Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe moet ons ‘elkeen antwoord’?

Hoe moet ons ‘elkeen antwoord’?

“Laat julle woorde altyd aangenaam wees, . . . sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”KOL. 4:6.

1, 2. (a) Vertel ’n ondervinding wat die waarde van goed gekose vrae toelig. (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waarom hoef ons nie geïntimideer te wees deur moeilike onderwerpe nie?

’N PAAR jaar gelede het ’n Christensuster die Bybel met haar ongelowige man bespreek. Destyds was hy ’n onbedrywige lid van een van die Christendom se kerke. Tydens die bespreking het haar man gesê dat hy in die Drie-eenheid glo. Sy het onderskei dat hy dalk nie presies weet waaroor die Drie-eenheidsleer gaan nie, en daarom het sy taktvol gevra: “Glo jy dat God God is, dat Jesus God is en dat die heilige gees God is; maar dat daar nie drie Gode is nie, maar net een God?” Verbaas het haar man gesê: “Nee, dis nie wat ek glo nie!” Dit het ’n lewendige gesprek oor die ware aard van God tot gevolg gehad.

2 Hierdie ondervinding lig die waarde van taktvolle, goed gekose vrae toe. Dit beklemtoon ook ’n belangrike punt: Ons hoef nie geïntimideer te wees deur moeilike onderwerpe soos die Drie-eenheid, die helse vuur of die bestaan van ’n Skepper nie. As ons vertrou op Jehovah en die opleiding wat hy voorsien, kan ons dikwels ’n oortuigende antwoord gee, een wat moontlik die hart van ons luisteraars sal bereik (Kol. 4:6). Kom ons ondersoek wat doeltreffende bedienaars doen wanneer hulle sulke onderwerpe bespreek. Ons sal bespreek hoe om (1) vrae te vra wat die persoon by ’n gesprek betrek, (2) te redeneer oor wat die Skrif sê en (3) illustrasies te gebruik wat die punt by die persoon tuisbring.

VRA VRAE WAT JOU LUISTERAARS BY ’N GESPREK BETREK

3, 4. Waarom is dit belangrik om vrae te gebruik om uit te vind wat ’n persoon glo? Gee ’n voorbeeld.

3 Vrae kan ons help om uit te vind wat ’n persoon glo. Waarom is dit belangrik? “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering”, sê Spreuke 18:13. Ja, voordat ons die Bybel se beskouing oor ’n sekere onderwerp begin bespreek, sal dit goed wees as ons uitvind wat die persoon werklik glo. Anders sal ons dalk baie tyd daaraan bestee om ’n opvatting te weerlê waaraan hy in die eerste plek nie geglo het nie!1 Kor. 9:26.

4 Gestel ons bespreek die helse vuur met iemand. Nie almal glo dat die hel ’n letterlike plek van vurige foltering is nie. Baie mense glo dat dit ’n toestand is waarin ’n persoon hom bevind wanneer hy hom moedswillig van God vervreem het. Ons kan dus vra: “Aangesien mense verskillende idees omtrent die hel het, mag ek vra wat jy daarvan dink?” Nadat ons die persoon se antwoord gehoor het, sal ons in ’n beter posisie wees om hom te help om te verstaan wat die Bybel oor die onderwerp sê.

5. Hoe kan vrae ons help om uit te vind waarom ’n persoon glo wat hy glo?

5 Taktvolle vrae kan ons ook help om uit te vind waarom ’n persoon glo wat hy glo. Sê nou ons ontmoet iemand in die bediening wat sê dat hy nie aan God glo nie? Dit is dalk maklik om aan te neem dat hy beïnvloed is deur sekulêre beskouings, soos die evolusieteorie (Ps. 10:4). Maar party mense het geloof in God verloor omdat hulle intense lyding gesien of ondervind het. Hulle vind dit dalk moeilik om hierdie lyding te versoen met die bestaan van ’n liefdevolle Skepper. As die huisbewoner sê dat hy aan God se bestaan twyfel, kan ons dus vra: “Het jy nog altyd so gevoel?” As die persoon nee sê, kan ons hom vra of iets spesifieks hom aan God se bestaan laat twyfel het. Sy antwoord kan ons help om te bepaal wat die beste manier is om hom geestelik te help.Lees Spreuke 20:5.

