Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dien God lojaal ten spyte van “baie verdrukkinge”

Dien God lojaal ten spyte van “baie verdrukkinge”

“Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan.”—HAND. 14:22.

1. Waarom is God se knegte nie verbaas wanneer hulle verdrukking ondervind nie?

IS DIT vir jou verbasend dat jy “baie verdrukkinge” kan verwag voordat jy die prys van die ewige lewe verkry? Waarskynlik nie. Hetsy jy nuut in die waarheid is of Jehovah al lank dien, jy weet dat ontberinge deel van die lewe in Satan se wêreld is.—Op. 12:12.

2. (a) Watter vorm van verdrukking moet Christene die hoof bied, bo en behalwe die probleme wat alle onvolmaakte mense teister? (Sien die prent aan die begin van die artikel.) (b) Wie sit agter ons verdrukkinge, en hoe weet ons dit?

2 Bo en behalwe die moeilikhede wat “eie is aan mense”—die probleme wat alle onvolmaakte mense teister—moet Christene nog ’n vorm van verdrukking die hoof bied (1 Kor. 10:13). Wat is dit? Hewige teenstand weens hulle onwrikbare gehoorsaamheid aan God se wette. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Joh. 15:20). Wie sit agter hierdie teenstand? Dit is in werklikheid Satan, wat in die Bybel beskryf word as “’n brullende leeu” wat ‘daarop uit is om God se volk te verslind’ (1 Pet. 5:8). Satan sal enige moontlike manier gebruik om die onkreukbaarheid van Jesus se dissipels te probeer ondermyn. Kyk wat met die apostel Paulus gebeur het.

VERDRUKKING IN LISTRA

3-5. (a) Watter verdrukking het Paulus in Listra verduur? (b) Waarom was sy boodskap oor toekomstige verdrukkinge versterkend?

3 Paulus is meer as een keer weens sy geloof vervolg (2 Kor. 11:23-27). Een voorval het in Listra plaasgevind. Nadat Paulus en sy metgesel, Barnabas, ’n man genees het wat van geboorte af kreupel was, is hulle as gode beskou. Die twee moes die opgewonde skare smeek om hulle nie te aanbid nie! Maar kort voor lank het Joodse teenstanders daar aangekom, en hulle het die verstande van die mense deur middel van laster vergiftig. Die situasie het gou verander! Die mense het Paulus toe met klippe gegooi en hom vir dood agtergelaat.—Hand. 14:8-19.

4 Nadat hulle Derbe besoek het, het Paulus en Barnabas “na Listra en na Ikonium en na Antiogië teruggekeer en die siele van die dissipels versterk en hulle aangemoedig om in die geloof te bly en gesê: ‘Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan’” (Hand. 14:21, 22). Aanvanklik klink hierdie woorde dalk vreemd. Die vooruitsig om “baie verdrukkinge” te ondervind, is tog immers ontstellend, nie aanmoedigend nie. Hoe het Paulus en Barnabas dan “die dissipels versterk” met ’n boodskap wat op nog verdrukking gedui het?

5 Ons kan die antwoord vind as ons Paulus se woorde van naderby bekyk. Hy het nie bloot gesê: “Ons moet baie verdrukkinge verduur” nie. Hy het eerder gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan.” Paulus het die dissipels dus versterk deur die positiewe gevolg van ’n getroue weg te beklemtoon. Hierdie beloning was nie blote wensdenkery nie. Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matt. 10:22.

6. Watter beloning word in die vooruitsig gestel vir diegene wat volhard?

6 As ons volhard, sal ons ’n beloning ontvang. Vir gesalfde Christene is hierdie beloning onsterflikheid in die hemel as medeheersers van Jesus. Vir die “ander skape” is dit ewige lewe op die aarde, ‘waarin regverdigheid sal woon’ (Joh. 10:16; 2 Pet. 3:13). Maar soos Paulus gesê het, sal ons intussen baie verdrukkinge verduur. Kyk na twee soorte beproewinge waarvoor ons te staan kan kom.

