Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Streef jy na ’n opsienersamp?

Streef jy na ’n opsienersamp?

FERNANDO * was senuweeagtig. Twee ouer manne het gesê dat hulle met hom wil praat. Ná die afgelope paar besoeke van die kringopsiener het die ouer manne elke keer verduidelik wat hy moet doen om vir nog voorregte in die gemeente te kwalifiseer. Fernando het mettertyd begin wonder of hy ooit as ’n ouer man aangestel sou word. Die kringopsiener het die gemeente weer onlangs besoek. Wat sou die ouer manne hierdie keer sê?

Fernando het geluister terwyl een van die ouer manne met hom praat. Die broer het na 1 Timoteus 3:1 verwys en gesê dat die gemeentelike ouer manne in kennis gestel is dat hy as ’n ouer man aangestel is. Fernando het regop gesit en gevra: “Wat het Broer gesê?” Die broer het herhaal wat hy gesê het, en ’n glimlag het op Fernando se gesig verskyn. En later, toe sy aanstelling in die gemeente aangekondig is, het daar ’n glimlag op almal se gesigte verskyn.

Is dit verkeerd om voorregte in die gemeente te wil hê? Glad nie. Eerste Timoteus 3:1 sê: “As ’n man na ’n opsienersamp streef, begeer hy ’n voortreflike werk.” Baie Christenmans slaan ag op hierdie aansporing en maak geestelike vooruitgang om vir voorregte in die gemeente te kwalifiseer. Gevolglik is God se volk geseën met tienduisende bekwame ouer manne en bedieningsknegte. Maar weens die toename in die gemeentes moet meer broers na diensvoorregte streef. Wat is die gepaste manier om dit te doen? En moet diegene wat graag ’n opsiener wil wees, hulle oor die saak kwel, soos Fernando gedoen het?

WAT BETEKEN DIT OM ‘NA ’N OPSIENERSAMP TE STREEF’?

Die uitdrukking in die Bybel ‘streef na’ is ’n vertaling van ’n Griekse werkwoord wat die gedagte oordra om ywerig te begeer, om uit te strek. Dit laat jou dalk dink aan iemand wat strek om ’n sappige vrug in ’n boom by te kom. Maar om “na ’n opsienersamp [te] streef”, beteken nie om gierig na hierdie voorreg te gryp nie. Waarom nie? Omdat die doelwit van diegene wat opreg daarin belangstel om as ’n ouer man te dien, moet wees om “’n voortreflike werk” te doen, nie om ’n posisie te verkry nie.

Baie van die vereistes wat met hierdie voortreflike werk verband hou, word in 1 Timoteus 3:2-7 en Titus 1:5-9 opgenoem. Aangaande hierdie hoë standaarde sê Raymond, wat al lank as ’n ouer man dien: “Volgens my is wat ons is, die belangrikste. Spreek- en onderrigvermoëns is belangrik, maar dit is nie belangriker as om onberispelik, matig in gewoontes, gesond van verstand, ordelik, gasvry en redelik te wees nie.”

‘Streef na ’n opsienersamp’ deur die gemeente op verskillende maniere te ondersteun

’n Broer wat opreg na diensvoorregte streef, toon dat hy onberispelik is deur enige vorm van oneerlikheid en onreinheid te vermy. Hy is matig in gewoontes, gesond van verstand, ordelik en redelik; sy medeaanbidders het dus die vertroue dat hy die leiding sal neem en hulle met hulle probleme sal help. Deur gasvry te wees, is hy ’n bron van aanmoediging vir jonges en vir nuwelinge in die waarheid. Hy voorsien vertroosting en hulp aan die siekes en bejaardes omdat hy die goeie liefhet. Hy kweek hierdie eienskappe aan om ander te help, nie om sy kanse te vergroot om aangestel te word nie. *

Die liggaam van ouer manne gee met graagte raad en aanmoediging, maar dit is hoofsaaklik die verantwoordelikheid van die een wat na diensvoorregte streef, om aan die skriftuurlike vereistes te voldoen. Henry, ’n ervare opsiener, sê: “As jy na diensvoorregte streef, moet jy jou inspan om te bewys dat jy daarvoor kwalifiseer.” Met verwysing na Prediker 9:10 verduidelik hy: “‘Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag.’ Ongeag watter toewysing die ouer manne jou gee, doen dit na die beste van jou vermoë. Doen enige werk wat jy in die gemeente gegee word, met graagte, al is dit om die vloer te vee. Mettertyd sal jou werk en inspanning raakgesien word.” As jy eendag as ’n ouer man wil dien, moet jy in alle aspekte van heilige diens hard werk en betroubaar wees. Nederigheid, nie trotse ambisie nie, moet jou lewe kenmerk.—Matt. 23:8-12.

VERWERP VERKEERDE DENKE EN DADE

Party wat diensvoorregte in die gemeente wil hê, kom dalk in die versoeking om hier en daar ’n woordjie daaroor te laat val of probeer miskien die liggaam van ouer manne beïnvloed. Ander is vies wanneer die ouer manne hulle raad gee. Hierdie persone moet hulle afvra: ‘Wil ek my eie belange bevorder of wil ek nederig vir Jehovah se skape sorg?’

Diegene wat na diensvoorregte streef, moenie vergeet dat nog ’n vereiste vir ouer manne is om “voorbeelde vir die kudde te word” nie (1 Pet. 5:1-3). Iemand wat ’n voorbeeld vir die gemeente is, vermy bedrieglike denke en dade. Hy kweek geduldige volharding aan, hetsy hy reeds aangestel is of nie. Aanstelling as ’n ouer man verwyder nie wonderdadig menslike onvolmaakthede nie (Num. 12:3; Ps. 106:32, 33). En ’n broer is dalk ‘nie bewus van enigiets teen hom nie’, maar ander het miskien met rede ’n negatiewe opinie van hom (1 Kor. 4:4). As die ouer manne jou opregte, skriftuurlike raad gee, moet jy dus daarna probeer luister sonder om jou te vererg. Doen dan jou bes om hulle raad toe te pas.