6. Wat moet ons doen nadat ons ’n vraag gevra het?

6 Nadat ons ’n vraag gevra het, moet ons werklik na die persoon se antwoord luister en sy gevoelens erken. Byvoorbeeld, iemand sê dalk dat ’n tragedie hom aan die bestaan van ’n liefdevolle Skepper laat twyfel het. Voordat ons probeer bewys dat God bestaan, sal dit goed wees as ons ons medelye uitspreek en hom verseker dat dit nie verkeerd is om te wonder waarom ons ly nie (Hab. 1:2, 3). As ons geduldig en liefdevol is, sal hy dalk meer wil weet. *

REDENEER OOR WAT DIE SKRIF SÊ

Waarvan hang ons doeltreffendheid in die bediening hoofsaaklik af? (Sien paragraaf 7)

7. Waarvan hang ons doeltreffendheid in die bediening hoofsaaklik af?

7 Kom ons bespreek nou hoe om te redeneer oor wat die Skrif sê. Die Bybel is natuurlik ons vernaamste hulpmiddel in die bediening. Dit stel ons in staat om “volkome bevoeg [te] wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:16, 17). Ons doeltreffendheid in die bediening hang nie af van hoeveel tekste ons lees nie, maar hoofsaaklik van hoe ons oor daardie tekste redeneer en dit verduidelik. (Lees Handelinge 17:2, 3.) Die volgende drie scenario’s lig dit goed toe.

8, 9. (a) Wat is een manier waarop ons kan redeneer met iemand wat glo dat Jesus gelyk is aan God? (b) Watter ander redenasies in verband met hierdie onderwerp het jy al doeltreffend gevind?

8 Scenario 1: In ons bediening ontmoet ons iemand wat glo dat Jesus gelyk is aan God. Watter tekste kan ons gebruik om hieroor te redeneer? Ons kan die persoon nooi om Johannes 6:38 te lees, waar Jesus gesê het: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.” Nadat ons hierdie vers gelees het, kan ons die persoon vra: “As Jesus God is, wie het hom dan van die hemel af gestuur? Is daardie Persoon dan nie groter as Jesus nie? Die een wat stuur, is immers groter as die een wat gestuur word.”

9 Ons kan ook Filippense 2:9 lees, waar die apostel Paulus beskryf wat God gedoen het nadat Jesus gesterf het en opgewek is. Die vers sê: “God [het] hom [Jesus] ook tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is.” Om die persoon te help om oor hierdie teks te redeneer, kan ons vra: “As Jesus aan God gelyk was voordat hy gesterf het en God hom later tot ’n hoër posisie verhef het, sou dit nie beteken dat Jesus hoër as God is nie? Maar hoe kan enigiemand hoër as God wees?” As die persoon God se Woord respekteer en opreg van hart is, kan so ’n redenasie hom beweeg om die onderwerp verder te ondersoek.Hand. 17:11.

10. (a) Hoe kan ons redeneer met iemand wat in die helse vuur glo? (b) Watter redenasies in verband met die helse vuur het jy al doeltreffend gevind?

