Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GesinsaanbiddingKan julle dit genotvoller maak?

GesinsaanbiddingKan julle dit genotvoller maak?

“Ons raak so verdiep in ons besprekings gedurende ons aand vir Gesinsaanbidding dat dit dikwels tot laat in die aand aanhou as ek my gesin nie keer nie”, sê ’n pa in Brasilië. ’n Gesinshoof in Japan sê dat sy tienjarige seun blykbaar van die tyd vergeet en net wil aanhou. Waarom? “Hy is gemotiveerd, en dit dra tot sy vreugde by”, sê die pa.

Nie alle kinders is natuurlik so gemotiveerd nie en, om die waarheid te sê, party geniet dalk nie gesinsaanbidding nie. Maar waarom nie? ’n Pa in Togo het hierdie insigryke opmerking gemaak: “Die aanbidding van Jehovah moenie vervelig wees nie.” As dit is, kan dit ’n weerspieëling wees van die manier waarop die gesinsaanbidding gehou word. Baie gesinne het gevind dat gesinsaanbidding “’n verlustiging” kan wees, soos Jesaja van die Sabbat gesê het.Jes. 58:13, 14.

Christenvaders besef dat daar ’n ontspanne atmosfeer moet heers as hulle wil hê dat hulle gesin gesinsaanbidding moet geniet. Ralf, wat drie dogters en ’n seun het, sê dat hulle gesinsaanbidding meer soos ’n informele gesprek is as ’n studie; almal is daarby betrokke. Soms is dit wel ’n uitdaging om almal se aandag by die materiaal te hou en hulle daarin verdiep te laat bly. Een ma erken: “Ek het nie altyd die energie om ons gesinsaanbidding so genotvol te maak as wat ek graag wil hê dit moet wees nie.” Kan jy hierdie uitdaging die hoof bied?

AANPASBAARHEID EN VERSKEIDENHEID

“Ons moet aanpasbaar wees”, sê ’n pa van twee in Duitsland. “Vir ons gesin is die belangrikste ding verskeidenheid, verskeidenheid, verskeidenheid”, sê Natalia, ’n ma van twee. Baie gesinne verdeel hulle gesinsaanbidding in verskeie dele. “Dit maak die  studie meer stimulerend en betrek almal in die gesin daarby”, sê Cleiton, die pa van twee tieners in Brasilië. Deur die studie te verdeel, kan ouers aandag skenk aan die behoeftes van elke kind as daar ’n groot ouderdomsverskil is. Die ouers kan die behoeftes van elke gesinslid aanspreek en kan aanpasbaar wees wanneer hulle besluit watter materiaal die gesin sal bestudeer en hoe hulle dit sal doen.

Wat doen party gesinne om meer verskeidenheid in hulle gesinsaanbidding te hê? Party begin gesinsaanbidding deur liedere vir Jehovah te sing. “Dit skep ’n goeie atmosfeer en berei ons verstand voor vir die materiaal wat ons gaan bespreek”, sê Juan in Mexiko. Sy gesin kies liedere wat verband hou met die materiaal wat vir daardie aand gekies is.

Sri Lanka

Baie gesinne lees ’n gedeelte van die Bybel saam. Ter wille van verskeidenheid lees verskillende gesinslede die dele van die verskillende karakters in die Bybelgedeelte. ’n Pa in Japan erken dat dit vir hom “aanvanklik ’n bietjie vreemd was om so te lees”. Maar sy twee seuns was bly om te sien dat hulle ouers dit geniet om iets saam met hulle te doen. Party gesinne voer selfs Bybelverhale op. Kinders “sien dikwels dinge in ’n Bybelverslag wat ons as ouers misgekyk het”, sê Roger, ’n pa van twee seuns in Suid-Afrika.

Suid-Afrika

Nog ’n manier om meer verskeidenheid te hê, is om saam aan ’n projek te werk, soos om ’n model van Noag se ark of Salomo se tempel te bou. Sulke projekte verg navorsing wat opwindend kan wees. Byvoorbeeld, in Asië het ’n vyfjarige dogtertjie, haar ouers en haar ouma dit probeer. Hulle het almal saam in die voorhuis gewerk aan ’n bordspel wat hulle op die apostel Paulus se sendingreise gebaseer het. Ander gesinne het hulle bordspeletjies op verslae in die boek Eksodus gebaseer. Verskeidenheid “het nuwe lewe in ons gesinsaanbidding en in ons gesin self ingeblaas”, sê die 19-jarige Donald in Togo. Kan jy aan ’n projek dink wat julle gesinsaanbidding genotvoller sal maak?

Verenigde State van America

VOORBEREIDING IS ONONTBEERLIK

Hoewel verskeidenheid en aanpasbaarheid gesinsaanbidding interessant maak, moet almal voorberei sodat dit werklik leersaam kan wees. Soms word jong kinders moeg, en daarom moet pa’s mooi nadink oor die materiaal wat hulle kies en tyd neem om goed voor te berei. Een pa sê: “Wanneer ek voorbereid is, is die studiesessie vir almal meer betekenisvol.” ’n Pa in Duitsland sê vooraf vir sy gesin wat hulle in die komende weke sal bespreek. ’n Pa van ses jong kinders in Benin gee voor die tyd vir die gesin vrae wanneer hulle ’n Bybelse DVD as deel van hulle gesinsaanbidding gaan kyk. Ja, voorbereiding maak ’n groot verskil in die gehalte van ons gesinsaanbidding.

Wanneer die gesin voor die tyd weet wat bespreek gaan word, kan hulle gedurende die week daaroor praat en sodoende hulle entoesiasme opbou. En as almal ’n toewysing het, sal elkeen voel dat dit sy of haar gesinsaanbidding is.

PROBEER OM DIT GEREELD TE HOU

Baie gesinne vind dit moeilik om hulle gesinsaanbidding gereeld te hou.

Baie gesinshoofde moet lang ure werk om die pot aan die kook te hou. ’n Pa in Mexiko verlaat die huis byvoorbeeld sesuur in die oggend en kom eers agtuur in die aand by die huis. En soms sal gesinsaanbidding moontlik op ’n ander tyd gehou moet word omdat daar ’n ander geestelike geleentheid plaasvind.

Ons moet nogtans vasbeslote wees om ons gesinsaanbidding gereeld te hou. Die elfjarige Loïs in Togo sê in verband met haar gesin se vasbeslotenheid: “Al moet ons ons gesinsaanbidding soms laat begin omdat iets gedurende die dag voorgeval het, hou ons dit altyd.” Dit is te verstane dat party gesinne hulle gesinsaanbidding vroeg in die week hou. As iets onverwags voorval, kan hulle hulle gesinsaanbidding nog altyd later in die week hou.

Die feit dat hierdie studiesessie “gesinsaanbidding” genoem word, toon duidelik dat dit deel van ons aanbidding van Jehovah is. Laat al die lede van julle gesin elke week ‘die jong bulle van hulle lippe’ as ’n offerande aan Jehovah bring (Hos. 14:2, vtn. in NW). En mag dit vir elkeen in die gesin ’n vreugdevolle tyd wees, “want die vreugde van Jehovah is julle vesting”.Neh. 8:9, 10.