woon, om die lieflikheid van Jehovah te sien en sy tempel met waardering te aanskou” (Ps. 27:4). Dawid was nie ’n Leviet nie, maar stel jou voor hoe hy buite die heilige voorhof staan, naby die middelpunt van ware aanbidding. Dawid se hart loop oor van dankbaarheid, en daarom wil hy die res van sy lewe daar deurbring “om die lieflikheid van Jehovah te sien”.

Die woord “lieflikheid” word verbind met iets wat “vir die verstand, gevoelens of sintuie aangenaam is”. Dawid het God se reëling vir aanbidding altyd met waardering aanskou. Ons kan ons gerus afvra: ‘Voel ek soos Dawid gevoel het?’

AANSKOU GOD SE REËLING “MET WAARDERING”

In ons dag hou Jehovah se reëling om hom te nader, nie verband met ’n letterlike gebou nie. Dit behels eerder God se groot geestelike tempel—die heilige reëling vir ware aanbidding. * As ons hierdie reëling ‘met waardering aanskou’, kan ons ook ‘die lieflikheid van Jehovah sien’.

Dink aan die brandofferaltaar van koper wat voor die ingang van die tabernakel gestaan het (Eks. 38:1, 2; 40:6). Daardie altaar het God se bereidwilligheid verteenwoordig om Jesus se menselewe as ’n offerande te aanvaar (Heb. 10:5-10). Dink aan wat dit vir ons beteken! Die apostel Paulus het geskryf: “Toe ons vyande was, [het ons] met God versoen geraak . . . deur die dood van sy Seun” (Rom. 5:10). As ons geloof in die vergote bloed van Jesus beoefen, kan ons vriendskap met God geniet, wat sy guns en vertroue meebring. Gevolglik geniet ons “intimiteit met Jehovah”.—Ps. 25:14.

Omdat ons “sondes uitgewis . . . word”, ondervind ons ‘tye van verkwikking wat van Jehovah kom’ (Hand. 3:19). Ons situasie is soortgelyk aan dié van ’n gevangene wat berou het oor sy dade van die verlede en drastiese veranderinge aanbring terwyl hy op sy teregstelling wag. ’n Welwillende regter sien dit raak en word beweeg om die man se kriminele rekord te skrap en hom van sy doodsvonnis vry te spreek. Hoe verlig en verheug sal so ’n gevangene tog wees! Soos daardie regter, betoon Jehovah guns aan berouvolle mense en spreek hy hulle vry van die veroordeling tot die dood.

SKEP BEHAE IN WARE AANBIDDING

Van die aspekte van ware aanbidding wat Dawid by die huis van Jehovah kon sien, was die samekoms van groot skares mede-Israeliete, die openbare voorlesing en verduideliking van die Wet, die brand van reukwerk en die verrigting van heilige diens deur die priesters en Leviete (Eks. 30:34-38; Num. 3:5-8; Deut. 31:9-12). Hierdie fasette van ware aanbidding in eertydse Israel stem met sekere aspekte van ons aanbidding ooreen.

In ons dag, net soos in die verlede, sien ons ‘hoe goed en hoe lieflik dit is dat broers in eenheid saam woon!’ (Ps. 133:1). Ons wêreldwye “gemeenskap van broers” het aansienlik toegeneem (1 Pet. 2:17). God se Woord word by ons vergaderinge gelees en verduidelik. Deur middel van sy organisasie voorsien Jehovah ’n uitstekende program van onderrigting. Daar is ook ’n oorvloed geestelike voedsel in gedrukte vorm beskikbaar wat ons in ons persoonlike en gesinstudie kan gebruik. ’n Lid van die Bestuursliggaam het gesê: “Om oor Jehovah se Woord te peins, oor die betekenis daarvan na te dink en na insig en begrip te soek, het my lewe met geestelike skatte en bevrediging gevul.” Ja, “kennis [kan] vir jou siel aangenaam word”.—Spr. 2:10.

Vandag styg die aanneemlike gebede van God se knegte daagliks voor Jehovah op. Vir Jehovah is hierdie gebede so aangenaam soos welriekende reukwerk (Ps. 141:2). Hoe goed is dit tog om te weet dat Jehovah God groot behae daarin skep wanneer ons hom nederig in gebed nader!

Moses het gebid: “Laat die lieflikheid van Jehovah ons God oor ons wees, en bevestig tog die werk van ons hande stewig oor ons” (Ps. 90:17). Terwyl ons ons bediening ywerig uitvoer, seën Jehovah ons werk (Spr. 10:22). Dalk het ons party al gehelp om die waarheid te leer. Ons volhard moontlik al jare lank in die bediening ten spyte van onverskilligheid, swak gesondheid, emosionele pyn of vervolging (1 Tess. 2:2). Maar het ons nie “die lieflikheid van Jehovah” gesien en besef dat ons hemelse Vader groot behae in ons pogings skep nie?

“Jehovah is die deel van wat aan my toegemeet is en van my beker”, het Dawid gesing, “U hou my lot vas. Die meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval” (Ps. 16:5, 6). Dawid was dankbaar vir sy “deel”, dit wil sê vir sy goedgekeurde verhouding met Jehovah en die voorreg om hom te dien. Soos Dawid, verduur ons dalk ook ontberinge, maar ons geniet soveel geestelike seëninge! Laat ons dus aanhou om vreugde uit ware aanbidding te put en laat ons Jehovah se geestelike tempel altyd “met waardering . . . aanskou”.

^ par. 6 Sien Die Wagtoring van 1 Julie 1996, bladsye 14-24.