10 Scenario 2: ’n Baie godsdienstige huisbewoner vind dit moeilik om te glo dat slegte mense nie vir ewig in ’n helse vuur gepynig sal word nie. Hy glo dalk in die helse vuur omdat hy graag wil hê dat goddelose mense vir hulle slegte dade gestraf moet word. Hoe kan ons redeneer met iemand wat so voel? Eerstens kan ons hom verseker dat goddelose mense gestraf sal word (2 Tess. 1:9). Dan kan ons hom vra om Genesis 2:16, 17 te lees, wat toon dat die straf vir sonde die dood is. Ons kan verduidelik dat Adam, deur te sondig, veroorsaak het dat alle mense as sondaars gebore word (Rom. 5:12). Maar ons kan daarop wys dat God nooit gesê het dat mense in ’n helse vuur gestraf sou word nie. Ons kan dan vra: “As die gevaar bestaan het dat Adam en Eva vir ewig gepynig sou word, sou dit nie regverdig gewees het om hulle daarteen te waarsku nie?” Dan kan ons Genesis 3:19 lees, waar Jehovah ná hulle sonde sy oordeel oor hulle uitgespreek het, maar niks oor ’n helse vuur gesê het nie. Daar is eerder vir Adam gesê dat hy tot stof sou terugkeer. Ons kan vra: “Sou dit regverdig gewees het om vir Adam te sê dat hy na die grond sal terugkeer as hy in werklikheid na ’n vurige hel sou gaan?” As die persoon ontvanklik is, sal so ’n vraag hom dalk beweeg om dieper oor hierdie onderwerp na te dink.

11. (a) Wat is een manier waarop ons kan redeneer met iemand wat glo dat alle goeie mense hemel toe gaan? (b) Watter redenasies in verband met hierdie onderwerp het jy al doeltreffend gevind?

11 Scenario 3: In ons bediening ontmoet ons iemand wat glo dat alle goeie mense hemel toe gaan. Hierdie opvatting beïnvloed dalk hoe die huisbewoner die Bybel vertolk. Gestel ons bespreek Openbaring 21:4 met hom. (Lees.) Die persoon sal miskien aanneem dat die seëninge wat in hierdie teks beskryf word, na die lewe in die hemel verwys. Hoe kan ons met hom redeneer? Eerder as om bykomende tekste as bewyse te lees, kan ons die aandag vestig op ’n punt in hierdie teks. Dit sê dat ‘die dood nie meer daar sal wees nie’. Ons kan die persoon vra: “As iets nie meer daar is nie, moes dit dan nie eers bestaan het nie?” Hy sal waarskynlik saamstem. Dan kan ons daarop wys dat die dood nooit in die hemel bestaan het nie; dit bestaan net hier op die aarde. Logieserwys moet Openbaring 21:4 dus na toekomstige seëninge hier op die aarde verwys.Ps. 37:29.

GEBRUIK ILLUSTRASIES OM DIE PUNT TE BEKLEMTOON

12. Waarom het Jesus illustrasies gebruik?

12 Jesus het nie net vrae in sy predikingswerk gebruik nie, maar ook illustrasies. (Lees Matteus 13:34, 35.) Jesus se illustrasies het gehelp om die beweegredes te openbaar van diegene wat na hom geluister het (Matt. 13:10-15). Omdat Jesus illustrasies gebruik het, het sy leringe by mense byval gevind en kon hulle dit maklik onthou. Hoe kan ons van illustrasies gebruik maak wanneer ons ander leer?

13. Hoe kan ons die feit toelig dat God hoër is as Jesus?

13 Dit is dikwels die beste om eenvoudige illustrasies te gebruik. Byvoorbeeld, wanneer ons verduidelik dat God hoër is as Jesus, kan ons dalk die volgende benadering probeer. Ons kan meld dat God sowel as Jesus ’n verhouding tussen gesinslede gebruik het om hulle verhouding te beskryf. God het na Jesus verwys as sy Seun, en Jesus het na God verwys as sy Vader (Luk. 3:21, 22; Joh. 14:28). Daarna kan ons vir die huisbewoner vra: “Watter verhouding tussen gesinslede sou jy gebruik as jy my wou leer dat twee persone gelyk is?” Die persoon sal dalk dié van broers meld—selfs ’n tweeling. Indien wel, kan ons daarop wys hoe natuurlik so ’n vergelyking is. Dan kan ons vra: “As ek en jy so maklik aan hierdie illustrasie kon dink, dink jy nie dat Jesus—die Groot Leermeester—aan dieselfde vergelyking sou gedink het nie? Maar hy het eerder na God verwys as sy Vader. Jesus het God dus uitgebeeld as iemand wat ouer is as hy en meer gesag het.”

