Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | KAN IEMAND DIE TOEKOMS VOORSPEL?

Soms reg, dikwels verkeerd

Soms reg, dikwels verkeerd

Wil jy graag weet wat die toekoms vir jou inhou? Die meeste van ons wil graag weet. Baie mense voorspel komende gebeurtenisse—met uiteenlopende resultate. Dink aan die volgende:

  • WETENSKAPLIKES gebruik gevorderde toerusting en bestee baie geld daaraan om voorspellings te maak oor verskeie sake, soos watter uitwerking besoedeling uiteindelik op die aarde sal hê en of dit môre in jou omgewing sal reën.

  • PROFESSIONELE ONTLEDERS voorspel tendense in die sakewêreld en die politiek. Warren Buffett, een van die rykste mense in die wêreld, is al weens sy suksesvolle sakebeleggings ’n orakel genoem. Nate Silver, ’n ander ontleder, gebruik statistiek om hom te help om voorspellings te maak oor enigiets van die Amerikaanse politiek tot Hollywood-filmtoekennings.

  • EERTYDSE BRONNE is al as profeties beskou. Party mense sien hedendaagse vervullings in die vae geskrifte van Michel de Notredame (Nostradamus), wat in die 16de eeu gelewe het. ’n Maja-kalender se siklus wat op 21 Desember 2012 geëindig het, is deur party mense beskou as ’n voorteken van rampspoedige gebeurtenisse.

  • GODSDIENSLEIERS voorspel soms tragiese wêreldwye gebeurtenisse om die mensdom te waarsku en volgelinge te kry. Die doemprofeet Harold Camping en sy dissipels het wyd en syd verkondig dat die aarde in 2011 vernietig sou word. Maar dit het nie gebeur nie.

  • SPIRITISTIESE MEDIUMS beweer dat hulle spesiale vermoëns het om die toekoms te voorspel. Party van Edgar Cayce sowel as Jeane Dixon se voorspellings oor gebeurtenisse in die 20ste eeu het waar geword. Hulle albei het ook baie valse voorspellings gemaak. Byvoorbeeld, Dixon het voorspel dat ’n derde wêreldoorlog in 1958 sou uitbreek, en Cayce het voorspel dat New York in die middel-1970’s in die see sou wegsink.

Is daar werklik betroubare voorspellings oor die toekoms? Dit is ’n goeie vraag. As jy kan sien wat die toekoms inhou, sal jou lewe dalk baie anders verloop.