Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die versorging van bejaardes

Die versorging van bejaardes

“Kindertjies, laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid.”1 JOH. 3:18.

1, 2. (a) Voor watter uitdagings kom baie families te staan, en watter vrae ontstaan? (b) Hoe kan ouers en kinders die uitdagings van veranderende omstandighede die hoof bied?

DIT kan hartverskeurend wees om te besef dat jou ouers, wat eens sterk en onafhanklik was, nie meer na hulleself kan omsien nie. Dalk het jou pa of ma geval en ’n heup gebreek, gedisoriënteerd geraak en weggedwaal of is hy of sy met ’n ernstige mediese toestand gediagnoseer. Aan die ander kant vind bejaardes dit dalk moeilik om te aanvaar dat fisiese veranderinge en ander omstandighede nou hulle onafhanklikheid beperk (Job 14:1). Wat kan gedoen word? Hoe kan daar na hulle omgesien word?

2 ’n Artikel wat die versorging van bejaardes bespreek, sê: “Hoewel dit moeilik is om te praat oor die gevolge van die verouderingsproses, sal ’n familie wat die opsies bespreek het en ooreengekom het oor wat hulle sal doen, enige situasie wat opkom, beter kan hanteer.” Ons besef die waarde van so ’n bespreking wanneer ons erken dat die beproewinge wat met bejaardheid gepaardgaan, nie vermy kan word nie. Tog kan ons sekere voorbereidings tref en vooraf oor sekere dinge besluit. Kom ons bespreek hoe families liefdevol kan saamwerk om te beplan hoe om party van die uitdagings die hoof te bied.

BEPLAN VIR “DIE RAMPSPOEDIGE DAE”

3. Wat sal families dalk moet doen wanneer bejaarde ouers meer hulp nodig het? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Die tyd kom wanneer die meeste bejaardes nie meer  behoorlik na hulleself kan omsien nie; hulle het hulp nodig. (Lees Prediker 12:1-7.) Wanneer bejaarde ouers nie meer op hulle eie kan regkom nie, moet hulle en hulle volwasse kinders bepaal wat die beste soort sorg sal wees en bekostigbare oplossings vind. Dit is gewoonlik verstandig om as ’n familie bymekaar te kom en te bespreek wat die bejaarde se behoeftes is, hoe daar in hierdie behoeftes voorsien sal word en hoe die familie kan saamwerk om dit te doen. Almal wat betrokke is, veral die ouers, moet openlik sê hoe hulle voel en realisties wees. Hulle kan bespreek of dit vir die ouers veilig sal wees om in hulle eie huis aan te bly indien hulle bykomende hulp kry. * Of hulle kan kyk hoe elke familielid se sterk punte gebruik kan word om die verskeie verantwoordelikhede na te kom (Spr. 24:6). Dalk kan party byvoorbeeld daaglikse sorg voorsien, terwyl ander weer materiële bystand kan gee. Almal moet besef dat elkeen ’n rol speel; maar ná verloop van tyd kan daardie rol verander en sal die familie dit moontlik moet oorweeg om beurte te maak om die verskillende verantwoordelikhede na te kom.

4. Waar kan familielede hulp vind?

4 Wanneer jy jou ouers begin versorg, moet jy tyd neem om soveel moontlik oor hulle toestand uit te vind. As jou pa of ma aan ’n aftakelende siekte ly, moet jy uitvind wat jy in die toekoms kan verwag (Spr. 1:5). Tree in verbinding met regeringsinstansies wat dienste aan die bejaardes voorsien. Vind uit watter maatskaplike hulpbronne beskikbaar is wat jou werk makliker sal maak en beter sorg tot gevolg sal hê. Die naderende verandering in die familie se omstandighede kan ontstellende emosies tot gevolg hêjy ervaar dalk ’n gevoel van verlies, asook skok of verwarring. Praat met ’n vertroude vriend hieroor. Maar bowenal moet jy jou hart voor Jehovah uitstort. Hy kan jou die gemoedsrus gee wat jy nodig het om enige situasie die hoof te bied.Ps. 55:22; Spr. 24:10; Fil. 4:6, 7.

5. Waarom is dit verstandig om voor die tyd inligting in te samel oor watter opsies beskikbaar is as jy na ’n bejaarde moet omsien?