14. Watter illustrasie toon dat dit onlogies sou wees vir God om die Duiwel te gebruik om mense in ’n helse vuur te pynig?

14 Kyk na nog ’n voorbeeld. Party glo dat Satan “in beheer” is van die helse vuur. ’n Illustrasie kan ’n ouer help om te sien hoe onlogies dit sou wees vir God om die Duiwel te gebruik om mense in ’n helse vuur te pynig. Ons kan dalk sê: “Stel jou voor dat jou seun baie opstandig word en ’n klomp slegte dinge doen. Wat sou jy doen?” Die ouer sal waarskynlik sê dat hy sy kind sal teregwys. Hy sal die kind dalk herhaaldelik probeer help om op te hou om slegte dinge te doen (Spr. 22:15). Dan kan ons die ouer vra wat hy sou doen as die kind al sy pogings verwerp. Die meeste ouers sal sê dat hulle uiteindelik geen keuse sal hê as om die kind te straf nie. Ons kan dan vra: “Sê nou jy vind uit dat ’n goddelose persoon jou kind beïnvloed het om so opstandig te wees?” Die ouer sal ongetwyfeld kwaad wees vir daardie persoon. Om die punt van die illustrasie te beklemtoon, kan ons die ouer vra: “Sou jy die goddelose persoon wat jou kind beïnvloed het, vra om jou kind namens jou te straf?” Die antwoord sal natuurlik nee wees. Dit is dus duidelik dat God nie Satan sou gebruik om mense te straf terwyl hy die een is wat hulle beïnvloed het om slegte dinge te doen nie!

BEHOU ’N GEBALANSEERDE BESKOUING

15, 16. (a) Waarom moet ons nie verwag dat almal vir wie ons preek, die Koninkryksboodskap sal aanneem nie? (b) Moet ons besonder begaafd wees om doeltreffend te onderrig? Verduidelik. (Sien ook die venster “ ’n Reeks wat ons help om te weet hoe om te antwoord”.)

15 Ons besef dat nie almal vir wie ons preek die Koninkryksboodskap sal aanneem nie (Matt. 10:11-14). Dit sal die geval wees, al vra ons al die regte vrae en al gebruik ons die beste redenasies en illustrasies. Onthou dat betreklik min mense gunstig op Jesus se onderrigting gereageer het—en hy was die grootste Onderrigter wat nog ooit gelewe het!Joh. 6:66; 7:45-48.

16 Maar al voel ons dat ons nie ’n besonder begaafde onderrigter is nie, is dit vir ons moontlik om in ons bediening doeltreffend te wees. (Lees Handelinge 4:13.) God se Woord gee ons goeie rede om te glo dat “almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe . . . het”, die goeie nuus sal aanneem (Hand. 13:48). Laat ons dus ’n gebalanseerde beskouing van onsself aankweek, sowel as van diegene aan wie ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig, en hierdie beskouing behou. Mag ons ten volle gebruik maak van die opleiding wat Jehovah voorsien, vol vertroue dat ons sowel as dié wat na ons luister, daarby sal baat vind (1 Tim. 4:16). Jehovah kan ons help om te weet hoe ons “elkeen behoort te antwoord”. In die volgende artikel sal ons sien hoe ons sukses in ons bediening kan behaal deur die Gulde Reël te volg.

^ par. 6 Sien die artikel: “Is dit moontlik om geloof op te bou in ’n Skepper?” in Die Wagtoring van 1 Oktober 2009.