FRONTAANVALLE

7. Watter soort verdrukking kan as frontaanvalle beskryf word?

7 Jesus het voorspel: “Mense sal julle aan plaaslike geregshowe oorlewer, en julle sal in sinagoges geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word” (Mark. 13:9). Soos hierdie woorde aandui, sal party Christene verdrukking ondervind in die vorm van fisiese vervolging, miskien op aanstigting van godsdiens- of politieke leiers (Hand. 5:27, 28). Kyk weer na Paulus se voorbeeld. Het die gedagte aan sulke vervolging hom laat terugdeins? Glad nie.—Lees Handelinge 20:22, 23.

8, 9. Hoe het Paulus getoon dat hy vasbeslote is om te volhard, en hoe openbaar party in ons tyd soortgelyke vasbeslotenheid?

8 Paulus het Satan se frontaanvalle moedig weerstaan en gesê: “Ek [heg] geen waarde aan my siel asof dit vir my dierbaar is nie, as ek maar net my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om deeglik van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God te getuig” (Hand. 20:24). Dit is duidelik dat Paulus nie bang was vir moontlike vervolging nie. Inteendeel, hy was vasbeslote om te volhard, wat ook al gebeur. Om ‘deeglik te getuig’ ondanks enige verdrukking, was vir hom die hoofsaak.

9 Vandag openbaar baie van ons broers en susters soortgelyke vasbeslotenheid. Byvoorbeeld, in een land is party Getuies al byna 20 jaar lank in die tronk weens hulle neutrale standpunt. Hulle saak is nooit verhoor nie omdat daar in dié land geen voorsiening vir gewetensbeswaardes is nie. Hulle word nie toegelaat om besoekers in die tronk te ontvang nie, nie eens gesinslede nie, en party gevangenes word geslaan en aan verskillende vorme van marteling onderwerp.

10. Waarom moet ons nie skielike verdrukkinge vrees nie?

10 Ons broers op ander plekke verduur verdrukkinge wat skielik ontstaan. As dit met jou gebeur, moet jy nie toelaat dat vrees jou oorweldig nie. Dink aan Josef. Hy is in slawerny verkoop, maar Jehovah “het hom uit al sy verdrukkinge verlos” (Hand. 7:9, 10). Jehovah kan dit ook in jou geval doen. Moet nooit vergeet dat “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos” nie (2 Pet. 2:9). Sal jy voortgaan om op Jehovah te vertrou, in die wete dat hy jou uit hierdie goddelose stelsel van dinge kan verlos en jou die ewige lewe onder sy Koninkryksheerskappy kan laat geniet? Jy het alle rede om dit te doen en om vervolging moedig te verduur.—1 Pet. 5:8, 9.

SUBTIELE AANVALLE

11. Hoe verskil Satan se subtiele aanvalle van sy frontaanvalle?

11 Nog ’n soort verdrukking waarvoor ons te staan kan kom, behels subtiele aanvalle. Hoe verskil dit van die frontaanvalle van fisiese vervolging? Frontaanvalle is soos ’n tornado wat die dorp tref en jou huis in ’n oomblik vernietig. Subtiele aanvalle is meer soos ’n termietkolonie wat geleidelik hulle intrek neem en aan jou houthuis knaag totdat dit inmekaarstort. In laasgenoemde geval is ’n mens dalk nie eens bewus van die gevaar totdat dit te laat is nie.

12. (a) Wat is een van Satan se subtiele metodes, en waarom is dit so doeltreffend? (b) Watter uitwerking het ontmoediging op Paulus gehad?

