Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

UIT ONS ARGIEF

’n Honderd jaar oue bewys van geloof

’n Honderd jaar oue bewys van geloof

“Dit lyk meer soos broer Russell as broer Russell self!”—Iemand wat die “Fotodrama” in 1914 gekyk het.

VANJAAR is die 100ste herdenking van die eerste vertoning van die “Fotodrama van die Skepping”, ’n epiese visuele aanbieding wat bedoel was om geloof in die Bybel as die Woord van God op te bou. In ’n tyd toe geloof in evolusie, hoër kritiek en skeptisisme die geloof van baie ondermyn het, het die “Fotodrama” Jehovah as die Skepper verdedig.

Charles T. Russell, wat die leiding onder die Bybelstudente geneem het, was voortdurend op soek na die doeltreffendste en vinnigste manier om Bybelwaarheid te versprei. Die Bybelstudente het die krag van gedrukte publikasies al meer as drie dekades lank gebruik. ’n Nuwe moontlikheid het nou hulle aandag getrek—rolprente.

DIE EVANGELIE WORD DEUR ROLPRENTE VERSPREI

In die 1890’s is stil rolprente aan die publiek bekend gestel. ’n Godsdiensrolprent is reeds teen 1903 in ’n kerk in die stad New York vertoon. In 1912, toe Russell moedig voorbereidings begin tref het vir die “Fotodrama”, was die rolprentbedryf dus nog nuut. Hy het besef dat hierdie vorm van kommunikasie Bybelwaarheid op ’n manier kon oordra wat gedrukte publikasies nie kon doen nie.

Die agt uur lange “Fotodrama”, wat gewoonlik in vier dele vertoon is, het 96 kort opgeneemde Bybeltoesprake ingesluit wat voorgelees is deur ’n bekende spreker met een van die herkenbaarste stemme van daardie tydperk. Klassieke musiek het baie van die tonele begelei. Bekwame operateurs het die stem- en musiekopnames op grammofone gespeel en die klank met kleurskyfies en filmdrama’s van bekende Bybelverhale gesinchroniseer.

“Dit gee ’n oorsig van gebeure vanaf die skepping van die sterre tot die glorieryke klimaks van Christus se Duisendjarige Heerskappy.”—F. Stuart Barnes, wat 14 jaar oud was in 1914

Die meeste van die beeldmateriaal en baie van die glasskyfies is van kommersiële ateljees verkry. Professionele kunstenaars in Philadelphia, New York, Parys en Londen het elke raampie op die glasskyfies en die films met die hand geverf. Werkspanne by Bethel se kunsafdeling het ook baie van die verfwerk gedoen en het dikwels gebreekte skyfies vervang. Benewens die films wat gekoop is, is lede van die Bethelgesin ook in nabygeleë Yonkers, New York, verfilm terwyl hulle die rolle vertolk het van Abraham, Isak en die engel wat Abraham gekeer het om sy seun te offer.—Gen. 22:9-12.

Opgeleide operateurs het die vertoning van sowat 3 kilometer film, 26 grammofoonplate en sowat 500 glasskyfies fyn gesinchroniseer

’n Metgesel van broer Russell het vir die pers gesê dat hierdie kommunikasiemiddel “derduisende se belangstelling in die Skrif [sal] wek, meer as enigiets wat al in die verlede ter bevordering van godsdiens gedoen is”. Sou die geestelikes opgewonde wees oor so ’n innoverende poging om die geestelik honger massas te bereik? Inteendeel, as ’n geheel het die Christendom se bedienaars die “Fotodrama” sterk afgekeur, en party het selfs slinkse of vermetele taktieke gebruik om te keer dat die publiek dit sien. Tydens een vertoning het ’n predikantsvereniging selfs die elektrisiteit laat afsny.

Plekaanwysers van plaaslike gemeentes het miljoene gratis eksemplare van die Scenario, ’n boekie met prente van die “Fotodrama”, uitgedeel

Bywoners het ook “Pax”-spelde ontvang met ’n prentjie van Jesus as ’n seun daarop. Die spelde het die draer herinner om ’n “seun van vrede” te wees

Nietemin het gehore teaters van hoek tot kant vol gesit om gratis na die “Fotodrama” te kyk. Die “Fotodrama” is elke dag in tot 80 stede in die Verenigde State vertoon. Baie mense was verstom om vir die eerste keer na ’n ‘pratende rolprent’ te kyk. Tydsverloopfotografie het dit vir hulle moontlik gemaak om te sien hoe ’n kuiken sy dop ooppik en hoe ’n bloeisel grasieus oopvou. Wetenskaplike inligting van daardie tyd het Jehovah se wonderlike wysheid na vore gebring. Soos aan die begin genoem is, het een kyker, toe hy broer Russell in die “Fotodrama” se inleiding gesien het, gedink dat hy ‘meer soos broer Russell lyk as broer Russell self!’

’N MYLPAAL IN BYBELONDERRIG

Die “Fotodrama” is vir die eerste keer op 11 Januarie 1914 vertoon by hierdie eersterangse teater in die stad New York wat destyds deur die Internasionale Bybelstudente-vereniging besit en bedryf is

Tim Dirks, ’n skrywer en rolprentgeskiedkundige, het die “Fotodrama” beskryf as “die eerste groot draaiboek wat gesinchroniseerde klank (opgeneemde spraak), bewegende film en towerlanternkleurskyfies gekombineer het”. Party van hierdie tegnieke is in rolprente gebruik wat voor die “Fotodrama” gemaak is, maar nog nooit tevore is al hierdie tegnieke in een rolprent gebruik nie, veral nie een met ’n Bybeltema nie. En nie een van hierdie rolprente het so ’n groot gehoor gehad nie—altesaam sowat negemiljoen in Noord-Amerika, Europa, Australië en Nieu-Seeland in net die eerste jaar!

Die “Fotodrama” is vir die eerste keer op 11 Januarie 1914 in die stad New York vertoon. Sewe maande later het die ontsaglike ramp plaasgevind wat later die Eerste Wêreldoorlog genoem is. Maar skares regoor die wêreld het steeds bymekaargekom om na die “Fotodrama” te kyk en het vertroosting geput uit die aanskoulike tonele van toekomstige Koninkrykseëninge. Ja, vir die jaar 1914 was die “Fotodrama” beslis ’n merkwaardige vertoning.

Twintig verskillende filmstelle is deur spanne regoor Noord-Amerika vir die “Fotodrama” gebruik