SÊ NOU JY WAG AL LANK?

Vir party broers voel die tydperk wat hulle wag om aangestel te word, baie lank. Raak jy soms ongeduldig as jy al jare “na ’n opsienersamp streef”? Indien wel, let op hierdie geïnspireerde woorde: “’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek, maar wat begeer word, is ’n boom van die lewe wanneer dit wel kom.”—Spr. 13:12.

’n Persoon raak dalk moedeloos wanneer ’n verlangde doelwit onbereikbaar lyk. Abraham het so gevoel. Jehovah het hom ’n seun belowe, maar jare het verbygegaan sonder dat hy en Sara kinders gekry het (Gen. 12:1-3, 7). Op ’n gevorderde ouderdom het Abraham uitgeroep: “Soewereine Heer Jehovah, wat sal u my gee, aangesien ek kinderloos heengaan . . . U het my geen saad gegee nie.” Jehovah het hom verseker dat Sy belofte aangaande ’n seun bewaarheid sou word. Maar ten minste nog 14 jaar het verloop voordat God sy woord vervul het.—Gen. 15:2-4; 16:16; 21:5.

Het Abraham sy vreugde in Jehovah se diens verloor terwyl hy gewag het? Nee. Hy het nooit aan die vervulling van God se belofte getwyfel nie. Hy het bly uitsien na ’n goeie uitkoms. Die apostel Paulus het geskryf: “Abraham [het], nadat hy geduld aan die dag gelê het, hierdie belofte verkry” (Heb. 6:15). Op die ou end het die almagtige God se seëninge hierdie getroue man se verwagtinge ver oortref. Wat kan jy by Abraham leer?

As jy graag as ’n ouer man wil dien, maar dit ná baie jare nog nie gebeur het nie, moet jy op Jehovah bly vertrou. Moenie jou vreugde in sy diens verloor nie. Warren, wat al baie broers geestelike vooruitgang help maak het, verduidelik waarom: “Die proses om vir ’n aanstelling te kwalifiseer, neem tyd. ’n Broer se vermoëns en gesindheid word oor ’n tydperk geleidelik geopenbaar deur die manier waarop hy optree en sy toewysings behartig. Party dink dat hulle net suksesvol is as hulle ’n sekere voorreg of aanstelling kry. Sulke denke is verkeerd en kan in ’n obsessie verander. As jy Jehovah getrou dien, ongeag waar jy is en wat jy doen, is jy suksesvol.”

Een broer het meer as ’n dekade gewag voordat hy as ’n ouer man aangestel is. Met verwysing na ’n bekende beskrywing in Esegiël, hoofstuk 1, vertel hy watter les hy geleer het: “Jehovah bestuur sy strydwa, sy organisasie, teen die spoed wat hy goeddink. Dit is nie óns tyd wat belangrik is nie, maar Jehovah se tyd. Wanneer dit kom by my begeerte om as ’n ouer man te dien, gaan dit nie oor my nie—oor wat ek wil hê of wat ek wil wees nie. Wat ek wil hê, is dalk nie wat Jehovah weet ek nodig het nie.”

As jy hoop om eendag die voortreflike werk van ’n Christenopsiener te doen, span jou in om tot die vreugde van die gemeente by te dra. As dit lyk of die tyd stadig verbygaan, stry teen ongeduld. Raymond, wat vroeër genoem is, sê: “Ambisie is ’n vyand van vergenoegdheid. Diegene wat altyd ongeduldig is, verbeur die groot vreugde wat dit meebring om Jehovah te dien.” Kweek die vrug van God se gees, veral lankmoedigheid, oftewel geduld, in groter mate aan. Span jou in om jou geestelikheid deur jou studie van die Bybel op te bou. Doen meer om die goeie nuus te verkondig en die Bybel met belangstellendes te studeer. Neem die leiding in jou gesin in geestelike bedrywighede en gesinsaanbidding. Geniet elke geleentheid om saam met jou broers en susters te wees. Dan sal dit vir jou ’n vreugde wees om Jehovah te dien terwyl jy al hoe nader aan jou doelwit kom.

Jehovah bied mans die wonderlike geleentheid om vir voorregte in die gemeente te kwalifiseer; nie hy of sy organisasie wil hê dat diegene wat na hierdie voorregte streef, in sy diens gefrustreerd of ongelukkig moet raak nie. God ondersteun en seën almal wat hom met suiwer beweegredes dien. Soos met al sy seëninge die geval is, “voeg [hy] daar geen pyn by nie”.—Spr. 10:22.

Al streef jy al lank na diensvoorregte, kan jy steeds goeie geestelike vooruitgang maak. Terwyl jy jou inspan om die nodige eienskappe aan te kweek en om in die gemeente hard te werk sonder om jou gesin te verwaarloos, sal jy ’n rekord van diens opbou wat nie vergeet sal word nie. Mag jy dit altyd geniet om Jehovah te dien, ongeag watter toewysings jy ontvang.

^ par. 2 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 8 Die beginsels wat in hierdie artikel genoem word, is ook van toepassing op diegene wat as bedieningsknegte wil dien. Die vereistes waaraan hulle moet voldoen, word in 1 Timoteus 3:8-10, 12, 13 gevind.