12 Satan wil graag jou verhouding met Jehovah vernietig, hetsy deur frontaanvalle van vervolging of deur stadig aan jou geloof te knaag deur middel van subtiele aanvalle. Een van die doeltreffendste subtiele metodes wat Satan gebruik, is ontmoediging. Die apostel Paulus het erken dat hy soms ontmoedig gevoel het. (Lees Romeine 7:21-24.) Waarom sou Paulus—’n geestelike “reus” wat waarskynlik ’n lid van die eerste-eeuse bestuursliggaam was—homself ’n “ellendige mens” genoem het? Paulus het gesê dat hy so gevoel het weens sy onvolmaakthede. Hy wou werklik doen wat reg is, maar was bewus van ’n ander krag wat teen hom stry. As jy soms met sulke gevoelens worstel, is dit dan nie vir jou vertroostend om te weet dat selfs die apostel Paulus ’n soortgelyke stryd gehad het nie?

13, 14. (a) Wat laat party van God se knegte ontmoedig voel? (b) Wie wil ons geloof ondermyn, en waarom?

13 Baie broers en susters voel soms ontmoedig, angstig en dalk selfs waardeloos. Byvoorbeeld, ’n ywerige pionier wat ons Debora sal noem, sê: “Ek dink oor en oor aan ’n fout wat ek gemaak het, en elke keer voel ek slegter daaroor. Wanneer ek dink aan alles wat ek verkeerd gedoen het, laat dit my soms voel asof niemand my ooit kan liefhê nie, nie eens Jehovah nie.”

14 Waarom raak party ywerige knegte van Jehovah, soos Debora, ontmoedig? Daar kan ’n aantal redes wees. Party is dalk eenvoudig geneig om ’n negatiewe beskouing van hulleself en hulle lewensomstandighede te hê (Spr. 15:15). Ander se negatiewe gevoelens word moontlik veroorsaak deur ’n fisiese kwaal wat die emosies beïnvloed. Ongeag die oorsaak, ons moenie vergeet wie hierdie gevoelens wil uitbuit nie. Wie is dit wat wil hê dat ons so ontmoedig moet voel dat ons tou opgooi? Wie wil hê dat jy moet voel asof dieselfde streng oordeel op jou wag as wat op hom wag? (Op. 20:10). Dit is natuurlik Satan. Die feit is, hetsy Satan ’n frontaanval of subtieler aanvalle gebruik, sy doelwit bly dieselfde—om ons onder druk te plaas, om ons ywer te laat afneem en om ons te laat tou opgooi. Dit ly geen twyfel dat God se volk in ’n geestelike oorlog gewikkel is nie!

15. Hoe kan ons toon dat ons vasbeslote is om nie deur ontmoediging oorweldig te word nie?

15 Wees vasbeslote om nie die stryd gewonne te gee nie. Hou die beloning voor oë. Paulus het aan Christene in Korinte geskryf: “Ons [gee] nie moed op nie, maar selfs al teer die mens wat ons uiterlik is weg, word die mens wat ons innerlik is, beslis van dag tot dag vernuwe. Want al is die verdrukking kortstondig en lig, bewerk dit vir ons ’n heerlikheid wat van al hoe meer oortreffende gewig en ewig is.”—2 Kor. 4:16, 17.

BEREI NOU VIR VERDRUKKING VOOR

Alle Christene, jonk en oud, berei voor om hulle geloof te verdedig (Sien paragraaf 16)

16. Waarom is dit belangrik om nou vir verdrukking voor te berei?

16 Soos ons gesien het, maak Satan gebruik van ’n aantal “sette” (Ef. 6:11). Elkeen van ons moet ag slaan op die vermaning in 1 Petrus 5:9: “Weerstaan hom, vas in die geloof.” Om dit te doen, moet ons ons verstand en hart voorberei—ons moet nou leer om te doen wat reg is. Ter toeligting: ’n Leër soldate sal dikwels ’n reeks strawwe driloefeninge uitvoer lank voordat daar eens ’n moontlikheid van ’n oorlog is. Dit is ook die geval met Jehovah se geestelike leër. Ons weet nie wat ons stryd in die toekoms sal behels nie. Sal dit dan nie verstandig wees om gedurende ’n tyd van relatiewe vrede goed voor te berei nie? Paulus het aan die Korintiërs geskryf: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef.”—2 Kor. 13:5.