5 Party bejaardes en hulle families samel wyslik voor die tyd inligting in oor verskillende opsiessoos of dit prakties sal wees vir ’n ouer om by ’n seun of dogter te gaan woon, in ’n aftreeoord te woon of gebruik te maak van ander dienste wat plaaslik beskikbaar is. Hulle het “moeite en skadelike dinge”, oftewel probleme, sien kom en daarvoor voorberei (Ps. 90:10). Baie families beplan nie vooruit nie, en dan word hulle gedwing om oorhaastig moeilike besluite te neem wanneer daar ’n krisis is. Dit “is byna altyd die slegste tyd om so ’n besluit te neem”, sê ’n deskundige. In daardie gejaagde atmosfeer sal familielede moontlik gespanne wees en kan rusies ontstaan. Maar wanneer daar lank voor die tyd beplan word, sal aanpassings wat in die toekoms gemaak moet word, minder traumaties wees.Spr. 20:18.

’n Familie kan bymekaarkom om te bespreek hoe daar in die ouers se behoeftes voorsien kan word (Sien paragrawe 6-8)

6. Waarom is dit nuttig om te bespreek waar ouers sal woon wanneer hulle ouer word en watter soort sorg hulle sal verkies?

6 Jy sal dit dalk moeilik vind om met jou ouers te praat oor veranderinge wat hulle miskien aan die huis moet aanbring en die moontlikheid dat hulle eendag sal moet trek. Maar baie het al gesê hoe nuttig hierdie gesprekke later was. Waarom? Omdat dit geleenthede geskep het om praktiese reëlings te tref in ’n atmosfeer van liefde en begrip. Die feit dat hulle vooraf hulle voorkeure in ’n gees van liefde met mekaar bespreek het, het dit baie makliker gemaak toe hulle later besluite moes neem. Selfs wanneer bejaardes op hulle eie wil woon en so lank as moontlik onafhanklik wil wees, hou dit beslis voordele in om vir  hulle kinders te sê watter soort sorg hulle sal verkies indien dit eendag nodig sou wees.

7, 8. Watter onderwerpe moet families bespreek, en waarom?

7 Ouers, gedurende so ’n bespreking moet julle vir julle familie sê wat julle wil hê, hoeveel geld julle kan bestee en watter opsies julle verkies. Dit sal dit vir hulle moontlik maak om gepaste besluite te neem as julle dit dalk eendag nie self kan doen nie. Hulle sal waarskynlik julle wense wil respekteer en alles in hulle vermoë wil doen sodat julle so lank as moontlik onafhanklik kan bly (Ef. 6:2-4). Verwag julle byvoorbeeld dat een van julle kinders julle moet nooi om by hom en sy gesin te kom woon, of verwag julle iets anders? Julle moet realisties wees en besef dat almal nie dieselfde beskouing as julle het nie en dat almalouers en kinderstyd nodig het om hulle denke aan te pas.

8 Almal moet besef dat probleme deur middel van goeie beplanning en kommunikasie vermy kan word (Spr. 15:22). Dit sluit besprekings in oor mediese sorg en voorkeure. Die punte wat gemeld word op die Advance Medical Directive-kaart wat Jehovah se Getuies gebruik, is beslis van die onderwerpe wat tydens hierdie besprekings gedek moet word. Elkeen het die reg om ingelig te word oor beskikbare behandelings en om dit te aanvaar of te weier. Die persoon se wense in hierdie verband word in die Advance Medical Directive-kaart uiteengesit. As ’n gesondheidsorgverteenwoordiger aangestel word (waar dit volgens die wet moontlik en aanvaarbaar is), kan dit verseker dat iemand wat vertrou word, die gepaste besluite neem indien dit nodig sou wees. Die betrokke partye moet afskrifte van die relevante dokumente hê ingeval hulle dit nodig het. Party hou hierdie afskrifte by hulle testament en ander belangrike dokumente in verband met versekering, finansies, kontakpersone by regeringskantore, ens.

HOE OM VERANDERENDE OMSTANDIGHEDE DIE HOOF TE BIED

9, 10. Watter veranderinge in ’n bejaarde se vermoëns sal bepaal watter hulp voorsien moet word?

