Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Antwoorde op Bybelvrae

Antwoorde op Bybelvrae

Waarom moet ons bid dat God se Koninkryk kom?

Wil jy meer weet omtrent God se Koninkryk en wat dit tot stand sal bring?

God se Koninkryk is ’n hemelse regering. Jesus het vir sy volgelinge gesê om te bid dat die Koninkryk moet kom omdat dit regverdigheid en vrede op die aarde sal herstel. Geen menseregering kan geweld, ongeregtigheid of siekte heeltemal uit die weg ruim nie, maar God se Koninkryk kan en sal dit doen. God het sy Seun, Jesus, gekies om Koning van die Koninkryk te wees. Jehovah het ook ’n groep van Jesus se volgelinge gekies om medeheersers met Jesus in die Koninkryk te wees.—Lees Lukas 11:2; 22:28-30.

God se Koninkryk sal binnekort teen alle teenstanders van God se heerskappy optree. Die gebed dat God se Koninkryk moet kom, is dus ’n versoek dat God se regering alle menseregerings moet vervang.—Lees Daniël 7:13, 14; Openbaring 11:15, 18.

Waarom sal God se Koninkryk mense tot voordeel strek?

Jesus is die ideale Koning omdat hy medelydend is. As God se Seun het hy ook die mag om almal te help wat tot God om hulp roep.—Lees Psalm 72:8, 12-14.

God se Koninkryk sal almal wat opreg bid dat dit moet kom en wat hulle lewe in ooreenstemming met God se wil bring, tot voordeel strek. Jy sal nie spyt wees as jy leer wat die Bybel oor God se Koninkryk sê nie.—Lees Lukas 18:16, 17; Johannes 4:23.