Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

UIT ONS ARGIEF

‘Daar is nog oeswerk wat gedoen moet word’

‘Daar is nog oeswerk wat gedoen moet word’

George Young het in Maart 1923 in Rio de Janeiro aangekom

DIT is die jaar 1923. Die konsertsaal by die Konservatorium vir Drama en Musiek in São Paulo is stampvol! Kan jy George Young se kalm stem hoor? Sy toespraak word sin vir sin in Portugees getolk. Al 585 wat teenwoordig is, luister aandagtig. Bybeltekste in Portugees word op ’n skerm vertoon. Honderd eksemplare van die boekie Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie! in Portugees word uitgedeel, sowel as ’n paar in Engels, Duits en Italiaans. Wat ’n opwindende slot! Die toespraak was ’n sukses! Die nuus versprei. Twee aande later is die saal weer stampvol vir nog ’n toespraak. Maar wat het hierdie gebeure voorafgegaan?

In 1867 het Sarah Bellona Ferguson saam met haar gesin van die Verenigde State af na Brasilië geëmigreer. In 1899 het Sarah geweet dat sy die waarheid gevind het toe sy Bybellektuur gelees het wat haar jonger broer van die Verenigde State na Brasilië gebring het. Sy was ’n ywerige leser en het ingeteken op Die Wagtoring in Engels. Sy was opgewonde oor die Bybel se boodskap en het vir broer C.T. Russell geskryf en gesê dat haar geval “’n sprekende bewys is dat niemand te ver is om bereik te word nie”.

Kan die lewendes met die dooies praat? (Portugees)

Sarah Ferguson het haar bes gedoen om Bybelwaarheid aan ander te verkondig, maar sy het dikwels gewonder wie haar en haar gesin, sowel as al die goeie mense in Brasilië, verder sou help. In 1912 het die Brooklynse Bethel haar ingelig dat iemand met duisende traktate met die titel Waar is die dode? in Portugees na São Paulo toe kom. In 1915 het sy gesê dat dit haar altyd verbaas het om te hoor dat baie Bybelstudente verwag het om op daardie stadium hemel toe te gaan. Sy het haar mening uitgespreek en geskryf: “Wat van Brasilië en die hele Suid-Amerika? . . . As julle dink aan wat ’n ontsaglike deel van die wêreld Suid-Amerika is, sal dit maklik wees om te sien dat daar nog baie oeswerk is wat gedoen moet word.” Ja, baie meer oeswerk sou gedoen word!

Ongeveer 1920 het agt jong Brasiliaanse seemanne ’n paar gemeentelike vergaderinge in New York bygewoon terwyl herstelwerk aan hulle oorlogskip gedoen is. Toe hulle na Rio de Janeiro teruggekeer het, het hulle ander van hulle nuutgevonde Bybelse hoop vertel. Nie lank daarna nie, in Maart 1923, het George Young, wat ’n pelgrim, of reisende opsiener, was, in Rio de Janeiro aangekom, waar hy belangstellendes gevind het. Hy het gereël dat verskeie publikasies in Portugees vertaal word. Kort daarna het broer Young na São Paulo gereis, wat destyds ’n stad met sowat 600 000 inwoners was. Daar het hy die toespraak gehou wat aan die begin van hierdie artikel gemeld word, en die Miljoene-boekies uitgedeel. “Omdat ek alleen was”, het hy vertel, “moes ek heeltemal staatmaak op koerantadvertensies.” Dit was “die eerste geadverteerde openbare toesprake wat onder die toesig van die IBSA in Brasilië gehou is”, het hy bygevoeg. *

Bybeltekste was gedurende broer Young se toesprake op ’n skerm vertoon

In ’n verslag oor Brasilië het die Engelse Wagtoring van 15 Desember 1923 gesê: “As ons in ag neem dat die werk daar op 1 Junie begin het en dat geen lektuur destyds beskikbaar was nie, is dit merkwaardig hoe die Here die werk geseën het.” Die verslag het verder gesê dat broer Young se openbare toesprake in São Paulo 2 van die 21 was wat tussen 1 Junie en 30 September gehou is en deur altesaam 3 600 bygewoon is. In Rio de Janeiro het die Koninkryksboodskap geleidelik versprei. En binne net ’n paar maande is meer as 7 000 van ons publikasies in Portugees uitgedeel! Wat meer is, Die Wagtoring in Portugees is vir die eerste keer in November 1923 uitgegee.

Sarah Bellona Ferguson, die eerste intekenaar op die Engelse Wagtoring in Brasilië

George Young het Sarah Ferguson besoek, en die Engelse Wagtoring het gesê: “Die suster het na die voorhuis gekom en was vir ’n oomblik sprakeloos. Sy het broer Young se hand geneem, hom reguit in die oë gekyk en uiteindelik gevra: ‘Is jy werklik ’n Pelgrim?’” Sy en party van haar kinders is kort daarna gedoop. Trouens, sy het 25 jaar lank gewag om gedoop te word! Die Engelse Wagtoring van 1 Augustus 1924 het berig dat 50 in Brasilië gedoop is, die meeste van hulle in Rio de Janeiro.

Nou, sowat 90 jaar later, hoef ons nie te vra: “Wat van Brasilië en die hele Suid-Amerika?” nie. Meer as 760 000 Getuies van Jehovah verkondig die goeie nuus in Brasilië. En oral in Suid-Amerika word die Koninkryksboodskap nou in Portugees, Spaans en talle inheemse tale gehoor. Sarah Ferguson was reg, in 1915 was daar nog oeswerk wat gedoen moes word.—Uit ons argief in Brasilië.

^ par. 6 IBSA staan vir Internasionale Bybelstudente-vereniging.