17-19. (a) Hoe kan ons onsself toets? (b) Hoe kan jongmense hulle voorberei om hulle oortuigings by die skool te verdedig?

17 Een manier waarop ’n mens Paulus se geïnspireerde raad kan gehoorsaam, is deur ernstige selfondersoek te doen. Vra jou vrae af soos: ‘Hou ek vol met gebed? Is ek, wanneer ek voor portuurdruk te staan kom, eerder aan God as heerser gehoorsaam as aan mense? Woon ek Christelike vergaderinge gereeld by? Praat ek met vrymoedigheid oor my oortuigings? Probeer ek werklik my mede-aanbidders se tekortkominge verdra—net soos hulle myne verdra? Is ek onderdanig aan diegene wat die leiding in die plaaslike gemeente neem sowel as aan diegene wat dit in die wêreldwye gemeente doen?’

18 Let op dat twee van die vrae daaroor handel of ons ons oortuigings met vrymoedigheid verdedig en portuurdruk weerstaan. Baie van ons jongmense moet dit op skool doen. Hulle het geleer om nie bang of skaam te wees om oor hulle oortuigings te praat nie. Inteendeel, hulle praat met vrymoedigheid daaroor. Ons tydskrifte bevat nuttige wenke in hierdie verband. Byvoorbeeld, die Ontwaak! van Julie 2009 stel voor dat as ’n klasmaat vra: “Hoekom glo jy nie aan evolusie nie?” jy eenvoudig kan sê: “Hoekom moet ek aan evolusie glo? Nie eens wetenskaplikes stem daaroor saam nie, en hulle is veronderstel om die deskundiges te wees!” Ouers, maak seker dat julle oefensessies met julle kinders hou sodat hulle voorbereid is om sulke druk van hulle portuurs by die skool die hoof te bied.

19 Dit is wel nie altyd maklik om ons oortuigings te verdedig of om ander dinge te doen wat Jehovah van ons verwag nie. Ná ’n lang dag by die werk moet ons ons dalk dwing om die vergadering by te woon. Om in die oggend velddiens te gaan doen, beteken miskien dat ons ’n gerieflike bed moet agterlaat. Maar onthou: Wanneer daar in die toekoms groter beproewinge ontstaan, sal jy beter in staat wees om dit die hoof te bied as jy vooraf ’n goeie geestelike roetine ontwikkel het.

20, 21. (a) Hoe kan bepeinsing oor die losprys ons help om teen negatiewe gevoelens te stry? (b) Wat moet ons vaste voorneme wees in verband met verdrukkinge?

20 Wat van subtiele aanvalle? Hoe kan ons byvoorbeeld ontmoediging teëwerk? Een van die doeltreffendste maniere om dit te doen, is om oor die losprys te peins. Dit is wat die apostel Paulus gedoen het. Hy het geweet hoe hy soms gevoel het—ellendig. Maar hy het ook geweet dat Christus gesterf het, nie vir volmaakte mense nie, maar vir sondaars. En Paulus was een van hierdie sondaars. Hy het geskryf: “Ek [lewe] deur die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad het en homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20). Ja, Paulus het die losprys aanvaar. Hy het besef dat die losprys ook vir hom persoonlik voorsien is.

21 Hierdie selfde beskouing—dat die losprys ’n persoonlike gawe van Jehovah is—kan jou grootliks help. Dit beteken nie dat ontmoediging onmiddellik sal verdwyn nie. Party van ons sal dalk in ’n mate tot in die nuwe wêreld teen hierdie subtiele aanval moet stry. Maar onthou: Diegene wat nie tou opgooi nie, sal die prys ontvang. Ons kom al hoe nader aan die glorieryke dag wanneer God se Koninkryk vrede tot stand sal bring en alle getroue mense tot volmaaktheid sal herstel. Wees vasbeslote om in hierdie Koninkryk in te gaan—al is dit deur baie verdrukkinge heen.