9 In baie gevalle verkies ouers en kinders dat die bejaarde ouers so onafhanklik as moontlik bly, afhangende van hulle vermoëns en beperkings. As hulle kan kook, kan skoonmaak, hulle medikasie kan neem en redelik goed kan kommunikeer, sal dit hulle kinders verseker dat hulle nie by elke aspek van hulle ouers se daaglikse lewe betrokke hoef te wees nie. Maar as ouers dit ná verloop van tyd moeilik begin vind om te loop en dalk nie inkopies kan doen nie of buitengewoon vergeetagtig raak, sal kinders moontlik aanpassings moet maak.

10 Bejaardes kan verwarring en depressie ondervind, asook gehoorverlies, gesigsverlies, geheueverlies en ’n onvermoë om urine in te hou. Maar hierdie gesondheidsprobleme kan dikwels doeltreffend behandel word. Raadpleeg ’n dokter sodra  sulke probleme kop uitsteek. Kinders sal dalk die inisiatief in hierdie verband moet neem. Op ’n sekere stadium sal hulle miskien ook dinge moet begin doen wat die ouers voorheen self gedoen het. Om te verseker dat ouers die beste moontlike sorg ontvang, sal kinders dalk namens hulle moet praat, met papierwerk moet help, hulle na die dokter moet neem, ensovoorts.Spr. 3:27.

11. Wat kan gedoen word om die ontwrigtende gevolge van verandering tot ’n minimum te beperk?

11 As jou ouers se probleme nie opgelos kan word nie, sal veranderinge moontlik aangebring moet word in hulle sorg of aan die huis waar hulle woon. Hoe kleiner die veranderinge is, hoe makliker sal hulle waarskynlik daarby aanpas. As jy ver van jou ouers af woon, sal dit dalk voldoende wees as ’n mede-Getuie of ’n buurman gereeld by jou ouers inloer en een van die kinders laat weet hoe dit met hulle gaan. Het hulle net hulp met kosmaak en skoonmaakwerk nodig? Sal ’n paar klein aanpassings aan die huis dit miskien vir hulle makliker en veiliger maak om rond te beweeg, te bad, ensovoorts? Dalk is die hulp van ’n tuisversorger al wat bejaarde ouers nodig het om op hulle eie te woon. Maar as hulle nie op hulle eie veilig sal wees nie, sal dit nodig wees om permanenter hulp te voorsien. Hoe dit ook al sy, vind uit watter dienste plaaslik beskikbaar is. *Lees Spreuke 21:5.

HOE PARTY DIE UITDAGING DIE HOOF BIED

12, 13. Hoe het party volwasse kinders wat ver van hulle ouers woon, aangehou om hulle te eer en na hulle om te sien?

12 Liefdevolle kinders wil hê dat hulle ouers gerieflik moet wees. Die wete dat hulle goed versorg word, gee die kinders ’n mate van gemoedsrus. Maar weens ander verpligtinge woon talle volwasse kinders nie naby hulle ouers nie. In sulke gevalle het party hulle vakansietye gebruik om hulle ouers te besoek, te help om in hulle behoeftes te voorsien en takies te doen wat die ouers nie kan doen nie. Gereelde oproepeselfs daaglikse oproepe, indien moontlikbriewe of e-posse verseker ouers dat hulle geliefd is.Spr. 23:24, 25.

13 Wat die situasie ook al is, jy sal moet bepaal watter soort sorg jou ouers van dag tot dag nodig het. As jou ouers Getuies is en jy ver van hulle af woon, kan jy met die ouer manne in hulle gemeente praat en hoor wat hulle aanbeveel. En moenie vergeet om daaroor te bid nie. (Lees Spreuke 11:14.) Selfs as jou ouers nie Getuies is nie, wil jy sekerlik ‘jou vader en jou moeder eer’ (Eks. 20:12; Spr. 23:22). Nie alle families sal weliswaar dieselfde besluite neem nie. Party reël dat ’n bejaarde ouer by hulle kom woon of nader aan hulle trek. Maar dit is nie altyd moontlik nie. Party ouers verkies om nie by volwasse kinders en hulle gesin te woon nie; hulle onafhanklikheid is vir hulle belangrik, en hulle wil nie ’n las wees nie. Party kan dit bekostigen verkies dalkom vir versorging te betaal terwyl hulle in hulle eie huis woon.Pred. 7:12.

14. Voor watter probleme kan diegene te staan kom wat die meeste sorg voorsien?

14 In baie families rus die verantwoordelikheid om na die ouers om te sien, hoofsaaklik op een seun of dogter, die een wat die naaste aan die ouers woon. Maar die versorger moet ’n balans handhaaf tussen hulle ouers se behoeftes en die behoeftes van hulle eie gesin. Elke persoon se tyd en energie is beperk. En die versorger se omstandighede kan verander, wat sal vereis dat die bestaande reëlings hersien moet word. Neem een familielid dalk te veel verantwoordelikheid op hom of haar? Kan  die ander kinders meer doen, deur byvoorbeeld beurte te maak om sorg te voorsien?

15. Hoe kan daar verhoed word dat versorgers uitbrand?

15 Wanneer ’n bejaarde ouer voltydse sorg nodig het, bestaan die gevaar dat die versorger kan uitbrand (Pred. 4:6). Liefdevolle kinders wil soveel moontlik vir hulle ouers doen, maar onophoudelike eise kan oorweldigend word. Versorgers wat hulle in hierdie situasie bevind, moet realisties wees en sal moontlik om hulp moet vra. As die versorger van tyd tot tyd hulp ontvang, sal dit dalk nie nodig wees dat die bejaarde na ’n verpleeginrigting gestuur word nie.

16, 17. Voor watter uitdagings kom kinders moontlik te staan wanneer hulle na bejaarde ouers omsien, en hoe kan hulle dit die hoof bied? (Sien ook die venster “Versorging gemotiveer deur waardering”.)

16 Dit is ontstellend om te sien hoe jou geliefde ouers die pynlike gevolge van veroudering ly. Baie versorgers voel van tyd tot tyd hartseer, angstig, gefrustreerd, kwaad, skuldig en selfs gegrief. Soms sal ’n bejaarde ouer gemene dinge sê of ’n gebrek aan waardering toon. Moenie gou wees om aanstoot te neem as dit gebeur nie. ’n Deskundige op die gebied van geestesgesondheid sê: “Die beste manier om enige emosie, veral ontstellende emosies, te verwerk, is om dit aan jouself te erken. Moenie ontken dat jy so voel of jouself daaroor veroordeel nie.” Praat met jou huweliksmaat, ’n ander familielid of ’n vertroude vriend oor hoe jy voel. Sulke gesprekke kan jou help om jou emosies in perspektief te sien.

17 Die tyd sal dalk aanbreek wanneer ’n familie nie meer die middele of die vaardighede het om die geliefde by die huis te versorg nie. Dit sal dalk nodig wees om van verpleegdienste gebruik te maak. ’n Christensuster het haar ma byna elke dag in ’n verpleeginrigting besoek. Sy sê oor haar familie: “Ons kon eenvoudig nie die voltydse versorging voorsien wat my ma nodig gehad het nie. Dit was nie maklik om haar na ’n verpleeginrigting te stuur nie. Ons het baie sleg gevoel. Maar dit was die beste oplossing vir haar tydens die laaste paar maande van haar lewe, en sy het dit aanvaar.”

18. Waarvan kan versorgers seker wees?

18 Dit kan ingewikkeld en emosioneel uitputtend wees om die verantwoordelikheid na te kom om na jou ouers om te sien terwyl hulle ouer word. Wanneer dit kom by die versorging van bejaardes, is daar nie ’n stel oplossings wat vir almal werk nie. Maar met noukeurige beplanning, goeie samewerking en kommunikasie en, bowenal, hartgrondige gebed, kan jy die verantwoordelikheid nakom om jou geliefdes te eer. As jy dit doen, kan jy tevrede voel in die wete dat hulle die sorg en aandag ontvang wat hulle nodig het. (Lees 1 Korintiërs 13:4-8.) Wat meer is, jy kan seker wees dat jy die gemoedsrus sal hê waarmee Jehovah diegene seën wat hulle ouers eer.Fil. 4:7.

^ par. 3 Ouers en kinders se voorkeure word dalk deur die plaaslike kultuur bepaal. In sommige gebiede is dit normaal of selfs wenslik dat ouers by hulle kinders en kleinkinders woon of gereeld saam kuier.

^ par. 11 As jou ouer nog op sy eie woon, moet jy seker maak dat betroubare versorgers sleutels het sodat hulle tydens ’n noodgeval by die bejaarde kan uitkom.